Friday, September 30, 2016

Istanbul.



27- 28 September 2016. Dinsdag en Woensdag.

Dis al weer lang pad. Die keer is dit agt ure in ’n bus en trein en trem en toe kom ons in Istanbul by die Subrosa Hotel aan. Die eienaar is vreeslik vriendelik en behulpsaam en ons voel sommer dadelik tuis. Sy vrou maak koffie en ons teug dankbaar daaraan. Die kamer is heerlik ruim.

Ons word honger en deel ’n pizza en drink tee. Alles teen ’n spesiale prys. Hierdie Turke het ’n moeilike jaar, want toeriste is maar skaars in die geweste. Ons besluit ons gaan vroeg inkruip, want die moeg oorval ons en die bed roep.

Woensdag gaan ons na Taksim Plein, maar dis eintlik niks besonders nie en bewolk en reënerig. Daar naby is ’’n uitstalling in ’n  kunsgalery met besonderse skilderye. Die een man se kunswerke is eintlik te goed en te na aan die ware jakob. Sy pruime lyk so eg dat jy dit amper wil eet. Die een wat eintlik my hart steel is ’n Turkse troue. Dit is ’n grote en kos R80 000.00. Dis so bietjie baie te duur. 

Monument - Stigting van die Turkse republiek
 
Die Grand Bazaar is die volgende op ons lys, maar ek stap half belangeloos, want ek wil niks koop en is moeg vir almal wat alles aan my wil afsmeer. Ek is mos nou totaal bankrot na die wyn kraf ding wat ek gekoop het.

Terug by Sultanahmet gaan ons die Blou Moskee besoek. Archie moet ’n romp aantrek om sy kaal bene te bedek en hy lyk baie seksie. Die moskee is vol bedrading en dit belemmer die uitsig van die koepeldak. Dit is glad nie so mooi soos Roomse kerke nie. 

Blou Moskee
Rokkies wil hy dra …
Blou Moskee

Blou Moskee
Reuse kolom


Ek besoek die Mosaïek Museum met baie ou en effe stukkende mosaïek. Dit kom uit die Bisantynse tydperk. Dit moes baie mooi gewees het toe dit nog heel was.
 

Mosaïek
Mosaïek
Mosaïek

Ons het vanaand ’n ete afspraak met Francois se kollega, Nadim en sy vrou, so ons gaan terug hotel om klaar te maak. Ons klim die trem en daar trek ons na die Hamdi Restoran waar ons hulle 18:30 moet ontmoet. Die plek het ’n pragtige uitsig . David, ’n Duitser, eet ook saam en die kos en geselskap is onverbeterlik. Dis mezes en hulle is bekend vir hulle kebabs. Die lam is sag, sappig en so geurig. Verskillende stokkies word aangedra en dan proe ons.

Uitsig met Galata Toring
Uitsig oor Yeni Camii (Nuwe Moskee)
Ek, Archie, David, Aliza en Nadim

Die tafel kreun onder al die kos en slaai en later twee verskillende soorte baklavas en nog later, so ander nagereg. Tee word ook bedien en ons het heerlik geëet. “Baie dankie Nadim. Julle het ons nou behoorlik op die hande gedra.” 

Baie dankie julle

Monday, September 26, 2016

Safranbolu.



26 September 2016. Maandag.

Ons het gister vir ’n twaalf uur skof Safranbolu toe gery. Nou is ons hier in Turkye se beste bewaarde Ottoman dorpie. Dit is op die lys van Unesco se Wêreld-erfenisgebiede.

In die 17de eeu het die hoof handelsroete tussen Gerede en die Swart See deur Safranbolu gegaan en die plek het gefloreer. Gedurende die 18de en 19de eeu het die ryk inwoners groot herehuise gebou en die vakmanne het eenvoudiger huise gebou wat net so stewig was. Die meeste van daardie huise het behoue gebly en staan vandag nog. Die huise wat verval het, word gerestoureer en word soms as hotelle en winkels gebruik.

Ottoman huise
Ottoman huise

Gedurende die 19de eeu was 20% van die inwoners Ottoman Grieke, maar hulle nasate het na die Tweede Wêreldoorlog na Griekeland teruggegaan met die gedwonge bevolgingsverskuiwing tussen Turkye en Griekeland.

Ons loop rond en verlustig ons in die Ottoman atmosfeer, loop in die klipstraatjies tussen die winkels. Oral is saffraan te koop, want die mense plant dit self. Jy kan saffraan koffie, seep en konfyt koop. Natuurlik ten duurste.

Plaas implemente van hout
Houtkis met kat
Haman, Turkse badhuis

Ons stap op na Hidirlik Heuwel en beskou die dorpie van bo af. Die rooi en terracotta dakkies lyk pragtig. Dan is die moskees maar altyd teenwoordig met hulle koepels en spits torings.

Uitsig van Hidirlik Heuwel
Moskee op die bult

Ons stap ook langs die Akçasu kloof, dis pragtig maar ongelukkig vol rommel. Hier boer die mense op klein lappies grond met hoenders, bietjie groente, alles seker maar vir eie gebruik. Die plaasboer se hond stap heeltyd saam met ons.

Toe is dit weer terug dorp toe en ons stap verby die 17de-eeuse “caravanserai”. Dit is waar die mense en hul karavane (kamele) oornag het op hul reis na die Swart See. Dit was die sy (silk) roete. Dit is omskep in 'n pragtige luukse hotel waar wel-af toeriste kan tuisgaan.

"Caravanserai"
"Caravanserai" se eetkamer

Toe stap ons na die Kent Tarini Museum. Ons kom toe op ’n bruidspaar af wat besig is met ’n fotosessie. Al die min toeriste wat daar loop wil graag saam met die bruid poseer en ek laat my ook nie twee keer nooi nie. Ek staan toe ewe stink langs die pragtige bruid en glimlag vir die foto.

Mooi bruid

Safranbolu is ’n pragtige ou plekkie en ek is seker die Ottomans het heerlik hier gebly.


Saturday, September 24, 2016

Göreme. Uittog.



24 September 2016. Saterdag.

Die ballonne vlieg! Vir die eerste keer van ons in Göreme is, vlieg hulle. Archie se knie is baie beter en ons gaan staan op die terras en verkyk ons aan die skouspel in die lug. Hulle sweef grasieus deur die lug met die son wat net-net deurbreek. Dis pragtig. Dit beteken die weer is vandag baie beter.

Vlieg laag
Vlieg hoog
Tussen die pieke

Na ontbyt is dit ons beurt. Ons uittog is die Rooi Toer. Al twee Archie se bene kan loop en daar trek ons. Die bussie laai ons op en ons is op pad. Eerste op die lys is Uçhisar se kasteel. Daar is grotte en tonnels en die hele gemeenskap het op ’n stadium daar gebly.

Uçhisar se kasteel
 
Die volgende stopplek was die Opelug Museum. Daar was ’n klooster vir nonne aan die eenkant en monnike aan die ander kant. St Basil het ’n groot rol gespeel in die gemeenskap. Daar in ’n klomp kerke, kapelle en kloosters in die rotse uitgekap. Geen foto’s mag van die frescos of muurskilderye geneem word nie. Duiwe het ’n belangrike rol gespeel, want hulle poo is as bemesting gebruik en daar was ook posduiwe wat boodskappe na die ander dorpe geneem het.

Opelug museum
Duiwe neste
 
Liefde is in die lug en ons gaan bewonder die “Love Valley” van die uitsigpunt af. Daar is geen twyfel waarom die vallei die “Love Valley” genoem word nie. Kyk maar net na die vorm van die astrante rotse in die vallei. Ek sal graag hier wil stap.

Liefie en ek
Blomme vir my Ma - Jakob Regops

Ons geniet ’n ete in Avanos en die tafels kreun onder die kos. Dis ’n buffetete en almal eet natuurlik te veel. Magies vol en die toergids neem ons na die Vanessa Keramiekfabriek.

Pragtige keramiek
 
Dis toe net waar die moeilikheid begin. Die goed is mooi en word met die handgemaak. Daar is so wynkraf ding wat vreeslik mooi is. Dit gloei in die donker. Ek en Suman, die Indiese vrou, begeer dit. Ons begin die prys af te stry. Dis baie duur. Hy gee 50% afslag, maar dis nog te veel. Na ’n lang redekawel besluit ons ons koop dit nie en die bus vertrek. Ek voel eintlik baie verlig dat ek nie die duur ding gekoop het nie.

Ons roete lei ons na Paşabağ se feetjie skoorstene. Dis heerlik om hier rond te loop en ons klim boontoe. Die feetjies staan trots en regop en almal neem foto’s en klim en loop rond. Natuurlik is daar weer ’n kerk en ook grotte. Hierdie Cappadocia is regtig uit ’n ander wêreld! Iets besonders.

Feetjie skoorstene
Spitse
 
Ons gaan na Devrent Vallei. Hier moet jy jou verbeelding gebruik en dan sien jy onder andere dolfyne, die Maagd Maria, hande, ’n kameel en koningin. Dis eintlik baie mooi hier en almal geniet die inligting wat Cinan, ons toergids gee. Ons kyk en almal sien iets verregaande anders.

Suman, ek en Archie met kameel in agtergrond
Hand
 
Toe kom Cinan en deel ons mee dat die man van die keramiekfabriek gebel het en hy sal die wynding vir ons gee vir die prys wat ons bereid is om te betaal (wat in elk geval nog heeltemal te duur is). O donder! Nou moet ons dit vat, want ons die prys voorgestel. Dit is meer as 50% afslag. Cinan sê hy sal ons aan die einde van die toer soontoe neem vir ons aankope. Ek lag net senuweeagtig.

Nou is dit wynproe en die wit Muskat is heerlik. My pa sal baie daarvan hou. Dis uniek subtiel soet. Die rooiwyn is nie so lekker nie. Dis baie duur en ons koop nie. Is in elk geval nou bankrot.

Die laaste stop is in Urgup, waar die vader, moeder en haar kind staan. Hulle het seker soos oorlede Lot se vrou omgekyk en toe in rotspilare verander. Vêr in die agtergrond is berg Erciyes, 3917 m hoog en wit toegesneeu. Hier is ’n snerpende venynige windjie wat hier waai. Ons gaan sommer gou terug bussie toe en so kom ons aan die einde van ons Rooi Toer. Almal word by hul bestemmings afgelaai, behalwe ons.

Ma, kind en pa
Sneeu berg
 
Cinan ry saam met ons na die keramiekfabriek toe en Suman en ek koop ons pragtige duur wynkraf ding. Dit word vreeslik goed toegedraai. Ek sal nou in al die busse en treine die blerrie ding soos goud moet oppas en op my skoot moet hou.En boonop as handbagasie in die vliegtuig vat!

Archie se knie het gehou. Wat ’n heerlike opwindende dag!