Wednesday, August 17, 2016

Datça.



16 Augustus 2016. Dinsdag.

Körmen tot Datça

Gus waai die hele nag. In my geestesoog sien ek hoe die see groter en groter word. Ek sien nie vir so groot see kans nie!

Poseidon voorspel Fors 4 winde vir die eerste deel, Fors 3 vir die tweede deel en vir Knidos Fors 5, wat baie sterk is. Al die winde gaan ons van voor kry wat dit baie erger maak.

Vroegoggend waai hy bietjie ligter. Toe ons opstaan, sê ek vir Archie ek wil gaan kyk hoe die see lyk. Ons stap na die strand en sien dat die branders nog steeds breek, maar baie ligter as gistermiddag. Ek kry hoop.

Archie was gou vir Maja en ek stofsuig haar gou. Toe is dit toue losmaak en ons (eintlik ek) vertrek benoud. Die eerste deel gaan rof wees en ek kry ons lewensbaadjies. Ons trek dit aan. Ek stuur vir die familie ’n boodskap dat hulle aan ons moet dink. Ek dink hulle het toe aan die bid gegaan.

Ons tref die see en die see tref ons. Dis nie so erg soos gister nie, maar groot. Sommer gou is die see kalmer. Gus waai, maar nie so sterk nie. Hy hart juig. Ons vaar redelik gemaklik teen die deinings. Later word dit heeltemal kalm en Gus is net ’n suggie. My familie het die see kalm en Gus skoon uit sy asem uit gebid.

Nou lê nog net die stuk by Knidos voor waar hulle deurmekaar see en sterk winde voorspel het. En wil jy nou meer! So kalm soos nog iets. Ons besluit ons gaan nie na Knidos toe nie. Ons wil verder gaan. 

Kaap Krio naby Knidos

Gus begin toe effe waai, maar dit is van agter af. In die vêrte sien ons vir Nisyros, Fanie se gunsteling eiland en verder, in die verskiet lê Tilos, met die Mikro Chora waarvan Elize so baie gehou het.Later sien ons ook vir Symi, waar Elize se gunsteling dorpie is. En ek mis die twee toe vreeslik.

Fanie se Nisyros
Elize se Tilos

Symi


Ons vaar om die draai en Gus waai nog steeds van agter. Ons gaan kyk na die hawe van Palamut, maar dit lyk vir my te klein en ons vaar verder. Gus waai nou sterker en ons span die genoa en seil vir 1h20min.  Die deinings en die wind kom van agter en ons seil redelik vinnig. Ons word beloon met ’n klomp vlieg visse wat sierlik uit die water vlieg en dan baie verder weer induik.

Na 38 myl, agt ure later, kom ons by Datça en gooi anker. Ons is moeg. Wat ’n dag!

Uiteindelik Datça
Datça se kaai



Tuesday, August 16, 2016

Körmen Marina.



15 Augustus 2016. Maandag.

Amazon Creek tot Körmen Marina

Toe ons opstaan, kyk ek met groot oë of ek die see kan sien. Ek kyk of die perdjies die deinings ry. Tot my verligting is die see baie makker as gister. Ons kies die hasepad na Körmen Marina, 36°46.157 N, 27°36.948 O, 23.7 myl.

Ons durf die see aan. Gus waai van voor en ons vorder stadig. Hy waai nie op volle sterkte nie en die rit is gangbaar. Maja beur van die een deining tot die volgende een. En ons beur saam. ’n Wind van voor is nie jou maat nie. 

Berge

Toe ons om die laaste draai gaan en Körmen lê daar voor, toe vat Gus ons nou behoorlik vas. Hy waai uit volle bors en die see slinger ons genadeloos op die see rond. Archie klou aan die stuur vas en ek klou aan Maja vas. Genadiglik kom die marina nader en ons vaar in die halfklaar marina in.

Moenie dink Gus is nie doenig in die marina nie. Hy waai net so sterk. Gelukkig spoel die see nie in nie. Die vasmeerman kom met ’n bakkie daar aangejaag en help ons in. Gus waai ons skeef en die snoettou is onder Maja se romp in. Ek moet dit neergooi voordat dit in die propeller kom. Archie tru weer en ons gooi die agterste toue en die man maak dit vas. Archie vat die snoettou, maar dit is ’n hele koekspul. Sowat van deurmekaar toue het ons nog nooit beleef nie. Hy sorteer darem die toue uit en ons snoet is vas met twee toue. Die man maak ons met nog ’n ekstra tou vas, so erg waai die blerrie Gus van die kant af. 

Körmen Marina

Water is hier gratis en ek was wasgoed. Ons gaan stap toe ’n ent en sien eintlik hoe mooi die omgewing hier is as mens net verby die stof en die halfklaar deurmekaar marina kyk.

Wildernis
Körmen
Archie bewonder die branders

Die see lyk soos by Wildernis in die Kaap. Hier is tot branders. G’n wonder hier lê ’n skeepswrak op die strand nie! Oral lê ook lewensbaadjies wat uitgespoel het. Lyk vir my maar na ’n gevaarlike plek die. 

Skeepswrak

Ons vars voorrade is amper klaar. Ek het net aartappels en uie oor. Geen vrugte of groente of vleis nie. Hier is nie supermarkte in die omgewing nie. Ek verlaag my standaarde en wend my tot 'n blikkie suurkool en gerookte wors wat vir n noodgeval in die yskas is. Toe eet ons Duits - kapokaartappels, suurkool en würst.

Duitse kos

Gus hou nie op waai nie. Môre moet ons ’n moeilike deel doen wat bekend is vir wind en deurmekaar see …

Amazon Creek.



14 Augustus 2016. Sondag.

Büyük Çati tot Amazon Creek
 
Ons moet eintlik vandag na Körmen Marina toe gaan, maar sterk winde word voorspel. Ons gaan dan maar na Amazon Creek, 36°49.915 N, 28°03.281 O, net 3.4 myl. Ons verlaat die beskutte baai en daar trek ons.

Nou ja, oor die 3.4 myl, ’n baie kort ent, wil ek eintlik nie eers praat nie, anders vloek ek dalk. Gus is katjie van die baan en vertoorn my siel. En daai deinings was groot. Ek hou net mooi niks hiervan nie. 

Amazon Creek
 
By Amazon Creek, waarvan ek verlede jaar so gehou het, is dit eers erg. Gus kraai koning en slinger ons op die anker rond. Ek hou ook niks hiervan nie.

Dit was nie ’n lekker dag nie. Gelukkig gaan die vloeksteen later lê en ons het rus vir ons siele.

Sunday, August 14, 2016

Büyük Çati.



13 Augustus 2016. Saterdag.

Yedi Adalari tot Büyük Çati
 
Dis nog ’n dag in die lewens van die seilende sigeuners. Die son kom aan die oostekant op. Ek sien dit nie, want ek is nog nie op nie. Die ankerplek is rimpel-stil, totdat die eerste toerboot daar aangejaag kom en alle vreedsaamheid kom verjaag.

Ons vertrek na Büyük Çati, 36°47.434 N, 28°00.844 O, 8.1 myl. Die son verblink die water tot kwiksilwer wat dein-rol, dein-rol en dat tot niet gaan as hulle geslaan word teen klip en rots. Net om dan weer as druppels en seeskuim terug in die see te val en deel word van die oneindige watermassa. Nog deinings rol een vir een land toe, met seeperdjies wat uitgelate saam ry.

Kwiksilwer
 
Die Hoër Hand het die berge lagie vir lagie hier kom pak en dit vergrys in die mistige vêrte vir ons om te aanskou. Mens en Maja word een en durf die elemente met groot agting en respek aan. Die verkleinde seil bol in die wind. Gus blaas ons aan tot by ons baai en ons seil vir 0h40min.

Lagies berge

Ons vaar by die baai in, verby “One Tree Island”. Ons vat ’n tou land toe, maak vas en ons is by ons nuwe tuiste. 

"One Tree Island"
 
Ons gaan stap, maar dis weer een van daai baaie wat wegkruip tussen die bome. Jy kry net nie ’n hoë  aansig van die baie beskutte baai nie. Archie stap aan die ander kant op terwyl ek my lyf lawe in die turkoois water.

Baai tussen die bome
Büyük Çati
Maja en haar toue
 
Gus treiter ons die hele nag met dwarswinde. Gelukkig hou die anker.