Tuesday, August 16, 2016

Körmen Marina.



15 Augustus 2016. Maandag.

Amazon Creek tot Körmen Marina

Toe ons opstaan, kyk ek met groot oë of ek die see kan sien. Ek kyk of die perdjies die deinings ry. Tot my verligting is die see baie makker as gister. Ons kies die hasepad na Körmen Marina, 36°46.157 N, 27°36.948 O, 23.7 myl.

Ons durf die see aan. Gus waai van voor en ons vorder stadig. Hy waai nie op volle sterkte nie en die rit is gangbaar. Maja beur van die een deining tot die volgende een. En ons beur saam. ’n Wind van voor is nie jou maat nie. 

Berge

Toe ons om die laaste draai gaan en Körmen lê daar voor, toe vat Gus ons nou behoorlik vas. Hy waai uit volle bors en die see slinger ons genadeloos op die see rond. Archie klou aan die stuur vas en ek klou aan Maja vas. Genadiglik kom die marina nader en ons vaar in die halfklaar marina in.

Moenie dink Gus is nie doenig in die marina nie. Hy waai net so sterk. Gelukkig spoel die see nie in nie. Die vasmeerman kom met ’n bakkie daar aangejaag en help ons in. Gus waai ons skeef en die snoettou is onder Maja se romp in. Ek moet dit neergooi voordat dit in die propeller kom. Archie tru weer en ons gooi die agterste toue en die man maak dit vas. Archie vat die snoettou, maar dit is ’n hele koekspul. Sowat van deurmekaar toue het ons nog nooit beleef nie. Hy sorteer darem die toue uit en ons snoet is vas met twee toue. Die man maak ons met nog ’n ekstra tou vas, so erg waai die blerrie Gus van die kant af. 

Körmen Marina

Water is hier gratis en ek was wasgoed. Ons gaan stap toe ’n ent en sien eintlik hoe mooi die omgewing hier is as mens net verby die stof en die halfklaar deurmekaar marina kyk.

Wildernis
Körmen
Archie bewonder die branders

Die see lyk soos by Wildernis in die Kaap. Hier is tot branders. G’n wonder hier lê ’n skeepswrak op die strand nie! Oral lê ook lewensbaadjies wat uitgespoel het. Lyk vir my maar na ’n gevaarlike plek die. 

Skeepswrak

Ons vars voorrade is amper klaar. Ek het net aartappels en uie oor. Geen vrugte of groente of vleis nie. Hier is nie supermarkte in die omgewing nie. Ek verlaag my standaarde en wend my tot 'n blikkie suurkool en gerookte wors wat vir n noodgeval in die yskas is. Toe eet ons Duits - kapokaartappels, suurkool en würst.

Duitse kos

Gus hou nie op waai nie. Môre moet ons ’n moeilike deel doen wat bekend is vir wind en deurmekaar see …

Amazon Creek.



14 Augustus 2016. Sondag.

Büyük Çati tot Amazon Creek
 
Ons moet eintlik vandag na Körmen Marina toe gaan, maar sterk winde word voorspel. Ons gaan dan maar na Amazon Creek, 36°49.915 N, 28°03.281 O, net 3.4 myl. Ons verlaat die beskutte baai en daar trek ons.

Nou ja, oor die 3.4 myl, ’n baie kort ent, wil ek eintlik nie eers praat nie, anders vloek ek dalk. Gus is katjie van die baan en vertoorn my siel. En daai deinings was groot. Ek hou net mooi niks hiervan nie. 

Amazon Creek
 
By Amazon Creek, waarvan ek verlede jaar so gehou het, is dit eers erg. Gus kraai koning en slinger ons op die anker rond. Ek hou ook niks hiervan nie.

Dit was nie ’n lekker dag nie. Gelukkig gaan die vloeksteen later lê en ons het rus vir ons siele.

Sunday, August 14, 2016

Büyük Çati.



13 Augustus 2016. Saterdag.

Yedi Adalari tot Büyük Çati
 
Dis nog ’n dag in die lewens van die seilende sigeuners. Die son kom aan die oostekant op. Ek sien dit nie, want ek is nog nie op nie. Die ankerplek is rimpel-stil, totdat die eerste toerboot daar aangejaag kom en alle vreedsaamheid kom verjaag.

Ons vertrek na Büyük Çati, 36°47.434 N, 28°00.844 O, 8.1 myl. Die son verblink die water tot kwiksilwer wat dein-rol, dein-rol en dat tot niet gaan as hulle geslaan word teen klip en rots. Net om dan weer as druppels en seeskuim terug in die see te val en deel word van die oneindige watermassa. Nog deinings rol een vir een land toe, met seeperdjies wat uitgelate saam ry.

Kwiksilwer
 
Die Hoër Hand het die berge lagie vir lagie hier kom pak en dit vergrys in die mistige vêrte vir ons om te aanskou. Mens en Maja word een en durf die elemente met groot agting en respek aan. Die verkleinde seil bol in die wind. Gus blaas ons aan tot by ons baai en ons seil vir 0h40min.

Lagies berge

Ons vaar by die baai in, verby “One Tree Island”. Ons vat ’n tou land toe, maak vas en ons is by ons nuwe tuiste. 

"One Tree Island"
 
Ons gaan stap, maar dis weer een van daai baaie wat wegkruip tussen die bome. Jy kry net nie ’n hoë  aansig van die baie beskutte baai nie. Archie stap aan die ander kant op terwyl ek my lyf lawe in die turkoois water.

Baai tussen die bome
Büyük Çati
Maja en haar toue
 
Gus treiter ons die hele nag met dwarswinde. Gelukkig hou die anker.

Yedi Adalari. Küfre Köyü (“North Cove”)



12 Augustus 2016. Vrydag.

Şehir Adalari tot Küfre Köyü,Yedi Adalari
 
Yedi Adalari beteken sewe eilande. Ons moet tussen sewe klein eilandjies deurvaar om by Küfre Köyü, 36°52.894 N, 28°03.331 O, 15.3 myl, te kom.

Gus waai eers liggies en later waai hy bietjie sterker van voor. Ons kap die deinings een vir een met Maja se snoet en toe ons om die draai gaan, rol ons heen en weer. Ons motorseil darem vir ’n ruk en dit rol minder.

Ons moet ’n tou land toe vat en ek sug na binne. Die anker word gegooi en ek toets dat hy byt en gooi nog ketting uit terwyl Archie na die land toe tru. Naby die land, verlaat hy mos die boot en swem land toe met die tou om ons vas te maak. Vandag word ons aan bome vasgemaak, want die rotse is bros en het nie lekker vasmaakplek nie.

Na ’n geswem en ’n getrek van toue en ’n gestry, is ons vas en veilig. Ons sien hoe rol die see na die baai, maar vreemd genoeg, die deinings waai en rol nie in nie. Hulle word ter pletter geslaan teen die oorkantse land.

Veilig vas
 
Ons gaan stap en bewonder die moeite wat die restaurant eienaars gedoen het. Daar is paadjies na die goed versteekte eetplek uitgelê. ’n Bruggie oor die moeras is netjies en van hout gemaak. Dit kan net vier mense op een slag dra en dit wieg as jy daarop loop.

Versteekte restaurant
Dapper stapper
Hangbrug na restaurant
 
Ons stap met die grondpad boontoe en kyk teen die son na die sewe eilande. Maja en haar vriendin lê rustig in die baai, aan bome vasgemaak. Dis warm en die dors tref ons. Hulle bier en glase is yskoud en Archie bestel dadelik ’n bier. Ek vat ook ’n sluk of wat en ons bestel twee mezes, wat heerlik is. Dis ’n regte familie besigheid. Elkeen het sy taak en almal werk saam.

Yedi Adalari eilande
Maja tussen die blare
Küfre Köyü
 
Terug by Maja swem ons, maar die water koel jou nie eers af nie. Die see is loomwarm.