Thursday, July 14, 2016

Skala Patmos. Patmos Eiland.



13 Julie 2016. Woensdag.

Port Augusta tot Skala Patmos
 
Patmos. Paulus se Patmos eiland. Dis waarheen ons vandag op pad is. En wel na die dorpskaai van Skala Patmos, 37°19.686N, 26°32.629 O, 10.5 myl. Ons groet vir Arki en vat die water.

Wat ’n verandering. Gus hou hom intoom, die see is nie groot nie. Dit is vir my ’n wonderwerk. My wens van gister is bewaarheid. Ou Archie wil wel seile span en ons seil vir 25 minute en motorseil vir 45 minute.

Die pad is kort en gou kom ons by die eiland wat deel is van Unesco se wêrelderfenisgebied. Daar is hope plek by die dorpskaai en Archie neem posisie in en tru. Ek gooi anker en daar is niemand op die kaai om ons te help nie. Koel en kalm doen ek en die kaptein dit sommer self. En hier is ons. 

Patmos chora en klooster
Skala Patmos
Skala Patmos
 
Dis vreeslik warm en ons sit maar rond totdat dit koeler word en toe durf ons die klooster van St Johannes en die chora (dorp bo-op die berg) aan. Ons klim die bus en gou is ons bo. 

Uitsig op Skala baai en dorp
Eensame kerkie

Die klooster lyk soos ’n Bisantynse kasteel en bouwerk het in 1088 begin. Die museum was ongelukkig gesluit en ons kon dit nie besigtig het nie.  Dit is baie indrukwekkend en daar is ’n doolhof van gange en trappe. Agter die toe deure bly die monnike. Ek wens ek kan sien hoe hulle kamers lyk, maar nou ja.

Klooster
Klonk-klonk klokke
15 m hoë mure
 
Die Roomse Kerk (deel van die klooster) is pragtig, met mooi plafonne en muurskilderye. Foto’s word baie baie plekke verbied en ek is so spyt dat ek nie die houtsneewerk van die altaar kon vaslê nie. Twaalf beeldhouers het in 1820 daaraan gewerk. Dis asemrowend mooi. Archie sê ook so, al is hy nie ’n kerkmens nie.

Mosaïek
Archie op dak
 
Nadat ons in al wat gang en trappe rondgeloop het, verlaat ons die klooster en loop in die chora rond. Die winkels is gesluit, want dit begin saans te lewe.

Ons loop op die klippaadjie na die heilige grot van Johannes. Hy is in 95 n.C. verban en het na Patmos gekom waar hy in ’n grot gebly het en die Apokalips geskryf het. Foto’s word verbied.

Op pad na St Johannes se grot
 
Ons klim die bus en gaan huis toe. Patmos is voorwaar ’n baie besonderse en mooi eiland. ’n Ware toeriste-aantreklikheid!


Wednesday, July 13, 2016

Port Augusta. Arkoi Eiland.



12 Julie 2016. Dinsdag.

St Georgiou tot Port Augusta

Ons fenders is pikswart van die ou bande teen die kaai. Die Turk van die seiljag voor ons, maak van Maja se toue los en ons vertrek na Port Augusta, 37°27.406 N, 26°58.014 O, 18.1 myl op Arkoi (Arki) eiland.

Gus waai en ek is nou moeg vir wind. Ek verlang na windstil dae met spieëlgladde rimpellose blink gladde water, met Maja se motor wat ritmies voortdreun en soos musiek in my ore klink.

Maar dis net wensdenkery en ons span die seile. Ek sug liggies. Gus klim in my oë en dit traan, hy waai my hare in my oë en dit traan nog meer. Gus maak die deinings groot en ons wieg heen en weer. Gus versondig my siel, kneus en skaaf dit en ek sê vir die kaptein ek wil asseblief ’n windstil dag hê. Hy sê net hy het geen beheer oor die wind nie. Ek sug nie meer so liggies nie.

Ek verlang na al die bekende mense by die huis. En na Deon en Ryna.

Ons kom by Port Augusta, maar daar is nie plek by die kaai nie. Ons vaar na die Port Stretto, die baai net langsaan. Die bodem lyk nie goed nie en ons soek ’n plek wat lyk of daar bietjie sand ook is en nie net seegras nie en ek gooi anker. Gus waai ons hot en haar en die anker byt nie. Ek trek twee keer ’n hele tuin op. Byt is verniet.

Ons gaan na die ander deel van Port Stretto toe en daar is ’n boei heel voor oop. Ons weet dit word vlak en bekruip die boei stadig. Daar is reeds drie ander seiljagte aan boeie vasgemaak en die een man skree vir ons die voorste boei het net ’n diepte van 1.4 m. Maja se diepte is 1.65 m. Ons draai om. Ek sug kliphard.

Die twee baaie van Port Stretto

Die kaptein sê ons moet maar weer Port Augusta probeer. Miskien het iemand intussen vertrek. Ons vaar in en sowaar, daar is ’n plek. Archie kry die regte posisie, tru in, ek gooi anker, die manne op die kaai gryp die toue en ons het ’n heenkome vir die aand.

Vas teen die kaai

Die klein eiland lyk soos die barre Namibië en die Richtersveld en het net so veertig permanente inwoners. Kerkmens wat ek is, stap ons boontoe, op op op na die kerk. Oral is klipmure, want dit is bok wêreld hierdie. 

Pad na kerk
Kerkie bo-op die heuwel

Van bo af kan ons die netwerk van klein eilande baie mooi sien. Port Stretto en Augusta lê vreedsaam as veilige hawe vir seiljagte daar onder. Die uitsigte en die kerk bo heel my gekneusde gekwetste siel. 

Uitsig oor Port Augusta
Port Augusta kaai
Uitsig

Die pad loop langs die klipmuur, ’n pad van heelmaak en regmaak. ’n Simbool van mooigeid in die barheid, salf vir die siel. Arki steel my hart. 

Langs die klipmuur
Arki steel my hart



Monday, July 11, 2016

St Georgiou. Agathonisi Eiland.



10 & 11 Julie 2016. Sondag & Maandag.

Pithagorion tot St Georgiou
 
Na twee dae op Samos is dit tyd om te gaan. Dit begin net beter hier raak, maar nou ja, die kaptein se woord is wet. Anker op en ons is weg na St Georgiou, 37°27.406 N, 26°58.014 O, 18.1 myl op Agathonisi Eiland.

Soos gewoonlik waai Gus en ons seil vir 1h15min. Gelukkig is die wind van agter en ons seil met ’n klein genoa en behaal ’n topspoed van 8.3 knope (nie vir lank nie). Die wind waai omtrent heeltyd meer as 20 knope.

Ons vaar deur ’n plek waar die Griekse boek sê dat daar deurmekaar deinings is. En dis wragtig die waarheid. Soms weet die see nie waar hy vandaan kom nie. Dan ly Maja en ons daaronder, want ons word dan op ’n wasmasjien styl rondgerol.

Wasmasjien
 
Ons kry een keer ’n erge windvlaag wat oor die see dans, reg bo-oor ons en ons dans saam. En ons vaar, vorentoe, altyd vorentoe. Ons kom by ons baai, maar dit is net silwer dansstrepe soos Gus homself geniet. Hy huppel en spring uitgelate oor die water in die baai en elke piepklein golfie het ’n piepklein perdjie wat dit ry. Gelukkig is die water plat want daar is “no fetch”.

Ons meer vas langs die kaai met baie fenders. Die swart bande maak mos alles swart. Vas en veilig is ons, veral met die wind wat reg van voor op Maja se snoet waai. Ons word nie teen die kaai vasgedruk nie. 

St Georgiou Baai met Maja langs die kaai
 
Later kom ’n groot veerboot en die hawepolisie sê vir een jag wat geanker staan hy moet skuif, want hy staan in die veerboot se draaiplek. Gelukkig is die kaai groot genoeg en ons word nie aangesê om te skuif nie. Die boek wys waar die veerboot gaan vasmeer en die slim kaptein het net die regte plek uitgesoek.

In die nag begin Gus sterk te waai, maar ons is veilig vas en ons slaap heerlik.

Die volgende oggend is dit stap tyd en ons verken die klein eiland. Ons stap na Poros en Palos Baai en kyk na die uitsigte. Drie jagte is in die baai geanker en draai op die oog af vreedsaam saam met Gus. Waar hy waai, sal jy swaai!

Poros- en Palos Baai
Pountas Baai
Samos in agtergrond
Plasies

Terug by Maja is dit heerlik om net te sit en boek lees terwyl ons wag dat Gus homself begin gedra.