Friday, June 24, 2016

Plomari. Lesvos Eiland.



23 Junie 2016. Donderdag.

Mandraki tot Plomari
 
Ek lê nog in die bed met my koffie in my toe die kaptein se stem dringend sê: ”Ou vrou, ons moet gaan!” Vrydag lyk skielik erger en Saterdag, wat ’n stil dag sou wees, nog erger. Ons sal moet gaan.


Ons kry die boot inderhaas reg, trek toue in, anker op en uit die hawe na Plomari, 38°58.464 N, 26°22.161 O, 32.3 myl. Toe ons uit die hawe is, waai Gus dat dit klap, met rukwinde tot 29 knope. En dit van voor. Ek sê vir Archie ons moet teruggaan, maar dapper kaptein sê dat ons eers kyk hoe dit in die oop see lyk. Hy het mos hoeka gister gaan kyk hoe lyk die oop see en gesien dit lyk nie so erg vanuit die hoogte nie. Ons trek ons lewensbaadjies aan, want Maja se reëls sê met winde hoër as 20 knope, moet ons dit dra. Die deel tussen Chios en Oinoussa is bekend vir sy sterk winde. Gelukkig weet ek my suster Elize, is aan die bid.

Maja lig so aan die een kant op en dan sak sy weer as Gus se rukwind verby is. Ons vaar deur die windstraat, ek bedoel seestraat en die deinings in die oop see is groot. Nie so groot soos daai tyd met Elize en Annette nie, maar groot. Gus het bietjie bedaar en later word die see se deinings kleiner en Gus waai ligter, maar steeds op Maja se snoet. Ek sing nie, ek sit net en kyk vir daai golwe, een vir een.

So vaar ons myl vir myl, knoop vir knoop voort in die onbekende. Later kan ons die deinserige buitelyne van Lesvos sien. My hart is dankbaar. Oral in die geweste is kuspolisie wat die see patrolleer vir Siriese vlugtelinge. Een van hulle vaar reg op ons af en ek sit die radio gou aan vir ingeval hulle ons roep. Hulle roep nie, maar vaar naby ons verby en bespied ons met vêrkykers.

Die 32 myl gaan gouer verby as wat ons gedink het en ons nader Plomari. Ons gooi anker, Archie tru in en daar is niemand om te help nie. Ons bure by Mandraki het ons gewaarsku dat die kaai hoog is en Archie klim daai muur soos ’n rotsklimmer uit, maak die tou vas en gooi dit vir my. Toe is ons vas en ons gaan vir twee dae hier bly.

Plomari
Die hawe
Plomari
Kerk

Ons gaan dorp toe net om van Maja af te kom, want dit is snikheet en drink iets by ’n kafee onder ’n boom. Ons sal môre die dorp gaan ondersoek. Archie het my ook genooi vir Griekse kos, musiek en danse wat Vrydae aangebied word. En dis mos mos more Vrydag!

Gus waai hier baie deurmekaar. Van alle rigtings. Dan kom die windvlae van die noorde, dan van die weste en ook van die ooste. Die hawe is nie beskut teen die suide nie.

Die wind draai in die nag …

Thursday, June 23, 2016

Mandraki – Dag 2. Oinoussa Eiland.


22 Junie 2016. Woensdag.


Ons tweede dag by Mandraki. Archie wil gaan kyk hoe groot is die see aan Lesvos se kant van die eiland. Hier by ons waai Gus dat dit bars. Ons kyk na drie verskillende weervoorspellings en elkeen spin ’n ander storie. Volgens Poseidon is die winde nie so sterk aan Lesvos se kant nie, maar die ander twee voorspel baie sterk winde van die noordekant. Dit is reg van voor en tussen Gus en die groot see, is so ’n kruising ’n marteling van 31 myl.

En daar trek ons, as weerburo, op die seeverkenningstog. Dis ’n vêr ent om te stap en ek besluit om nie die hele pad te stap nie, maar om vir hom te sit en wag terwyl hy die hoogtes bestyg. Ek soek ’n plek in die skadu en kry my sit. Ek tuur na die see en oordink die lewe.

Die boer laat sy bokke uit die kamp en hulle gaan wei. ’n Paar van hulle kom in my rigting. Hulle steek vas en kyk my aan en ek kyk hulle aan. So kyk ek die die boerbokke mekaar heeltyd aan. Seker omdat ek ’n boeremeisie is. Of dalk is dit my skelrooi hoed.

Ou Arch kom terug en doen verslag oor die toestand van die see. Sê dis nie so groot nie. Natuurlik sal dit nie groot lyk van die hoë berg af nie. Hy het sy stap baie geniet en mooi uitsigte gekry.

Landskap
Uitsig met Chios in agtergrond
Seestraat tussen Oinoussa en Chios
Kerk
Klooster
Nog 'n kerk

Moet ons kruis?


Die vraag bly staan – kruis ons môre of bly ons. Die Israeli’s van langsaan sê ons moenie môre gaan nie en die Engelse aan die ander kant stem saam. “What to do, what to do?”


Wednesday, June 22, 2016

Mandraki. Oinoussa Eiland.



21 Junie 2016. Dinsdag.

Ermioni tot Mandraki

Ermioni was goed vir ons. Die nag het Gus suid gewaai en ons van die kaai weggehou. Hy het wel ons mat, wat Archie gewas het en op die kaai gelos het om droog te word, in die see gewaai. Maar geen probleem, die visserman wat daar staan en visvang, vang gou ons mat met sy vishoek.

Ons maak toue los en dieselfde visserman stoot ons van die kaai af en ons vertrek na Mandraki, 38°30.856 N, 26°12.994 O, 14.4 myl. Gus waai van voor en ons vaar eers en later en motorseil ons vir 1h20min.

Mandraki is op die eiland Oinoussa. Die boek sê dat die rykste skeepseienaars van Griekeland van die klein eilandjie afkomstig is. Blykbaar is die rykste skeepseienaar nie Niarchos of oorlede Onassis nie, maar ’n privaat man met die naam Costa Lemos, wat taamlik onbekend is. Daar is ook  n bekende standbeeld van 'n meermin wat in die water op n rots pryk.

Kerkie, waar's die meermin …
… hier's die meermin

Ons vaar by die hawe in en die vrou van langsaan help ons met die toue en ons is vas. Hier moet ons bly totdat die wind ophou waai vir ons volgende kruising na Lesvos. Hulle voorspel sterk winde van voor af en ons sal moet wag totdat toestande gunstiger is.

Mandraki hawe
Gullie met sy grondboontjiebotter toebroodjie

Ons gaan stap in die dorpie rond en my knieë is seer. Hier gaan nie veel aan nie, maar dit is pragtig. Daar is mooi, nuwe huise en dan is daar baie ou en sommige vervalle huise. 

Mandraki kerk
Archie en Nick

Hier is ook nie eintlik supermarkte om voorrade te koop nie. Skeurbuik is ons voorland. Ek raak nou moeg vir pasta. Ek is lus vir huiskos. ’n Sappige lamsboud of skouer, ’n groot stuk geroosterde “prime rib” of plathoender. In ’n oond gaargemaak en opgedien met ’n verskeidenheid groente en avokadopeer in die slaai. Met ’n mooi gedekte tafel en ’n gas op elke stoel. Iets soos Barbette se eetmaal.
 
Daar is ook nie water en elektrisiteit op die kaai soos die boek sê nie, want die krane is kurkdroog en die kragbokse hol. Ons sal Maja se motor elke dag moet laat loop anders word Archie se bier warm. Gelukkig se Archie Maja se enjin battery kan nie pap word nie, want ek weet nie hoe stoot jy ’n boot aan die brand nie.

Hier moet ons nou opwag op beter dae. “Deon, bring vir gesette Gussina saam, dat sy vir Gus kan vry totdat hy lê, dat hy vir ons kan uitlos en hom met sy eie sake bemoei!”

Dis eintlik mooi hier, dis net dat ons tyd besig is om uit te loop en ons moet gaan!

Monday, June 20, 2016

Ermioni. Chios Eiland



20 Junie 2016. Maandag.

Salagonas Baai tot Ermioni
 
Ons vaar om die suidepunt van Chios. Daar is ruwe rotse in die wêreld.

Ruwe suidepunt
 
Vandag was verondersstel om ’n kort dag te wees, net 10 myl, na ’n klein baai om te anker. Dis ’n pragtige baai, maar klein. Die twee seiljagte wat reeds daar is, staan die baai vol.

Ons vaar vêrder na Kataraktis hawe. Dis ’n klein hawe en die boek sê hier is die lekkerste “Red Mullet” wat hy al geëet het. Dit lyk of daar plek is, maar daar is orals boeie en motorbande teen die kaai. Die plekke behoort heel waarskynlik aan die vissermanne.

Ander mense doen “Pub crawling”, maar dit lyk vir my ons doen “Harbour crawling”. Ons vaar vêrder na nog ’n hawe waar daar volgens die boek heelwat plek vir jagte is. Die plek se naam is ook Ermioni, 38°18.042 N, 26°08.929 O, 21.5 myl.

Ermioni

Maar daai boek lieg soos ’n tandetrekker. Daar is net plaaslike bote in die hawe, meestal vissersbote. Ons wil stert tussen die bene uitvaar, toe ’n vriendelike Griek vir ons fluit. Hy is daar met ’n motorsports boot en hy gaan vertrek. Ons kan dan langs die kaai vasmeer.

Toe is dit gereed maak, want ons het gedink dit is ankergooi en tru. Ek laat die fenders sak, kry die toue uit en toe, voordat ek tyd kry vir paniek, trek Archie al langs die kaai in, ek moet helm oorvat en hy klim af met die tou. En sowaar as wraggies, net so, toe is ons vas. 

Vas aan die punt van die kaai
Hawe
 
Hierdie is ’n snaakse plek. Beslis nie ’n toeriste aantreklikheid nie. Hier bly net gewone mense sonder swier van toeriste. En dit is ’n bedrywige hawe. Vissermanne kom en gaan. Archie gaan vind uit of hier vis beskskbaar is, maar hier is nie eers tavernas nie.

Hy kry darem ’n paar tamaties, uie en aartappels te koop. En ook piesangs en perskes.

Dis soms lekker om in die weklikheid tuis te gaan. Sonder pretensie. Sommer net.