Saturday, June 11, 2016

Skiathos. Stapdag en gaste.

10 Junie 2016. Vrydag.


Ons klim die rooi bus en daar trek ons na die Evangelistrias Klooster toe. Ek is mos ’n kerkmens en wou lank gelede’n non geword het, so ek is in my element. Dit is ’n werkende klooster met monnike wat daar werk en take verrig.



Die klooster is verfraai met die mooiste, kleurvolste blomme. My ma sou baie hiervan gehou het. Ons bekyk alles. Duiwe word gevoer. Die arme jong monnik stoot kruiwa en gooi blomme nat. Hy doen die eenvoudige werk met oorgawe. So asof dit vir ’n Hoër Hand is. Soveel ywer. 

Klooster
Evangelistrias Klooster

Monnik aan die werk

Ou Archie sit onder die boom terwyl ek in die museum gaan rondloer. Foto’s neem word nie hier toegelaat nie. Ons gaan koop vir my ma en pa geskenke wat deur die monnike self gemaak is

Sit rustig
Klipkoepels

Kumkwat brousel


Toe besluit Archie hy wil die 7 km sirkelroete stap. Dit begin en eindig by die klooster. Hy sê ek kan maar solank met die bus terug na Maja gaan. Wel, hoe kan ek dit weerstaan en ek stap saam, moer toe knieë en al. Ons stap die rooi kol roete. Dit gaan goed. Die pad lei deur die bos, dan weer op die grondpad. Die uitsigte is net bietjie min, maar die stap is heerlik.

Uitsig met Skopelos Eiland in agtergrond
St Charalambos Klooster

Uitsig van hoofland

Ons stap sonder ’n kaart en verdwaal natuurlik toe die rooi kolle opraak. ’n Vriendelik Griek verduidelik vir ons hoe ons moet stap en daar trek ons weer. Ek weet nie hoe vêr ons gestap het nie, maar dit was vêr. Die laaste deel van die stap was die mooiste. Deur die bos. Varings wat welig groei. Groot ou bome en ’n klippaadjie. Ons kom toe eindelik weer by die klooster uit, moeg maar tevrede. 15:00 klim ons die minibus en gaan huis toe. 

Uitsig van Skiathos Dorp

Toe begin die werk. Archie sê mos altyd ’n huisvrou se werk is nooit klaar nie. Dis waar, veral as jy gaste kry. Dis klere was, boot was, hare was, kos maak en alles is toe “spick and span”.


Ons stap na die veerboothawe en wag vir die Flying Dolphin. Hy kom aangejaag en ons hoop maar net ons herken die gaste. Ons het hulle ’n paar jaar gelede by die Dolomites stap in Italië ontmoet. Die veerboot stop en die insittendes klim af. Ek staan gereed met die kamera om hulle te kiek. En jou waarlik, ons herken ek en hulle neem die regte persone af. Ons soengroet soos familie. 

Hier kom Louise
Is dit Yvon?

Archie, Yvon en Louise
Louise durf die plank aan
Yvon se beurt

Ons geniet welkom drankies op die dek. Ja, Zane, Retsina, ’n regte egte Griekse wyn waarvoor jy so gril. Ons gesels en eet en lag en praat oor daardie berugte laaste aand in die herberg in Italië 

Daardie aand langs die kaai ontmoet ons vir Paul en June Savage, oud-Suid-Afrikaners wat nou in Australië woon. Sowaar, die volgende dag trek hulle langs ons in en June maak vir ons heerlike boeretroos. Ons kuier te lekker.

June en Paul Savage
 

Friday, June 10, 2016

Skiathos. Kaai toe.


9 Junie 2016. Donderdag.

Skiathos weerkaatsings

Vandag is dit kaai toe. Ons wil seker maak dat ons op die dorpskaai vas is as ons eerste gaste van Kanada kom. Ek glo nie hulle wil met hul bagasie op Dinkie gelaai word en aangery word Maja toe nie. Wie gaan die bagasie uitduik as dit in die water beland?


Ons trek anker op en vaar ’n hanetree na die kaai. Niemand is daar om te help nie en ons is op ons eie. Dus, ek gooi die anker, Archie tru tot naby genoeg aan die kaai dat hy met die vasmeertou kan afklim, ek vat helm oor, hy maak vas en ek vang die tou. Alles verloop volgens plan behalwe een ding wat ek liewers wil verswyg …



Toe is ons vas en die dorp is ons s’n. En is dit nie ’n pragtige dorp nie! Sowat van atmosfeer het ek lankslaas beleef. Dis mos nou die Griekse eilande soos ek dit ken. Die son skyn vrolik en warm, die wolke is elders en Gus waai net genoeg om jou af te koel. Sewende hemel kwadraat!

Die ou hawe
Dorp
Skiathos
Uitsig van kloktoring

Ons stap rond en verf die dorp rooi. Dis straatjies en restaurante en uitsigte en glimlagte (ek en Archie s’n). Ons eet ons eerste gyro vir die seisoen. Ons is die eerste om bedien te word. Die aartappelskyfies is vars, die pita is vars, alles is vars! Dit word die een van die lekkerste gyros wat ons al geëet het. Ai, maar die lewe is ’n lied en Archie neurie saam.

Ons eerste gyro

Die kaai is bietjie wipperig, maar dit pla nie eintlik nie. Swede wat by Orei langs ons gestaan het, trek weer langs ons in. Die effe gesette vrou het dieselfde minirokkie weer aan. Ek hou asem op vir haar bukslag. Sy stel nie teleur nie. Sy buk dat die kraaie gaap. Die vroue op die boot langs hulle trek hulle asem in en hul monde val oop. Hierdie buk is ’n meesterstuk.


Dis heerlik in Skiathos. Dit wemel van mense wat eet, drink, rondloop, koop en alles geniet.




Wednesday, June 8, 2016

Skiathos. Skiathos Eiland.



8 Junie 2016. Woensdag.

Koukounaries Baai tot Skiathos
 
Ons het heelnag rondgerol. Soos op die oop see. Die groot golwe van daar anderkant af het hierheen gerol en gerol en nog gerol. Tot die potte in die kas het geklingel van die heen en weer gerol. Ek is nou gatvol gerol. Dit het ook die heelnag gereën. Ek dink ons het verdwaal en is nou per ongeluk in Londen.

Oggendskoot
 
Ons besluit om te gaan en wel na Skiathos dorp, 39°09.848 N, 23°29.690 O, 6.4 myl. Anker op en sowaar, dit begin saggies te reën. Ons is nou behoorlik Koud en Mislik.

Koud …
… en Mislik
 
Gelukkig is dit nie vêr nie en dof en onduidelik lê die arme beroemde Skiathos voor ons, ’n spook-bleek toeriste-aantreklikheid wat jaarliks duisende sonbaaiers na die pragtige strande toe lok. Weet nie wie wil op die koue plek sonbaai nie. Hier is dan nie eers son nie! Toe skielik is daar ’n brokkie son! Alles lyk beter as die son probeer skyn.

Skiathos

Die kaai is oorvol en ons moet in die baai anker. Jy mag nie voor die landingstrook van die lughawe anker nie, ook nie by die permanente boeie nie, ook nie waar die groot veerbote draai nie. Ons kry ’n plek en gooi anker.

Die vliegtuig vlieg oor die jagte heen en dit lyk of hy die maste net-net mis en tussen die jagte ’n waterlanding wil maak. Maar hy land netjies op die landingstrook.

Die groot veerboot kom in en dit lyk of hy reguit op ons afpyl. Hy maak sy draai en ons is gelukkig vêr genoeg weg van die ou reus.

Reuse veerboot
Koets hier kom hy
 
Die son begin te skyn en ons gaan dorp toe. Ons gaan mos altyd dorp toe. Skiathos wemel van mense met truie om die heupe vasgemaak. Die son maak on harte en ons lywe warm. Skielik is dit baie lekker hier in Skiathos

Skiathos
Kleurvolle ingang

Môre gaan ons plek by die kaai soek dat ons reg is vir ons Kanadese vriende wat Vrydagaand kom. Ek wonder hoe lyk hulle…