Wednesday, June 8, 2016

Skiathos. Skiathos Eiland.



8 Junie 2016. Woensdag.

Koukounaries Baai tot Skiathos
 
Ons het heelnag rondgerol. Soos op die oop see. Die groot golwe van daar anderkant af het hierheen gerol en gerol en nog gerol. Tot die potte in die kas het geklingel van die heen en weer gerol. Ek is nou gatvol gerol. Dit het ook die heelnag gereën. Ek dink ons het verdwaal en is nou per ongeluk in Londen.

Oggendskoot
 
Ons besluit om te gaan en wel na Skiathos dorp, 39°09.848 N, 23°29.690 O, 6.4 myl. Anker op en sowaar, dit begin saggies te reën. Ons is nou behoorlik Koud en Mislik.

Koud …
… en Mislik
 
Gelukkig is dit nie vêr nie en dof en onduidelik lê die arme beroemde Skiathos voor ons, ’n spook-bleek toeriste-aantreklikheid wat jaarliks duisende sonbaaiers na die pragtige strande toe lok. Weet nie wie wil op die koue plek sonbaai nie. Hier is dan nie eers son nie! Toe skielik is daar ’n brokkie son! Alles lyk beter as die son probeer skyn.

Skiathos

Die kaai is oorvol en ons moet in die baai anker. Jy mag nie voor die landingstrook van die lughawe anker nie, ook nie by die permanente boeie nie, ook nie waar die groot veerbote draai nie. Ons kry ’n plek en gooi anker.

Die vliegtuig vlieg oor die jagte heen en dit lyk of hy die maste net-net mis en tussen die jagte ’n waterlanding wil maak. Maar hy land netjies op die landingstrook.

Die groot veerboot kom in en dit lyk of hy reguit op ons afpyl. Hy maak sy draai en ons is gelukkig vêr genoeg weg van die ou reus.

Reuse veerboot
Koets hier kom hy
 
Die son begin te skyn en ons gaan dorp toe. Ons gaan mos altyd dorp toe. Skiathos wemel van mense met truie om die heupe vasgemaak. Die son maak on harte en ons lywe warm. Skielik is dit baie lekker hier in Skiathos

Skiathos
Kleurvolle ingang

Môre gaan ons plek by die kaai soek dat ons reg is vir ons Kanadese vriende wat Vrydagaand kom. Ek wonder hoe lyk hulle…

Tuesday, June 7, 2016

Koukounaries Baai. Skiathos Eiland.

7 Junie 2016. Dinsdag.

Orei tot Koukounaries Baai

Dit reën in die nag. Net wakker-maak saggies en lekker-slaap liggies.
 
Ons wil vroeg vertrek na Koukounaries, 39°08.786 N, 23°24.084 O, 20.6 myl, want 09:00 begin Gus te waai by die seestraat in Orei se omgewing. Ons wil weg wees voor hy arriveer. 07:00 trek ons anker op, vaar uit die hawe en vat die pad. Archie sien ’n rob, maar hy is baie sku, as ons nader kom, skep hy asem en verdwyn onder die water.

Die see is plat en kalm. Archie gebruik die tyd om aan die fenders se toutjies te werk. Verstel hier en verander daar

Werk aan fenders

Daar is baie wolke in die lug en daar is reën vir vanmiddag voorspel. Oor Skiathos se wêreld is die weer dik. Verskeie soorte wolke vul die lugruim. Hulle almal hou die belofte vir reën in

Wolke
Marmer gwarrie

Ek kyk voor na die see en daar doer sien ek net wit perde. Ek kyk deur die verkyker en sien net moeilikheid. Dis al weer “O Ryperd, ons ry die pad tesame …” Eensklaps waai Gus tussen 16 en 20 knope, reg van voor. Die kalm see verander na rollende deinings met wit perde. Maja en haar kaptein pak hulle een vir een aan. Op en af word ons een met die elemente van die natuur. Mens en seiljag en water sinkroniseer, as verskillende magte, maar nie vyandig nie. Elkeen op sy eie domein.

Dis see bedaar later en ons kom by Koukounaries. Die see is kalm in die baai, maar ou Gus waai. Die bodem is seegras met kol-kol sand en ons mik na ’n kol sand, maar dis mis. Die anker sleep. Ons mik weer, meer sekuur. Ek gooi en dit tref. Die anker byt en ons is vas. Gus hou later opwaai, maar ligte deinings rol die baai in en on gaan seker heelnag rol.

'n Grys Koukounaries

Dit reën weer liggies. Vandag en môre ook. Ons sal maar môre ook in die baai rondrol terwyl ons wag vir beter dae. Donderdag gaan ons na die hoofdorp toe en op die uitkyk wees vir ’n plek op die kaai. Ons Kanadese vriende kom Vrydag, dan wil ons graag ’n plek langs die kaai in Skiathos dorp hê en goeie weer, asseblief.

Een ding is seker. Griekeland moet somer, sonskyn en saffier hê. Hier is ons nou by die Griekse Riviera en dit lyk na niks omdat die son nie skyn nie

Monday, June 6, 2016

Orei. Evia Eiland.





5 Junie 2016. Sondag.

Roete tot op datum
Aidipsos tot Orei

Dis ’n lang dag van 26 myl na Orei, 38°56.951 N, 23°05.182 O. Geen wind vir seil vandag nie. Maja vaar maar voort, met haar dreunsang wat soos musiek in my ore klink.

Stuurman se uitsig

Wolke, berge en see

Ons gaan deur ’n kanaal waar die diepste water 7 m is. Dis weer meet en pas en GPS-lyne en roetes en Archie stuur my vorentoe “to con the way through”. Dis eers links hou dan regs draai en heeltyd die dieptemeter dophou. Dis nogal senutergend as dit vlakker en vlakker word, 7.1 m, 6.6 m, 6.5 m! Groot is die verligting as dit weer stadig maar seker dieper word. Ons weet die roete is haarfyn uitgewerk, maar nogtans … 

Begin van vlak water
Mede-vaarder

Ons is deur die vlak en vaar voort. Later begin Gus van voor te waai en dit is skielik weer koud. Ek sit op die dek met my Elize-kombersie en voel hoe die warmte om my vou. Ons kom nader aan die hawe en alles word voorberei. Fenders word uitgesit en anker is gereed. Op die kaai staan twee mans klaar gereed om te help. Archie tru meesterlik en gee die opdrag: ”Gooi!” Onthou, ons skat mos afstand soos hond se gat. Ek gooi. Die anker loop, Archie tru, die manne wag.

Alles werk goed uit, die anker byt, ek het 40 m uitgegooi, die manne vang die toue en ons is vas. Die lekkerte as alles met ’n vasmaak vlot verloop, is prysloos!

Hierdie dorpie is die laaste stopplek voordat ons die Sporadiese Eilande binnevaar. Hier moet ons water en diesel kry. Dis maar ’n doodgewone plek. Tipies Evia, nie mooi nie, nie lelik nie. Ons stap maar rond en kyk ook hoe lyk die suidelike kaai.
Kyk vir Maja - vyfde seiljag van links
Noordelike uitsig vanaf Maja
Swemstrand

Na aandete gaan sit ek op die muur met musiek in my ore en tuur oor die baai. Dis windstil, net soos ek daarvan hou. Klein golfies rol op die strand uit, wolke vul die hemelruim, die vêr-af berge is dynserig en donsig. Alles vergrys tot aand. Dis net die son wat op die westerkim sy laaste lig werp om aan die dag vas te klou. Wat alles vir oulaas verkleur tot die mooiste kleurespel, voordat die aand sy regmatige plek inneem en baie later nag word.


Op die hawemuur
Kleurespel


Ons gaan nog 'n dag hier oorbly voordat ons die eilande tref.





Aidipsos.



4 Junie 2016. Saterdag.

Limni tot Aidipsos

Ons kom veilig deur die benoudste hawe en weg is ons na Aidipsos, 38°51.618 N, 23°02.336 O, 15.6 myl. Dis niks besonders nie, net vaar en vaar en seil vir 30 minute. Ons mik eers hawe toe, maar ek hou nie daarvan nie en ons anker in die baai.

Rustig seil

Aidipsos
Laat middag

Dis ’n heerlike windstil nag in die baai.