Wednesday, May 25, 2016

Tselevinia. Kasty.



24 Mei 2016. Dinsdag.

Vandag is my suster, Laaina, se verjaardag. Lekker verjaar!

Portocheli tot Tselevinia

Ons is eintlik op ons terugtog na die nuwe en onbekende weivelde. Ons gaan mos noord hierdie jaar. Daar word heerlike ligte winde voorspel vir vandag en vanaand. Ek is baie bly, want ek is nou gatvol vir wind. Ons verlaat 'n windstil Portocheli.

Windstil Portocheli

Ons is op pad na Tselevinia, 37°26.067 N, 23°31.262 O, 24 myl. Ons was verlede jaar saam met Chris en Zane daar. Ons vaar die meeste van die tyd, maar Kaptein is bly oor die 1h14min wat ons seil.

Flying Dolphin

Ek weet nie of ek my verbeel nie, maar hoe nader ons aan die ankerplek kom, hoe harder waai Gus. En ek het my klaargemaak vir ’n rustige en vredevolle middag en nag. Maar helaas! Gus kom en maak die baai lelik. Hy frommel die helderblou water van die baai op tot lelike rimpels vol letsels. Ek is kwaad en ontevrede.

Gus kasty my. Hy storm by die berg af met sy trippel toon trappers en hardloop oor die water, spring op Maja laat haar sing, sidder en steier en krap my om, met sy doring vuis waarmee hy my in my hart kasty. Dan kom hy altyd terug. Weer en weer, keer op keer.

Tselevinia

Dit word aand en hy gaan lê nie. Die kaptein besef hy moet nou iets doen om die befoeterde vrou van hom se bui te laat sak. En daar sit hy toe ’n CD van Theuns Jordaan op en die musiek klink op vanuit Maja. Dit bring tot bedaring en ek lê op die dek en luister na die musiek. Dit pla ook nie die ander twee jagte nie, want ons is wind-af en Gus maak in elk geval so baie lawaai, niemand sal hoor nie.

In die hemelruim  kom sit ’n ster. Alleen, soos ’n brandwag, om eers seker te maak alles is veilig. Een vir een kruip die ander uit vanuit die ligjare. Hulle kom hang aan die donker hemelruim vir die mens as roete bepalers en rigting vir hul lewens. Sodat ons nie kan verdwaal in ons eie warboel van emosies en menswees nie.

Hulle wys my die pad van verstaan, van sin maak. Van aanvaar en ervaar. Van die goed en die sleg. Van opstand en vredemaak. Gus skaaf my, kasty my. Die sterre wys my die pad.

Môre doen ons die eerste groot see kruising.

Tuesday, May 24, 2016

Portocheli Kaai.





23 Mei 2016. Maandag.

Koiladia tot Portocheli

Weer ’n bekende plek. Ons gaan na Portocheli of Porto Heli, soos dit ook bekend staan, 37°19.609 N, 23°08.655 O, 12.3 myl. Ons vaar heelpad. Dis vir my lekker om vir ’n slag geen wind te hê nie. 

Vol baai

Hierdie keer gaan ons nie anker nie, ons gaan kyk of daar plek by die dorpskaai is. En wat ’n geluk! Toe ons aankom, trek ’n jag uit en ons kry die enigste plek. Die dorpskaai is propvol plaaslike jagte en plek vir vreemdelinge is daar nie juis nie. 

Op die kaai

Dis sommer ’n gewone dorp hierdie. Archie gaan bestel diesel en Maja drink gulsig aan 53 . Nou is haar pensie weer vol en ons kan vêr vaar. (Maar soos ons deesdae seil, gaan daai diesel lank hou).

Portocheli


Monday, May 23, 2016

Koiladia Baai.



22 Mei 2016. Sondag.

Nafplio tot Koiladia

Niemand wil hier op Nafplio bly nie. Die jagte vertrek een vir een. Voordat die Noordewind kom en ons teen die kaai vasdwing. Ek het nooit die pragtige mure van die kasteel gaan loop nie!

Ons kies die hasepad na Koiladia, 37°24.987 N, 23°07.925 O, 20.4 myl. Dit het “all round shelter and excellent holding". Op so ’n plek kan ons maar wag dat Gus sy blaas klaar blaas.

Ons seil vir twee ure en twintig minute. Chris sou daarvan gehou het. Koiladia Baai is maar goed winderig en Gus hardloop oor die water en dan spin ons in die rondte. Maar ons weet ons anker gaan hou, ek het gesien hoe byt hy.

Kollig

Dit was nie ’n lekker nag nie, want die ankerketting het geraas en toe kon ek nie slaap nie. Gus het toe maar vroegoggend gaan inkruip en toe kon ek ook gaan slaap.

Sunday, May 22, 2016

Nafplio. Wat ’n gedoente!


21 Mei 2016. Saterdag.

Vandag voorspel hulle reën. Dit is bewolk. Ons sal nie vandag die 999 trappe na die ou fort en kasteel kan klim nie. Ons sal net halfpad kom, dan reën ons nat. Dis miserabel. Archie gaan vinnig LIDL (wonderlike supermark) toe. Ek bly op Maja want ek is nie lus vir nat word nie.

Fort - 999 trappe lei soontoe

Die middag word dit beter. Alles lyk altyd beter as die son skyn. Ons besluit ons sal Sondag die kasteel en fort aandurf. Hulle voorspel son vir môre. Ons gaan stap in die dorp rond. Dis weer Elize se tipe dorp. Mooi straatjies, toeriste wat ronddwaal en oral sit mense in straatkafees en eet en drink. Ek koop ook vir my twee dogters, Michelle en Roelien, hulle geskenke.

Oudorp straat
Koop geskenke



Natuurlik kom ons ook op ’n “big fat Greek wedding” af met ’n vreeslike maer bruid. Hulle trou in ’n mooi wit kerk. Ons is in vervoering oor die mooi dorp. Passasiersbote stop hier, so gewild is dit. 

Trou kerk
"Hier kom die bruid …"!



“Meanwhile, back at the ranch …”



Ek sê vir Archie ek wil terug Maja toe. Hy soek eintlik nog ’n sekering (fuse) wat hy geblaas het, maar ek wil Maja toe. Archie besluit hy los die sekering en kom saam na Maja. Ons stap verby die groot boot wat ingkom het en verbeel ek my of wip hy vreeslik. Ons kyk na die baai en dit is net seeperde.



By die kaai is almal hot en haar op hete kole voor by hulle ankers. Die spanning hang voelbaar in die lug. Die jagte hop op en af en heen en weer. Die dorpskaai is bekend daarvoor dat ’n anker deur die slapperige modder kan los ploeg. Gelukkige het ons mos so baie ankerketting uit dat ons op die tou is.



Dis toe al 18:00. Ons val amper in toe ons oor die plank loop om op Maja te kom. Archie het al gister twee sy toue (“spring lines”) uitgesit en hy sit toe nog ’n tou aan die stuurboord kant waar die wind vandaan kom. Ons bure se jag is so skeef, sy agterent stamp al amper teen die kaai. Hulle gee Archie se ekstra toue ’n kyk en sit toe ook spring lines uit. Die gevaar daarvan as ’n jag teen ’n kaai vasgemeer is en heen en weer gewaai word deur ’n sterk wind, is dat die anker loswikkel. Veral in ’n snotterige modder.

Ons bure kyk die spul aan



Toe begin die chaos. Een jag se anker het losgekom en hy vaar uit. Die wind waai hom en hy haak aan sy buurboot se anker vas en trek hom los. Nog ’n boot vaar uit en ’n ander een vaar net daarna. Wat eintlik gebeur het, weet ons nie, want dit was ’n ent van ons af. Ons hoor net benoude uitroepe, bevele en gille. Vier jagte het anker opgetrek.

'n 3-boot drama

’n Dinghie kom daar aangejaag en hulle probeer die ankers ontkoek. Gus waai dat dit bars. Na ’n gesukkel is die ankers vry. Die een jag vaar uit die baai, ’n ander een anker onwettig in die baai en die ander twee probeer weer ankergooi en vasmaak. Almal help. Heelwat later kom die ander boot ook in en maak vas. Ou Maja en al haar ekstra tou se anker lyk goed.

Goeie Samaritane kom red
Amper los



Gus is moeg van al die moles wat hy gemaak het en rus ’n bietjie. Dit trek mooi oop en die wind word stil. Almal is verlig en die mense begin optert vir uiteet. Gus ontwaak en verras ons met nog ’n windvlaag, ’n bui reën en donder en bliksem. Ek sug maar net.



Later het hy gaan lê en die bootmense het baie verlig in die bed geklim. Hulle voorspel sterk Noordewind vir môre en dan waai die jagte teen die kaai vas. Hier kan ons nie môre bly nie!