Tuesday, September 15, 2015

Panormou.


14 September 2015. Maandag.

Anemokampis tot Panormou Baai

Dis ons laaste week. Ons bekruip vir Patra stadig, maar seker.

Al die baaie in die geweste is beskut teen die heersende winde, wat die noorde- en westewinde is. Dis oop vir die suidewind en die oostewind veroorsaak swellings in die baaie. Raai nou net hoe waai Gus nou!? Hy is so aspris, hy waai uit die ooste en suid-ooste. Wip is my voorland.

Ons vertrek uit Anemokampis na Panormou, 38°21.530 N, 22°14.659 O, 11.6 myl. Gus waai net liggies, maar hy het seker op ’n ander plek erger gewaai, want die see is al klaar effense effens opgeklits. Nie baie nie, net genoeg om vir Maja rond te skommel as sy sou stilstaan. Ons vaar by Ormos Vidavis in om te kyk hoe lyk die ankerplek. Dis oop na die suide en die oostewind stuur swellings in. Ek kan sommer sien dis hop se dinge die en ons vaar maar verder.

Ormos Vidavis


Gus is ’n lekker ligte briesie en die kaptein wil seile span. Ons het nie vêr om te gaan nie, so ons is nie haastig nie. Ons seil sommer so stadig en rustig verder. Die kaptein kyk na sy seile en probeer maksimum spoed uit mimimum wind kry. Waar is ou Chris nou. Hy wil mos altyd bloed uit ’n klip tap as dit by seilspoed kom.


Kaptein se seile



Ons vaar by Panormou in. Ons ken die baai, want ons was verlede jaar hier. Dis so ’n groot, vriendelike baai met ’n groot klippiesstrand. Archie kry die geskikte plek en ons gooi anker en Maja skop viervoet vas, so byt haar anker. 

Panormou Baai


Die deinings kom klein, maar duidelik ingestroom en breek liggies op die strand. Dis glad nie gevaarlik nie, Maja is goed geanker en Gus waai nie. Dis net blerrie ongemaklik as Maja so hop en skommel. Soms gee jy ’n tree, dan hop sy anderkant toe. Dan is jou tree so half in die lig en jy struikel so ’n dronkie. Dis verbasend dat sulke klein deinings sulke groot bootskommelinge kan veroorsaak.

Ons kajuit is in Maja se snoet en daar voel jy die bewegings die ergste. Ou Arch slaap soos ’n baba en ek kan nie slaap nie. Dan skwiek iets hier en dan chirr iets daar. Dan klik iets hier en dan klak iets daar. En Sherlock snuffel al die geluide uit en maak dit stil. Se moer, ek gaan op die dek slaap. Dis lekker koel daar, hop die minste maar in die nag klink daai klein golfies wat op die strand breek, so erg, ek dink ek is by Wildernis in die Kaap!

Praat van koel, ek dink die seisoen is besig om te draai. Ek kry later koud op die dek en gaan kruip by die kaptein in.

Monday, September 14, 2015

Anemokampis Baai.



13 September 2015. Sondag.

Galaxidi tot Anemokampis Baai

Vir drie dae en drie nagte het ons in Galaxidi gebly. Vir seilende sigeuners is dit baie lank. Ons het ’n nuwe vriendskap gesluit. Ons hou van Galaxidi. Maar nou is dit tyd om vêrder aan te stoot na Anemokampis Baai, 38°20.941 N, 22°22.840 O, 3.6 myl, net om die draai.

Ons anker word foutloos opgetrek, sonder om iemand anders s’n saam op te trek. Gekruisde anker is ’n alledaagse verskynsel as jy vasmeer by ’n kaai in Griekeland. Die buurman staan hoeka voor op sy seiljag om die sake fyn dop te hou. Almal slaak altyd ’n sug van verligting as ’n anker skoon uitkom, sonder ’n stuk ketting van iemand anders se anker.

Ons vaar by die baai in wat deur die land omsingel word. Dis baie beskut hier en Archie soek ankerplek en ek gooi. Anker byt en vas is ons. Wat vreeslik lekker van anker is, is dat jy sommer maklik in die water kan spring as jy warm kry. By ’n dorpskaai kan jy nie swem nie. Jy moet na ’n spesiale strand toe gaan. Ons maak toe ook so. Ons spring, nee Archie spring en ek klim in die water en koel daai warm lywe af.

Anemokampis Baai


Ons gaan land toe en stap om die baai. Daar is nog ’n jag op anker en ’n paar vissersbootjies in die baai. Dis heerlik stil hier en ons geniet die rustigheid na drie dae by die kaai.

Herfs wolke
Stil baai
Anemokampis Baai


Dis donkermaan. Ek kyk na die nag en soek vir by bakens om te sien waar ons is, maar dis net donkerte met ’n paar sterre wat ligjare vêr van ons is en moedig vir ons probeer lig gee.

Saturday, September 12, 2015

Galaxidi. Nog twee dae.




11 & 12 September 2015. Vrydag & Saterdag.

Galaxidi Baai


Ons bly nog vir twee dae. Ons lê rond en loop rond. Hier is nie vreeslik baie te doen nie. Dis warm. Jy weet nie waar om te sit nie. Die dek is te warm. Die saloon is te warm. Die kamers is te warm. Dis te warm om rond te loop. Dis warm!

Gaan rondloop


Langs ons is Engelse, met ’n groot 55 voet seilboot . Die kaptein Andrew en sy vrou Pippa met hulle gaste Allie en Stan van Kent. Vrydag gaan hulle Delphi toe en ons sien hulle glad nie. Saterdag gaan hulle gaste huis toe. Teen 16:00 kom die taxi die gaste haal en weg is hulle na Athene. Andrew en Pippa is skielik weer alleen op hul boot en die salige stilte sak op hulle neer. Hulle het die gaste se kuier geniet, maar dit vat aan ’n vrou. Pippa lyk moeg.

Hulle nooi ons vir ’n glasie wyn en ek en Pippa kliek soos wat ek nog net met Leon gekliek het. Dadelik en duidelik. En ek en sy verstaan mekaar. Op die daad en smee ’n vriendskap wat vir ewig sal hou. ’n Onsigbare band wat van wie weet waar afkom. Ons klets en lag en die hegpleister heg ons net hegter. 

Andrew and Pippa


Hulle moet egter vertrek en ons groet. Ek groet haar soos ’n ou vriendin. Ons sal mekaar weer sien. Daarvan is ek seker.


Ou vriendinne
Ou vriende


Hulle vaar weg en ons waai en waai en waai. Ek is lief vir daai vrou en haar man!

Hulle vaar weg

Friday, September 11, 2015

Galaxidi.



10 September 2015. Donderdag.

Itea tot Galaxidi



Galaxidi , 38°22.600 N, 22°23.265 O, 4 myl, is ’n besonderse, romantiese dorp. Hierdie dorpie het ’n 4 000 jaar ou geskiedenis. Dit was toenertyd ’n belangrike vlootdorp. In die 18de en 19de eeu was dit ’n baie vooruitstrewende Griekse hawe, totdat die Turke die gebied oorgeneem het en beslag op die vloot gelê het. Hier is ook ’n klomp films, TV-reekse en dokumentêre programme geskiet. “The Beekeeper” deur die bekende Theodoros Angelopoulos, is hier verfilm.

Archie vaar deur al die eilandjies en vermy die vlak water en toe is ons daar. Ons kry ’n plek langs die kaai en die boek sê gooi baie ankerketting uit. Ons maak toe net so, maar ons het nie genoeg ketting nie en dis toe maar weer optrek en weer gooi. Hierdie keer ’n bietjie nader aan die kaai. Ai, wanneer gaan ek en my kaptein leer om afstand oor die water korrek te skat!? Die keer is dit klopdisselboom en met die hulp van die Turkse bure, is ons vas en veilig. Hulle vertrek later na die Kanaal van Korinte.

Galaxidi
Straattoneel


Ons gaan die aand, op aanbeveling van ons Turkse bure by Taverna Albatross uiteet. Dis sommerso eenvoudige eetplek. Dis skemeraand. Die tafeltjies staan langs die straat. Die kelner-tannie wat ons bedien, is sommer ’n gewone tannie, ’n boere tannie. Daar is net sekere van die kos op die spyskaart beskikbaar. Sy verduidelik. Ek kies haas en Archie vark. ’n Hond kruip agter sy baas se motor weg en as iemand op sy motorfiets daar verbyry, blaf hy en sit hom agterna. Net langs die taverna, bo-op die balkon, sit ’n langhaar Griek en luister na sy musiek wat hy vir die hele buurt speel. Mooi, sielsmusiek. My soort musiek. Archie geniet dit ook. Met toe oë sing hy saam.

Twee katte jaag mekaar. Hulle raas en skree en baklei met mekaar. Ek dink Kietsie wou by Katsie se vullisdrom eet. Hier het elke straatkat sy eie vuilgoeddrom. Hierdie aand is magies. Dis lewe, dis Grieks, dis menswees, dis bestaan.

My haas is heerlik!