Friday, September 11, 2015

Galaxidi.



10 September 2015. Donderdag.

Itea tot Galaxidi



Galaxidi , 38°22.600 N, 22°23.265 O, 4 myl, is ’n besonderse, romantiese dorp. Hierdie dorpie het ’n 4 000 jaar ou geskiedenis. Dit was toenertyd ’n belangrike vlootdorp. In die 18de en 19de eeu was dit ’n baie vooruitstrewende Griekse hawe, totdat die Turke die gebied oorgeneem het en beslag op die vloot gelê het. Hier is ook ’n klomp films, TV-reekse en dokumentêre programme geskiet. “The Beekeeper” deur die bekende Theodoros Angelopoulos, is hier verfilm.

Archie vaar deur al die eilandjies en vermy die vlak water en toe is ons daar. Ons kry ’n plek langs die kaai en die boek sê gooi baie ankerketting uit. Ons maak toe net so, maar ons het nie genoeg ketting nie en dis toe maar weer optrek en weer gooi. Hierdie keer ’n bietjie nader aan die kaai. Ai, wanneer gaan ek en my kaptein leer om afstand oor die water korrek te skat!? Die keer is dit klopdisselboom en met die hulp van die Turkse bure, is ons vas en veilig. Hulle vertrek later na die Kanaal van Korinte.

Galaxidi
Straattoneel


Ons gaan die aand, op aanbeveling van ons Turkse bure by Taverna Albatross uiteet. Dis sommerso eenvoudige eetplek. Dis skemeraand. Die tafeltjies staan langs die straat. Die kelner-tannie wat ons bedien, is sommer ’n gewone tannie, ’n boere tannie. Daar is net sekere van die kos op die spyskaart beskikbaar. Sy verduidelik. Ek kies haas en Archie vark. ’n Hond kruip agter sy baas se motor weg en as iemand op sy motorfiets daar verbyry, blaf hy en sit hom agterna. Net langs die taverna, bo-op die balkon, sit ’n langhaar Griek en luister na sy musiek wat hy vir die hele buurt speel. Mooi, sielsmusiek. My soort musiek. Archie geniet dit ook. Met toe oë sing hy saam.

Twee katte jaag mekaar. Hulle raas en skree en baklei met mekaar. Ek dink Kietsie wou by Katsie se vullisdrom eet. Hier het elke straatkat sy eie vuilgoeddrom. Hierdie aand is magies. Dis lewe, dis Grieks, dis menswees, dis bestaan.

My haas is heerlik!

Itea. Delphi.



9 September 2015. Woensdag.


Antieke Delphi. Dis waarheen ons vandag gaan. Maja bly alleen agter in Itea en ons klim die 7:45 bus na Delphi. Dis mislik en bewolk. Dit lyk na nag, al is dit dag.

Die busrit is asemrowend mooi. Oral staan my geliefde berge hoog en trots. Dis net jammer dat die son nie skyn nie. Onder ons lê die olyfwoud. Die vaal dofgroen olyfbome staan in netjiese rye, plate van hulle. En aan hulle voete lê die see van Itea. Dis prentjiemooi.

Olyfwoud


Ons was verlede jaar ook hier en het die antieke stad van Delphi besoek. Vandag is ons net hier vir die natuurskoon en die tempel van Athena waarvoor ons verlede jaar nie tyd gehad het nie. Dis boonop gratis, ons hoef nie eers te betaal om daar in te gaan nie.

Ons gaan drink koffie in ’n plek met die mooiste uitsig. Wat ’n luuksheid om ’n koppie koffie slukkie vir slukkie te drink terwyl jy daar vêr in die vêrte tuur. Die wêreld aan jou voete. Ai, maar dis lekker om weer op regte aarde te wees.

Ons stap na die tempel van Athena. Delphi is op ons linkerhand. Ons roofkyk na die enkele kolomme wat sigbaar is van die pad. Die berge lê majestueus-mooi op die agtergrond, die bewakers van die stad.

Delphi se berge


Van die Tempel van Athena is daar nie veel oor nie. Ou kolomme en klippe lê die wêreld vol. Hulle is besig om van die ou klippe en kolomme weer aanmekaar te sit dat mens die glorie vanmelewe se tyd beter kan herleef. Die ouwêreldse se kolomme van die tempel staan trots daar vir die nageslag om te bewonder. En ek bewonder dit.

Tempel van Athena
Trotse kolomme
Tempel van Athena


Die terugstap is weereens mooi en ek het net oë vir die berge en dale. Die pad lei ons verby die museum. Ons gaan nie in nie, maar ek kyk vir die sarkofaag.

Drink van die Kastaliaanse fontein
Sarkofaag uit 2de eeu n.C.


Ons stap ’n ent op die E4-staproete. Dis ’n deel van ’n 10 000 km roete wat in Spanje begin en in Kreta eindig. Die Delphi roete is 18 km lank. Ai, ek wens ek kon die hele roete stap! Ons is lekker hoog en kyk na Itea wat doer onder lê. Ons kan amper, met ’n tikkie verbeelding vir Maja in die marina sien lê.

Uitsig



Tevrede en gevul met die wonder van Moederaarde se mooi natuur, klim ons die bus en geniet die terugrit na Itea.

Wednesday, September 9, 2015

Itea.




8 September 2015. Dinsdag.

Ormos Isidoro tot Itea

Ek dog vandag is Woensdag. Maar jy weet wat het dog gedoen?! Dog het gedog dit is ’n groot gebakte volstruiseier, toe is dit al die tyd ’n jellievis. Dis amptelik. Vandag is Dinsdag.

Itea, 38°25.817 N, 22°25.214 O, hier kom ons. Dis amper 20 myl tot daar. In hierdie geweste is baie erge rukwinde. As Gus die dag lus is, ruk hy jou seile uitmekaar. En dis nie ’n jok nie. Ons het verlede jaar met ons eie oë gesien hoe lyk ’n seiljag waarvan die hoofseil en die genoa flenters deur Gus geskeur is. (Blog, 21 Junie 2014, Galaxidi). Gelukkig is daar in die deel van die wêreld vandag net ligte briesies met effense plukwindjies.

Ons trek anker op en vertrek. Gus is van agter en ons span die genoa. En so seil en motorseil ons vir ’n groot deel van die pad. Later gaan die hoofseil op en ons seil verder. 

Ormos Vereses - verlede jaar se windbaai
Kaptein
"Chris, ons seil"


Itea is nie ’n mooi dorp nie, dis sommer net ’n dorp. Ons gaan in die onklaar marina alongside vasmeer. Dis ’n hele doenigheid. Fenders word aan die stuurboord kant ingeryg. Die vet fender word aan die snoet vasgemaak. ’n Ander lang maer een agter on Maja se agterstewe te beskerm. Lang toue word gereed gekry. Die meerpale (bollards) is vêr uitmekaar. Strategie word bespreek. Daar is nie helpers nie en Archie moet by die kaai afklim. Alles is gereed en die oomblik van waarheid breek aan. Arch stuur in die spasie. Ek neem die helm met benoude boude oor. Ek moet na genoeg aan die kaai kom dat hy kan afklim en sonder om Maja moer toe te ry. Sukses, hy klim af en maak die middelste tou vas. Nou is ons redelik veilig. 

Itea
Alongside


Na ’n vorentoe geskuif en toue wat vasgemaak word, is ons veilig vas. Welgedaan Kaptein en First mate. Toe drink ons koue drankies.

Monday, September 7, 2015

Ormos Isidoro

7 September 2015. Maandag.

Ag. Ioannou tot O. Isidoro


Na ons terleurstellende braaivleis, is ons vandag op pad na Isidoro Baai, 38°21.725 N, 22°37.245 O, 23.1 myl om te gaan.

Dis ’n grou Maandag. Die dag is dof en deinserig. Ek verlang vandag huis toe. Na my mense, my kombuis, my tuin, my toilet, my stort. (Ek dink dit is daai braaivleis se skuld.)

Ons pak die langpad, groupad, bloupad aan. Dis bedompig warm. Alles word in ’n deinserigheid weggesteek. Berge en grysheid word een. Ek voel so alleen.

Groupad, bloupad


Ons gooi anker in die mooi baai en hy byt dat dit bars. Dis nog steeds bewolk.

Ormos Isodoro


Die Golf van Korinte is die blyplek van die Cotylorhiza tuberculate jellievis. Hier is inligting oor die gedierte. Ek is bloot te lui om dit in Afrikaans te vertaal.

Description
Cotylorhiza tuberculata is a species of jellyfish, also known as the Mediterranean jelly or Fried egg jellyfish. Commonly found in the Mediterranean Sea, Aegean Sea and Adriatic Sea it can reach up to 35 cm in diameter. It seems that this jellyfish's sting has very little or no effect on humans but it is better not to touch it and it is probably harmless also for most fishes. Just as for Rhizostoma, it is often associated to young fish that use it as a shelter. It is an endangered species.

Identification
One of the most beautiful jellyfish of the Mediterranean Sea. The umbrella can measure 35 cm in diameter. It is very rigid and roundish in its centre, where it has a reddish or yellow color. The external part of the manubrium is motile and pulsates vigorously. Under the umbrella, the manubrium resembles a bouquet of flowers, with blue-purple buttons, inserted into stout arms. Some tentacles, also terminating with blue buttons, are inserted on the manubrium. Cotylorhiza can have symbiotic microalgae that live in its tissues, just as those of tropical corals. Functionally it is a “plant”, even if it can feed on zooplankton.







Ek weet nie mooi van bedreigde spesie nie, want hier is honderde in die water.



Ag. Ioannou - Braaivleis.



6 September 2015. Sondag.

Ag. Ioannou


Ek proe dit al! Ek ruik dit al! ’n Sappige, geurige stuk braaivleis. Lamtjops, t-been, solank dit net rooivleis is en deur die hartstigting as ongesond verklaar is. Ek kan my lus nie hou nie.

14:00 sit ek en Archie opgetof by die taverna waar ons vir Nick moet wag. Die afspraak is eers 15:00, maar ons vat nie kanse nie. Ons monde water vir daai braaivleis. Archie wil vir ons iets bestel om te drink terwyl ons wag, maar die taverna se mense sê ons moet net ’n bietjie wag, hulle eet nou. Toe wag ons ’n bietjie.

Archie bestel ’n bier vir hom en vir my ’n glasie wyn, want ek is nie lus vir Fanta nie. Die kelner sit die bier voor my neer en die beker wyn voor Archie. Dis nie ’n glas wyn nie, dis 500 mℓ wyn. Archie bied vir die mense langs ons wyn aan, maar hulle lag net, wil nie hê nie. Ek begin toe met ’n moedige poging om die wyn op te drink. Archie help waar hy kan. Behulpsame man, die Archie.

Dis 15:00. Enige tyd nou. En ons wag. Hulle het nie presies geweet waar om ons te kom oplaai nie, so ons wag geduldig. En ons wag en wag. Ons wag nou nog. 

Moeg gewag
"All dressed up and nowhere to go!"
 

Braaivleis?! NOT!

Ek wonder waar was Nick ...