Tuesday, September 1, 2015

Kanaal van Korinte.


30 Augustus 2015. Sondag. 

Korfos tot Korinte via Ledou Eiland

Ons is vandag deur die Kanaal van Korinte. Hier volg tegnologiese inligting oor die kanaal.

Dit is 3.2 myl lank, 25 m wyd en 6.5 m diep en die kalkklip is tot 79 m hoog. Jy moet baie vinnig deur die kanaal ry, ander raas die haweman met jou. Wat hy nie weet nie, is dat ons ’n nuwe enjin het, ons kan nou baie vinnig vaar. ’n Seestroom van 1-3 knope kan in die kanaal vloei, afhangende van die rigting waaruit Gus waai en die windsterkte.

Daar is twee hidroliese padbrûe, een aan elke kant. Die brûe word in die water laat sak en dan kan die vaartuie deurkom. Daar is ook 4 ander brûe wat oor die kanaal op sy diepstepunt kruis. Bungi-jumpers spring van die padbrug af, net sodra die vaartuie deur is. Hierdie kanaal is net doodeenvoudig indrukwekkend!

Hidroliese brug, oostelike ingang
Hidroliese brug, noordelike uitgang, besig om te sak


Ons moet eers alongside vasmeer, sonder hulp met ’n waaiende Gus. Om die €155 te gaan betaal. Die Kanaal van Korinte is die duurste kanaal per kilometer in die wêreld. Die vasmeer verloop sonder voorval. Archie gaan betaal die arm en die been wat dit kos en nou is dit vertrek, met Gus wat ons met alle geweld teen die kaai waai. Weereens is daar niemand om ons te help nie. Dit sou gaaf wees as iemand ons net van die kaai af kan stoot.

Enigste genade is ek moet die helm oorneem, Archie maak die toue los en stoot ons weg. Die wegstoter het krag nodig met die wegstoot, want Gus werk nie saam nie. Ek neem benoud die helm oor en Archie doen die res. Dit gaan goed, die toue is los en ek vaar stadig vorentoe. Toe kom daar ’n windvlaag en gooi ons teen die kaai en ek ry amper vir Maja moer toe teen die kaai. Gelukkig vir fenders en Archie wat met alle mag wegstoot, is daar geen skade nie. Ek sit vir Maja in trurat en ry agteruit en haar agterstewe swaai weg van die kaai en is veilig en Archie hou die voorkant veilig. Wat ’n verligting, ons is veilig. Nou moet ons wikkel, want daai ongeduldige man het gesê dat Maja moet deurgaan. Archie looi daai enjin en ons ry deur die ingang.

Ons spoed deur die kanaal en in ’n stadium se Archie ek moet die helm vat, want hy wil kyk hoe lyk die kanaal. Ek moet sê, dit verg nogal konsentrasie om teen die hoë spoed in die nou kanaal te vaar. 

Kanaal
Bungi
Steil wande
Amper deur
 

Ons vaar deur en ons is veilig in Korinte. Of is ons? Korinte het ’n kommersiële hawe en ’n halfvoltooide marina. Die kommersiële hawe, sê die boek, kan gevaarlik wees. So, soontoe wil ons nie en ons pak die marina aan. Dis gewoonlik vol lokale bote, maar ons vaar hoopvol in. Dis vol. Daar is net ’n benoude alongside plekkie waarvoor ons nie lus is nie. Ons gaan groot hawe toe, maar dis net golwe. Lyk glad nie veilig nie. Terug na die marina. Ek sê vir Archie ons sal moet alongside. Hy kyk my met bewondering aan dat ek die moed het daarom enigsins te oorweeg.

En daar gaan ons. Gelukkig spring die buurman uit sy boot en kom help afstoot en met die toue. Gus waai ons teen die kaai, uit volle bors. En vas is ons. Die dieptemeter het al die pad geskree, want daar is net 30cm onder die kiel. Dis maar eina min. Dis eintlik glad nie lekker in Korinte nie. Lelik en geen atmosfeer nie.

Vandag was daar vreeslik baie jellievisse in die see. Hulle het die wêreld vol geswem. Sulke bruin-rooies. Pragtige kleure.

Jellievisse






Monday, August 31, 2015

Korfos. Vissop.



29 Augustus 2015.Saterdag.

Nea Epidavros tot Korfos

Verlede jaar het ons vissop by Stavedo Taverna in Korfos geëet. Dit was Dirk en Rika se afskeidsete vir ons en dit was heerlik. Vandag gaan ons weer na Korfos, 37°45.904 N, 23°07.561 O, 7.1 myl.

Ons is sommer gou-gou daar en meer by die taverna se kaai vas. Ons plank is te kort en hulle leen vir ons ’n laaaang plank.Ons dwaal en sit daar rond. Ons doel is nie dorpies besigtig of voorrade koop nie. Nee, dis vissop!

Korfos
Maja by restaurant kaai


Papa Georges is besig om vis skoon te maak. Die binnegoed gooi hy dan vir die seemeeue, waarmee hy gesels en ek is seker die meeue verstaan hom. Dan is dit die calamari en daarna die seekat. Die arme seekat word hard teen die muurtjie geslaan om hom sag te maak.

Papa Georges
Etenstyd


Ons het vissop bestel en kan nie wag tot agt-uur nie. Vissop is baie lekkerder as wat dit klink. Daar word gesê dat dié taverna die beste vissop in Griekeland het. Toe breek die tyd aan om oor Maja se plank te loop na ons tafeltjie wat nader as ’n hanetreetjie van Maja is. Ons was ekstra skoon en maak klaar om te gaan. Ons gaan sommer kaalvoet, want teen die tyd wat ons ons skoene aangetrek het, sit ons al. 

 
Ons tafetjies (regs)


Alles is gereël. Dis vreeslik romanties. Die maan is vol en rond, die tafel is gedek, die wyn is yskoud met ekstra ys en die kelner baie vriendelik. 

"Me, the moon and Maja"
Ons kelner
Arch en ek


Ons teug ons wyn asof dit duur landgoedwyn is. Toe is dit die groot oomblik, Archie gee die teken aan die kelner dat ons gereed is vir die sop. Twee bakkies sop word voor ons neergesit. Die geur is subtiel vis. En daarna word al die verskeie soorte vis in ’n visbord tafel toe gebring. Ons proe, bang dat dit nie so lekker as verlede jaar is nie. My tongtippie tintel van smaakgenot. Dit is voorwaar voortreflik. Archie sê dis beter as verlede jaar!

Vissop


Ek weet nie hoe kry hulle die sop so geurig nie. En die vis!. Elke spesie proe verskillend. Sag en geurig. Vissop is nie sop wat van vis gemaak is nie. Dis ’n kuns wat van geslag tot geslag oorgedra word, met die grootste geheimhouding tussen die verskillende families.

Ons stoutste verwagtings is oortref. Stevado Taverna, julle is die beste!

Saturday, August 29, 2015

Nea Epidavros



28 Augustus 2015. Vrydag. 

Palaia Epidavros tot Nea Epidavros

Ons word wakker en dis nog ’n mooi dag in die Saroniese See. Dis omtrent, volgens die weervoorspelling, op hierdie stadium die plek in die Griekse eilande met die beste weer. Niel en Sandy het vir ’n week by Paros op anker teen die Meltemi geskuil. Gumnuts moes inderhaas om die punt van die Peleponnese gaan as gevolg van die winde. Hier by ons, is dit heerlik. Waaroor ek natuurlik baie dankbaar is. Ons is eintlik op pad na die Kanaal van Korinte waardeur ons waarskynlik Sondag sal gaan.

Dis ’n splinternuwe blink oggend wat glim in die blydskap van die nuwe dag. Ons is op pad na Nea Epidavros, 37°40.803 N, 23°09.147 O, ’n skrale 3.3 myl om te gaan. 

Oggendskoot - Glim


Ons vaar met Gus liggies van voor en voor ons ons oë uitvee, is ons daar. Ons vaar by die klein hawe in en ek kry my anker gereed om te gooi. Maar wat ’n verrassing! Die man haal ’n vasmeertou uit die water. Ek maak die ankerkas toe en wikkel om die boothaak te kry om die tou te gryp en ons meer vas. Hulle moes onlangs die vasmeertoue gekry het, want al twee boeke praat nog van anker gooi. Maja lê rustig in die klein hawe, veilig vas.

Maja
Maja en Marieks


Later trotseer ons die bloedige hitte en gaan stap langs die rivier, wat sommerso uit ’n klip begin loop. Skuil seker hoër op ondergronds teen die bloedige son wat dreig om al sy water dorstig op te slurp.

Rivier


Ons stap die bult uit en kyk na Aigina wat wes van ons lê. Voor ons is Methana Skiereiland met die oulike Vathi en regs is Palaia Epidavros. Op ’n helder dag sal jy sekerlik vir Athene ook kan sien.

Uitsig oor die baai
Vrugbare vallei


Ons stap terug en besoek die dorpie, as jy dit so kan noem. Hier is geen mini mark of winkels nie. Net ’n paar restaurante en kamers te huur. Hier in Griekeland is daar altyd tavernas en kamers te huur! Dis vrekwarm en ons gaan swem in die ysige rivierwater. Dit laat jou ril en die koue kom sit op jou hart.Dit koel ons heerlik af. 

 Ons hou van die klein plekkie. Dis stil en plaaslik.