Monday, July 27, 2015

Amorgos Eiland. Katapola.



26 Julie 2015. Sondag.

Aigialis tot Katapola
 

Toe ek by die deur uitkyk moet ek my oë knip om seker te maak ek is wakker. Blur my oë? Hoekom kan ek nie sien nie? Om ons is digte mis. Ek kan nie eers die dorp sien nie. Dit voel omtrent soos the morning after. Gisteraand was ’n perfekte magiese idilliese aand. Maar wat gaan nou vanoggend aan?

Die mis brand weg


Ons kan nou nêrens gaan nie, want die sig is totaal te swak. Teen 09:30 begin die mis bietjie te lig en eers ’n uur later kan ons anker optrek en vertrek. Ons het nog nooit sulke mis hier gehad nie.

Daar is vanaand ’n raki fees in Katapola so ons gaan my geliefde Aigialis verlaat en na Katapola 36°49.616 N, 25°51.807 O, 10 myl, gaan.


Ons moet eers deur ’n kanaal vaar en Archie put me up front to con the way through. Dis net die begin waar daar ’n baie smal plek is waar jy kan vaar. Daar is ’n rif aan die eenkant en vlak aan die ander kant. Die kaptein bring ons veilig deur.

Smal kanaal


Katapola lê in ’n groot baai. Ons gaan na die dorpskaai en daar is baie plek. Gelukkig staan ’n barmhartige samaritaan op die kaai om ons te help. Archie tru, ek gooi anker en die man vang die toue en maak vas. Toe is Katapola ons s’n. Ons gaan vind uit waar die fees gaan wees en die mooi, vriendelike Griekse meisie sê dit is by die hawe en die raki is gratis. Wat ’n geluk! Ons ís die hawe.

Die hawe
Banketbakkery
Kleurvolle Katapola
Stegie
 

Die stalletjies word opgerig, reg voor Maja is die raki stalletjie en die verhoog is skuins voor Maja. Eers teen tienuur begin die musiek. Die dansers word met ’n boot aangery. Watter fees is was dit nie! Raki word uitgedeel en die Griekse dansers dans. Ek staan op Maja en kyk. Die hele wêreld wemel van mense. Vir foto’s neem is daar geen kans. Kyk daai raki was sleg. Sommige mense ril en gril, maar wat drink, is hulle. Ek het my gesig ook maar lelik getrek vir die soet gif.

Raki stalletjie
Verhoog


Middernag is die dansers klaar gedans en die mense vat oor. Hulle dans die wêreld vol. Dis behoorlik ’n fees en nogal op ons voorstoep. Archie gaan slaap, maar ek geniet die fees vir die oog. Net na een-uur gaan kruip ek ook in, maar toe ek twee-uur wakker word, kyk ek by die deur uit en die wêreld om ons is almal besig om te dans. Probeer maar weer slaap, maar vier-uur loer ek weer en om en om en om dans hulle. 

Orkes doen hulle ding


Wat ’n fees!

Sunday, July 26, 2015

Amorgos Eiland. Aigialis.



25 Julie 2015. Saterdag.

Levitha tot Aigialis
Roete tot op datum


Ons mede-seiler, Leon, verjaar vandag. Geluk hoor! Vir jou verjaarsdag kry jy potskerwe uit Panteli.

Vir Leon


Ons is al weer voor die son op. Ons vertrek en die sagte pastel pienk skynsel van die son bring ons saggies in die nuwe dag voordat die fel skel oranje-geel jou met sy gloed met al twee voete in die nuwe dag laat struikel. 

Songloed


Vandag is ’n land pad van 28.8 myl na Amorgos Eiland in die Cyclades. Ons is op pad na Aigialis, 36°54.341 N, 25°58.538 O. Archie trap daai petrol en ons vaar teen 5 knope op ’n gladde see. Gus lê heerlik iewers sy roes en afslaap, want hy waai nou al weke aaneen in die Cyclades dat g’n mens dit kan hou nie. My dankbaarheid dat ons die moeilike stuk see so mak ervaar het geen perke nie.

Ons vaar verby Kinaros Eiland met sy hoë kranse en barre landskap. Hier bly g’n sterfling op die eiland nie.

Ons vaar
Kinaros kranse
 

Vêr voor ons is Amorgos Eiland. Dit is ’n indrukwekkende eiland en soos wat ons nader kom, sien ons hoe treffend dit eintlik is. Dis baaie wat amper soos ’n fjords lyk, hoë kranse en majestueuse berge. 

Vilakarda Baai, Amorgos Eiland
Treffende kranse


Ons vaar om die hoek en daar lê die Aigialis baai met sy vier dorpies. Dis so tipies Griekse Eiland dat my tone skoon omkrul van genot. Verlede jaar toe ons ook hier geanker het, het ek nie besef dis so mooi nie. 

Klein kerkie


Ons gooi anker en hy byt sommerso met die eerste hap. Twee groot stukke see oorkruis en hier is ons. “Lady and gentleman, welcome in the Cyclades!”

Maja op anker


Ons gaan dorp toe en kyk na die busroetes, want ons wil die eiland verken. Ons plan is om ’n paar dae op die eiland deur te bring. Ons roei met Dinkie terug na Maja wat stil in die roerlose baai lê.

Aigialis Baai
Ekke


Maja is prentjiemooi teen die sagte pienk vroegaand lig. Ek sien net kamera flitse soos die vakansiegangers op land haar afneem. Dis een van daai magiese salige anker aande wat jy hoop hou vir altyd aan. Ek kyk met genoegdoening om my heen. “Life is good!”

Salige anker




Saturday, July 25, 2015

Levitha.



24 Julie 2015. Vrydag.

Lakki tot Levitha

Vandag is die dag. Ons kruis, my kruis! Ons staan dou voordag op, eintlik 05:30, want ons wil 06:00 vertrek. Die anker word opgetrek en voordat die son agter die berg kan uitloer, val ons in die pad na Levitha, 37°00.157 N, 21°28.176 O, 24.3 myl.

Dis al wanneer ek die son sien opkom, dis nou as ons vroeg moet vertrek. Die lug verkleur en stadig maar seker verander dit van dof na dag. Ek kyk terug na die beskutte Lakki Baai wat in die gloed van die opkomende son warm en hartlik en so veilig lyk.

Son kom op


Die see het sy gewone deinings, maar Gus waai net liggies. Dis in hierdie seestraat wat die Meltemi gewoonlik genadeloos waai. Waar hy almal uit sy pad uitblaas. Vandag, volgens die voorspellings, behoort die eerste stuk see kalm te wees. En dit is toe ook net so.

Die groot Griekse kaartboek, dis nou die een wat ook plaaslike kennis insluit, het oos van Levitha Eiland sulke blou golwe op die kaart geteken. Dit beteken dat daar groot golwe kan wees as die Meltemi waai. Hulle kry die inligting by vissers en plaaslike inwoners. En ek moet sê, hulle is nie verkeerd nie. Stadig maar seker begin Gus sterker te waai en die deinings word al groter. So nou en dan sê ek net: ”Jò!”

Ou Maja vat die golwe een vir een aan en stadig maar seker baan ons ons weg. Mens voel so klein en nietig en kwesbaar in ’n klein seiljag op die diep blou see. Dit maak my nederig en bewus van genade. Waar is die dae wat ek nou dadelik aan die sing gegaan het. Al wat jy kan sien, is see. Ek kan nog nie eers vir Levitha in die dynserigheid raaksien nie.

Eindelose see


Ons is darem nie alleen op die water nie. Sarel Seemonster is ook hier. Hy word deur ’n sleepboot getrek en ek en Archie verkyk ons aan die groot ding. Archie sê dis ’n olie-tuig (oil rig). Dit trek my aandag van die groot see af en ek kyk en kyk.

Sleepboot en olie-tuig
Sarel Seemonster


Deur die newels kan ons Levitha sien. Later duideliker, maar verdomp of hy wil naderkom. Maar aanhouer wen en die einde is in sig. Ons vaar na die westelike baai waar ons verlede jaar saam met Gerrie en Ansu anker gegooi het en so gesukkel het dat die anker byt. Hoop dis hierdie keer makliker. Gus waai met rukke en stote. Daar is etlike kolletjies sand en die res is net seegras. Ons gooi weer en weer en weer, sonder sukses. Toe sê die kaptein die wonderlikste woorde: ”Ou vrou, kom ons gaan gryp ’n boei by die oostelike baai.” Hy het seker gesien ek is gatvol gesukkel.

Naby Levitha


En so maklik is dit, ek vat die helm oor en Archie gryp die swaar boei, maak vir Maja daaraan vas en ons is veilig. Geen bekommernis oor sterk winde wat nog tot middernag gaan waai nie. En dit kos net €7.

Levitha Baai


Saam met die aand kom die stilte en kalmte. Al die seiljagte draai effe om die boei in absolute harmonie. Maja sê: “Waar sy draai, sal ek draai.” Soos die Bybelse Naomi en Rut. Oorlaaide dinghies met donker figure gaan land toe om in die restaurant te gaan eet. Later kom hulle vrolik en versadig terug na hulle seehuise. Die Duitsers kom al singend terug en sing baie mooi Duitse volksliedjies aan boord.

Tevrede gaan slaap ons terwyl die Duitsers ons tot in droomland in serenade.