Sunday, July 26, 2015

Amorgos Eiland. Aigialis.



25 Julie 2015. Saterdag.

Levitha tot Aigialis
Roete tot op datum


Ons mede-seiler, Leon, verjaar vandag. Geluk hoor! Vir jou verjaarsdag kry jy potskerwe uit Panteli.

Vir Leon


Ons is al weer voor die son op. Ons vertrek en die sagte pastel pienk skynsel van die son bring ons saggies in die nuwe dag voordat die fel skel oranje-geel jou met sy gloed met al twee voete in die nuwe dag laat struikel. 

Songloed


Vandag is ’n land pad van 28.8 myl na Amorgos Eiland in die Cyclades. Ons is op pad na Aigialis, 36°54.341 N, 25°58.538 O. Archie trap daai petrol en ons vaar teen 5 knope op ’n gladde see. Gus lê heerlik iewers sy roes en afslaap, want hy waai nou al weke aaneen in die Cyclades dat g’n mens dit kan hou nie. My dankbaarheid dat ons die moeilike stuk see so mak ervaar het geen perke nie.

Ons vaar verby Kinaros Eiland met sy hoë kranse en barre landskap. Hier bly g’n sterfling op die eiland nie.

Ons vaar
Kinaros kranse
 

Vêr voor ons is Amorgos Eiland. Dit is ’n indrukwekkende eiland en soos wat ons nader kom, sien ons hoe treffend dit eintlik is. Dis baaie wat amper soos ’n fjords lyk, hoë kranse en majestueuse berge. 

Vilakarda Baai, Amorgos Eiland
Treffende kranse


Ons vaar om die hoek en daar lê die Aigialis baai met sy vier dorpies. Dis so tipies Griekse Eiland dat my tone skoon omkrul van genot. Verlede jaar toe ons ook hier geanker het, het ek nie besef dis so mooi nie. 

Klein kerkie


Ons gooi anker en hy byt sommerso met die eerste hap. Twee groot stukke see oorkruis en hier is ons. “Lady and gentleman, welcome in the Cyclades!”

Maja op anker


Ons gaan dorp toe en kyk na die busroetes, want ons wil die eiland verken. Ons plan is om ’n paar dae op die eiland deur te bring. Ons roei met Dinkie terug na Maja wat stil in die roerlose baai lê.

Aigialis Baai
Ekke


Maja is prentjiemooi teen die sagte pienk vroegaand lig. Ek sien net kamera flitse soos die vakansiegangers op land haar afneem. Dis een van daai magiese salige anker aande wat jy hoop hou vir altyd aan. Ek kyk met genoegdoening om my heen. “Life is good!”

Salige anker




Saturday, July 25, 2015

Levitha.



24 Julie 2015. Vrydag.

Lakki tot Levitha

Vandag is die dag. Ons kruis, my kruis! Ons staan dou voordag op, eintlik 05:30, want ons wil 06:00 vertrek. Die anker word opgetrek en voordat die son agter die berg kan uitloer, val ons in die pad na Levitha, 37°00.157 N, 21°28.176 O, 24.3 myl.

Dis al wanneer ek die son sien opkom, dis nou as ons vroeg moet vertrek. Die lug verkleur en stadig maar seker verander dit van dof na dag. Ek kyk terug na die beskutte Lakki Baai wat in die gloed van die opkomende son warm en hartlik en so veilig lyk.

Son kom op


Die see het sy gewone deinings, maar Gus waai net liggies. Dis in hierdie seestraat wat die Meltemi gewoonlik genadeloos waai. Waar hy almal uit sy pad uitblaas. Vandag, volgens die voorspellings, behoort die eerste stuk see kalm te wees. En dit is toe ook net so.

Die groot Griekse kaartboek, dis nou die een wat ook plaaslike kennis insluit, het oos van Levitha Eiland sulke blou golwe op die kaart geteken. Dit beteken dat daar groot golwe kan wees as die Meltemi waai. Hulle kry die inligting by vissers en plaaslike inwoners. En ek moet sê, hulle is nie verkeerd nie. Stadig maar seker begin Gus sterker te waai en die deinings word al groter. So nou en dan sê ek net: ”Jò!”

Ou Maja vat die golwe een vir een aan en stadig maar seker baan ons ons weg. Mens voel so klein en nietig en kwesbaar in ’n klein seiljag op die diep blou see. Dit maak my nederig en bewus van genade. Waar is die dae wat ek nou dadelik aan die sing gegaan het. Al wat jy kan sien, is see. Ek kan nog nie eers vir Levitha in die dynserigheid raaksien nie.

Eindelose see


Ons is darem nie alleen op die water nie. Sarel Seemonster is ook hier. Hy word deur ’n sleepboot getrek en ek en Archie verkyk ons aan die groot ding. Archie sê dis ’n olie-tuig (oil rig). Dit trek my aandag van die groot see af en ek kyk en kyk.

Sleepboot en olie-tuig
Sarel Seemonster


Deur die newels kan ons Levitha sien. Later duideliker, maar verdomp of hy wil naderkom. Maar aanhouer wen en die einde is in sig. Ons vaar na die westelike baai waar ons verlede jaar saam met Gerrie en Ansu anker gegooi het en so gesukkel het dat die anker byt. Hoop dis hierdie keer makliker. Gus waai met rukke en stote. Daar is etlike kolletjies sand en die res is net seegras. Ons gooi weer en weer en weer, sonder sukses. Toe sê die kaptein die wonderlikste woorde: ”Ou vrou, kom ons gaan gryp ’n boei by die oostelike baai.” Hy het seker gesien ek is gatvol gesukkel.

Naby Levitha


En so maklik is dit, ek vat die helm oor en Archie gryp die swaar boei, maak vir Maja daaraan vas en ons is veilig. Geen bekommernis oor sterk winde wat nog tot middernag gaan waai nie. En dit kos net €7.

Levitha Baai


Saam met die aand kom die stilte en kalmte. Al die seiljagte draai effe om die boei in absolute harmonie. Maja sê: “Waar sy draai, sal ek draai.” Soos die Bybelse Naomi en Rut. Oorlaaide dinghies met donker figure gaan land toe om in die restaurant te gaan eet. Later kom hulle vrolik en versadig terug na hulle seehuise. Die Duitsers kom al singend terug en sing baie mooi Duitse volksliedjies aan boord.

Tevrede gaan slaap ons terwyl die Duitsers ons tot in droomland in serenade.

Thursday, July 23, 2015

Leros Eiland. Lakki.



22 en 23 Julie 2015. Woensdag en Donderdag.

Patheni tot Lakki



Ons bly maar rondom Leros vaar, want dis die plek van waar ons die see gaan oorsteek na die Cyclades. So, vandag gaan ons na Lakki ,37°07.691 N, 26°51.350 O, 10.6 myl. Die berge en rotse is mooi hier langs die kus. Gus waai van skuins agter en ons span die genoa en ons seil vir die vale. Archie glimlag breed. Ons seilspoed is meer as ses knope. Dis vinnig, hoor!

Noordelike punt van Leros met Patmos Eiland in die agtergrond
Genoa is gespan
Oggendskoot - Leros se berge


Lakki is een van die grootste natuurlike hawens in die Mediterreense See. Tydens die Tweede Wêreldoorlog, 26 September 1943, is die Queen Olga, wat in Lakki se hawe vasgemeer was, gebombardeer en het tragies gesink.

Wel, ons is nou in die beroemde hawe en gelukkig skiet niemand op ons nie en ons vind ons pad na die Leros Marina waar ons vir een nag gaan bly. Ons wil stort en klere was. Ons vul ons voorrade aan en bewonder die Art Deco dorpie wat eers in 1923 deur die Italianers gebou is.

Lakki
Pakesel
Dinkie en Archie


Donderdag anker ons in Lakki Baai voordat ons die stuk see oorsteek. My hart klop vinniger en my keel trek toe en my bene word lam as ek net aan die stuk see dink. Die windvoorspellings is aan ons kant en dit lyk goed. Dis net die laaste stuk, naby Levitha Eiland waar dit ’n bietjie rof gaan wees.

Ek hou maar styf duim vas!