Friday, July 3, 2015

Fethiye.



2 Junie 2015. Donderdag.

Niks so goed soos ’n lekker nagrus nie. Archie roep my om na die oggend te kom kyk. Is dit nou nie salving vir die siel nie! Rimpelloos en seepglad. Alles in spieëlbeeld. 

Rimpelloos
Spieëlbeeld
Marina
Weerkaatsing


Ons gebruik die tyd in Fethiye om Maja weer klopdisselboom te kry. Eerste op die lys is die rat van die anker. Archie haal dit af en ons neem dit na die winkel. Hulle gaan vir ons ’n nuwe een bestel. Die ankerketting katrol word ook afgehaal en die winkelman sê dit is eintlik gemaak vir tou en nie nie ketting nie. Hy bel rond, want daar is ’n man wat dit spesifiek volgens die regte grootte kan vervaardig op ’n draaibank. So, hier bly ons nou op anker in Fethiye totdat al die ou werkies gedoen is en dan is dit Griekeland toe. Ons behoort Maandag of Dinsdag daar uit te kom. Ons is nie weg as julle nie van ons hoor nie.

Ou rat en nuwe rat


So sit ons op die dek en die aand daal op ons neer. Ons sien twee ligte en ons bespiegel oor wat dit is. Dis te hoog vir masligte of toringligte. Wat is dit? Sterre? Later verdwyn die ligte na wie weet waar.

Ou Archie lees mos alewig nuus. En daar lees hy van Jupiter en Venus wat nou ewe vryerig baie naby mekaar in die hemel hang. Nou toe nou!

Thursday, July 2, 2015

Fethiye. Wat ’n gesukkel!


1 Julie 2015. Woensdag.

Kaş tot Yesilköy Limanı, Kalkan
Yesilköy Limanı, Kalkan tot Fethiye via Gemiler Eiland


Ons gaan eintlik noordwes, nie noord nie. Gister was dit Kaş tot Kalkan en vandag gaan ons ’n lang pad vat, 29 myl, na Gemiler. Dis die stuk wat verby die Sewe Kape gaan. Dit kan baie rof raak op die stuk see. As die wind waai, kan baie groot deinings en ’n verwarrende see die gevolg wees. So, ek hoop Gus lê.

Kalkan Dorp


In die baai waar ons geanker het, het Gus die hele aand gewaai. Ek hoop die see is nie opgeklits nie. Ons vaar uit en nader die see. Ek slaak ’n sug van verligting, want die see dein, maar sulke sagte deinings. Ons vaar die een seemyl na die ander. Eers verby die lang stuk met die vlakkerige water en toe is dit die Sewe Kape. Maar wonder bo wonder, Gus waai net liggies en ons span die seile vir ’n ruk, totdat Gus gaan lê en af is die seile. Ek is regtig verlig dat Gus ons so genadig is. Ons is verby die Sewe Kape en dis toe weer sulke vlakkerige water vir myle en myle. Ons vaar en vaar, verby ’n ou grote wat besig is om ’n visplaas te trek. Hy vaar sowaar stadiger as ons!

Kranse
Die eerste vier kape lê agter ons
Die laaste kaap
Visplaas op pad
Visplaas trekker


Ons vaar om die hoek en is dankbaar toe Gemiler Eiland voor ons lê. 29 myl is eintlik ’n lang dag. Ons was al twee keer vantevore by Gemiler, so ons ken die situasie. Anker, met ’n landlyn. Ons soek dieselfde plek uit toe Leon en Dirk daar was en gooi anker. Archie swem met die tou land toe en Gus waai ons bietjie skeef, plat rots se kant toe. Die water hier is diep, maar dit word plek-plek skielik baie vlak omdat daar is sulke plat rotsplate onder die water is. Archie trek ons na die ander kant toe, stadig en versigtig, want platrots, wat onder die water is, kom al nader.

Ek hou die dieptemeter dop, 4m, wat nog goed is. Onthou, die dieptemeter sit in die middel van die boot en die roer is agter en is bietjie meer as ’n meter onder die water. En ek hoor doef. Die roer bots teen die rots, al sê die dieptemeter 4m. Ek skrik en Archie hoor dit ook. Onthou, ek is alleen op die boot, Archie is besig om toue aan die land vas te maak! Hy trek om Maja in haar posisie te kry en weer doef. Hy skree ek moet die anker gaan intrek om Maja weg te kry. Ek hardloop en trek ’n bietjie om en Maja is toe buite gevaar. Dis ’n getrek van toue, Archie trek en ek trek. Ek gaan kyk vir my anker, maar die ding lyk nie lekker nie. Dis 20m diep waar ons gegooi het en daar is maar 30m ketting uit, wat totaal te min is.

Ek roep vir Archie wat vreeslik aan die toue vasmaak is en hy swem terug en kom kyk en bevestig my vermoede. Die anker is nie reg nie. Toe swem hy maar uit land toe, maak die toue los, maar los een ketting daar, want ons gaan weer anker gooi. Ons kry weer posisie, die keer bietjie verder van die land af en ek gooi. Skielik spring die ketting van rat af. Gelukkig haak dit vas aan die ding net langs dit en die ketting stop. Ek sit en dit baie versigtig weer in die rat. As daai ding jou vingers gryp! En die ankerketting loop weer.

Toe hoor ek weer ’n lawaai en die ketting spring totaal van die rat af en hardloop met ’n spoed vry oor die voorste wiel. Ek skree vir Archie om te kom help. Hy los alles agter en hardloop na voor. Hy trap op die ketting, maar dit help nie. Dit hou net verdomp aan hardloop en hardloop. Toe die ankerketting oorgaan tot die tou, toe gryp ek die tou en maak dit om die cleat vas. Jy kan nie waag om aan die ketting te vat as hy vry hardloop nie, jy sal jou vingers verloor. Nou is die hele 60m ankerketting uitgegooi en Archie begin dit weer op te trek.

Archie sê ons moet weer gooi, maar ek bewe soos ’n riet en sê vir hom ek kan net nie. Ek wil Fethiye toe gaan waar jy nie ’n donnerse lyn land toe moet vat nie. Ek was ook toe siek en sat vir die bure langs ons wat die spektakels so sit en beskou en so dankbaar is dis nie hulle waarmee dit gebeur nie. Ou Arch gee sy ontstelde vrou een kyk en besluit ons moet maar verder vaar, al is dit nog drie ure se vaar. Hy swem weer land toe, want sy ketting is nog aan die rots vas. Toe eers kon ons vaar.

Amper by Fethiye


Na 45.4 myl (10h 44min) in totaal, kom ons by Fethiye aan, 36°37.384 N, 29°05.740 O. Moeg van die dag se gebeure. Ons wil nou net anker gooi en rus. Gus waai nou vir betaling. Ons soek ankerplek en die keer gooi Archie die ketting. Hy wil sien wat gebeur as die ding van die rat afspring. En ek is agter die helm. Ons gooi en dit byt nie. Toe gooi ek en dit byt nie. Toe gooi Archie en die verdomde anker wil net nie byt nie. Die ketting spring nie af nie, maar byt is min. Toe dit die sewende of agtste keer is, is Archie agter die helm, ek gooi die anker en dit byt wonderbaarlik. Ons is eintlik bang daarom hard te toets, want die ketting kan weer afspring.

Ek is moeg gesukkel. Uitgeput gaan slaap ek die aand, terwyl die nog lig is. Agt uur is ek tussen die vere en raak aan die slaap.







Monday, June 29, 2015

Kaş. Bayındır Limanı



29 Junie 2015. Maandag.


Ons gaan noord. Ons Turkse reis is amper verby. Ons is nou op pad terug na Marmaris, waar ons Turkye gaan verlaat en oorsteek na Rhodes, Griekeland. So, vandag is die bestemming weereens Kaş, 36°10.561 N, 29°38.667 O, 16.8 myl. Ons is eintlik op pad na Bayındır Limanı, waar ons gaan anker.

Ons trek anker op en Sandi steek haar kop by die deur uit om te groet en weg is ons.

Ons vaar die helfte van die pad en seil die ander helfte. Gus waai van skuins agter en dis ’n heerlike seil. Gou is Kaş voor ons en na die gewone ontduiking van klippe en rotse, trek ons in die baai in. Ek sien weer ’n vlieënde vis. Nee Leon en Dirk, Archie het dit nie gesien nie. Daar is ook waterskilpaaie wat die hele baai vol swem.

Oggendskoot
Kaptein
Kaş


Dis ’n diep baai en ons sukkel om ’n geskikte plek te kry. Gelukkig is die baai groot en ou Archie spoor ’n geskikte plek op en ons gooi suksesvol anker.

My gunsteling dogter, Michelle, verjaar vandag. Ons dink terug aan 2013 in Kroasië toe sy saam met ons geseil het en by Manastir verjaar het. Ons het toe gaan uiteet by die klein restaurant, want ons het hul boei gegryp. 


Verjaarsdag 2013



Baie geluk met jou verjaardag en ons wens jy was vandag hier by ons op Maja. Hier is vir jou ’n tuin vol blomme vir jou verjaardag. Liefde. Mamma.

Gelukkige verjaarsdag, Michelle