28 Junie 2015. Sondag.
![]() |
Finike tot Üçağiz |
Dis reg,ja. Ons gaan vandag terug
na Kekova en weer na Üçağiz, 36°11.638 N, 29°50.617 O, 18.4 myl, want ons het ’n
afspraak, ’n ete afspraak met Niel en Sandi van Rensburg. Ek voel nou behoorlik
soos ’n sosiale vlinder.
Die see van Finike na Kekova is vandag
plat. Die deinings is maar effentjies en Gus waai nie eintlik nie. Ons vaar
heerlik en ons is weer by die Kekova eiland en vaar in die vlak waters na
Ücagiz. Die baai is vol jagte op anker, maar ons kry ’n plek langs Wilson, die
Van Rensburgs se jag.
Drie keer gooi ons daai anker
voor die blerrie ding eers byt, maar toe hy eers byt, doen hy dit behoorlik.
Niel en Sandi is sonder ’n dinghy, want hulle is besig om ’n oortreksel vir sy
dinghy te maak in Marmaris. Hulle wil gou dorp toe en gebruik sommer vir
Dinkie. Dis vêr om te roei, maar Niel hou vol dat dit nie nodig is on die motor
op te sit nie. Hulle sal sommer roei. Hulle sukkel met die spane en ek hoor hoe
lag die twee.
"Looking good" |
Toe begin Gus te waai. Ons weet
nie hoe gaan hulle wind-op geroei kry nie. Gus waai sy hart uit. En hier kom
die twee terug in ’n ou skuit wat eintlik ’n watertaxi is, met Dinkie wat
agterna gesleep word. By Wilson stop die skipper en toe kom Dinkie se tou in
die skuit se enjin se propeller. Konsternasie. Niel duik in en maak die tou
los, bevry die propeller en Sandi en haar inkopies klim uit. Niel swem Dinkie
terug na ons toe.
Watertaxi |
Ons afspraak is weer om 19:00.
Ons bring die wyn en nagereg en hulle braai weer in die Weber. Ons voel soos ou
vriende. Daar is ’n kameraadskap tussen die Suid-Afrikaners wat in die verre
Turkye, tussen die mooi berge en ruïnes, kuier-kuier een word met die baai,
terwyl die donker ongesiens die dag in aand verander. Rimpelloos en magies.
Die meisies |
Die manne |
Die braaier |
Die kos |
Dankie vir heerlike kos en nog
heerliker geselskap!