Wednesday, May 27, 2015

Selimiye. Skuilplek.


26 Mei 2015, Dinsdag

Keçi Bükü tot Slimiye

Voorspellings van wind. Waarheen nou vir skuilplek? Dit lyk of Gus ingeskryf het vir ’n blaaskompetisie teen sy vriend, die Oostewind. Oostewinde waai nie eintlik in hierdie geweste nie. So, ons planne verander. Ons moet soek vir ’n plek wat skuiling teen die Oostewind gee. Die kaarte word bekyk, die boek word gelees, die weervoorspelling van Poseidon word weer bekyk. Die winde kom vannag, so ons wil veilig wees in die nag. Die wyse kaptein besluit op Selimiye, 36°42.491 N, 28°05.586 O, 7 myl. Dit is soos ’n hawe of dorpskaai, jy maak vas met vasmeertoue aan ’n jettie. Ons anker word dus nie gebruik nie. Ek is tevrede.

Ons verlaat die beskutte Keçi Bükü en vaar na die oop see. Ons besef eers hoeveel skuilplek bied ’n baai as jy op die see kom. Gus oefen seker al, want hy waai te lekker. Toe die wind se rigting reg is, seil ons ook, met net die genoa. Ons wil nie te vroeg by Selimiye kom nie, want dan is die mense wat van plan is om die plek te verlaat, nog nie weg nie. Ons seil rustig en kom 11:20 by die dorpskaai aan en die hawemeester beduie daar is plek. Archie tru, ek gryp die snoettou, Gus druk vir Maja skeef, die hawemeester stoot vir Maja weg van die kaai, Archie gooi toue, ek sukkel met die swaar snoettou, die hawemeester spring rats op Maja, sê hy sal my help, hy trek, sy voete gly, hy val op sy alie (piesangstyl), maak die tou vas, Archie is agter besig met die toue en vas is ons!

Ek trek my rok aan, want ons is mos nou in die dorp! Ons gaan stap en oral is nuwe winkels in wording. Daar is iets omtrent die plek waarvan ek hou. Kan net nie my vinger daarop lê nie. Selimiye is ook bekend vir die bou van tradisionele houtbote (gulets). Dis daai bote wat hulle gebruik om toeriste op toere te neem. Die reuk van hout prikkel my neus en die bootbouers is glimlag-vriendelik. Archie bestudeer natuurlik die skelette van die bote in wording baie noukeurig. Ek verkyk my aan die bote se boepense wat van hout gemaak is. Dis vir my blonde brein moeilik om te glo dat houtplanke so rond kan wees.

Gulet in wording
Boepens-boot


Ons stap langs die see en sien die oorblyfsels van die verlede. Hier is ook is middeleeuse fort op die koppie. As die weer dit toelaat, sal ons môre gaan kyk, want hulle voorspel reën. 

Langs die see
Fort oppikoppie



Ek sit op die dek en kyk hoe die seiljagte een na die ander senuagtig (ja, Deon, senuagtig) in die baai invaar en plek soek, by restaurant kaaie en die dorpskaai. Later is die plek op en die arme drommels moet anker.

Dit word vroeg donker, want die wolke het die son verjaag, so ons eet ons “overshoot” (soos Michelle oorskietkos noem) vroeg en gaan stap daarna in die dorp. Soos ons verwag het, reën ons nat. Ons stap baie vinniger terug, knieë en al.

Op die bote is al die lokale manne besig om ekstra toue uit te haal en vas te maak. Weet hulle iets wat ons nie weet nie? Gelukkig het ons al klaar dubbel toue. Nou wag ons maar op die winde van vannag. As die weer nie verbeter nie gaan ons vir twee aande hier bly.

Die blaaskompetisie begin  toe 01:30 ... Dit word ingelui deur die seiljagte se blaasorkes ...

Monday, May 25, 2015

Keçi Bükü.

25 Mei 2015.

Kuyulu tot Keçi Bükü.

Ons groet ons idilliese baai en vaar voort na ons volgende bestemming. Soos regte seilende sigeuners. Vandag seil ons ook vir ’n wyle, want Gus waai so effe. Ons is op pad na Keçi Bükü, 36°45.490 N, 28°07.631 O en dis 3.5 myl, net ’n hanetree verder. Ons is naby Marmaris en ons moet eers 2 Junie daar wees, so ons vat dit rustig.

Hierdie baai is omring deur berge met hoë kranse en is baie beskut. Die groot Marti Marina is ook hier. Ons anker in die baai, saam met nog ’n klompie ander seiljagte.

Marti Marina
Ankerplek


Daar is ’n lang natuurlike sandbank wat ver in die baai strek en bus- en bootvragte vol mense kom hierheen om op die sandbank te loop. 

Sandbank


Op ’n eiland in die baai is ’n ou Bisantynse fort te sien. Ek en Archie klim in Dinkie en vaar daarheen. Ons stap in die ruwe pad na die ruïnes. Archie klim tot heel bo en ek sit vir hom op ’n klip en wag. Die uitsig oor die baai is mooi van bo af.

Bisantynse Fort
Uitsig van fort
Uitsig van fort


Ek sit op die klip vir Arch en wag, Gus waai en toe hoor ek dit. Dit klink soos veraf vrouestemme wat êrens sing. Naby, maar tog ook ver. Onduidelik, maar tog ook duidelik. Onwaarskynlik, maar tog die werklikheid. Ek luister in verwondering na die engele sang. Waar kom dit vandaan? Verbeelding? Werklikheid? Toe is dit skielik net weg!

Ek vertel vir Archie van die gesing en hy lag my nie uit nie. Hy vertel my toe van die Sirenes. Volgens die Griekse mitologie het dié pragtige seenimfe die mooiste stemme gehad. Daar word vertel dat die manne op verbygaande skepe die gesing van die Sirenes gehoor het en was so betower dat hulle hul skepe op die rotse laat loop het, omdat hulle al nader aan die land geseil het. Odysseus, in sy beroemde reis terug na Ithaca, is teen die Sirenes gewaarsku. Hy het sy bemanning beveel om was in hulle ore te druk sodat hulle nie deur die stemme betower kon word nie. Hy het ook sy bemanning gedwing om hom aan die mas vas te bind en hom nie los te maak nie, al soebat hy hulle. Sy skip is toe veilig deur die gevaarlike gebied en het nie gestrand nie. (Daar is verskillende weergawes van die mitologie.)

Wel, ek kan getuig. Ek het vandag die seenimfe se betowerende stemme met my eie ore gehoor!

Soveel dae, soveel dinge...

Maja die seenimf

Sunday, May 24, 2015

Kuluyu Bükü. Salige Sondag.


24 Mei 2015.

Kuruca Bükü tot Kuluyu Bükü


Dis darem regtig ’n voorreg om in so ’n pragtige gebied te seil. Omring deur berge, ongerep, deursigtige water, heerlike weer. Ons hoop dit bly so, want Leon en Dirk sluit 3 Junie by ons aan. Vandag is ons weer op pad na ’n idilliese plek, soos die boek dit beskryf. En die plek se naam is Kuluyu Bükü, 36°47.636 N, 28°04.876 O en dis 11.2 myl se vaar. Ons seil maar min, want die wind is min en ons moet die motor gebruik om ons huisbatterye te laai. Die batterye is op hulle laaste. Hulle moet nog net hou tot in Marmaris, waar ons nuwes gaan koop. Ons beplan om 2 Junie in Marmaris te wees.

Oggendskoot - Hisarönü Körfezi


Ons bereik ons baai en dis pragtig. ’n Mengel kleure van skakerings groen en blou. Ons kry alles reg vir die anker. Die boek sê dis een van daai ankerplekke waar jy  lang toue land toe vat om Maja aan twee bome te gaan vasmaak. Dis ’n moeilike ding om te doen vir net twee mense. Archie neem posisie in en tru. Ek gooi anker en toets hom. Archie tru nog nader aan die land, terwyl ek die dieptemeter moet dophou. Toe ons naby genoeg is, neem ek die helm oor en Archie duik weer sierlik in en swem vir die vale. Hy bereik die boom sonder voorval en maak die tou aan die boom vas. Vas en veilig. En wat gebeur? Al die ander seiljagte wat hier kom, anker sommer net, sonder ’n landtou, losdraaiend!

Landtou
Kuluyu Bükü
Hulle anker!


Ons sit langbeen op die dek en laat die Sondag oor ons spoel. Die voëltjies sing en spring in die bome rond. Die uitsig rondom is spesiaal. Op die oewer is enkele gesinne besig om piekniek te hou. Kinderlaggies klink oral op. Dis salige Sondag. Dis ook toe tyd vir ’n salige lafenis in die see. Dis koel en verfrissend.

Ons gaan stap en geniet die visuele genot wat aan ons uitgedeel is. My suster Laaina (bynaam) verjaar vandag en ek wens ek kon vir haar ’n stukkie uitsig as verjaarsdaggeskenk gee. Geluk Laaina!

In die verte sien ons klein ou selbootjies wat besig is met 'n regatta. Dit lyk amper soos vlinders of naaldekokers hier van bo af.

Maja in Kuluyu Bükü - uitsig vir Laaina
Bababoot regatta


Dis Sondag. Dis tyd vir Sondagkos. Vanaand eet ons groenboontjiebredie.

Groenboontjiebredie

Kuruca Bükü.

23 Mei 2015.

Datça tot Kuruca Bükü

Ons vertrek 8:00 uit Datça en vaar verby ’n ligtoring wat jou waarsku teen die rotse in die see. Hier in die Aegean See kruip die rotse mos in die middel van die see net onder die watervlak weg sodat ’n onskuldige seiljag haar kiel daarteen kan stamp. So, ons is altyd op die uitkyk na waarskuwingstekens in die see, bestudeer die kaart en lees die boek.

Ligtoring op Uzunca Eiland
Berge
Kormorante


Kuruca Bükü, 36°45.352 N, 27°53.748 O, 13 myl, waarheen ons vandag op pad is, is ’n groot baai in die Hisarönü Körfezi. Ons soek ankerplek, maar ons kry niks wat in ons smaak val nie. Dan is dit te diep, dan is die vlak kant te naby. As die diepte reg is, sien ek net seegras. Ons vaar na die ander kant van die baai, kry ’n lekker sandkol en gooi daai anker. En siedaar! Ons is stewig geanker. Dit is warm hier in Turkye en ons swem gereeld om af te koel. My suster, Elize, sou die swemmery vreeslik geniet het.

Kuruca Bükü


Kuruca is ’n vakansiedorp wat baie gewild onder senior burgers is. Blykbaar was daar in die begin van 1970’s sewe ou en afgeleefde donkies daar losgelaat. Toe die konstruksiespan twee jaar later kom om die vakansiedorp te bou, vind hulle sowaar 28 donkies. Sowat van vrugbaarheid! Wat Kuruca kan doen vir die vrugbaarheid van 'n donkie ... Die oumense wat hier kom bly, moet oppas!

Die baai verander laatmiddag in ’n bad soutwater. Daar is beswaarlik ’n rimpel. Al die seiljagte, agt van ons, staan sierlik stil, snoete almal dieselfde rigting. Dis hoe ek van die baaie hou, spieëlglad. 

Spieëlglad


Ek kook vandag groot. Dan hou daardie kos vir vyf tot ses dae, hang af hoe honger ons is. Op die spyskaart is lamskerrie met murgpampoentjies en die ander helfde van die lam word ’n groenboontjiebredie. My mond water en Archie steel kos uit die pot. 
Lamskerrie


Toe die son dit waag om te sak, val ons weg aan die lamskerrie! En is dit lekker!