Saturday, May 9, 2015

Turgutreis



8 en 9 Mei 2015.

Sahil Adasi tot Turgutreis Marina


Daar is voorspellings van wind vir vannag en veral Saterdag. So, dis weer sulke tyd. Ons moet gaan skuil. Daarom besluit ons op die Turgutreis Marina, 37°00.176N, 27°15.360 O, 24.7 myl.

Ons vat die pad. Dis weer lekker kalm. Langs die pad is daar vreeslik baie lelike Turkse vakansiehuise. Die boek sê dis die “Concrete coast”. Die kus beloon ons met ’n skouspel van soepel dolfyne. Ons vaar na hulle toe en hulle swem ’n rukkie saam met Maja. Ons het al twee keer hierdie jaar dolfyne gesien, maar dis die eerste keer dat ons hulle so naby sien. Archie sê hulle is so naby dat hy nie ’n foto kon neem nie.

Dolfyne


Die kuslyn in die omgewing is mooi en bergagtig. In die verte is my geliefde Griekse eilande te sien. Ons gaan om die draai en vaar verby Gümüslük. 

"Wreck Rock"
Ruwe kuslyn


Turgutreis Marina is ’n pragtige goedversorgde plek. Die hele dorp het atmosfeer. Die aand kom die winde nie. Wel, so dink ons, maar die marina is baie beskut. Ons weet nie hoe lyk dit op see nie.

Turgutreis Marina


Saterdag gaan ons mark toe en koop vars groente en speserye. Dit wemel van kopers en verkopers.

Speserye
Koop en verkoop


Ons loop langs die hawe en daar is sulke mooi gullets. Die mense is vriendelik, almal wil bootritte aan ons verkoop. As hulle hoor dat ons ’n seiljag  het, los hulle ons.

Die hawe
Die dorpsplein
Die moskee
Standbeeld vir Leon


Archie gebruik die tyd om my te verras met ’n “pendant” vir die anker. Ek hoef nou nie meer op my knieë te gaan om anker te gooi nie. Ek kan nou luuks regop staan om die op en af knop te druk. Hy woel en werskaf om die die ding te installeer en die drade op te koppel. Toe kom die toets! En dit werk!

Bedrading
Dit werk


Ek hou van die plek. Ons moes hier skuil vir winde wat nie gekom het nie, maar dit was ’n heerlike tuiste vir twee dae. Ons moes ook ons voorrade aanvul, want vir die volgende week gaan ons seil waar daar nie eintlik winkels is nie.

Ons skuil

Friday, May 8, 2015

Güllük Körfesi. Sahil Adasi.



7 Mei 2015

Asin Limani tot Sahil Adasi

Ons Turkse vriende het nog nie kop uitgesteek nie, so ek groet hulle deur drie blomme in hulle ruitveër te sit. Hulle sal weet dis koebaai.

Ons het hier by Asin Limani ingewurm, nou moet ons uitwurm. Ons dink dis net van uitgaan, maar moenie glo nie. Ons neig al na die eenkant toe en dreig om vas te sit in die buurbote, aan die stuurboord kant, se toue en ankerkettings. Dis al weer afstoot en tru en anker uitlaat en weer optrek. Wel, almal kom darem ongedeerd daarvan af. Die blerrie Gus. En weg is ons. 

Ons is op pad na Salih Adasi, 37°08.997 N, 27°31.933 O, net nege myl verder. Ek en Archie sit afgehaal op die dek. Nie eers Maja se rustige geprrr beur ons op nie. Ons het gedink die uitgaan sal so maklik wees. Ons hou nabetragting van hoekom die losmaak en uitgaan nie vlot verloop het nie. Hemel, maar ons het nog baie om te leer. Ondervinding en ervaring is ons leerskool.

Sahil Adasi


Ons baai het helder, deursigtige water. Ek kan sien toe die anker die bodem raak. Ten minste gooi ons deesdae foutloos en sonder stry anker. Dis net jammer dat hier ’n bietjie rommel op die water ronddryf. Ons kry twee besoekers, Drykie en Dakkie. Hulle is twee slim eende. Toe ons in die baai kom, kom hulle met 'n spoed aangeswem. Hulle is so oulik, ek voer hulle dadelik brood. As 'n volgende toerbootjie inkom, swem hulle weer daarheen en word gevoer. So vreet hulle swem-swem van boot tot boot.

Drykie en Dakkie




Vanaand eet ons weer vis. Archie het gou gister, nadat ons so heerlik aan die vis gesmul het, nog een gaan koop. Gelukkig was die balik winkel nog oop. Ons gemoedere lig op soos wat die son sak en die koel aandlug die baai vul.

Aandete


 

Thursday, May 7, 2015

Asin Limani. Dag 2. Vriende.



6 Mei 2015

Dis so lekker hier by Asin Limani. Ons bly vir nog ’n dag. Die see is seepglad. Gus roer nie. Ons staan lui op en gaan winkels toe, maar dis mini winkels. Hulle het nie vrugte nie, maar darem komkommers en groenrissies. En hulle het brood. Hierdie is maar ’n klein regte-lewe plekkie.

Ons neem ons enkele pakkie terug na Maja en aan die ander kant van die pad staan ’n groen mobiele huis. Twee mense, ’n man en ’n vrou, sit buite by ’n tafeltjie. Op die tafel is ’n glasie met blomme. Ek is so beïndruk dat ek oorstap en vir die vrou sê dat ek van haar blomme hou. En dis waar dit begin. 

Nuran (weerkaatsing), Zafer, ek en Archie voor hulle mobiele huis
 

Hulle nooi ons vir Turkse koffie en bring neute en Turkse appelkose tafel toe. Soos ou vriende kuier ons saam met Zafer en Nuran Türkmen. Soos ’n wafferse toergids skryf en wys hy vir ons interessante plekke by die Swart See wat ons kan besoek. Nuran kan nie so goed Engels praat nie, maar Zafer is heel vertroud met die taal. Ons praat politiek, godsdiens, toere, kinders, seilbote en alles en nog wat.

Koffie met die bure


Ons gaan stap weer, maar dié keer aan die ander kant van die baai en sien die mure van die kasteel van ’n ander hoek. Ons wandelings lei ons deur ’n landelike gebied en later sien ons die wrak van die seiljag van nader. Wonder nog steeds wat daar gebeur het. Ons kom op nog ruïnes af en op ons terugtog loop ons weer in Zafer en Nuran vas. By die Balik (vis) winkel voel ons dapper en koop ’n dooie vis om gaar te maak.

Die hawe en die antieke stad van Iassus
Uitsig oor agora
Wrak van seilboot


Later die middag bring Zafer vir ons ’n bordjie vol gaar groenboontjies oor. Heerlik (ons het dit saam met die vis geëet). As ons mekaar sien, dan gesels ons. Watse wonderlike mense is hulle nie. Ons gaan kontak met mekaar hou, want ons kan mekaar dalk weer sien. Hulle gaan na Marmaris, waarheen ons ook op pad is. 

Die aand eet ons lekker vis.

















Wednesday, May 6, 2015

Asin Limani. Antieke stad van Iassus.



5 Mei 2015.

Kazikli Baai tot Asin Limani

Ek weet een ding verseker. Ons anker het gebyt. Hy sit en ek sukkel om hom los te kry. Ons sou nêrens heen gewaai het nie. 

Ons volg die pad na Asin Limani, ’n klein ou hawetjie waar ons verlede jaar saam met Gerrie en Ansu was. Ons ry verby nog visplase al hoe verder in die Güllük Körfesi in. Die see is blou-groen en baie kalm. Ons prrr rustig voort, sonder haas. 

Kaptein
Visplaas


Asin Limani, 37°16.612 N, 27°34.908 O, kom na drie en ’n kwart uur se vaar nader met sy die breekwater wat onder water is. Jy moet jou vaar ken sodat jy nie op die rotse beland nie. Archie maak toe soos die boek sê en stuur Maja versigtig naby die Bisantynse toring in die hawe in. 

Ingang tot hawe. Onderwater breekwater kan regs van die toring gesien word


Maar o wee, die plek is oorvol! Dis net bote en kettings en ekstra toue oral. Baie bote oorwinter sommer hier. ’n Weldoener op die kaai, wat ook ’n boot het, beduie vir ons na ’n obskure plek, so tussen toue en kettings in. Ek neem my posisie in. Archie tru en ek gooi die anker. Die fender haak aan die buurboot vas en ek kry die nie los nie. ’n Ander bootman spring op die boot langsaan en help losmaak. Hy kry dit ook nie los nie en moet die fender losmaak om dit te bevry. Toe kan Maja weer agteruit. Na ’n bietjie afstoot hier en daar is ons in. Die twee manne op die kaai help met die toue, die anker byt pragtig en ons is vas en veilig. En ek het heeltyd kalm en koelkop gebly.

Ingewurm


Asin Limani is bekend vir die Antieke Iassus. Die fort op die heuwel is gebou deur die ridders van St John. Daar is ’n reuse muur, plek-plek meer as 2m dik met wagtorings en versterkte hekke. Binne-in is die fondasies van die huise nog te sien. Oral is murasies. Die oorblyfsels van die teater, die kasteel en die Bisantynse tempel is nog te sien.

Oral is murasies met teater in agtergrond
Fondasies van huise
Kasteel muur met herwinde materiaal
Reuse muur


In die agora, tussen die die olyfbome, wei die beeste en die skape. Dit is ’n heerlike belewenis om hier tussen die ruïnes rond te dwaal soos ’n vryburger. Jy kan loop waar jy wil en niemand blaas ’n fluitjie nie. Om elke hoek is nog ’n murasie-verrassing. Wat ’n heerlike stap.

Paadjie deur olyfbome
Lenteblomme vir Moedersdag
Uitsig oor Asin Limani


Archie tel vullis op en gooi dit in ’n groot wit sak, terwyl ek oefen om met twee stapstokke te loop, met my stok en ’n riet wat Archie opgetel het.

Ons gaan eet vis in die Iassus restaurant en deel die tafel met ’n Australiër wat ons die middag ontmoet het. ’n Vreemde man bedank Archie vir die vullis wat hy opgetel het. Hy het ons blykbaar dopgehou toe ons op die mure was.