Saturday, May 2, 2015

Port St Paul



1 Mei 2015

Kuşadasi tot Port St Paul


Vandag is lentedag in hierdie deel van die wêreld. Dis ook die dag wat ons die waters weer gaan aandurf. Ek voel soos ’n groentjie. So of ek niks meer van seil kan onthou nie. Ons is albei bietjie senuweeagtig, soos voor ’n toets. Jy weet jy het geleer, maar jy voel of jy niks ken nie.

Voor ons begin seil, moet ons eers uit die marina kom. Ons is knus tussen twee bote ingedruk in Maja se winter slaapplek. Reg voor ons is ’n boot, met ’n lang snoet, so half in ons pad. Daar is ’n kans dat ons teen sy vasmeer ketting kan vasry en verstrengel kan raak. Glo my, dit kan gebeur! Die marina man is op sy pos en gebruik sy boot as buffer tussen Maja en die ketting. Archie skakel die motor aan, die marina man maak ons snoettou los. Ek staan gereed met fender in die hand om te keer as ons agterstewe met die draaislag nie teen die Cat langs ons gaan bots nie. 

Beperkte beweegruimte


Archie bestuur meesterlik uit. Hy vat die draai goed, Maja raak nie eers aan die Cat nie en vaar veilig verby die kettings en die lang snoet. Maja verlaat haar blyplek waar sy haar winterslaap van sewe maande lank geslaap het. En skielik is ons weer op die oop see. 

Kuşadasi se kasteel


Ons gaan vandag na Port St Paul, 37°39.269 N, 27°00.549 O. Dis 21.4 myl om te seil en behoort 5h30m te neem .Maja se motor wil nou skielik nie meer as 2 300 opm onder vrag draai nie. En onthou, die motor is splinternuut. Archie kry sy eerste swem toe hy kyk of die propeller mooi skoon is .Dit is vol seediere en hy probeer dit afkry. Elke keer moet hy asem skep en dan onder Maja induik en die gediertes probeer afborsel. Hulle klou soos nete. Hy besluit om verder te probeer by Port St. Paul. Die water is maar lekker koud so vroeg in die seisoen. Maja se motor prrr voort, seediere en al. Dit veroorsaak wel dat ons net vier knope met ons vinnige nuwe motor kan vaar.

Archie se eerste swem


Gus waai liggies en ons span die seile. Ons motorseil vir ’n ruk en daarna skakel kaptein die motor af en ons seil.


"Kaptein, span die seile ....
... Kaptein, sy is myne"


Ons vaar verby bekende plekke waar ons verlede jaar saam met Gerrie en Ansu gevaar het. Gerrie se kop het mos hoeka altyd Samos se kant toe gestaan. Dit was altyd Samos sus en Samos so. Dié Griekse Eiland het hom omtrent getiekel. Turkye en Samos is hier net een seemyl van mekaar verwyder. Dit is die naaste wat Turkye en Griekeland aan mekaar kom.

Samos
Bayrak Eiland met Samos in die agtergrond


Ons nader ons ankerplek en Arch sien op die vorige jaar se roete aanwysing presies waar ons moet anker gooi. Die eerste gooi van die seisoen is suksesvol, met ’n bietjie stry tussen die kaptein en sy “first mate”. Maar nou ja. So is dit maar.

Amper daar


Gewapen met eierspaan en snorkel, takel Archie weer Maja se pens. Hy skraap en rus en skraap en rus. Die water is koud en die asem raak min. Na vele pogings is die seelewe op Maja grootliks vernietig. Ons sal môre sien of dit Maja se spoedprobleem oplos. Ons hou duim vas.
 
Toe kry daai man koud, hoor. Tot op die been. Hy het al sy hitte in die see verloor. Dit was omtrent ’n storie en ’n half om hom weer warm te kry.

Die son sak om die eerste dag van die nuwe seilseisoen te volbring. Die weste lug word geverf met kwatsels pienk en vlam. Dis magies mooi. Die ooste lug word silwer-goud getint met die amper volmaan. Dis misterieus mooi. 

Sonsondergang


Ons is terug!
 

Thursday, April 30, 2015

Kuşadasi. Maja



27 - 30 April 2015

Archie sê altyd: ”’n Huisvrou se werk is nooit klaar nie!”  Wel, dis miskien waar, maar wat die waarste is, is dat ’n bootmens se werk is wraggies nooit ooit klaar nie.

'n Huisvrou se werk is nooit klaar nie ...
... en 'n bootman s'n ook nie.


Na sewe maande van eensame oorwintering, is Maja toe onder ’n stofkombers. Ons moet mooi kyk om haar te erken so tussen die stof deur. Dan begin ons. Dis afwas en afstof en uitvee. Matrasse uitslaan, kussings opplomp en beddens opmaak. Kaste regpak, klere uitpak. Al Maja se geskenke oorhandig en uitpak. Dan is daar nog die miljoene gereedskap wat Archie saambring en die kosvoorrade van die huis af. Ons spit en polish vir die vale. Was die hele Maja van kop tot toon silwerskoon. Maar dis die maklike deel.

Boot was


Dan begin daai Ingelsman soos Sherlock Holmes die een na die ander stukkende ding opspoor. As iets nie stukkend is nie, dan breek hy dit self, net om iets reg te maak.

Ons bed is nog vars opgemaak, toe pluk hy weer die beddegoed af en takel die snoet watertenk se meter wat aandui hoe vol die tenk is (baie sielkundig positief). Hy ontdek met vreeslike opgewondenheid dat daar bietjie water in die ruimte onder ons bed is. Die oorsaak van die lek word uitgesnuffel en opgespoor. Verlede jaar het Archie en Gerrie aan die ankermotor gewerk. Hulle het mos hoeka ’n wonderwerk verrig toe hulle dit suksesvol reggemaak het. Die gat waardeur die ankerkabels na die anker gaan, was nie heeltemal geseël nie en water het baie stadig daardeur gelek. Archie geniet homself terwyl hy dit regmaak. Hy neurie mos as hy met moeilike reparasies besig is.



Seël snoet se lek


Van die lewensbaadjies is effe klam en word opgehang om uit te vars en droog te word. 

Effe klam lewensbaadjies


Toe vernis hy die hout rondom die nuwe enjinmeters en sit ’n nuwe rubberseël vir die helm se kontrole-instrumente dinges in. Toe soldeer hy sommer ’n paar dun draadjies wat ek so ewe moes vashou.

Die volgende slagoffer is die gasstoof se brander wat oneweredig vlam. Hy skuur en druk goed in gaatjies (nee Verona, moenie verkeerde ideas kry nie) en maak skoon. Nou brand die stoof lekker.

Ek vra ewe onskuldig vir Archie hy moet net na die spaarkajuit se een venstertjie kyk. Dit voel ’n bietjie los. Hy raak so begeesterd met die regsien van die venster, dat hy daar en dan elke liewe venster ondersoek en nog vyf ander stewiger maak. Ek staan vol bewondering vir hom en kyk. Sowat van daad by die woord voeg, kry jy nie aldag nie.

Maak venster reg


Archie is nog glad nie klaar nie. Hy vervang ook die element van ons geyser, want dit trip elke keer Maja se krag. Dis geyser uithaal, winkel toe, koop ’n nuwe element. Sit dit in. Winkel toe, koop o-ringe en voltooi die projek na baie moeite. Ek help ook darem om die water uit die enjin “bilge” op te droog. 

Spoel geyser uit


Hy beraam planne om die nuwe afdakkie te “installeer”. Ons sit die bimini weer op.  Ek maak die vleklose staalpype skoon. Ons werk ons kuduks. 

Poets pype


Oral op die bote werk die manne. Dan spring hulle op ’n fiets en jaag winkel toe om iets te gaan koop en kom met ’n plastieksak vol goed teruggejaag. Dan werk hulle weer.

Ek sê vir Archie ons moet ook fietse kry. Hy sê nee.

Almal het fietse


Ons het darem kans vir kuier ook. Ons kry mense vir aandete. Ons koop hoender en sampioene en regte spinasie en slaai en uie en tamaties by die mark. Alles vars. 

Op pad mark toe


Ek kook ’n storm los vir Niel van Rensburg en sy seun Pierre, ook Suid-Afrikaners wat ons toevallig hier in Kusadasi ontmoet het. Niel bring ’n bottel sjampanje uit Suid-Afrika. Niel en sy vrou Sandi, wat eers 4 Mei Turkye toe kom, gaan ook vir vyf maande in Turkye en Griekeland toer. 


Pierre, Archie en Neil


Archie kraak die sjampanjebottel se kurk en ons klink ’n glasie op nuwe vriendskappe. Ons hoop om hulle êrens eendag weer te sien.

Wednesday, April 29, 2015

Selçuk. Efese.



27 April 2015.



Nou kom Efese aan die beurt. Ons klim die taxi en sit af na Efese. Na al die nodige fooie wat betaal moet word, is ons in die stad, saam met nog ‘n magdom menigte mense.

Net 20% van die stad is al opgegrawe. Oostenryk en Duitsland is tans nog besig met opgrawings en selfs Amerika het ‘n gebied waar hulle die opgrawings borg.

Efese was ‘n Bybelstad, waar Johannes en Paulus ‘n groot rol gespeel het. Dit was ook ‘n belangrike hawestad, maar met die verloop van tyd het die rivier die see ingesluk en toegeslik. Vandag is Efese nie meer langs die see nie, maar jy kan die see steeds in die verte sien.


Efese met ou hawe in die verte


‘n Tipiese dag in Efese kon in die outyd so verloop:

(As jy ‘n besoeker was, moes jy natuurlik eers al jou vuilgeid en sonde afwas by die Greco-Roomse baddens, voordat jy die pragtige stad kon invaar.)

Greco-Roomse baddens


Vir die inwoner begin dit met ‘n munisipale debat by die Odeon.

Odeon


Die belangrike sake kan dan verder bespreek word terwyl julle rustig in die “Curetes Way” wandel. So gesels-gesels stap julle verder. Oral stop jy en gesels en redekawel met ander mense met ander sienings.

Curetes Way
Curetes Way


Jy stap na die Latrines en doen jou ding. Jy verlustig jou in die beeld van Keiser Trajan, by die fontein. Jy stap verby die Tempel van Domitian en die Memius Monument en gaan rus by jou terrashuis. 

Tempel van Domitian
Memius Monument


In die namiddag gaan lees jy ‘n klassieke werk in die biblioteek van Celsus. Op sy dag kon dit 12000 perkamentrolle huisves en dit was die derde grootste antieke biblioteek.  (Dis so mooi, ek sal heeldag hier sit en lees!) Of jy kan aan die aktiwiteite van die bordeel deelneem, wat beslis nie lees insluit nie. 


Celsus Biblioteek
Biblioteek kolomme
Biblioteek, fyn detail
Biblioteek, fyn detail


Die meer kuis en goeie inwoners, kan een van die tempels besoek om die gees te verryk. Of net in die marmerstrate van Efese wandel, ronddwaal en die mooi van die omgewing en die stad geniet. Of oor die see sit en tuur en die lewe oordink. Die vrouens moes natuurlik kook en kinders dra, baar en grootmaak!

"Spot the Nike swoosh"


Die dag word afgesluit met ‘n dramatiese vertoning by die indrukwekkende teater wat 25 000 toeskouers kon huisves.

Teater


Vir ons is dit net ‘n verbeeldingryke verwondering in ‘n ouwêreldse stad en ons besef dat ons lewens maar ‘n druppel in die see is van gebeure en leef wat oor die eeue plaasgevind het.

Na die verbeeldingstog in Efese, gaan ons by die onderste hek uit, kry ‘n dolmus wat ons na die werlikheid van die grootpad neem en wag toe ‘n halfuur vir 'n ander dolmus na Kuşadasi.

Wat ‘n heerlike uitstappie.