Tuesday, August 26, 2014

Turkye. Çandarli.

26 Augustus 2014. Dinsdag.

Yenifoça tot Çandarli

Dit was alweer 'n windverwaaide nag. Dis 'n geklots en 'n gedraai, maar daar is 'n gerustheid in my hart. Ek het self daai anker gegooi, ek weet hy sal hou.

Ons gaan vandag na Çandarli (38°56.195 N, 26°56.280 O), 13.1 myl. Die dae is deesdae lekker kort.

Daar lê baie skepe in die baai. Sommige wag vir olie by die olieraffinadery. Ander wag op vernietiging, want daar is ook 'n skipsloopwerf. Dis die laaste rusplek vir ou skepe, waar hulle opgebreek word vir herwinning. Dis so "sad".

Gus waai reg op ons neus en arme Maja klap met haar romp op die deinings. (Auto bestuur). Hierdie deinings is mos sulke "kort op mekaar deinings".  As jy oor die een vaar, klap Maja pens en pootjies, snoet eerste in die volgende deining en dan kreun en steun sy van pyn. Archie vat toe die helm en omseil die deinings. Geen geklap meer vir ou Maja nie.

Çandarli se kasteel

Ons kom by Çandarli aan. Dis 'n groot baai met 'n paar plaaslike skuite en bote. Ons soek ankerplek in die troebel baai en die eerste keer gooi ek seegras raak. Ons gooi weer en dié keer byt daai anker so, dat Maja in haar spore vassteek.

Vas geanker

Later die middag klim ons in Dinkie en gaan dorp toe. Ons kyk na die mooi kasteel, wat ongelukkig toegesluit is.

Kasteel
Strand

Later koop ons ewe dapper 'n vars vis om die aand gaar te maak. Wat 'n sukses was die aandete.

Voor
Na

Ons vriend, Deon, van Aliwal se wêreld, wil weet hoe ervaar ons die Turke.

Ek moet sê dat die taal die grootste probleem is. Baie min Turke kan Engels praat wat kommunikasie moeilik maak. Die kere wat ons hulp nodig gehad het, het ons beleef dat hulle uit hulle pad gaan om ons te help. Dit lyk of hulle regtig omgee. Hulle is baie vriendelik en hulpvaardig.

Sommige vrouens dra kopdoeke en swem in hulle gewade, maar die meeste is baie modern. Die Turke in die Oostelike dele is blykbaar meer konserwatief.

Swem

Hulle is baie hardwerkend. Sommige supermarkte is 24 uur oop. Lui is hulle nie. Dit lyk of hulle 'n vooruitstrewende nasie is. Die meeste Turke is Moslems maar hulle is nie fanaties oor hulle godsdiens nie. 

Ons geniet ons ervarings in Turkye. 

Monday, August 25, 2014

Turkye. Yenifoça.

25 Augustus 2014. Maandag.

Metalika tot Yenifoça

Alweer oppad. Altyd oppad. Dis die lewe van 'n seilende sigeuner. Die wind het vroegoggend begin waai. Gelukkig is dit vandag net 10 myl na Yenifoça (38°45.003 N, 26°50.058 O).

Gus waai van voor. Selfs met die nuwe enjin, beur Maja teen die wind. Later word dit beter. Gus waai ligter en dadelik is die see kalmer.
Ons kry oppad twee merske golwe wat ons hoog eenkant vat en laag anderkant af. Al wat ek kan sê is: "Jo!"

Ons heenkome is 'n heerlike baai, ons soek 'n sandkol en toe ek een sien, gooi ek daai anker voordat Archie Maja gereed het. Hy skree nog vir my "Stop!", maar ek hoor nie, die anker raas mos. Hy tru toe maar, die anker byt en vas is ons.


Yenifoça Baai
Yenifoça

Toe gaan ons dorp toe. Dis so gesellige dorp, vol vakansiegangers  en gewone mense én ons.

Yenifoça

Ons loop rond, eet 'n pizza, koop 'n paar goedjies en roei terug na Maja.

Trimpark, Turkse styl

Moskee

Ons geniet ons aandete op Maja se dek.

Turkye. Metalik Baai.

24 Augustus 2014. Sondag.

Egri tot Metalik Baai

Geluk met jou verjaarsdag, Gerrit!

Ons het vandag 'n lang pad na Metalik Eiland (38°42.229 N, 26°43.917 O), 26.8 myl. Ons vertrek vroeg, 07:00.

Oggendskoot - Boom alleen

Daar is nie eintlik wind nie, so ou Arch loop al weer enjin in. Wissel die spoed gedurig, van stadig tot vinnig. Ons kruis 'n groot stuk see en dié is darem heel plat, soos 'n spreukwoordelike spieël. Ons vaar en vaar en vaar. Deur diep waters en deur vlak waters en verby imposante berge. En toe is ons daar.

Stille waters
Piek van Mimas
Hayirsiz Eiland

Ons soek ankerplek. Ek gooi, die anker sleep. Seegras. Trek op en gooi weer. Die anker sleep. Seegras. Ons kyk mooi en sien 'n paar klein sandkolle. Archie mik vir 'n sandkol. Toe ons regoor die kol sand is, gooi ek daai anker. Dit tref die sand, Archie tru en hy byt. En ons is vas. Die blerrie seegras. Ons anker byt doodeenvoudig nie in seegras nie. 

Hierdie is 'n piekniekplek vir bote en swemmers op 'n Sondag. Al wat leef en beef is hier. Dit eet en drink en swem en baljaar.

Ons klim in Dinkie en roei land toe. Ons loop rond en dis lekker om op land te wees.

Marieks en Maja
Metalik Baai
Rotse

Toe dit laat word, verlaat al die piekniekgangers die baai en ek en ou Arch bly alleen agter.

Dit word laat
Verbyvaart

Die baai is ons s'n.

Saturday, August 23, 2014

Turkye. Eğri Baai.

23 Augustus 2014.  Saterdag.

Kara Eiland tot Eğri Baai

Wat 'n heerlike ankerplek! Die water is rimpelloos stil, die songloed op die land. Dis so sielsvekwikkend, dat ek my kaptein verras met koffie en dit op die dek drink en nie in die bed nie! Die water wemel van lewe. Silwer lyfies van visse is oral te sien. Hulle baljaar en spring baldadig uit die water.

Songloed
Weerkaatsing

Ons vertrek eers 10:00 na Eğri Baai (38°32.261 N, 26°22.591 O), want dis net 9.5 myl.

Oggendskoot - Vertrek

Die kaptein is besig om die nuwe motor in te loop. Dit mag nou skynbaar nie heeltyd teen dieselfde revolusies loop nie. Dan vaar ons 4.5 knope, dan jaag ons vir vyf minute teen 8 knope (topspoed), dan weer 6 knope, en so vaar ons voort. Maar Maja sukkel om 4 knope te vaar met nuwe motor. Dis te stadig.

Die kuslyn is mooi hier, baie bergagtig. Ons vaar verby 'n paar visplase. En toe sien ons hulle. 'n Klomp dolfyne wat naby die visplase roof-eet. Hulle vang al die visse wat wegkom. Ons vaar stadig en kyk hoe hulle ewe mak naby die werkers van die visplaas swem en vreet.

Kloofbyl
Roof-eet

Ons kom by Eğri Baai en gooi anker. Dis een van daai ankerplekke waar die anker nie byt nie. Wonder bo wonder byt ons anker sommer die eerste keer.

Naby Eğri ingang
Eğri

Nog 'n heerlike ankerplek wat ons geniet en ons eie maak.

Friday, August 22, 2014

Turkye."Away at last!"

22 Augustus 2014.  Vrydag.

Çeşme tot Kara Eiland

Dis vandag die dag van bevryding. Van hoop en wanhoop.

Die motor is in. Nou sukkel hulle met die instrumente se bedrading. Ek los dit vir die manne en gaan sit en wag op 'n klomp ou matte. Die man van die groot masjien staan ook al nader om Maja weer in die water te laat.

Instrumente word ingesit

Om 13:00 is dit sukke tyd. Bande omvou haar romp en Maja word water toe gery. Sy wieg liggies in die bande. Die hele span staan en kyk (en hou asem op, gaan die motor werk?).

Die span

Sy word stadig laat sak en toe word sy weer een met die klamheid van die water. Die druppels gryp na haar en sy gee haar oor aan die nat. Die bande sak en sy dryf.

Nuwe verf op romp
Water toe
Pens word nat

Ons klim. Ojan en sy mater klim. Die res staan langs Maja op die kaai. Jy kan die spanning aanvoel. Ojan skakel aan. Maja dreun saggies, geen harde geprrr nie. Sy het gevat! Maar daar kom nie water deur die verkoelingsisteem nie. Archie sê hulle moet eers die seewaterpomp "prime". Ou Slimjan is reg, want met die volgende aansluit, werk dit.

En daar trek ons met die seeproefrit. Hemel, en sowat van spoed! Ons vaar teen 7.6 knope. Sy klink so sag en ons is verlig. Die motor pas, dit werk, die instrumente werk en alles is hankiedorie! Wat 'n verligting!

Ons meer vas, laai die manne af en ons sit ons reis voort. Met 'n sagte, splinternuwe motor. Ons gaan weer na Kara Eiland (38°25.884 N, 26°21.067 O), dieselfde baai waar die motor die gees gegee het. Dis net 10 myl tot daar. Ek is bietjie benoud, veral as ek dink aan ons angs van 'n week gelede. En die ankers byt ook mos nie hier nie. Archie tru, ek gooi en na die derde probeerslag byt daai anker met mening. 

Kara Baai

Die spanning dreineer uit ons lywe en ons raak rustig. Na soveel drama, kan ons ons vanaand oorgee aan die luukse van 'n vreedsame aand op anker.

Çeşme. Kasteel.

21 Augustus 2014. Donderdag.

Vandag gaan ek die kasteel besoek. Vier manne én Archie woel en werfskaf in Maja. Die nuwe Volvo motor word ingesit.

Çeşme Marina kantoor

Die kasteel op die waterfront is in die 14de eeu gebou en in 1400 is dit deur Beyazit 1 verower. Die kasteel het die hawe en die Turkse vloot beskerm. In 1770 is die Turkse vloot deur drie Russiese bateljonne aangeval en verwoes. Die Russe het toegang van die Swart See tot die Mediterreense See verkry.

Çeşme Kasteel
Hoë mure
Gang
Trappe
Amphora uitstalling
Umur Bey Toring uitstalling

Ek dwaal alleen in die kasteel rond en verbeel my dit is my blyplek lank lank gelede...

Uitsig oor marina

Monday, August 18, 2014

Turkye. Hoog en droog.

18 - 22 Augustus 2014. Maandag - Vrydag.

Ons is hoog en droog in Çeşme. Die Volvo enjin is met 'n kraan uitgelig en ons kry hopelik môre die nuwe enjin en dit sal teen Donderdag in wees. Vrydag sal ons weer te water gelaat word en dan seil ons verder.

Daar gaan hy
Enjin uitgehaal

Intussen is die penthouse nog ons woning.

Saturday, August 16, 2014

Turkye. Op droë grond.

Setur Çeşme Marina tot Çeşme Marina (Oranje lyn)
15 Augustus 2014. Vrydag.


Ek hoop vandag is goeie Vrydag.

Dis vroegoggend. Die see is doodstil, so ook die swemkaai en alles rondom ons. So ook Maja se enjin. Selfs die restaurant het verdwyn.
Nou is Archie die wagtende kaptein. Ons wag op die reddingsboot om ons te kom tou. Ojan, die meganiese ingeneur, en die kaalkop, wat gister sy tong so geklik het, daag op met die nuus: "Die reddingsboot sal enige oomblik kom".

En hy daag op, so 11:00. Hulle kry ons weg van die kaai, maak die tou aan Maja se snoet vas en daar trek ons, hulle voor en ons agterna. Ojan vaar saam met ons en die viermanskap op die reddingsboot laat waai. Maja het nog nooit so vinnig gevaar nie, 9 knope. 

Daar trek ons

Ons ry dat die water spat. Die seemanne weet presies waar om te ry, hulle baan hulle weg deur die riwwe en vlak water. Ons is sommer gou by Setur Çeşme Marina.

Riwwe en vlak water

In die marina word Maja "alongside" aan die reddingsboot vasgemaak en hulle neem ons na die uitligdok waar Maja uitgelig gaan word. Die manne weet wat hulle doen. Hulle bestuur sekuur, dis toue orals, afstoters en helpende hande. Selfs die manne van die marina op hulle dingy verleen hulp. En ons is in die uitligdok.

Alongside aan reddingsboot

Die volgende stap is dat Maja, soos Moses van die Bybel, uit die water gehaal moet word. Die groot boothyser kom nader en staan wydsbeen oor die uitligdok. Die operateur sit die bande (slings) onder Maja se romp, meet en pas en kyk en balanseer en stadig maar seker en sekuur word sy uitgelig. Dis iets om te sien.

Uit die water gehaal

So vaar sy op en hang sy daar met die breë bande onder haar romp in die lug. Die boothyser ry met haar na die sementblad waar sy met brute fors skoongespuit word. Jy sien net seediertjies en plantjies trek. Silwerskoon is sy.

Romp word skoongespuit

Toe kom 'n ander kontrepsie, wat vanself ry en stoot die "cradle" onder haar in. Dit ry na haar nuwe staanplek op droë grond, die kontrapsie ry weg en daar staan sy, op haar cradle. Veilig in die lug. Die mannetjie bring vir ons 'n leer en ons klim op. Ons bly nou in die penthouse.

Maja word geneem na staanplek
Veilig op cradle
"Penthouse"

Ojan en sy werktuigkundige spring aan die werk en na 'n uur is die enjin gereed om uitgelig te word. Môre kom 'n hyskraan om die taak te verrig. Dan sal ons weet wat die skade is.

Ojan en werktuigkundige maak enjin los

Dit voel of Maja heeltyd heen en weer beweeg soos op die water...