Friday, September 27, 2013

Piran. Dag 153.

27 September 2013. Vrydag.


???


Klein Dubrovnik? Of miskien klein Venesië? Nee, ek praat van Piran in Slovenië.

Ons ry met die bus soontoe. Dit reën nog elders, maar hier by ons in Koper is die weer baie dik. Ons pak maar ons reënbaadjies in en hou styf duimvas dat dit onnodig is.

Die dorp is 'n juweel van Venesiese en  Gotiese argitektuur. Dit is op die punt van 'n nou skiereiland gebou. Die naam, Piran, kom van die Griekse woord, pyr, wat "vuur" beteken. In die verre verlede was vuur in Punta vuurtoring aangesteek om skepe die weg te wys na die hawe van Koper.

Ons stap boontoe, na die muur van die dorp. Die muur is 200m lank en dateer uit die 15de eeu. 

Muur
Archie bo-op die muur



Van bo af, lyk Piran amper soos Dubrovnik. Ons sien die Katedraal van St George, wat wag hou oor die dorp. Dis net jammer dat die son vir ons wegkruip. Ons vat die pad af na die dorp.

Dubrovnik?
St George Katedraal



Ons loop deur die nou, krom straatjies en kom heeltyd by die see uit, wat weerskante van Piran verby gly. Dit is 'n lekker plat see dié, net soos ek van hom hou.

1ste Mei Plein
1ste Mei Plein met Guiseppe Tartini se standbeeld



Vandag was dit weer lekker om 'n toeris te wees en al die besieningswaardighede te besien. Ons klim die bus en gaan terug na Koper.

Ons dink aan Maja

Dit het toe nie gereën nie.


Published with Blogger-droid v2.0.10

Koper, Slovenië. Dag 151, 152.

25, 26 September 2013. Woensdag en Donderdag

Venesië tot Pula (Geel) en Pula tot Koper (Wit)

Om 16:00 klim ons die bus na Koper in Slovenië. Die busrit is mooi en ons geniet al die draaie, berg-op en berg-af, die bosse en die see. Ons kom 19:10 in Koper aan en 'n vriendelike vrou wag ons by die park in en begelei ons na ons kamer.

Ons is nou veronderstel om opgewonde toeriste te wees, maar die entoesiasme ontbreek. Dis eintlik so half 'n anti-klimaks na die seil. Niks is vir ons vreeslik mooi nie en die weer is 'n weerspieëling van ons gemoedstemming - effe mistroostig en liggies bewolk.

Ons stap in Koper rond en geniet tog later dit wat die dorp ons bied.

Presernov Plein
Da Ponte Fontein (1666)
Stadstoring  (15de eeu) en Katedraal
"Cathedral of the Assumption"
Praetorian Paleis
Ou huis
Ou gebou
Straattoneel

Hulle voorspel reën, en nie elders nie ...




Published with Blogger-droid v2.0.10

Wednesday, September 25, 2013

Pula, Kroasië. Dag 149, 150

23, 24 September 2013. Maandag en Dinsdag.



Van Venesië vat ons die trein na Trieste en van daar klim ons die bus na Pula.

Pula is in die noorde van Kroasië. Ons het nooit kans gekry om hierheen te seil nie. Die mooi dorp is bekend vir sy Romeinse argitektuur. Die Amfiteater is 'n indrukwekkende, ou Romeinse arena - 'n kleiner weergawe van die Colosseum in Rome.

Amfiteater
Romeinse amfiteater
Amfiteater



In die ou Romeinse Forum staan die oorblyfsel van die tempel van Augustus trots vir almal om te bewonder.

Tempel van Augustus



Die Franciscan klooster en kerk is bult op. Die bekendste kunswerk is 'n houtpaneel agter die hoofaltaar. Dit dateer uit die 15de eeu en is egte Gotiese styl.

Klooster
Houtpaneel in Franciscan Kerk



Die "twin gate" en "the arch of the Sergians" is ewe bekend as ouwêreldse Romeinse strukture.

"Arch of the Sergians"


Pula is 'n vriendelike dorp en huisves die hede en die verlede.

Archie wag geduldig (hede)
Standbeeld van James Joyce, Ierse skrywer en digter (verlede)
Published with Blogger-droid v2.0.10

Monday, September 23, 2013

Venesië. Dag 147, 148.

21,22  September 2013. Saterdag en Sondag.


In Venesië verdwaal mens. En dis so lekker. Op ons verdwaaltogte ontdek ons nuwe stegies en hoekies en draaie wat ons nog nie vantevore gesien het nie. Almal stop en staar na hulle kaarte.

Venesië is prentjiemooi en propvol geesdriftige toeriste wat alles met bewondering gadeslaan.

Propvol mense
Langs die Grand Canal
Grand Canal
Een van die baie klein kanale
Grand Canal



Die St Marco Katedraal is besonders. Sondag woon ek die 10:30 mis by. Die kerk is stampvol. Dis vir my altyd interessant om die protestante se weergawe van die Roomse "teken van die kruis" te sien. Is dit nou op, af, links, regs? Of eers regs dan links? Of op, regs, links, af? Of hoe dan nou?

Van St Marco se baie torings en dakke
Mosaïek


Hulle gebruik baie sang in hierdie diens. Dis 'n sintuiglike belewenis. Die engelekoor sing, dis klokkies wat heen en weer geswaai word. Die reuk van wierook vul die hele plek en daar is 'n tasbare atmosfeer in die ou-ou katedraal. Die mooi is oral. Daar is skielik 'n kakefonie van klanke wat die katedraal vul, terwyl die engelekoor sing, begin die kerkklokke luid lui. Die klokkespel oordonder die engele se stemme. 'n Sonstraal loer skelm deur een van die venstertjies en 'n streep wierook word verhelder. En ek is daar, deel van alles.

Deel van alles



Ons dwaal en verdwaal en dwaal nog rond.

Ons

Published with Blogger-droid v2.0.10

Saturday, September 21, 2013

Tata Maja! Dag 145, 146.

20 - 21 September 2013. Vrydag, Saterdag.

Veerbootrit van Patra tot Venesië,  670 myl, 34 ure (Swart lyn)


Maja is blink en kaal. Gestroop van haar toue, stewig vasgemaak met Benito se ekstra skokbreker toue. Vensters en gordyne dig toe. Sonder bimini en "sprayhood". Dinkie is afgeblaas en gebêre. Benito, wat haar gaan oppas, kom groet en hy kry die laaste instruksies van Archie. Hy sê hy sal gereeld foto's stuur om te wys dat alles nog piekfyn is.

Genoa inspeksie



Ek groet vir Maja en sê ons kom volgende jaar weer terug. Dis hartseer om haar te los. Sy lê rustig in die water. Sê niks nie, maar ek voel haar vrouehart klop. Ons verstaan mekaar.

"Tata Maja"



Ons saal op en met 'n laaste "Tata Maja", is ons weg. Die taxi neem ons na South Port, waar ons die veerboot na Venesië kry. Dit is eintlik 'n boot wat hoofsaaklik vragmotors vervoer, maar ook motors, motorfietse en "motorhomes". Daar is ook plek vir passasiers maar dit is nie die MSC Sinfonia nie! Archie het vir ons vliegtuigstoele bespreek. Om middernag vaar ons weg uit Patra.

Propvol groot trokke



Ons probeer slaap. Die groot Griek (hy het gedink ek reis alleen), het my genooi om by hom, op sy matras  op die vloer te lê.  Ek sê toe nee, want wat sal Archie daarvan sê! Ek lê op die mat tussen die sitplekke, want dit is vir my gemakliker daar en Archie lê op die stoele. Gelukkig was die lokaal nie baie vol nie, en hy kon darem op twee stoele slaap. Ek slaap my in 'n knie-en rugbesering in. Die volgende oggend voel ek baie ouer as my ma. Almal staan mank-mank op na 'n nag van ongemaklike, gebroke slaap.

Dit was aand en dit word môre. Die veerboot laai nog mense en voertuie by Igoumenitsa op en toe is daai boot vol. Daar is nie eers plek vir 'n muis nie.

Al wat hierdie boot kan doen, is vaar. Hy spoed teen 20 knope onverpoost voort. Dis heerlik om die Griekse eilande wat ons saam met Maja besoek het, te herken.

Jag by Corfu Eiland
Corfu Eiland
Albanië
Albanië se majestueuse berge 



Later herken ons die Montenegro-kuslyn en dan ook my geliefde Kroasië eilande. Teen sononder vaar ons tussen Vis Eiland en die eiland van die Blue Grotto deur. Die herinneringe pluk aan my hart en ek dink aan al die mense wat saam met ons gevaar het én wonder hoe gaan dit met Maja.

Toe word dit slaaptyd. Die mense skrop nes en baklei oor stoele om op te slaap. Oral op die vloer slaap mense. Dit woel en krioel en kussings en beddens word gebou. Die slimmes het komberse en matrasse gebring. Die dommes soos ek, trek maar ekstra klere aan. 'n Vloer word koud in die nag en ek wil nie weer koud kry nie. Die lokaal lyk later soos 'n konsentrasiekamp tydens die Tweede Wêreldoorlog. Archie sê: "More like the gas chambers." Oral lê lywe.

Ons oorleef die nag en almal staan moeilik met seer lywe op en met ekstra deurmekaar hare. Ons is amper daar. Mense vergader op die dek en adem Venesië in.

Oggendskoot - Vaar Venesië binne



Dis 'n pragtige gesig vanuit die boot. Waar is Elize nou! Ons vaar stadig verby die ou stad en sien dit uit 'n ander, hoër hoek. 

St Marco Katedraal
Ingang tot Grand Canal regs, ons vaar links na hawe



Natuurlik merk ek en Archie dadelik die marinas op waar 'n klomp seiljagte vasgemeer staan.

Marina
Nog 'n marina


Ons is in Venesië!
Published with Blogger-droid v2.0.10

Wednesday, September 18, 2013

Oorwinter in Patra - Laaste dae.

18 September 2013. Woensdag



144 seildae, vier lande, 1758 myl (3200km)


Soveel dae, soveel dinge. Dit is baie waar van my lewe as Seilende Sigeuner.

Daai eerste aand op Pivorac het ek gewonder hoe oorleef ek daardie nag. En erger nog, hoe oorleef ek vyf maande van seil?! Van sulke nagte? In 'n klein seiljag wat my huis moet word. Ek kan verdomp nie eers seil nie, al was ek op die kursus en al het ek skipper papiere.

Ek het 'n ervaring gekry waarvoor ek nie emosioneel begroot het nie. Dis maklik om grootbek te sê: "Ons gaan vir vyf maande seil", en almal "oo" en "aa". Sommige beny jou, hulle dink Mainstay advertensie (gmf). Ander dink jy is stapelgek (ek ook). Party dink jy is braaf. (Ons is).

Ek hét vir vyf maande geseil en ek hét dit oorleef. Meer as oorleef, intens beleef, in oorgawe geleef! Nooit sonder 'n bloukol nie!

Ons het alles gekry. Mooi weer, slegte weer. Sonskyn, reën. Gus wat lê, Gus wat verwoed blaas. Plat see, rowwe see. Groot stede, ou stede, klein dorpies en salige ankerplekke. Anker, boei gryp en vasmeer (alongside, snoet eerste, stert eerste en die Griekse manier).

Ek en kaptein Arch het alles saam aangepak, beleef en hanteer en Maja was altyd vir ons 'n veilige hawe, 'n huis. Nou moet ons haar alleen agterlaat.

Ons eie Maja ...
... ons tuiste



Grietjie en Bushy, Elize en Fanie, die kinders - Michelle, Gerrit en Anika het kom kuier en het deel geword van ons ervarings. Jose, Mart-Marie en die kinders het kom oë wys. Selfs Lauren het 'n dag saamgeseil. Sonder hulle, sou my verlange na my huis en sy mense te veel geword het.

Bushy
Grietjie
Elize en Fanie
Die kinders - Anika, Michelle en Gerrit
Lauren
Mart-Marie, Jose en kinders


Nou is ons besig om Maja reg te kry vir haar winterslaap. Sy word binne geskrop, alles word uitgepak, gewas en weer gebêre. Archie moet enjin voorberei vir die winter, toue en ankerketting uitdroog, diesel volmaak en iemand aanstel om 'n oog oor Maja te hou. Soveel dinge moet gedoen word.

Seilende sigeuner? Seilend ja. Sigeuner?  Ek weet darem nie. Ek verlang te veel huis toe.

Kaptein en Seilende Sigeuner



Môre-aand, 11:59 neem ons die veerboot na Venesië toe. Dis 'n 36-uur vaart. Dan word ek weer die reisende sigeuner. Ons gaan bietjie op droë grond toer in Venesië, Slovenië en Pula in Kroasië . Ek sal julle alles daarvan vertel. Hou maar die blog dop!

Maar nou het ek eers werk om te doen ...

Published with Blogger-droid v2.0.10