Monday, September 23, 2013

Venesië. Dag 147, 148.

21,22  September 2013. Saterdag en Sondag.


In Venesië verdwaal mens. En dis so lekker. Op ons verdwaaltogte ontdek ons nuwe stegies en hoekies en draaie wat ons nog nie vantevore gesien het nie. Almal stop en staar na hulle kaarte.

Venesië is prentjiemooi en propvol geesdriftige toeriste wat alles met bewondering gadeslaan.

Propvol mense
Langs die Grand Canal
Grand Canal
Een van die baie klein kanale
Grand Canal



Die St Marco Katedraal is besonders. Sondag woon ek die 10:30 mis by. Die kerk is stampvol. Dis vir my altyd interessant om die protestante se weergawe van die Roomse "teken van die kruis" te sien. Is dit nou op, af, links, regs? Of eers regs dan links? Of op, regs, links, af? Of hoe dan nou?

Van St Marco se baie torings en dakke
Mosaïek


Hulle gebruik baie sang in hierdie diens. Dis 'n sintuiglike belewenis. Die engelekoor sing, dis klokkies wat heen en weer geswaai word. Die reuk van wierook vul die hele plek en daar is 'n tasbare atmosfeer in die ou-ou katedraal. Die mooi is oral. Daar is skielik 'n kakefonie van klanke wat die katedraal vul, terwyl die engelekoor sing, begin die kerkklokke luid lui. Die klokkespel oordonder die engele se stemme. 'n Sonstraal loer skelm deur een van die venstertjies en 'n streep wierook word verhelder. En ek is daar, deel van alles.

Deel van alles



Ons dwaal en verdwaal en dwaal nog rond.

Ons

Published with Blogger-droid v2.0.10

Saturday, September 21, 2013

Tata Maja! Dag 145, 146.

20 - 21 September 2013. Vrydag, Saterdag.

Veerbootrit van Patra tot Venesië,  670 myl, 34 ure (Swart lyn)


Maja is blink en kaal. Gestroop van haar toue, stewig vasgemaak met Benito se ekstra skokbreker toue. Vensters en gordyne dig toe. Sonder bimini en "sprayhood". Dinkie is afgeblaas en gebêre. Benito, wat haar gaan oppas, kom groet en hy kry die laaste instruksies van Archie. Hy sê hy sal gereeld foto's stuur om te wys dat alles nog piekfyn is.

Genoa inspeksie



Ek groet vir Maja en sê ons kom volgende jaar weer terug. Dis hartseer om haar te los. Sy lê rustig in die water. Sê niks nie, maar ek voel haar vrouehart klop. Ons verstaan mekaar.

"Tata Maja"



Ons saal op en met 'n laaste "Tata Maja", is ons weg. Die taxi neem ons na South Port, waar ons die veerboot na Venesië kry. Dit is eintlik 'n boot wat hoofsaaklik vragmotors vervoer, maar ook motors, motorfietse en "motorhomes". Daar is ook plek vir passasiers maar dit is nie die MSC Sinfonia nie! Archie het vir ons vliegtuigstoele bespreek. Om middernag vaar ons weg uit Patra.

Propvol groot trokke



Ons probeer slaap. Die groot Griek (hy het gedink ek reis alleen), het my genooi om by hom, op sy matras  op die vloer te lê.  Ek sê toe nee, want wat sal Archie daarvan sê! Ek lê op die mat tussen die sitplekke, want dit is vir my gemakliker daar en Archie lê op die stoele. Gelukkig was die lokaal nie baie vol nie, en hy kon darem op twee stoele slaap. Ek slaap my in 'n knie-en rugbesering in. Die volgende oggend voel ek baie ouer as my ma. Almal staan mank-mank op na 'n nag van ongemaklike, gebroke slaap.

Dit was aand en dit word môre. Die veerboot laai nog mense en voertuie by Igoumenitsa op en toe is daai boot vol. Daar is nie eers plek vir 'n muis nie.

Al wat hierdie boot kan doen, is vaar. Hy spoed teen 20 knope onverpoost voort. Dis heerlik om die Griekse eilande wat ons saam met Maja besoek het, te herken.

Jag by Corfu Eiland
Corfu Eiland
Albanië
Albanië se majestueuse berge 



Later herken ons die Montenegro-kuslyn en dan ook my geliefde Kroasië eilande. Teen sononder vaar ons tussen Vis Eiland en die eiland van die Blue Grotto deur. Die herinneringe pluk aan my hart en ek dink aan al die mense wat saam met ons gevaar het én wonder hoe gaan dit met Maja.

Toe word dit slaaptyd. Die mense skrop nes en baklei oor stoele om op te slaap. Oral op die vloer slaap mense. Dit woel en krioel en kussings en beddens word gebou. Die slimmes het komberse en matrasse gebring. Die dommes soos ek, trek maar ekstra klere aan. 'n Vloer word koud in die nag en ek wil nie weer koud kry nie. Die lokaal lyk later soos 'n konsentrasiekamp tydens die Tweede Wêreldoorlog. Archie sê: "More like the gas chambers." Oral lê lywe.

Ons oorleef die nag en almal staan moeilik met seer lywe op en met ekstra deurmekaar hare. Ons is amper daar. Mense vergader op die dek en adem Venesië in.

Oggendskoot - Vaar Venesië binne



Dis 'n pragtige gesig vanuit die boot. Waar is Elize nou! Ons vaar stadig verby die ou stad en sien dit uit 'n ander, hoër hoek. 

St Marco Katedraal
Ingang tot Grand Canal regs, ons vaar links na hawe



Natuurlik merk ek en Archie dadelik die marinas op waar 'n klomp seiljagte vasgemeer staan.

Marina
Nog 'n marina


Ons is in Venesië!
Published with Blogger-droid v2.0.10

Wednesday, September 18, 2013

Oorwinter in Patra - Laaste dae.

18 September 2013. Woensdag



144 seildae, vier lande, 1758 myl (3200km)


Soveel dae, soveel dinge. Dit is baie waar van my lewe as Seilende Sigeuner.

Daai eerste aand op Pivorac het ek gewonder hoe oorleef ek daardie nag. En erger nog, hoe oorleef ek vyf maande van seil?! Van sulke nagte? In 'n klein seiljag wat my huis moet word. Ek kan verdomp nie eers seil nie, al was ek op die kursus en al het ek skipper papiere.

Ek het 'n ervaring gekry waarvoor ek nie emosioneel begroot het nie. Dis maklik om grootbek te sê: "Ons gaan vir vyf maande seil", en almal "oo" en "aa". Sommige beny jou, hulle dink Mainstay advertensie (gmf). Ander dink jy is stapelgek (ek ook). Party dink jy is braaf. (Ons is).

Ek hét vir vyf maande geseil en ek hét dit oorleef. Meer as oorleef, intens beleef, in oorgawe geleef! Nooit sonder 'n bloukol nie!

Ons het alles gekry. Mooi weer, slegte weer. Sonskyn, reën. Gus wat lê, Gus wat verwoed blaas. Plat see, rowwe see. Groot stede, ou stede, klein dorpies en salige ankerplekke. Anker, boei gryp en vasmeer (alongside, snoet eerste, stert eerste en die Griekse manier).

Ek en kaptein Arch het alles saam aangepak, beleef en hanteer en Maja was altyd vir ons 'n veilige hawe, 'n huis. Nou moet ons haar alleen agterlaat.

Ons eie Maja ...
... ons tuiste



Grietjie en Bushy, Elize en Fanie, die kinders - Michelle, Gerrit en Anika het kom kuier en het deel geword van ons ervarings. Jose, Mart-Marie en die kinders het kom oë wys. Selfs Lauren het 'n dag saamgeseil. Sonder hulle, sou my verlange na my huis en sy mense te veel geword het.

Bushy
Grietjie
Elize en Fanie
Die kinders - Anika, Michelle en Gerrit
Lauren
Mart-Marie, Jose en kinders


Nou is ons besig om Maja reg te kry vir haar winterslaap. Sy word binne geskrop, alles word uitgepak, gewas en weer gebêre. Archie moet enjin voorberei vir die winter, toue en ankerketting uitdroog, diesel volmaak en iemand aanstel om 'n oog oor Maja te hou. Soveel dinge moet gedoen word.

Seilende sigeuner? Seilend ja. Sigeuner?  Ek weet darem nie. Ek verlang te veel huis toe.

Kaptein en Seilende Sigeuner



Môre-aand, 11:59 neem ons die veerboot na Venesië toe. Dis 'n 36-uur vaart. Dan word ek weer die reisende sigeuner. Ons gaan bietjie op droë grond toer in Venesië, Slovenië en Pula in Kroasië . Ek sal julle alles daarvan vertel. Hou maar die blog dop!

Maar nou het ek eers werk om te doen ...

Published with Blogger-droid v2.0.10

Monday, September 16, 2013

Patra. Dag 142.

16 September 2013. Maandag.


Toe ek opstaan, het ek nooit gedink dat vandag 'n potblou Maandag gaan word nie...

Hulle het wind en reën voorspel vir vandag, maar dit lyk na 'n heel skaflike dag. Archie gaan Marinakantoor toe om te reël vir oorwinter. Maja moet in die water oorwinter en nie op land nie. Hulle bespreek die saak, wys hom waar haar hiberneerplek is en Archie besluit die saak lyk reg.

Ons gaan 12:00 dorp toe om kos te koop. Dis toe ons terugstap dat dit begin.

Gus steek op en waai amper my oogballe uit my oë uit. Ons beur teen hom boot toe. Die drywende kaai beweeg so erg, Fanie sal daar en dan seesiek raak. Ons steier op die kaai, dit lyk of ons te lank in die kroeg was.

Maja waai en wieg, dit voel soos daai dag van Cavtat na Montenegro. Ons bure staan ook grootoog op die dek, benoud. Die grootste gevaar is dat die golwe die bote teen die kaai gooi en dan erg beskadig. Die Marina se mense kom en wys waar ons nog eksta toue moet vasmaak om die bote te beveilig. Gelukkig sê hulle dat daar nie onmiddellike gevaar is nie. Die wind waai tot 32 knope. Dit kom in sulke vlae. Dit voel of Maja opstyg en dan weer land.

Stilte voor die storm



Die wolke lyk dreigend, die see rol in en op die oop see lyk dit soos Wildernis. Benoud, benouder...

Dreigende wolke



Na 18:00 waai Gus nie meer so sterk nie, maar ons wieg nog, maar dit is heel draaglik. Ek is bly ons was nie vandag op see nie.

Gus het bedaar
Die son sak



Ek het gedink ek is klaar met die see; toe kom die see na my toe.

Published with Blogger-droid v2.0.10

Begin van die einde. Dag 141.

15 September 2013. Sondag.

Mesolonghi tot Patra


Vandag is ons laaste dag op die see, want Patra (38º 15.611 N, 21º 44.275 O) is laaste op ons lys. Maja gaan daar oorwinter.

Ons doen alles met hartseer en heimwee. Ons wil nie hê die seil moet op raak nie. Ons vaar deur die vlak vleiland-kanaal. Kyk vir oulaas vir die stelthuisies.

Daar is gelukkig genoeg wind dat ons vir oulaas kan seile span. Die landskap gly stadig en statig verby. Die see sy gewone mooi blou, berge staan roerloos in die verte en hou wag.

Rooi boot, hoë berge



Patra in die verte, derde grootste stad in Griekeland. Ons kyk vir mekaar met oë wat mekaar verstaan. Dis amper klaar. Ons wil vasklou aan die laaste seil van ons eerste seisoen. Dit het te gou deur ons vingers geglip.

Laaste seil
Maja onder vol seil



Ons kom by Patra Marina aan en ons kry 'n plek by die besoekers se kaai. Dis 'n simpel plek, want as die wind van die suid-weste waai, rol die see in. Dis gelukkig kalm vandag.

Patra in die verte
Brug oor die Golf van Patra
Maja in Patra Marina
Breekwater



Patra is 'n industriële- en hawestad. Dis glad nie mooi nie. Ek is glad nie lus vir kosmaak nie en ons gaan eet uit. Archie eet kalfslewer toegedraai in lam en ek eet varknek toegedraai in vark. Heerlik en geurig.

Ons slaap effens wiegend in ons geliefde Maja.


Published with Blogger-droid v2.0.10

Sunday, September 15, 2013

Mesolonghi. Dag 140.

14 September 2013. Saterdag.

O. Oxeias tot Mesolonghi


Ek was nie lus vir nagwaak nie!

Gus het die hele nag gewaai. Ons het getiekiedraai en Maja het getril en Gus het geloei. Soms  het dit gelyk of sy haarself wil verbysteek. Ek kon nie slaap nie. Gus wil nie loop lê nie. 03:30 het ek ingesluimer. Gelukkig het die anker gehou.

Ons gaan na Mesolonghi (38º 21.660 N, 21º 25.050 O), 20 myl. Ons vaar die meeste van die tyd en seil toe die wind dit toelaat.

Kaptein span die seile
Barre berge
Al lê die berge nog so blou



Ons kom by die bakens wat die begin van die kanaal aanwys. Dis vleiland hierdie en dit is vlak. Jy moet in die kanaal vaar waar dit diep genoeg is, anders strand jy. Langs die kanaal is daar huisies op stelte. Dié mense is almal vissers van beroep. Oral is visvangbedrywighede aan die gang.

Pad deur die vleiland
Huis op stelte
Vlei-voëls
Huisies langs die kanaal



Die Marina is groot. Baie jagte oorwinter  hier. Hier is ook "live aboards", dit is mense wat die hele winter op die boot in die marina bly. Ons roep op die radio en die vriendelikste vasmeerman ooit, wag ons in en help vasmeer. Later die middag begin Gus met mening waai, maar ons is veilig. Die dorp is niks om oor te praat nie. Dis sommer maar net 'n plek.

Son sak oor die marina



Archie is lus vir seekat en ek maak vir ons. Ek kyk die arme gevriesde seekatte so uit die hoek van my oog en kry hulle vreeslik jammer. Ek gooi hulle in die pot en kook dit. En ons eet seekat!

Aandete



Vanaand gaan ek lekker slaap.


Published with Blogger-droid v2.0.10