Saturday, August 3, 2013

Alweer Pomena. Dag 97

2 Augustus 2013. Vrydag

U. Trstenik tot Pomena


Vandag is 'n kort dag, van sowat 9 km na Pomena, op Mljet Eiland. Ons vat die pad oor die Mljetski Kanal. Die weer is terug na normaal. Gus en sy vriend, Tramontana, speel nou skaak en die wenner kan aan Maja se seile ruk.

Ons seil wel vir omtrent 50 min en Gus het seker die skaak gewen, want hy kom ruk so nou en dan aan Maja se seile. Later gaan lê hy en ons motor verder.

Rotse naby Pomena
Otok Glavat


Na 'n uur en 'n half, kom ons alweer by Pomena aan en dis alweer mooi. Daar is baie seilbote by die kaai in die dorpie, want daar is 'n regatta aan die gang en môre vertrek hulle na Dubrovnik.

Pomena


Ons anker en Arch swem die toue land toe en ons koel af in die water. Ons wag dat dit bietjie koeler word, want die son sit nog hoog en die sonbesies sing die sonlied uit volle bors.

Ons gaan stap, hierdie keer nie na die soutmere toe nie, meer see se kant toe. Daar is mooi uitsigte oor die Mljetski Kanal. Een vir een vaar die seiljagte die baai van Pomena statig, effens skommel-skommel in. Sommige na die dorp, ander na die baai waar Maja lui-lekker staan. Dis lekker om te stap in die koelte van die bome. Later hou die paadjie op en ons keer terug en gaan dorp toe.

Een vir een ...
... vaar die jagte in
Kontras


Pomena wemel van regatta manne. Oues en jonges en mooies en lelikes. Almal het net een doel voor oë - om te wen. Ons loop daar rond om die "vibe" te beleef. Die manne lag en gesels en eet en veral drink, want dis warm. Hierdie is die manne wat kán seil!  Tawwe manne, nie 'n verspotte seilende sigeuner wat meer van 'n lê-wind hou nie. 

Saam met die skemer gaan ons terug en drink 'n glasie yskoue wyn op die dek en eet van eergister se vars kos.

Skemer in die baai


Maja is vas, aan land en aan see. Sy kan nêrens gaan nie. En ek slaap soos 'n droom...

Published with Blogger-droid v2.0.10

Friday, August 2, 2013

Trstenik. Dag 96.

1 Augustus 2013. Donderdag.

U. Racisce tot Trstenik


Ek het weer 'n nag van nagwaak gehad. 'n Nag van min slaap. 'n Nag van Gus se gramskap. 'n Nag van wind wat net aanhou waai en waai en jy voel hy waai jou moeiteloos moedeloos-magteloos.

Die wind wat ons nou beleef en van nou die dag se storm, is die Tramontana. Dit is 'n soort Bora, maar nie so sterk soos die gevreesde Bora nie.

Ons gaan vandag na Trstenik (42º54.933 N, 17º23.932 O), sowat 12 myl. Gus is gelukkig nie so sterk nie, maar daar was wel rukwinde. Ons het nie geseil nie, want die wind was van voor.

Landerye oppad na Trstenik
Wingerde tussen klipmure
Trstenik




Ons kom by Trstenik aan en meer alongside teen die kaai vas. Toe al ons toue vas is, kom die hawemeester en sê ons kan nie daar vasmeer nie, ons kan anker en aan 'n ander kaai vasmeer. Al daai moeite verniet. Ons maak toe maar los.

Ons is baie benoud. Om anker te gooi en dan te tru tot by die kaai, is vir ons 'n nuwe ervaring. Ons weet nie hoeveel anker om uit te laat nie en waar om te begin gooi nie, maar ek is op Maja se snoet en gooi die verdomde anker, terwyl Archie stadig tru. Die anker byt nie! Te na aan die kaai! "Trek op!" En ek trek op. Die anker is vol gemors en vislyn en plasties en Archie maak dit gou skoon terwyl ek die helm oorvat.

Gelukkig kom daar 'n man op die kaai wat gereed staan om die toue vas te maak. Arch ry versigtig agteruit en ek gooi anker. Suksesvol!  Die anker byt, die man maak toue aan die kaai vas, ek en Arch vang die toue en maak Maja vas.

Ons loop in die klein dorpie rond. 'n Doodgewone ou dorpie. Die wind steek later op en ek is bly ons is teen die kaai vas.

Oppad na uitsigpunt
Trstenik se baai vanaf uitsigpunt
Trstenik huise


Ek kan vanaand weer vir 'n slag slaap. 

Published with Blogger-droid v2.0.10

Wednesday, July 31, 2013

Racisce. Dag 94 en 95

30 Julie 2013. Dinsdag

U. Kosirina tot U. Racisce via U. Przina
Die nag was heerlik windstil. Ons vertrek weer vroeg, want winde word vanaf 08:00 voorspel, 11:00 bietjie sterker en sterk wind vanaf 14:00. Die sterkste  wind sal egter in die nag wees. Ons werk ons roete beplanning daarvolgens uit. Ons behoort 12:00 by Przina op Korcula-eiland, ons ankerbaai, te wees.

Ons kry al van vroeg wind, maar gelukkig van skuins agter en ons seil veilig en vinnig. 11:00 begin dit sterker te waai en Gus begin stadig maar seker die see op te werk. Teen 12:00 is deinings al amper deine. Ons trek die seile in, want Gus ruk hom op tot 20 knope van tyd tot tyd.

Gelukkig is Przina in sig en ek slaak 'n sug van verligting. Onthou, ek hou van plat see en lê-wind. Ons vaar die baai binne. Daar is reeds twee bote en ons gooi anker tussen hulle.

Przinabaai 


Przina is glad nie beskut nie en dit voel of ons nog steeds op die see vaar, want Gus waai vir Maja parallel met die deinings en ons kantel sywaarts, op en af. Amper soos toe ons van Cavtat na Montenegro toe gevaar het, net met een verskil, Gus waai!

Van die ander jagte soek ander ankerplek en ander verlaat die baai een vir een. Ek sê vir Archie ek sal dit nie oorleef nie, want dit gaan net erger word. Nou moet ons kies tussen die uiters onaangename anker en die woedende see. Archie sê ons ry. Racisce-baai, naby Lumbarda Marina is net om die hoek, so 45 min se vaar.

Hy trek die anker op, want Maja skommel so, dat ek nie op haar snoet kan staan nie. Ek is agter die helm en dit voel of ons gaan omval (ons sal nie regtig omval nie).

So elke nou en dan roep ek sy naam as die deining ons erg skommel. Op is die anker en kaptein vat oor.
Gus waai. Waar de moer hy al die blaas vandaan kry, weet ek nie. Die see is groot. Ek sê vir Archie ek wil nie op die see wees nie en hy skree: "SING!" En ek sing Jabulani Afrika. Dit help. Gelukkig kom die golwe en die wind van agter af, so ons ry hulle snoet eerste. Ek het een keer gewaag om om te kyk hoe groot hulle is en het vinnig weggekyk en harder gesing.

Toe moes ons om die draai gaan. Vir 'n ruk moet ons dan parallel met die deinings vaar. Archie skree net vir my: "Hou vas!", en ek hou vas. Ons is deur en toe kom die wind van voor. Dit waai met alle mag en geweld in ons gesigte. Daar is nie deinings nie, net seesprei en wind.

Archie sê ons moet nie hier wees nie. Maar ons is en ons moet daar deur. In my enigheid hoop ek net dit is nie die gevreesde Bora nie. Dis 'n noordewind. Die see sprei water oor Maja, in ons gesigte en verswak ons sig. Archie moet konsentreer, want daar is vlak gedeeltes wat ons moet vermy. Ek lees die kaart sonder my bril.

En Gus waai en waai woedend,sonder ophou...

Daar in nog 'n paar ander jagte wat saam met ons beur teen die wind en so kom ons by Lumbarda Marina aan. Dis amper windstil daar en ons kan asem skep. Die man wys hulle is vol en ons kan net langsaan, by Racisce anker. Ons vaar daarheen en dis propvol, want dis laat, ek dink dit was net na 16:00. Almal soek skuiling. Niemand wil op die see wees nie.

Windstil baai van Lumbarda

Ons vaar die propvol baai binne en kry 'n plekkie. Ons moet twee keer gooi, want daar is tog wind wat ons druk en ons eindig te na aan 'n catamaran.

Racisce-baai
Racisce-baai


Ons is verlig. Ons is veilig. Die aand kom die winde wat hulle voorspel het en Gus waai met nuwe ywer. Ons waai te na aan die boot agter ons en 23:30 trek ons anker op en gooi weer. Dis donker en Gus waai, maar ons gooi anker.

Gus laat vir Maja steun en kraak en kreun en ek doen my nagwaak op die dek. Die rukwinde ruk en pluk aan ons. Daar is konsternasie in die baai. Gus waai die jagte onder hulle ankers uit en kort-kort hoor jy 'n anker gaan op en dan moet hulle in die nag, in 'n oorvolbaai, weer gooi. Op al die bote doen 'n eensame donker figuur die nagwaak. Ek lê heelnag op die dek. Gus het die hele nag gewaai, het net nie opgehou nie.
Ek is dankbaar toe die nag begin ligter kleur en in oggend verander. Archie bring 05:00 vir my koffie en ek slurp dit gulsig op. Hy het in die nag ons anker se draaibewegings op die GPS dopgehou.



31 Julie 2013. Woensdag

Vroegoggend op Racisce- baai


Dit was nag, letterlik en figuurlik en toe word dit uiteindelik dag. Archie besluit ons bly die dag hier by Racisce en ons rus . Ek haal my slaap in. Ons  stap 13:00 Lumbarda toe. Dis die dorpie waar die marina is. As jy verder oor die bult stap, kom jy by Przina, wat eintlik 'n gewilde swem sandstrand het. Ons stap in die bloedige son tussen wingerde, braambosse en olyfboorde. Die see daar is vandag baie kalmer.

Oppad na Przina
'n Kalmer Przina-baai

Geluk Elize, my seilsuster, met jou verjaardag!

Published with Blogger-droid v2.0.10

Tuesday, July 30, 2013

Sesula, Vis en Kosirina. Dag 91, 92, 93

27 Julie 2013. Saterdag

Rogoznica tot U. Sesula (Rooi lyn)


Ons vertrek eers laat, want ons gaan vandag nie ver nie. Ons gaan na die ankerplek van Uvala Sesula (44° 23.579 N, 16° 12.736 O). Ons is eintlik oppad na Vis-eiland en Sesula is die ideale stopplek.

Dis 'n baie gewilde ankerplek en die bote word soos sardiens ingeryg. Jy moet ook 'n tou land toe vat dat jou boot nie rondswaai nie. So gesê so gedaan en ons anker maklik. 

Lyne word land toe geswem (kyk die ketting)
Uitsig van Maja


Dis nou eers 14:00 en daar is nog baie ankerplek. Ons sit en kyk hoe die seiljagte instroom en almal sukkel maar met toue en 'n swemmer wat tou land toe swem. Later moet van die jagte omdraai, want dit is propvol.

Swem tussen twee landtoue
Propvol ankerplek ...
... dit lyk soos 'n marina




28 Julie 2013. Sondag.

U. Sesula tot Vis

Ons vertrek vroeg, 07:00 na die dorpie Vis (43° 03.616 N, 16°11.118 O) op Vis-eiland. Dis 'n lang pad, 21 myl. Oppad sien ons weer dolfyne. Hulle speel en duik skelm en ek sukkel om 'n duidelike foto te neem.

Vroegoggend vaarders
Dolfynpaar


Ons kom 13:00 by Vis aan. Dit lyk of daar plek by die kaai is. Die vasmeerman wys vir ons 'n plek heel op die kant van die kaai aan. Hulle toue is 'n deurmekaarspul en ons maak windskeef vas.

Ons skuif die boot na die plek net langsaan, en toe staan Maja lekker. Later kom daar 'n ander jag tussen ons en 'n superjag in en die arme meisie moet boot afskop, en tou haak en vasmaak. Ek voel vir haar, want ek ken haar pyn. Later is hulle vas en die sweet pêrel op haar bikini lyf.

Vis se fort
Interessante dak
Dieselfde dak, uit ander hoek
Buurdorpie, Kut
Kut se kerk


Die seiljagte stroom in. Daar is twee groot flotillas (dis bote van dieselfde maatskappy wat in groepe saamvaar) en hulle neem die kaai oor. Die mense slaap ook by Vis oor as hulle die volgende dag na die blougrot wil gaan. Ons gaan nie blougrot toe nie, want ons was saam met die kinders daar.

Flotillas


Dis 'n joligheid by Vis, want dit wemel van jongmense. Almal eet en gesels en dans sommer op die seiljagte. Eers baie laat die nag daal daar 'n stilte oor Vis neer toe die slaap die laaste bittereinders oorval.





30 Julie 2013. Maandag.

Vis tot Uvala Kosirina


Die volgende oggend 07:00, terwyl die Vissers nog hulle roes afslaap, vertrek ons. Daar is windvoorspellings vir môre en ons wil vandag 'n groter afstand aflê.

Vis se baai


Die wind waai van vroeg af, reg van voor. Darem nie te erg nie, maar die see is omgekrap. Die winde kom eintlik eers môre, maar ons wil 'n geskikte baai vind. Ons vleg deur die eilande van Korkula en kom by U. Kosirina (42° 540508 N, 16° 51.263 O), naby die dorpie Brna, 31 myl later. 

Eilande - Groot ....
... en klein.
Windskewe plantegroei


Die baai is baie beskut teen die wind wat hulle vir die nag voorspel het en anders as twee aande gelede het ons die groot baai vir onsself.

Uvala Kosirina


Dit is nou windstil. Ons hoop dit hou...


Published with Blogger-droid v2.0.10

Sunday, July 28, 2013

Wonderwerk. Dag 90


26 Julie 2013. Vrydag

U. Lemes tot Rogoznica


Vandag gaan ons Primosten toe. Ons gaan vasmeer op die dorpskaai. Ek gaan heerlik stort en hare was en blaas en in die dorp rondflenter, saam met 'n menigte ander mense. Ek verlang na mense. Al kan ek net vir hulle kyk!

Ons vertrek 09:00 en dis nóg 'n pragtige dag. 'n Dag van swem en sonneskyn én seil. Archie is in sy noppies, want ons seil vir 'n lang tyd. Ek is in my noppies, want Gus is net 'n ligte bries en ons seil net rustig.

"We are sailing .."
"... we are sailing"


Ons nader Primosten, met 'n wind wat al hoe sterker waai. Ek bekommer my al klaar oor vasmeer in die wind. Dit lyk goed, die dorpskaai lyk leeg.

Primosten, hier kom ons!

Voor ons kom 'n superjag by die kaai aan. Hy meer vas en gebruik twee plekke. Ons vaar nader. Daar is baie oop plekke, maar by almal staan "reserve". Die bote wat vasgemeer staan, is omtrent almal superjagte. Die man op die kaai wys hulle is vol. Die blêrrie superjagte. Hulle neem nou vir Primosten ook oor.

Ons anker toe. Maar ek is bemoerd. Die boek sê die baai kan ongemaklik wees as deinings in die baai inkom. En die deinings kom in. Ek wil nie heeltyd sit en op en af en heen en weer ruk nie. Ek wil stort en dorp toe. Ek braak gal by Archie en sê al wat superjag is, sleg. Archie luister maar geduldig en kry my jammer, want hy sê ek is só intens.

Hy vra wat wil ek doen. Ek sê: "Ek wil Primosten se kaai hê. Ek wil nie op anker sit en wieg nie, ek wil nie nou in die wind op die see wieg nie. Al wat ek wou hê, is die dorpskaai!" Minder intens en meer nugterdenkend as ek, besluit Archie ons gaan nog 4 myl verder (omtrent 'n uur se vaar) na Rogoznica (43º 31.585 N, 15º 58.137 O).

Ek is nog steeds moerig. Ons kom by hulle dorpskaai aan. Die vasmeerman wag met die tou. Die wind waai. Ek haak die tou met die boothaak. Ek gryp die tou, maar daai tou is so swaar, ek kry dit nie eers uit die water getrek nie. Hy gee 'n ander tou. Teen hierdie tyd, het Gus vir Archie totaal van koers af gewaai. Gelukkig is daar net een boot naby, waarheen Gus ons natuurlik waai.

Die man gee bevele, Gus waai, ons sukkel, totale konsternasie. Uiteindelik is ons vas, die man tevrede en ons uitasem.

Rogoznica is stil. Daar's nie baie bote in die kaai nie. Die strate is byna mensloos. Die plek het nie atmosfeer nie. In die verte is Marina Frapa, 'n peperduur ★★★★★ Marina. Ek verlang na Primosten!

See van maste by Marina Frapa


Toe gebeur dit. 'n Wonderwerk. Die seiljagte begin instroom. Ek weet nie waar kruip almal uit nie, maar die strate word propvol. Dis bootmense en gewone dorpsmense. Dit pomp (soos ons vriend Chris sou sê). Dit lewe en kry atmosfeer, beter as by Primosten.

Rogoznica kaai
Rogoznica kry lewe


Toe gebeur nog 'n wonderwerk. Ek sit langbeen op Maja en hoor die klank van 'n panfluit. Ek spits my ore. Ek ken daai deuntjie. Dis die Rooi Indiane wat in Italië in Florence op 'n plein gespeel het en my absoluut betower het. Ek verlaat Maja daar en dan en drafstap in die rigting van die meesleurende musiek. Dis wraggies hulle, vere en al. Ek luister en drafstap terug, gryp Archie se beursie en gaan koop 'n CD.

Geveerde Rooi Indiaan
Wonderwerk!


Ek betaal en hy gee kleingeld. Sy beursie lyk presies soos Arch s'n wat hy in Bolivië gekoop het. Ek wys vir die man na die beursie en sê: "Bolivië". Hy wys na sy beursie, kyk my in die oë, glimlag en sê: "Bolivië." Ek luister nog 'n ruk en stap dan tevrede terug na Maja. Ek hou baie van Rogoznica.

Ons stap rond. Oral is musiek by die eetplekke. Daar is die Harpoon Blues Band op die verhoog en die Rooi Indiane speel nog oorkant Maja. Ons kom by 'n regte egte vistrailer wat alle seediere verkoop. Die vrou het baie aantreklike kurwes wat uithang en veral onder die mans verkope bevorder. Ons koop prawns wat vars uit die see kom.

Vangs van die dag
Haal uit en wys!


Ons stap terug na Maja met die heerlike stink prawns. Ons drink eers 'n glasie wyn, maak die prawns gaar en eet op die dek, met agtergrondmusiek van die Rooi Indiane. Ek hou baie baie van Rogoznica.

"Life is great"

Ek kyk vir Archie en sê: "Life is great!"


Published with Blogger-droid v2.0.10