Wednesday, July 24, 2013

Lucina en Hiljaca. Dag 87, 88

23, 24 Julie 2013  Dinsdag en Woensdag

Luka Premuda tot Uvala Lucina


'n Heerlike dag van motor en seil, 'n pragtige vlak baai met deursigtige water. Ek moet oppas, ek kan gewoond raak aan die sorgelose dae met nuwe bestemmings, ligte winde en mooi eilande  rondom jou.
Ons kry 'n boei in 'n groot, beskutte baai by Lucina op die eiland Otok.

Rimpel-dimpel-diamant
Skildery
Duikboot loots
Aand op Uvala Lucina



Uvala Lucina tot Uvala Hiljaca


Die volgende dag is dieselfde. Hoe kan roetine so bevredigend wees? Vaar, seil, anker. Vandag was 'n bietjie navigasie deur die netwerk van klein en groter eilande nodig om by die bestemming, Hiljaca, te kom. Alweer anker!

Oggend spieël op U. Lucina
Dorpie Savar 
Savar
Oppad na  êrens
Visplaas


Published with Blogger-droid v2.0.10




















Altyd anker. Dag 86


22 Julie 2013 Maandag

Van Mali Losinj tot Luka Premuda


Diesel-ingooi-dag. Vandag was dit amper so maklik soos: "Maak vol asb!" Daar staan reeds 'n boot by die pomp, maar voor hom is nog 'n spasie vir ons. Archie peil op die pomp af, snoet eerste en stertswaaiend. Hy het gister gekyk hoe 'n pro op 'n alongside kaai afpeil en vandag doen hy dieselfde. Ek waarsku en vermaan en gee raad, bang ons ry die Ina (petrolstasie) om, maar hy peil doelgerig op die pomp af en swaai die stert effektief in die regte plek waar die joggie wag om die tou te vang. Ek gooi mooi en tref hom nie in die gesig nie en ons is vas. So maklik. Archie grynslag tevrede met homself. 

Maja sluk en ons vaar rustig na die swaaibrug, wat 09:00 oopmaak en jou deurlaat na die see. As jy nie van die brug gebruik maak nie, moet jy 'n ekstra 8 myl vaar. Ons is tweede in die ry om deur te gaan. Ons swaai toe maar daar rond terwyl ons wag. Na wat soos ure gevoel het (toe hulle oopmaak wou dit eers nie oopgaan nie), gaan die brug oop en 'n baie ongeduldige man blaas die fluitjie op ons omdat ons nie met die spoed van lig deurjaag nie. Die simpel, kan hy nie sien arme Maja het 'n topspoed van 6 knope nie!

Die brug is nog toe


Die opening is 3m diep en 6m wyd. Maja is 3.6 m dik, so daar is net so meter weerskante. Dis maar nou! Ons gaan sonder stampe of stote deur.

Die brug swaai oop
Maja is nog wyer


Gus het gisteraand glad nie gaan lê nie. Hy het geblaas en geloei en gestoei en gehuil en gekerm. Hy lê nog steeds nie. Toe ons uit die beskutte hawe van Losinj is, sien en voel ons hoe hy die see skommel en klits. Dit roer en rumoer. Hy ontstig en die see is onthuts. Geen rimpel-dimpel-diamant vandag nie. Eerder rompel-dompel-deinings!

Die dorp Veli Losinj met sy bos


Ons vaar duin op en duin af. Toe gaan Gus lê en die see ontspan en word kalm. Die wind waai net liggies van voor en ons motor vir 18 myl na Luka Premuda (44º 19.584 N, 14º 37.277 O).

Simfonie in blou


Ons gooi anker en soos ons anker gooi, baklei ons. Ons gooi drie keer voordat ons tevrede is met die anker, maar vies vir mekaar. Maar ons maak altyd weer op. Archie swem 'n tou land toe en gebruik sy nuwe ketting om die tou aan die rots vas te maak. 

Dis 'n baie mooi baai met besondere helder water. Jy kan alles op die bodem sien. Wat 'n heerlike swem.

Die baai van Premuda


Terloops, ons sit ons ankerlig aan, want dit werk! Na al die moeite wat Arch en Michelle gehad het om die mas te klim, puur verniet, het Archie die fout gekry. Aan die ONDERPUNT van die mas was daar 'n elektriese kabel wat weggeroes was. Hy het net 'n nuwe stuk kabel ingelas, toe werk die lig. (Nota vir Fanie - Onthou jy wasmasjien op die rommelhoop by Ston???)

Werkende ankerlig
Published with Blogger-droid v2.0.10

Tuesday, July 23, 2013

Losinj. Dag 84, 85


20, 21 Julie 2013 - Saterdag en Sondag

L. Balvanida tot Mali Losinj


Ons is oppad na Mali Losinj (44º 31.965N, 14º28.038 O). Baie van die dorpies hier in die noorde is maar net gewone dorpies. Niks besonders nie.

Drie berge
Windskeef


Ons nader die Marina van Mali Losinj en hoop daar is 'n vasmeerman, veral met net die twee van ons aan boord. Ons is vreeslik verlig toe ons die winkende hande van die man sien en motor gretig na die aangewysde plek. Ons meer foutloos vas en ons is binne-in die dorp.

Ons nader die hawe
Die hawe
Kleinboot hawe


'n Huisvrou se werk is nooit klaar nie (Archie se gesegde) en ek begin dadelik vuil wasgoed was en hang dit al rondon Maja op. Hierdie warm son sal dit vinniger droogmaak as 'n tuimeldroër!

Ons is aangenaam verras met die dorp. Dit het 'n "vibe". Daar is baie mense. Almal lek aan roomys en toe lek ons maar saam. Die bootmense is bedrywig. Dis wasgoed was en boot skrop en honde ontvlooi en proviand koop en lag en gesels.

Kleurvolle geboue


Archie is net so besig. Hy haal die enjin battery uit om te laat toets, maar die toets sê die battery is dooddollies. Toe maak hy die terminale van al drie batterye, alternator en die knormoer (en ek verwys nou nie na sy skoonma nie) skoon. Toe is al daai goed skoon, maar hy is toe baie vuil.

Maar hy is nog lank nie klaar nie. Weg is hy na die winkel en koop ketting wat nodig is wanneer ons anker en 'n tou land toe moet vat en aan 'n rots moet vasmaak. Hy vra of hulle seëls het vir die waterpomp wat onlangs begin lek het en wat Mr. Fix-It wil regmaak. Die man sê hy het, maar hy wil die waterpomp sien. Uit met die pomp en terug na die winkel. Maar dit is puur verniet! Niks gekry nie! Toe sit hy die silikoon "gepatchte" waterpomp terug. Dit doen hy alles terwyl ek in die dorp rondloop op soek na rokkies. Niks gekoop nie.

Hier is geweldig baie Italianers, mens sou dink jy is in Italië. Hulle is luid en rumoerig en passievol besig om te lewe. Die tradisionele kleredrag hier is jou bikini en speedo, vir oud en jonk! Ons bure is ook Italianers en ons gesels lekker. Hulle hond is ook aan boord.

Ons loop die aand on die dorp rond. Dit wemel van mense. Daar is straatmusikante en vuurvreters en balgooiers. Almal eet by restaurante en drink koffie en natuurlik ietsie sterker ook. Dis "magic".

Dis so lekker hier, ons besluit ons bly sommer nog 'n nag.

Die volgende dag loop ons op na die kerk toe. Dis hoog en moeg en warm tot daar. Ons verken die dorp en koop natuurlik ook kosvoorraad (ek weet nie wie eet so baie nie).

Nr. 50


Mali Losinj is 'n aangename en aantreklike dorpie met uitstekende fasiliteite. 


Published with Blogger-droid v2.0.10

Sunday, July 21, 2013

Balvanida. Dag 83.


19 Julie 2013. Vrydag.

L. St. Ante tot U. Balvanida


Vandag gaan ons na nóg 'n ankerplek toe. Dit lyk vir my dis al wat ons deesdae doen. Ons soek 'n anker in ons lewe. Iets waaraan ons vas kan hou.


Die Seilende Sigeuner



Die anker waarna ons soek, is by U. Balvanida (44º 29.463 N, 14º 30.217 O). Dis so 17 myl om te vaar. Oppad stop by Silba, op die eiland Silba, vir proviand. Ons stop deesdae elke dag by 'n dorpie om iets te koop en die dorpies te verken. Die huise langs die see by Silba laat my aan Plet dink, waar my vriendin, Rika, bly. Ek verlang toe sommer dadelik na Rika en Esther. Ons drie was onafskeidbaar by Sonlandpark Primary.

Silba
Paadjie langs die see oppad na dorp


Dis 'n tipiese vakansiedorpie. Mense swem en laat hul bruin lywe nóg bruiner brand. Dié mense is gewis sonliefhebbers. As ons in SA so sonbaai, sal ons sonbraai totdat daar net as oorbly.

Uitkyktoring, gebou deur Kaptein Petar Marinic, in die 19de eeu
Dakloos?


Maja lê rustig op anker vir ons en wag. Ons koel eers gou af voor ons vaar. Dorp toe gaan is harde werk en maak jou baie warm.

Maja lê rustig


Ons vaar tussen die eilande Ilovik en St Petar deur. Dit is baie na aan mekaar en word net met 'n nou kanaal van mekaar geskei. 

Dorpie langs die kanaal tussen O. Ilovik and O. St Petar


So 16:00 kom ons by U. Balvaida aan. Ons gooi anker en Archie duik met 'n sierlike boog in die water in om  'n tou land toe te vat en aan 'n boom vas te maak. Daar is nie plek vir die bote om rond te draai op anker nie en die tou verhoed jou om te draai. Ons stop langs dieselfde mense wat langs ons op Muline gestop het. Ons knoop eers geselsies aan en kyk saam toe die Italianer daar aankom. Hy sukkel in die wind om in die noute in te kom en sy anker só te gooi dat dit nie oor ons s'n is nie. "Never a dull moment"

Ek staan die nag net een keer op om ankerkykdiens te doen.

Published with Blogger-droid v2.0.10

Friday, July 19, 2013

Skool toe! Dag 82


18 Julie. Donderdag.

Prolaz Zapuntel tot L. St. Ante


(Ek skryf nou maar die datum, want ek weet nie meer aldag of dit Dinsdag of Dingaansdag is nie!)

Gus het in die nag gaan lê en vir ons 'n rimpellose baai gelos. Ek drink my tradisionele kapteinskoffie in die bed. Archie nooi my vir 'n oggendswem.

Baaikostuum aan en ek is gereed vir die rimpellose bad vol water. Dit voel nie eers koud nie, net verfrissend lekker op my lyf. Waar's die meisiekinders en Elize nou!?

'n Nuuskierige skool visse swem nader. Die water is so stil en helder, ek kan hulle in die oë kyk. Ek swem heerlik tussen die skool visse. Ek is in my element en wil hulle net begin tafels leer. Ek voel tuis tussen hulle. Ek voel amper lus en gaan terug skool toe! Ek dink terug aan boeke merk en die lus gaan gou weg.

Skool toe


Die dorpies noord van Zadar het nie historiese waarde soos die suide nie. Dis sommer alledaagse gewone mens plekkies, waar ons bootmense stop vir 'n brood of eiers of 'n slaapplek op 'n boei. Niks opwindend nie, net die lewe leef.

Die dae word aande en dan weer dae. Ons gaan vandag by die dorpie Ist op die eiland met dieselfde naam stop vir brood, jogurt, hoender en vrugte. Ons haak 'n boei, ek agter die helm en Archie is Kaptein Haak. Ons klim in Dinkie en roei kant toe. Dis 'n lewendige dorpie met baie seiljagte in die baai.

Dorpie Ist


Ons koop ons proviand, maak lyf nat, en weg is ons na Luka St Ante (44º 21.361N, 14º42.320 O) waar ons gaan oornag. Dis net 'n skrale 9 myl.

Oppad na Silba


Ons nader Luka St Ante op die eiland Silba. Die eiland se naam is afgelei van die Latyns woord "Silva", wat woud  beteken. Oral op die eiland is bosse en bome. Die seiljagte lê lui-lekker in die windstil baai. Ons kry 'n boei na ons smaak en maak vas.

Die woud van Silba


Dis nóg is heerlike skoon swem baai. Archie sê die aftrede akkodeer rêrig met hom.

Luka St. Ante


Die meisiekinders se kamer ruik nog steeds na hulle.  


Published with Blogger-droid v2.0.10

Wednesday, July 17, 2013

Alleen leen leen. Dag 80 en 81


Zadar tot Muline


Vandag gaan die kinders huis toe. Ons stap 05:30 saam met hulle busstop toe. Ons kom omtrent saam met die bus by die busstop aan. Ons moet vinnig groet en weg is hulle.

Dis alleen op die boot. Geen slapende lywe op die banke nie. Geen gelag of gestry of baklei nie. Net alleen leen leen.

Ons besluit ons gaan noord na Muline (44º 08.172 N, 15º13.796 O), 'n skrale 9 myl. Ons anker in die mooi baai en swem al rondom Maja. Dis stil sonder die kinders.

Verre berge

Die volgende dag gaan ons nog noorder en anker eers by Luka Jazi op Molateiland vir middagete. 

Muline tot Prolaz Zapuntel
Maja in Luka Jazi
Ou put oppad na  die dorp Molat


Ons gaan verken die naby geleë dorpie, Molat, en vaar verder na Prolaz Zapuntel (44º15.682 N,  14º47.971 O). 

Zapuntel Kaai


Dis in 'n kanaal tussen twee eilande, Ist en Molat. Ons maak vir Maja aan 'n boei vas en gaan stap later die middag in die dorpie rond. Daar is niks in die plekkie nie en ons stap op 'n paadjie al langs die see.

Paadjie langs die baai
Ou muur


Die wind waai vanaand. Ek wens dit wil ook gaan lê, want ek is moeg.

Published with Blogger-droid v2.0.10

Tuesday, July 16, 2013

Somber Sondag. Dag 78 en 79


U. Gnal tot Zadar

Somber Sondag

Somber stilswye
       sonder sê
Soos 'n seilboot
        sonder seil
Sit strak starend
       nikssiende...
So begin die Sondag

Maar miskien
   net miskien
sal die son weer
    eendag skyn



Ons is oppad na Zadar. Dit is die laaste stop van die kinders voordat hulle huis toe gaan. Ek dink hulle verlang na hulle huis en sien daarna uit om te gaan.  Hulle is nou moeg geseil. Moeg ge-oudorp.

Dis amper reënerig, bewolk. Ons vertrek 07:50 en kom 12:10 in Zadar aan. Maja het diesel nodig en ons gooi eers diesel in en daarna gaan ons na die Marina toe. Ons verken die ou stad van Zadar.

Die Forum
Strate van Zadar met St Anastasia se kerktoring
St Simeon Kerk ingang
Zadar se "putsonderwater" 


Die sonsondergang by die waterorrel is iets besonders. Ons begin die applous toe die son in die see verdrink. Ek het probeer om my weemoed saam met die son in die see te laat verdrink, maar dit het uit die see gespring en in my hart kom sit.

Sonsondergang en seiljag


Die kinders neem ons uit vir pizza by Konoba Amore en ons verslind dit, want ons is so honger soos wolwe. 

Ons loop in Zadar rond en dit wemel van die mense. Dit lyk soos 'n miernes van daai mal miere (soos ons dit genoem het toe ons kinders was). Ek en Archie geniet die Zadar-aand en kom laat die aand tuis. Die kinders maak die stad hulle eie en kom nóg later eers tuis. Ons is moeg en raak dadelik aan die slaap.

Die volgende dag is weer Zadar en almal het hulle eie agenda. Dis laaste-minuut-inkopies vir die meisies, die kloktoring klim vir Gerrit en voorrade koop vir ons.

St Donatus Kerk


Archie besluit dis tyd om die ankerlig reg te maak. Die ankerlig is heel bo aan die mas. Dis moerhoog! Michelle word eerste opgehys om ondersoek te gaan instel. Daarna hys die drie kinders vir Archie met tools en al op. Hy werk doer bo in die lug. Kom later af. Agge nee, die lig werk steeds nie. Ons is almal baie teleurgesteld dat al die moeite tervergeefs was.

Dis baie hoog!
Michelle stel ondersoek in
Oom Archie is swaar
Wat is hierdie?


Die aand gaan luister ons vir oulaas na die "magic" van die waterorrel.

Die kinders se vakansie is verby. Ek wil net vir Phillip en Anita van Zijl, Anika se ouers sê: "Julle dogter is iemand om op trots te wees. So hulpvaardig, so spontaan, so goeie sin vir humor. Dit was lekker om haar aan boord te hê!"

Dankie Michelle, Gerrit en Anika vir die lekker tye saam!


Published with Blogger-droid v2.0.10