Wednesday, June 26, 2013

Kinders. Dag 58, 59 en 60


Vandag kom die kinders. Met vanaand se 21:00 bus vanaf Zagreb.

Dit was warm in die dag en ons los Maja se vensters oop. Sy blink van bo tot onder vir ons nuwe kuiergaste uit Suid-Afrika en alles is op hulle plek en skoon geskrop. Ek en Archie gaan eet ietsie by die Fife restaurant om die tyd van wag om te kry. Ons eet ons knuppeldik aan die heerlike kos in Split.

Na ete stap ons stadig na die ou stad, want die tyd kom nader. Toe, skielik, breek die enigste wolkie in die lug en dit sous. Archie hardloop terug na Maja om die vensters te gaan toemaak. Ek skuil onder 'n afdak, maar reën tog maar nat, want die wind waai die vlagies nat teen my vas.

Archie bly lank weg en ek raak later ongeduldig. Dis 20:50 en ons moet nog busstop toe loop om die kinders te ontmoet. Hy kom aangeloop met 'n vreeslike spoed. My oë vra dadelik waarom was hy so lank weg, maar voordat my mond die vraag kan formuleer, antwoord hy al.

Maja was druipnat. Die vloere was nat, die beddens en banke was nat. Die "bilges" (ruim) was vol water. Archie moes eers die vloere droogmaak en vensters toemaak en red wat te redde is.

Gelukkig reën dit minder en ons loop toe in 'n rekord tyd verder busstop toe. Net betyds om die bus te sien arriveer.

Anika, Gerrit en Michelle


Die kinders is hier! Michelle, Gerrit en vriendin Anika. Na die gul gegroet, kry ons die bagasie en stap terug na waar Maja langs die kaai lê en wag.

Die kind wat Maja eerste sien, kry 'n prys. Hulle kyk grootoog om Maja eerste te sien. En die wenner is... Gerrit!!!
Maja wag geduldig-wiegend vir die kinders om op te klim. Hulle is moeg na die 36 uur reis om hier te kom en voel maar wankelrig op Maja. Hulle is so honger soos wolwe en verslind die pasta (ek het vergeet kinders kan so baie eet). Hulle slaap op die droë dele van die beddens.

Na die heerlike nagrus en kapteinskoffie, is hulle reg vir die dag. Die wind waai en ons vertrek baie versigtig vanaf die kaai na Split Marina. 

Al die kinders kry of 'n tou of  'n afstoot pos om te beman. Dis altyd moeiliker om in wind vas te meer. Dis Gerrit en Anika se eerste vasmeer ervaring maar gelukkig is Michelle 'n ou hand, want sy het verlede jaar saam met ons geseil.  Sy weet wat om te doen. Die vasmeerman wink om ons plek aan te dui. Archie ry mooi agteruit, Michelle maak voor vas, Anika en Gerrit gooi toue en stoot  boot weg. 

Met opdragte van die vasmeerman, die helpende hande en voete van die dekspan, moor ons suksesvol vas. Anika sê sy is natgesweet en vir die eerste keer verstaan hulle wat ek bedoel dat ons altyd natgesweet is na 'n vasmeersituasie.

Die meisies verwelkom die warm stort wat op hulle wag en selfs Gerrit wil ook skoon kom. Hulle lyk soos nuwe sikspense - skoon geskrop en vars. Opgewonde loop ons dorp toe.

Skoon geskrop en vars
Gerrit, Ek en Michelle


Hulle geniet die stalletjies en die ou stad.

Ou kloktoring
Diocletius


Die wind waai vanaand verskriklik en die maste en die toue word 'n stryk-orkes met Gus as die orkestreerder. Die maste wieg en dans, die vlae hou wapperkompetisie, die geluide legio.
Ek sug en die kaptein troos my deur te sê: "Toemaar, ons is vas en veilig in die Marina".

Toe maak ek my oë toe en slaap.
Published with Blogger-droid v2.0.10

Sunday, June 23, 2013

Split. Dag 54, 55, 56, 57


Trogir tot Spinut Marina, Split


Ons laat Trogir in 'n môrestond van sonskyn agter. Ons vaar verby die kuslyn van sewe kastele oppad na Split. Die wind is maar min so die gedreun van die motor is ritmies, afgemete hoorbaar.

Kastela 1
Kastela 2


Ons nader Spinut Marina, naby Split, waar ons gelukkig is om 'n plek vir een aand te kry. Vandag is stortdag en die vars water verdryf al die sout van die see van ons lywe. Ons ruik na seep en shampoo en skoon en ons voel goed.

Elize kan nie wag om die ou stad van Split te beleef nie en ek dink Fanie sug innerlik. Hy is meer van 'n natuurmens, maar ons pak die 30 min se stap na die dorp aan. Voor dit te lank raak, is ons daar en Elize word nie teleurgestel nie.

Split. Daar is net een Split. Die plek het als. Atmosfeer, "vibe", ou stad, vertonings en oral is straat optredes. Elke tien treë neem Elize 'n foto en elke twintig treë sug Fanie. So verken die tweetjies kamera-klikkend-sugtend vir mooi ou Split.

Later stap ons terug na die Spinut Marina, eet aandete en gaan slaap tevrede.

Spinut Marina tot Split Kaai


Na 'n nagrus vaar ons verder, die hawe van Split binne. Maja se motor is dors en ons gooi diesel in. Archie besluit om vas te meer by die dorpskaai en al die toue vir "alongside" word in gereedheid gebring en ons meer vas.

Elize is vreeslik gelukkig oor ons posisie, want dis naby die ou stad, al is daar nie storte nie. "Ons het mos gister gestort", is haar motivering.

Die dorp se mense loop op en af langs ons verby op die dorpskaai. Ons het 'n pragtige uitsig op die ou stad van Maja af.

Uitsig oor Split vanaf  Maja


Ons neem die hele atmosfeer met al ons sintuie in. Ons gaan swem by die klipstrand, geniet straatvertonings, stap kruis en dwars deur die ou stad, peusel by die kosstalletjies en sit op die bankies langs die hawe. Ons het twee heerlike laaste dae saam met Elize en Fanie in Split.

Romeinse argitektuur
Straattoneel
Ou huis (Ek  verlang na my huis)


Ons gaan eet ons afskeidsete en die kos is heerlik. Fanie eet 'n "meat platter for two "alleen op. 

"Meat platter for two"


Ons loop 23:00 saam met hulle busstop toe. Dis net bagasie! Hulle moet 24:00 die bus klim na Zagreb, waar hulle die vliegtuig kry terug huis toe.

Toe is hulle skielik weg.

Koebaai julle


Ek staan die oggend op en dis stil en leeg. En ek huil. Ek huil oor Elize en Fanie wat weg is. Ek huil oor ek soms so kwaai is. Ek huil oor die kinders wat Maandag kom. Ek huil oor Francois (my oudste kind) wat nie kom nie. Ek huil oor my ma en pa. Ek huil oor my familie en vriende. Ek huil oor my huis. Ek huil oor Maja wat so wieg. En ek huil omdat niemand my troos nie. Ek huil alleen.

Ek sit my sonbril op my betraande oë, stap dorp toe, neem Elize se foto en toe hou ek op huil.

Vir Elize


Die aand kom die maan vol en rond en geel en groot oor die see op en hang in die lug...

Volmaan


Published with Blogger-droid v2.0.10

Saturday, June 22, 2013

Trogir. Dag 53


U. Gornja Krusica tot Trogir

Dis lui-lekker somersdae in Kroasië. Daar gebeur niks vreesliks opwindend nie. Ons vaar van die een plek tot die ander en geniet die son en die maan en die wind in die verre land wat aan ons gegee is.

Dis snikheet. Die see bestaan uit 'n versameling van duisende koel waterdruppels waarin ons ons lywe afkoel tot 'n aanvaarbare temperatuur wat noodsaaklik is vir die voortbestaan van die menslike natuur.

Lekker swem


Die water is vlak oppad na Trogir (43º 31.027 N  16º 15.241 O) en Arch hou vir Maja sekuur tussen die bakens in die kanaal. Dis 15 myl tot daar. Elize vra gereeld vir Archie (gemaak kalm) hoe diep dit is. Dan antwoord ou Arch so ewe kalm: "3m". Dan is Elize so bietjie benoud.

Ons anker in vlak water (1.2 m onder die kiel) en die raasbek wat raas as ons te vlak is, raas heeltyd.
Archie skakel die instrumente af om raasbek se stem stil te kry.

Trogir van ankerplek
Ankerplek op Trogir


Die mans gaan stel ondersoek in oor die diepte en of Maja nie gaan strand nie, maar alles is onder beheer.
Ons wag vir die son om sagter te skyn en gaan dorp toe.  Fanie en Archie word moeg vir die dorp en gaan terug na Maja met Dinkie. Toe ek en Elize terug boot toe wil gaan, staan ons langs die kaai en roep op ons hardste Archie se naam om ons te kom oplaai. Al die omstanders kyk oorbluf na ons en ek sê "Pardon". Fanie kom haal ons met Dinkie.

Fanie besig om te leer roei


Ons woon die aand 'n kompetisie-konsert by waarin baie talentvolle kinders optree.
Ek kan maar net nie wegkom van kinders nie.





Trogir kry eers lewe in die aand en ons geniet die atmosfeer langs die kaai.

Trogir se Riva
Trogir se fort in die aand

Môre is dit Split toe.


Published with Blogger-droid v2.0.10

Wednesday, June 19, 2013

Hvar. Dag 52


Hvar tot U. Gornja Krusica

Dis lekker in Hvar. Elize en Fanie gaan by een van die talle klipstrandjies swem en hulle doen ook 'n "roofstort" by die strand. Hulle kom silwerskoon by Maja aan en ons hoef ons nie meer vir hulle te skaam nie.

Die stegies roep vir Elize en ek word saamgesleep. Dis stegie op, trappies op en stegie af, trappies af. Ons dwaal rond in die hartslag van Hvar. Daar waar rêrige mense bly.

Trappies op 
Stegie


Dis baie warm en die sweet tap ons af. Die hele Hvar het in 'n sauna verander, maar niemand gee om nie, want Hvar bestaan uit gelukkige mense.

Hvar vibe
Hvar Fort


Teen een-uur kommandeer die kaptein ons op om te vertrek. Alles word in gereedheid gebring vir die vertrek. Ons beman ons poste en vertrek met meer grasie as wat ons gekom het. Geen komedie vertoning word díé keer aan die kykers verskaf nie. 'n Catamaran wag soos 'n aasvoël om Maja se plek in te neem.
Ons pak die plat-water reis aan na Uvala Gornja Krusica op Solta Eiland (43º 21.411 N, 16º 21.905 O). Dit is 15 myl tot daar. Ons prr teen 4.5 knope. Dis net vinnig genoeg om die kaptein lomerig te maak en hy knip gou 'n vinnige uiltjie.

Uiltjie


Die Jadrolinija bote spoed by ons verby en laat net 'n string deinings agter wat ons heen en weer laat wieg op die gladde water.

"Oral om, om my heen, is dit blou..." (Laurika)


Ons kom 17:00, of miskien 'n minuut of wat later, by die baai aan en anker in ons eensaamheid. Ons swem rondom Maja in die heerlike water, wat ons lywe laaf en laat lewe.

Elize en Fanie is in 'n speelse bui. Hulle begin nou té tuis raak op Maja. Hulle flankeer met die kamera soos wafferse oorsese modelle.

Flankeer met kamera



Published with Blogger-droid v2.0.10

Tuesday, June 18, 2013

Hvar. Dag 51


U. Stipanska tot Hvar Dorp (Ligte blou lyn)

Vandag gaan ons weer kyk of daar plek by Hvar se kaai is. Ek wil graag hê Elize en Fanie moet die pret van 'n gratis fliek, terwyl jy langbeen sit en vir die mense kyk, op Hvar beleef.

Ons eet eers pannekoek wat die kaptein vir ons bak vir ontbyt. Ons trek anker op en vaar hoopvol na Hvar (43º 10.291 N. 16º26.471 O). Dis net 1.7 myl tot daar en ons wil ook nie te vroeg daar aankom nie, want die mense verlaat 'n kaai normaalweg nie voor twaalf nie.  Ons beplan om so 11:30 daar aan te kom.
Ons kom nader en nader. Almal se oë soek vir 'n gat langs die kaai waar Maja kan inpas. Dit lyk nie goed nie. Daar is nie plek nie. Teleurstelling pluk aan ons. Maar wat 'n geluk! 'n Boot trek uit en die vasmeerman wink vir ons.


Verkeersknoop in Hvar hawe
Parallel parkering nagmerrie


Almal is op hulle poste. Arch agter die stuur. Elize grootoog-gereed agter by die swart tou. Ek staan gewapen met die boothaak om die tou op te raap en Fanie gereed om dit by my oor te vat en vorentoe te gaan om dit vas te maak. Dis hulle eerste vasmeer saam met ons en daar is 'n effense onsekerheid en spanning in die lug
.
Die vasmeerman staan met die tou vir ons en wag. Ek haak die tou en gee vir Fanie en hy draf flink agtertoe. Die kaaiman het vir ons die tou aan die port kant aangegee, maar hy wil hê ons moet dit aan die starboard kant vasmaak.

Hoe dink hy moet ons dit ruik.  Maja pyl op die bure af. Archie skree. Fanie los die tou en gaan stoot ons weg van die ander boot af. Die tou val terug in die water. O f@#! Ek hardloop agtertoe, gryp die boothaak en haak die tou weer, hardloop met die tou vorentoe. Ek trek so hard as wat ek kan om die boot in posisie te kry. Waar my ou Archie so skielik vandaan kom, weet ek nie. Hy is net skielik daar om die situasie te red. Hy vat die tou na die starboard kant en hy en Fanie maak dit vas.

Elize het die fort agter gehou met die toue en ander dinge daar. Na al die miernes-bedrywighede op Maja word  al die toue vasgemaak, ons vee die sweet van ons voorkoppe af en wag vir die applous van al die omstanders wat die komedie so onbeskaamd gadegeslaan het. (Ons is toe die gratis fliek).

Ons is in Hvar. Ons drink koue verversings en sit lekker langbeen en ontspan. Vergete is al die stres van vasmeer. Die mans maak die dek sorgvuldig skoon en ons meisies skrop en "polish" binne. My ma sal trots wees op haar twee dogters!

Ek in die "head"
Elize in die "saloon"
Die manne doen ook hulle deel


Dit is baie warm en ons wag vir die son om minder fel op ons neer te brand en toe gaan ons dorp toe. Hvar is hierdie keer mooier as die vorige keer, want die son skyn, dit reën nie. Ek en Elize gaan loop in die stegie op. Bo word ons beloon met die mooiste uitsigte. Ons sien die dorp wat bak in die namiddagson en omring word met blou. Die see is doodeenvoudig blou. Blou, blouer, blouste. Die dorp is doodeenvoudig mooi. Mooi, mooier, mooiste.

Uitsig oor Hvar
Dorp en kaai
Hvar se piazza


Twee gesigte met glimlagte kom na Maja toe aangeloop. Hulle stop voor ons en groet. Hulle is van Suid-Afrika. Dis lekker om van ons mense te sien. Hulle kom aan boord en stel hulself voor. Hulle werk op Sea Dream Yacht Club. Christiaan en Corika is twee pragtige jongmense. Hulle gesels spontaan vriendelik met ons. Dis asof ons mekaar jare ken. Maar weereens kom die koebaai te gou.

Christiaan en Corika


Hvar is 'n lawaaierige ou plekkie met baie atmosfeer. Té veel lawaai en ek sukkel om te slaap.



Published with Blogger-droid v2.0.10

Monday, June 17, 2013

Dubbeldag. Dag 50


U.Luka tot U Stipanka (Wit lyn)


Uvula Luka lê vroegdag roerloos-lui en blink in die môreson. Alles vreedsaam en nog loom na die nag.
Ons begin vroeg, want dit is 'n lang pad (23 myl) na Uvala Manastir waar ons weereens die anker gaan gooi. 

Vroegoggend Korcula
Korcula dorp


Die water is seepglad. Dit blink in die son. Son is mos somer, soos Archie gesê het. Ons besluit dis tyd vir lyf natmaak in die Adriatiese see. Die swem is verfrissend en verkwikkend. Veral Elize en Fanie geniet die swem. Elize se oë rek met die besef dat die see eintlik 80 m diep is waar ons swem en sy maak 'n punt daarvan om nie te sink nie.

Daar is geen wind nie en die motor prr heeltyd. Die nie-steurende geluid maak ons beurtelings lomerig en ons knip om die beurt 'n uiltjie.

Om 13.00 kom ons by Manastir, maar die kaptein sê hy dink ons moet aanstoot na Hvar. So gesê so gedaan. Hy ís na alles tog die kaptein en 'n goeie een daarby. 

Herstelde kaptein na baardsny


Ons motor verder.  Dis warm.

Hvareiland kuslyn
Kransige kuslyn


17:00 kom ons by Hvar aan. Dis bedrywig daar. Dit lyk erger as by Cavtat. Ons hou duimvas dat ons 'n vasmeerplek op die kaai kry. Maar nee, die jagte staan kant aan wal. Nie 'n plek vir 'n muis nie.
Omdraai is ons voorland. 

Propvol Hvar hawe


Ons vaar na 'n ankerplek toe, maar die baai is te klein en ons gaan na die volgende baai, Stipanska (43° 09.535 N,  16° 25.326 O,  37 myl), waar ons ankergooi. Fanie is al baie bedrewe met die anker.

Fanie het 'n Vadersdag bestelling vir hoender ingesit en Elize het dit dadelik beaam. Wie is ek om te stry?
Ons smul heerlik aan die gebraaide hoender en gebakte aartappels. Die afvalbrokkies word Meeutjie, ons eie seemeeu, gevoer sowel as 'n klein vissie wat Fanie gevang het.

Gelukkige Vadersdag Pa
Meeutjie


Gelukkige Vadersdag aan al die vaders en 'n spesiale goeie wens vir my pa.

Ek hoop ons kry môre 'n plekkie langs die kaai by Hvar...


Published with Blogger-droid v2.0.10