Monday, June 17, 2013

Dubbeldag. Dag 50


U.Luka tot U Stipanka (Wit lyn)


Uvula Luka lê vroegdag roerloos-lui en blink in die môreson. Alles vreedsaam en nog loom na die nag.
Ons begin vroeg, want dit is 'n lang pad (23 myl) na Uvala Manastir waar ons weereens die anker gaan gooi. 

Vroegoggend Korcula
Korcula dorp


Die water is seepglad. Dit blink in die son. Son is mos somer, soos Archie gesê het. Ons besluit dis tyd vir lyf natmaak in die Adriatiese see. Die swem is verfrissend en verkwikkend. Veral Elize en Fanie geniet die swem. Elize se oë rek met die besef dat die see eintlik 80 m diep is waar ons swem en sy maak 'n punt daarvan om nie te sink nie.

Daar is geen wind nie en die motor prr heeltyd. Die nie-steurende geluid maak ons beurtelings lomerig en ons knip om die beurt 'n uiltjie.

Om 13.00 kom ons by Manastir, maar die kaptein sê hy dink ons moet aanstoot na Hvar. So gesê so gedaan. Hy ís na alles tog die kaptein en 'n goeie een daarby. 

Herstelde kaptein na baardsny


Ons motor verder.  Dis warm.

Hvareiland kuslyn
Kransige kuslyn


17:00 kom ons by Hvar aan. Dis bedrywig daar. Dit lyk erger as by Cavtat. Ons hou duimvas dat ons 'n vasmeerplek op die kaai kry. Maar nee, die jagte staan kant aan wal. Nie 'n plek vir 'n muis nie.
Omdraai is ons voorland. 

Propvol Hvar hawe


Ons vaar na 'n ankerplek toe, maar die baai is te klein en ons gaan na die volgende baai, Stipanska (43° 09.535 N,  16° 25.326 O,  37 myl), waar ons ankergooi. Fanie is al baie bedrewe met die anker.

Fanie het 'n Vadersdag bestelling vir hoender ingesit en Elize het dit dadelik beaam. Wie is ek om te stry?
Ons smul heerlik aan die gebraaide hoender en gebakte aartappels. Die afvalbrokkies word Meeutjie, ons eie seemeeu, gevoer sowel as 'n klein vissie wat Fanie gevang het.

Gelukkige Vadersdag Pa
Meeutjie


Gelukkige Vadersdag aan al die vaders en 'n spesiale goeie wens vir my pa.

Ek hoop ons kry môre 'n plekkie langs die kaai by Hvar...


Published with Blogger-droid v2.0.10

Saturday, June 15, 2013

Visvang. Dag 49.


Lastovo tot Korcula

Lekker bly Lastovo, ons gaan nou! Die anker klakkediklak op tot in sy lêplek en motor prrr uit die baai. Ons laat net rimpels agter. Dis asof ons nooit daar was nie. Dis deel van die verlede en ons vaar na die hede.
Die water is sag en soepel en spoel klots-klots teen Maja. Daar is harmonie tussen boot en baai. Vier mense stil nadenkend oor die wonder van die lewe.

Archie in beheer, helm in die hand. Fanie, hoopvol wagtend met die visstok. Elize, op die oog af gedagteloos, maar dankbaar oor die lê-wind en die kalm see. En ek is maar net die seilende sigeuner.

Ons moet oor die groot stuk see vaar na Korcula (42º 57.175 N 17º 08.392 O). Dit is 23 myl tot daar. Archie het gister gesê dat die son voel soos somer en die wind soos winter. Vandag is hier min wind, so dit is somer. Die son kleur die water blousel-blou en bak ons warm. Ons koel ons lywe af in die blousel en swem rondom Maja. Die stilte is welkom na die lang gelykmatige geprrr van die motor.

Elize
Fanie

Ons bak voor op Maja se snoet en die warm son lek al die waterdruppels van ons lywe af. Ons kry warm en gaan swem weer. Elize loer skelm oor haar skouer net om seker te maak daar is nie 'n honger haai in die omgewing nie.

Na die water-baljaar is ons weer op koers. Skielik raas Fanie se visstok en daar is geweldige aksie aan boord. Fanie spring amper bo-oor die helm om aan te slaan. Archie verminder spoed (nou nie dat ons vinnig ry nie). Ek kry die kamera en Elize kyk trots toe hoe haar man woel en werskaf om die slagoffer aan te keer.
Archie skep die vis in die emmer en Fanie se bors swel van trots. Daar word bespiegel dat dit 'n tuna is, maar Archie is nie 'n man wat van bespiegelings hou nie en Elize word aangesê om die seil handboek te kry. Dis inderdaad 'n tuna.

Fanie slag die arme ding daar en dan en Tuna word geïdentifiseer vir aandete. Ek bêre dit in die yskas vir die aand.

Fanie se vis


Na al die opwinding is daar skielik twee visstoklyne in die water!!

Archie begin al hoe meer na 'n bosman lyk (volgens Michelle) en ons besluit eenparig dat sy baard gesny moet word. Maja wieg net liggies heen en weer en dis veilig om die snywerk te doen. Gewapen met die kam en skêr pak ek die taak aan. Oeps!

Oeps!

Na ses uur se vaar, kom ons by Korcula.  Elize vergaap haar aan die mooi ou dorpie vanuit Maja. Ons gooi anker, trek aan en gaan dorp toe. Hierdie keer is daar meer mense in die dorp en die plek het dadelik meer atmosfeer.

Eiland klooster uit 14de eeu oppad na Korcula
Korcula omring met sy muur
Fort
Ingang


Ons loop op en af en Elize neem meer foto's as selfs die Japanese. Ons gaan Konzum toe en koop voorrade vir die volgende twee dae. Ons geniet dit in Korcula en gaan later terug na Dinkie en ons en die inkopies word in twee sarsies aangery terug na Maja toe.

Dis 'n heerlike aand en ons sit langbeen op die dek. Ons lag en skerts. En toe word ons honger. Gelukkig is daar vars vis in die yskas en Fanie sny dit in netjiese stukke.

Tuna en inkvis


Ek braai die vis saam met 'n pakkie inkvis en ons smul. Dankie Fanie!
Published with Blogger-droid v2.0.10

Friday, June 14, 2013

Luka Polace na Uvala Zaklopatica, Eiland Lastovo. Dag 47 en 48


Polace tot Zaklopatica


Polace is so 'n pragtige en gewilde baai. Ons besluit om nog 'n dag te bly. Ons gaan vandag die bosse invaar en na die soutmere toe stap. Dis 'n heerlike koel paadjie deur die bosse. Ons stap soos Livingstone, die ontdekkingsreisiger van ouds, deur die bosse.

Blaarvlinder op distel


Ons stap eers na Pomena. Dit is 'n vakansierige dorp langs die see. Daar heers 'n lekker ligte vakansie atmosfeer in die plekkie.

Pomena hawe


Die honger bekruip ons en ons eet ons heerlike toebroodjies wat Fanie gemaak het. Ons sit sommer langs die straat onder 'n boom en eet asof dit 'n gourmet ete is.

Smul aan Fanie se toebroodjies


Die roete langs die soutmere waarlangs ons stap, is pragtig en menige mense kan die versoeking van die koel blou waters van die mere nie weerstaan nie en orals word daar geswem. Ons wens natuurlik ons kan deel word van die menigtes, maar helaas, ons swemklere is veilig in ons kaste in Maja.

Ons pak die terugtog op 'n ander roete aan en verdwaal so effens. Na 'n stuk terugstap op ons ou spore is ons weer op koers na ons baai. Ons kom moeg en warm by ons baai aan en ons klim oorvol in Dinkie en ry terug na Maja.

As jy warm is, moet jy afkoel en ons maak toe ook so. Ons baai ons moeë en warm lywe in die koele lafenis van die blou water. Na 'n lekker lang swem en 'n baie kort buite-stort-afspoel, kan ons weer die lewe vierkantig in die oë kyk.

Ons slaap vroeg, want daar is geen belangstelling  vir my voorstel dat dit sang-aand is nie.

Die volgende dag staan ons vroeg op (05:00), want ons moet vroeg wikkel. Die pad na die eiland  Lastovo is ver en lank. Ons kry ons kapteins-koffie in die bed, maar my oë wil nog steeds nie oop nie. Ons vertrek voor hanekraai (06:00). Die water is glad en blink soos 'n spieël.

Vroegoggend in Polacebaai


Die manne span seile en ons seil vir 'n lang ruk, totdat die wind nie meer wil saamspeel nie en ons motor die pad verder. Dit is 25 myl tot daar. Ons sien die eiland in die verte en hoop dit kom gou nader, maar dit sukkel. Dit voel of die plek op dieselfde plek bly, inteendeel, dit voel of dit verder raak.

Na, wat soos 'n ewigheid voel, (sewe ure) nader ons die nou ingang tot die baai.  Jy moet in die middel van die ingang vaar, anders is dit te vlak. Archie hou presies koers. Ons kry 'n ankerplek in die baai van Zaklopatica (42° 46.376 N, 16° 52.534 O) en die anker raas af bodem toe, trek stokstyf  en ons is stewig vas.

Maja op anker in Zaklopatica Baai
Zaklopatica hawe


Ons maak klaar om dorp toe te gaan. (Ons gaan mos altyd dorp toe). Weereens in Dinkie, oorvol en ons sit haar so plat, dat ons broeke nat word. Dit word gelukkig gou droog in ons lang staptog padlangs na die dorp van Lastovo.

Lastovo 


Die dorpie is in terasse gebou en lyk prentjie mooi van bo af. Dis warm (was ons broeke nat?) en ons voel effe uitgeput. Ons bekyk die dorp, koop goedjies in die klein supermark en stap toe boslangs terug na ons ankerplek Zaklopatica.

Die paadjie deur die bos is heerlik koel en ek geniet die aarde se reuk, se klank, se voel. Ek geniet die droë grond onder my voete na die lang dag op die water.

Ons eet gebraaide hoender en aartappels vir aandete.

Maja se bemanning

Wednesday, June 12, 2013

Waai Wind. Dag 46

Ston tot Luka Polace (Groen lyn)


Ons trek met grasie by Ston se kaai weg. Niks gaan verkeerd nie. Die wind waai en ons vaar tussen die bakens deur die nou kanaal. Kaptein sê : "Span die seile!" Fanie is oorgewillig en ons span dadelik. Ons seil totdat ons deur die volgende nou kanaal moet gaan.

Deur die nou kanaal


Hulle geniet dit vreeslik dat Gus (die wind) so erg waai. Nie gevaarlik nie, net sterkerig. Ek het al vantevore gesê dat ek meer van 'n lê-wind as van 'n waai-wind hou.

Ons kom by die oper see en daar is meer golwings.

Kranse by oper see


Gus is baie wispelturig, hy wissel tussen sterk en sterker. Heeltemal veilige seiltoestande, maar Maja lê te skeef na my smaak. Archie en Fanie is in hulle element met die gelêery. Elize weet nie eintlik wat aangaan nie, want sy skuil agter haar lap. Ek dink haar oë en Gus kom nie so goed klaar nie.

Elize en haar lap


Ons seil lekker en maak goeie spoed. Die spoed raak te goed en na 'n ernstige aanmaning van my kant af, maak ons die seile kleiner ("reef").

Maja kan 'n seilspoed van tot sewe knope goed hanteer, daarna raak dit te veel om die een of ander tegniese rede wat ek nie verstaan nie. (Fanie ook nie, want hy wil net vinniger seil). Op 'n stadium seil ons teen agt knope. Dis die gevaar van 'n rukwind. Hy gaan lê en ruk dan onverwags op en ruk en pluk aan die seile. Dan moet jy hou wat jy het of Maja wil skuins lê.

Die omgewing om ons is baie mooi en daar is redelik baie seiljagte op die water.

Party span seile ...
... party nie


Ons trek die seile in, want die wind wil nie meer saamspeel nie.  Lekker is nou ook nie meer lekker genoeg nie en ons motor verder tot by Luka Polace.

Die manne se lus vir seil is darem goed bevredig met vandag se seil. Hulle sug van tevredenheid en daar is genoegdoening op die gesigte.

Ons kry ankerplek op omtrent dieselfde plek as verlede keer toe ons hier was. Dis 'n mooi baai en baie bote staan hier geanker. Die water wink en ons gaan in. Ons swem lank en lekker.

Ons swem ...
... tot ons bene jellie word


Fanie gaan stap en ons gaan natuurlik  dorp toe om 'n ou ietsie te koop. Al drie van ons is in Dinkie en ons meisies se broeke word papnat. Nou voel ons soos ou vrouens met nat broeke.

Die skemer daal en ons voel 'n kalmte na 'n baie woelige dag. Uitgeput, maar tevrede, tref ons koppe die kussings en ons seil droomland binne.

Tuesday, June 11, 2013

Ston. Dag 45


Dubrovnik tot Ston (Wit lyn)

Vandag is daar hande. Hande om saam te werk. Maar nee! Archie sê ek en hy moet alleen probeer uitkom by die Dubrovnik Marina. Ons moet kwansuis oefen vir die tye wat ons alleen is. Wat gaan aan met die man? Hier sien ek vir weke uit na Elize en Fanie se kuier, nie net omdat ek verlang nie, maar dat hulle kan help!


Elize en Fanie is toe op roep, in geval van nood. Ons kom maklik uit ons nou vasmeerplekkie en vaar na die petrolstasie toe. Ons moet  "alongside" vasmeer (en ons moet dit weer alleen doen om kwansuis te oefen.) en ek en ou Archie stry en baklei so met die vasmeerdery, dat ons arme gaste seker dink ons huwelik is op die rotse.

Ons gooi diesel in en met 'n lekker vol tenk brandstof, vaar ons weg uit Dubrovnik met al sy mure en toeriste na die onbekende (vir ons nuwe lammers tot slagting).

Ons gaan vandag na Ston (42° 50.073 N  17° 41.811 O). Dis 26 myl soontoe. Die see is nie rof nie, daar is net gemaklike deinings wat nie vir Fanie sal seesiek maak nie. Fanie kan nie wag om seile te span nie en Elize sit daar met 'n onpeilbare uitdrukking op haar gesig. Elize en Fanie kwalifiseer darem hierdie keer om te help. 

Die wind werk in Fanie se guns en kort voor lank kry ons die opdrag van die kaptein: "Span die seile!" Hulle kry hulle lesing. Dis die "mainsail" en genoa en "topping lift" en "boom" en toue en "tack" (dis as jy wind-op seil en jy verander van rigting). Die keer is dit nie my kop wat draai nie, maar hulle koppe draai.


"Span daardie seile!"





Hulle leer vinnig en ek en Fanie "tack" en Elize gee katrolslingers aan en bêre dit weer sorgvuldig, vat die helm en bestuur die boot. Dit is te wonderlik met al die bekwame mense op Maja en ons seil vir die vale.


Elize agter die wiel



Archie is in sy noppies, want dis die eerste keer in 'n lang tyd wat die wind reg is vir seil. Ek en Elize noem die wind "Gus", want die weervoorspellings sê altyd die windspoed is 10 knope "gusting to" 14. Dis hoe die wind "Gus" gedoop word. Gus het later te sterk geword en toe "reef" ons die seile. Dis as jy die hoofseil en die genoa kleiner maak, sodat die boot nie te skuins lê nie. Fanie bluf homself deur te dink hy gaan visvang en maak die lyn nat. Niks gevang nie.


Visserman



Ons nader die nouer gedeelte van Stonski Kanal en die seile moet af. Al die nuwelinge help gretig. Ons vaar verby Broce na Ston en meer "alongside" vas. 


Broce dorp
"Alongside" Ston kaai 



Almal mag weer help. Ston is 'n mooi klein dorpie en ons loop ook na Mali Ston. Daar is ou mure om die dorp wat hulle besig is om te restoureer.


Ston se fort

Ons by Mali Ston
Mali Ston se hawe



Ons braai 'n lekker vleisie op die kaai met Bushy se braai. Ons eet te heerlik. Dankie Bushy.

Braai-broers
Kaai braai






Published with Blogger-droid v2.0.10

Monday, June 10, 2013

Hulle is hier! Dag 43 en 44

Vandag is die dag. Familie uit Suid-Afrika! Ons sien nou nie eintlik bekendes hier rond nie, dus is elke Jan Rap en sy maat welkom by ons. Meer nog Elize en Fanie.

Ek en Archie klim die bus na die busstop. Elize  en Fanie kom 08:32 (Sondag ) in Dubrovnik aan en ons ontmoet hulle by die busstop. Ons wag. Hulle is tien minute laat.

Ek sien eerste vir Fanie. Ek hardloop hom amper onderstebo en druk hom amper dood. Toe sien ek vir Elize uit die bus klim. As Elize in die Bybelse tyd geleef het en werk gesoek het, sou sy werk as roubeklaer gekry het, want sy kan vreeslik goed tjank. En toe huil sy. En toe huil ek. En toe huil ons saam in 'n koeksuster-greep.

Fanie en die koeksusters


Ons klim weer op 'n ander bus terug na die marina, waar Maja nie kan wag om hulle te ontmoet nie.
Elize kyk die loopplank wat haar aan boord moet neem baie wantrouig aan. Versigtig benader sy die loopplank en loop knypboud-benoud oor. Sonder om in te val gaan sy aan boord.

Gereed om aan boord te kom


Fanie, boerseun wat hy is, is met al die rugsakke en al gemaklik oor die loopplank. Hulle lyk maar bra uitgewas, want hulle het die nagbus van Triest in Italië, na Dubrovnik gevat.

Elize lig ons in dat my broer, Basie, iets vir ons gestuur het. Ons maak dit baie nuuskierig oop. Dit is 'n Suid-Afrikaanse vlag! Ons vlaggie het in die storm geskeur. Archie hys dadelik die vlag. Dit wapper trots in die wind.

Ons nuwe vlag. Dankie Basie
Elize en Archie


Ek maak vir hulle 'n lekker ontbyt, gesels so bietjie en hulle pak uit. Later oorval die moeg hulle en Fanie gaan skuins lê. Later volg Elize sy voorbeeld. Die aand, na  'n uurlange Skype met die res van die familie, gaan ons slaap.

Maandag is muurdag. Ons gaan vandag die mure in die ou stad aandurf. Dis maar baie bewolk. Elize en Fanie was veronderstel om goeie weer saam te bring. Hulle pak toe net goeie weer vir Sondag in. Elize het nie plek in haar rugsak gehad vir nog goeie weer nie, want sy het te veel klere gebring. Toe reën dit terwyl ons die mure loop, maar ons geniet die mure terdeë. Dis indrukwekkend mooi.

Drie kerke in Dubrovnik
Dubrovnik mosaïk


Die weer klaar op en ons gaan na die fort. Die uitsigte vanaf die fort is baie mooi.

Uitsig van fort


Die see lyk omgeklits en onthuts. Daar's tot branders wat teen die rotse breek. Môre moet ons weer die see aandurf. Ons gaste is onseker-opgewonde- benoud oor die nuwe ervaring wat voorlê.

Ons gaan koop voorrade by die Konzum supermark om ons koskaste tot oorlopens toe vol te maak.
Die aand eet ons gevulde inkvis. Almal help. Fanie en Elize vul die inkvis met die rysvulsel, ek kook die groenterys en braai die inkvis en Archie skink wyn vir ons en iets ligs  vir die gaste. Dit gaan jolig en gesellig. Dit lag en skerts en gesels. Dit vóél soos huis.

Almal help
Gevulde inkvis met geurrys

Ons eet en kuier en lag.
Published with Blogger-droid v2.0.10