Sunday, May 19, 2013

Al in die rondte. Dag 22

Vandag was 'n rondomtalie-dag.

Ons is op anker en ek hoop net die anker hou. Archie het op die "chart plotter" 'n ankersleep alarm gestel.
'n Alarm sal dan lui as die boot meer as twee keer die ankerketting lengte dryf. Toe kan ek darem slaap. Die anker hou. Geen alarm lui in die nag nie.

Die wind begin vroegoggend waai. Ons vaar beslis nie vandag nie. Hier by 11:00 is dit baie erg. Ons draai en tol in die rondte. Dis om en om en om. My kop draai saam en word seer.

Dit hou net aan en aan en aan. Dit wil net nie ophou nie. Die rukwinde pluk aan Maja. Sy hou net geduldig aan met draai. Die kant toe draai en daai kant toe draai.

Ek het gelukkig 'n elektroniese boek gehad om te lees. Waar is die dae toe 'n boek nog 'n boek was. Met regte blaaie wat kan omblaai.

As die wind net wil ophou waai! As die wind so kwaai waai, wil ons nie Maja alleen los nie vir ingeval die anker begin sleep. Ons is heeldag vasgekeer op Maja. Dit waai tot 17:00. Toe hou dit uiteindelik op en ons vat vir Dinkie en ry dorp toe. Ons wil net bietjie uitkom.  

Cavtat - van kerk tot kerk
Cavtat hawe
The Riva
Kerk


Die weervoorspelling vir môre lyk baie beter en ek hoop ons sal uiteindelik in Montenegro kan kom.

Saturday, May 18, 2013

Duisende deinings - Cavtat. Dag 21

Die bote in Dubrovnik Marina is baie naby mekaar vasgemeer en ons bure help dat die fenders nie aan mekaar vashaak nie. Ons verlaat die Marina stylvol sonder skandes. Ons wuif vir die behulpsame bure en roep ons koebaais.

Die see bestaan uit duisende deinings. Dis soos berge en dale. Nie dreigend nie, net deinings. Dis die Sahara-wind wat die see so omgeroer het. Wat die water so geklits het dat dit nou nog reuse dimpels maak.
Ons is oppad na Cavtat (42º 35.121N, 18º 13.273 E). Dis 13.6 myl (25 km). Dit is 'n amptelike doeane waar ons uit Kroasië moet uitteken, want ons gaan Montenegro toe.

Die ligte wind is van voor en ons seil nie, ons motor heelpad. Ons vaar verby Dubrovnik se mure. Dit lyk anders vanuit die seilhoek. Ek neem foto's, maar party is so skeef, want die boot is dan op en dan af. Dan heen en dan weer. Sag wiegend op die duisende deinings.

Dubrovnik se fort
Dubrovnik se mure
Mure en rotse


Ons kom by Cavtat aan en anker. Ons vriende van Swede is ook hier geanker. (Ons is nie huisvriende nie, maar hulle was naby ons vasgemeer by Dubrovnik). Die see word glad en plat en ons vat vir Dinkie en gaan dorp toe. Archie sê ons moet die spane saamvat, net "vir ingeval". Ek wonder "vir ingeval" wat! Ons soek die hawemeester se kantoor met die hoop dat ons kan uitteken sonder Maja. Maar tervergeefs.

Uvala Tiha ankerplek by Cavtat


Ons verken die dorpie, eet roomys en gaan later terug na Dinkie. Ek klim in, Archie stoot ons in die water, spring in en trek die tou wat die motor aan die gang kry. Niks. Hy trek weer. Niks. Dinkie wil nie vat nie. Die petroltenk is leeg!! "Vir ingeval" wat? Nou weet ek. Ons roei terug na Maja.

Die laatmiddag son verhelder die kleur van Cavtat en Maja staan trots daarteen afgeëts. Ek sien hoe die mense by die kaai en strand foto's neem. Sy is so fotogenies. Ons is verewig in die vreemdes se foto's.

Die son trek water
"The lookout"
Sonsondergang

Ons gaan miskien nie môre vaar nie, want daar is moontlik weer sterk winde.

Friday, May 17, 2013

Dubrovnik. Dag 20

Die wind het bly lê. Is seker moeg van al die gewaai.

Die kapteins huil in hulle hande. Hulle skoon bote is vol fyn vasklouende Sahara sand. Jy wonder seker nou of ons in die Sahara seil.

Die Sirocco is 'n wind wat van Noord-Afrika af waai. Hy bring dan 'n stukkie Afrika saam van die Sahara. Die fyn sand kom maak hulle dan tuis op die dek van die bote. Hulle klou dan met hulle sandkorrel-suiers vas aan al wat gleufie en plekkie is op die boot.

Dan vat die kaptein maar ewe geduldig sy tuinslang en spuit af en skrop van voor af. Archie glo my nie dadelik toe ek vir hom sê hoe vuil sy dek is nie. Die ooreenkoms is dat ek binne en hy buite skoonhou.

Hy is geskok toe hy sien ek lieg nie. Ons tuinslang is baie lank en Archie is nie lus vir die gesukkel met die lang ding nie. Dadelik vat hy sommer die emmer met die tou en skep water om skoon te maak. Hy skrop en sukkel en spoel en skep weer en weer. Maar Sahara klou.

Met die volgende skepslag, val die emmer se tou uit Archie se hand uit en ... sink. Nou is hy minus 'n emmer. Hy sug. Toe vat hy maar die tuinslang. Na harde werk is die dek weer skoon.

Later vat hy vir Dinkie en die duikbril om te kyk of hy nie die emmer sien nie, maar verniet. Die Marina water is te diep en troebel. Steeds minus 'n emmer.

Op soek na die emmer



Die weer lyk goed, behalwe dat dit mistig is en so nou en dan liggies reën. Die mense sien weer kans om te seil. Een vir een verlaat 'n paar bote die Marina.

Mistig


Ons gaan dorp toe en koop voorrade. Later gaan ons stap. En wat 'n geluk. Toe ons verby die asblikke loop, sien Archie 'n leë emmer. Nou is hy plus 'n emmer.

 Dis luilekker in die Marina. Ons rus heerlik. Dis miskien goed so, anders gaan ons onsself uitbrand.

Rustig in die "saloon"
Eisbein, slaai en vars brood vir middagete op die dek
Maja se helm en instrumente


Hier is 'n Google Earth kaart van die eerste 20 dae van ons roete vanaf Pivorac tot Dubrovnik.

Pivorac tot Dubrovnik

Thursday, May 16, 2013

Dubrovnik Dag 19

Ons slaap rustig in die veiligheid van Maja en die Marina. Die wind het nie in die nag gekom nie. Of anders het ons dit nie gehoor nie. Wat onwaarskynlik is, want ek slaap in die nag met gespitste ore.

Ons slaap laat, want ons het nêrens om te gaan nie. Ons skuil mos, want ons seil nie. Hier by ons is dit rustig, die wind waai net liggies. Miskien lyk dit anders op die see.

Ons wonder of die hele wind-ding nie maar net 'n gerug is nie. Toe begin die wind waai. Die bote is soos sardiens ingeryg. Gister laatmiddag het al wat leef en veral  beef kom skuiling soek by die Marina.

Soos sardiens ingeryg


Die wind loei en stoei. Die bote staan en skuur fender teen fender ('n fender is soos 'n baie groot en baie dik kondoom wat vol lug gepers word wat keer dat bote teen mekaar stamp en skuur).

Fender teen fender - Maja en haar buurvrou


Die toue wapper en klapper. Dit kreun en klap en kners, maar ons is veilig teen die wind. Dankie tog ons is nie nou op see nie. 

Die kapteins koop die tyd uit. Hulle is so besig soos miere. Beplan nuwe roetes. Maak alles wat net waag om effens stukkend te lyk, daar en dan reg.

Besig soos miere
Beplan nuwe roetes


Archie sit af bootwinkel toe om twee fenders en 'n part te koop wat hy nodig het vir een of ander reparasie. Hy sê die bootwinkel wemel van mans wat parte koop. Dis silwer goedjies en toue en skakelaars en ander goed wat ek nie weet waarvoor jy dit gebruik nie. Archie repareer vir die vale. Waar hy al die stukkende goed uitkrap, weet ek nie. Maar hy geniet homself terdeë.

Almal "skrop en polish" soos my ma altyd gesê het. Ek laat my ook nie twee keer nooi nie en kort voor lank skrop en polish ek ook. Geen kiem staan 'n kans om te oorleef nie. Maja blink van voor tot agter.

"Honeymoon suite" 
Gaste kajuit 1
Gaste kajuit 2
"Head" (Toilet)


Ons eet vanaand aartappels en pangebraaide inkvis.

Maja se klein kombuisie
Knoffel aartappels en pangebraaide inkvis


Die wind kom en gaan. Dit waai met rukke en stote. Dis voorwaar nie 'n dag om te seil nie.
Die Sirocco is beslis nie maar net 'n gerug nie, dis 'n vreesaanjaende werklikheid.


***

 Die wind het gaan lê...

Wednesday, May 15, 2013

Dubrovnik. Dag 18

Ons slaap heerlik rustig vasgemeer langs die kaai in Sipanska. Ek hoef nie eers my nagwaak te doen om te sien of ons nie in die nag wegdobber nie en droom die hele nag.

Ons begin 7:00 te vaar. As die wind vroeër kom as wat voorspel is, wil ons veilig in Dubrovnik (42º 40.237 N, 18º 07.447 O) wees. Dit is 15.17 myl (28 km) na Dubrovnik. Ons seil verby die Elaphite Eilande.

Elaphite Eiland met vasteland in agtergrond


Die see lyk kalm met 'n bietjie wind van voor. Op 'n stadium span ons seile, maar dit help nie, die wind gaan lê. Ek moet sê, ek verkies die lê-wind bo die waai-wind.

Brug by Dubrovnik


Ons motor al die pad. Ons kom 12:00 in Dubrovnik aan. Ek is verlig. 

Rivier op na Marina


Die vasmeer spasies in die Marina, is baie knap, maar ons meer maklik vas, want daar is net aan die een kant 'n boot. Die Marina is baie beskut en die wind is min. Ons het net bure aan die een kant. (Later "squeeze" daar nog 'n boot in 'n baie knap spasie in. Dankie tog dit was nie ons wat daar moes vasmeer nie!)

Maja veilig in Marina
Twee kerke oorkant Marina


'n Kat kom kuier vir ons. Ek noem haar Katsie, maar Archie jaag haar summier weg. Ek is sommer vies, want ek dink dit is nogal 'n oulike kat. Die kat laat my aan "huis" dink.

Katsie
.

Ek en Archie moet nou gaan stort, want ons het vyf dae laas ordentlik gestort. Nee, moenie so vreeslik gril nie! Ons het darem elke aand in die wasbak gewas.

Ons wag om te sien of die sterk wind, wat hulle voorspel het, rêrig vannag gaan kom.

Tuesday, May 14, 2013

"We are sailing". Dag 17

Vanoggend die groot besluit - bly ons of ry ons?

Gister se rowwe see is nog steeds in my gedagtes, en 'n bangheid sit in my keel. Archie kyk na "Wind Guru" op die internet. Vandag se wind is nie so erg nie. Môre is dit kalm in die dag, maar die Sirocco (Suid Oos) kom in die nag. (Woensdagnag).

Diè besluit - dit is kalm en ons sal kyk hoe die see buite die baai lyk. As die see kalm is, seil ons. As dit sleg lyk, bly ons.

Ons motor die 3 myl in die hoofkanaal tussen die eilande na die see. Die spanning voelbaar in die lug. Ons kom nader en nader. Ek kyk na die see in die verte.

Jeugelike tyding! Die see lyk wonderlik, vriendelik, glad nie kwaad nie. Verligting! Ons voel die wind. Dubbele verligting!! Die wind waai nie so erg nie. "Kaptein, span die seile..." En ons seil. Sonder bang, net lekker gemaklik seil.

Ons besluit, terwyl die weer goed lyk, gaan ons so ver moontlik seil, dat ons môre in Dubrovnik skuiling kan soek. Dan is ons veilig.

Ons seil na Sipanska Luka (42º 43.750' N, 17º 51.663' E) op Eiland Sipan sowat 15 myl van Dubrovnik.

Oppad na Eiland Sipan
Kranse oppad na Eiland Sipan
Hierdie man is haastig


Dit is 24 myl (43,2 km) na Sipan en ons èn die wind kom saam daar aan. Ons sukkel om vas te meer, want die wind waai. Maja praat tee, sy wil nie vinnig draai nie. Na 'n paar vreemde taal opdragte van die vasmeerman en onortodokse vasmeerbewegings, is ons eindelik veilig vasgemeer.

Maja is vasgemeer


Ons het vir die mense in die restaurant, goeie vermaak verskaf. Dan kry Arch nie gedraai nie. Die dieptemeter piep aanmekaar, want die water is vlak. Dan kry ek nie die tou getrek nie, roep vir Arch. Hy los helm, ek neem helm oor. Vasmeerman wat skree draai "starboard" toe. Ek wat in die geharwar nie kan onthou waar is "starboard" nie. Toe ons vas is, sien ek dat al daai mense se koppe is na ons toe gedraai. Wel, ek hoop hulle het die "show" geniet. En boon-op gratis!

 Ons gaan loop 'n bietjie rond in die dorpie en in die omringende heuwels. Natuurlik is daar 'n kerk. Ons kan sien lente is hier, want die velde is vol blomme.

Uitsig oor kaai
Sipan se kerk
Sipan se kaai


Ons bak pannekoek vir aandete. Wat 'n lekker dag!

Aalwyne vir my pa

Monday, May 13, 2013

Miljet. Dag 16

(Aan my familie - moenie dat ma dit lees nie)

Daar's wind. Te veel wind. Sterk wind. Arch besluit ons moet anker optrek en nader aan die see vaar om te kyk hoe staan sake aan die see se kant. Ek kry twee reddingsbaadjies uit, net vir die wis en veral vir die onwis.

Ons vaar weg uit die beskutte ankerplek. Ver voor sien ek hoe slaan die branders teen die rotse. Dit lyk soos by Wildernis in die Kaap.

Net vir die onwis trek ek my reddingsbaadjie aan. Ons wieg heen en weer. Ons kom al nader aan die rowwe see. Ek is duiselig van benoudheid, 'n regte banggat. Archie hou die helm (stuurwiel) stewig vas. Ons vaar in die see in. My hart mis 'n slag of wat. Of miskien klop hy te veel slae! Toe ons in die see is, besluit Arch dis te erg en moet omdraai. Ek huil amper. Hoe draai jy om in rowwe see?

Archie is 'n man wat kalm kan bly. Terwyl ek tien dode sterf (figuurlik), vat hy die helm nog steeds stewig vas en draai brander vir brander om, terug na veiligheid.

Die wind was nou so sterk in die ankerplek, dat ons vyf keer moes anker gooi voordat dit reg was. As jy anker gooi in sterk wind, is dit moeilik om die boot te beheer en om die anker netjies
te plaas. Ons het ook 'n "shore line" aan land gevat en aan 'n dik boom vasgemaak, net vir veiligheid.

Die wind het later bietjie bedaar en ons het gaan stap. Oppad het ons die Aussies raakgeloop. Hulle seil al agt jaar en is baie meer ervare as ons. Hulle sê hulle het ook vanoggend gaan kyk hoe lyk die see. Hulle het op die eiland gaan stap om te kyk of hulle moet seil. Die vrou se woorde was: "It was horrid!" Toe voel ek baie beter. Ek hét rede gehad om bang te voel.

Volgens windvoorspellings, is die Sirocco oppad en sal Donderdag stormsterk wees en jy moet skuiling soek. Dit sal die ergste in die nag wees. Ons het nou twee keuses. Ons kan by Mljet bly tot Sondag, want dan is die Sirocco uitgewoed. Of ons kan môre in redelike wind seil na Okuklje (15 myl, 27 km) en hoop die see is nie so onstuimig nie en tot Sondag daar bly. Daar is eintlik niks om te doen nie, maar hier kan ons darem gaan stap.

Ons sal môre kyk hoe lyk die wind en besluit wat ons gaan doen. Ons is 'n hele klomp bote wat hier op anker lê.

Sunday, May 12, 2013

Polace, Eiland Mljet. Dag 14, 15

Dis bewolk en lyk na reën. Die lug is vaal en daar is min bote op die water. Mens kan sien die seisoen is nog nie eintlik op dreef nie.

Sonsopkoms by Luka



Ons is oppad na die eiland Mljet, waar ons by Polace (42º 47.473' N  17º 22.355' E) gaan anker. Dit is 16,68 myl (28 km) wat ons moet aflê. Dit lyk dreigend. Donker grys wolke, ligte grys wolke, wit wolke.
Mljet lê ver voor, amper onsigbaar in die waas van reën en amper-reën. Op 'n stadium wil Archie seile span toe daar bietjie wind is. Ek is nie lus om te span nie en toe is Archie ook bewolk.
Ons motor die hele pad. Die wind het lankal weer gaan lê. Die sig is nie goed nie, maar Archie kry die pad met behulp van al sy speelgoed. (GPS, kompas, kaart, beskrywing in die boek).

Die sig is swak


Die ingang na die baai is vlak, maar Archie hou meesterlik op die regte koers. Ons soek ankerplek in die baie beskutte baai. Ons gooi die anker met gemak.

Maja op anker
Maja steeds op anker


Arch sit die motortjie op Dinkie en ons ry na die dorpie Polace toe. 
Speedboat!



Dis nie eintlik 'n dorpie nie, te klein. Ons koop ons kaartjies om na die klooster en soutmere te gaan kyk. Ons klim in die bussie en daar trek ons. By die meer kry ons die boot en gaan na die klooster.

Polace
Klooster St Marijan


Met ons terugkoms, koop ons 'n rou hoender. Ons wil Maja se oond uittoets. Die oond werk en die geur van geroosterde hoender, knoffel en roosmaryn lê die baai vol.

Oond toe

Die nag het ons 'n donderstorm, maar Archie slaap soos 'n flippen baba. Ek is op nagwaak om te kyk dat die wind nie ons anker loswaai nie. Dit voel of elke weerligstraal in ons boot wil inklim.
Wat 'n aaklige moedersnag.

Die volgende oggend skyn die son ewe skynheilig, so asof niks gebeur het nie. Ons gaan stap op die eiland. Daar is lekker stappaadjies. Ons eet 'n seekatslaai by 'n klein restaurantjie in Babine-Kuce.
Ons stap verder deur die bos. Te lekker. 

Stap langs die soutmeer, Velica Jezero



Na die stap is ek poot-uit en gaan slaap. Onthou, ek het die vorige nag nie geslaap nie.
Ons eet van gister se heerlike hoender vir aandete.

Gelukkige Moedersdag, Ma.