Thursday, April 11, 2013

Lente in Parys?


Hi julle sonskyn-mense. Partykeer skyn die son ook in Parys, maar nie vir lank nie. Ons begin al darem die atmosfeer van die stad kry. Dis snaaks as daar nie straatmusikante is nie. Ek dink hulle hiberneer nog, wag vir die son om hulle uit te broei.

'n Brokkie son by die Seine


Het ook al 'n mis in die Notre-Dame Katedraal bygewoon en die nonne in die Basilica du Sacre Coeur hoor sing. Soos engele sing hulle, sê ek jou.

Notre-Dame Katedraal

Parys het 'n magdom mooi ou geboue. Daar is 'n stuk geskiedenis in elke straat en om elke hoek en draai.

Hotel de Bethune Sully (Gebou in 1625)


Place des Vosges. Victor Hugo het in een van hierdie "pavilions" vanaf 1832 tot 1848 gebly.


Gisteraand in die koue gesit en wag tot die Eiffeltoring se ligte aangekom het. Tóé hou ek eers van die groot ou ding.  Jy sien, ek is meer 'n kerkmens.

Tour Eiffel (Eiffeltoring) in die aand 


Ons was ook in die Quartier Marais, besig om my voorsate te soek. Ek was mos hoeka 'n nooi Marais.

Gevind!

Terloops, Archie dra nog steeds sy hoed en neem so nou en dan 'n foto, as die weer dit toelaat.
Ek mis nog nie die skool nie en Archie mis glad nie sy werk nie.


Die Reisende Sigeuner (Begin eers in Mei seil)

Friday, March 22, 2013

Statistiek


Ek is nou deel van die statistiek. Werkloos! Het mos bedank. Archie, my onlangse eggenoot, gaan op pensioen. Hy het dit in sy kop gekry om te gaan seil. Ja, seil met 'n seiljag, op die see! Hy is die skipper en ek is die matroos. Ek sal nou moet leer vloek en suip.

MAJA

MAJA - My sigeuner "karavaan"
Hier is MAJA, ons 36-voet seilboot, wat my voorland  gaan wees vir 5 maande hierdie jaar. Van Mei tot September gaan ons deel word van die Adriatiese See, van Slovenië tot in Griekeland.