Tuesday, May 14, 2019

Knidos

13 Mei 2019. Maandag.

Mesundiye tot Knidos
Mesundiye is pragtig en vreedsaam in die vroeë oggendlig. Sommer lus om nog te bly. Maar ons is seilende sigeuners, die wapad is ons woning. So, hier gaan ons! Knidos, 11.6 myl, is vir ons 'n bekende plek. Ons was al talle male hier en ons hou nog steeds van die antieke ou stad se baai om in te anker. En toe maak ons so. Ons prrr vorentoe, altyd vorentoe.
Vroegoggend Mesundiye

Sullivan gooi vandag anker en hy moet die sandkol uitsoek. Die anker byt, maar ons eindig te naby die jettie en ons trek op. Die volgende probeerslag byt daai anker nie, maar "third time lucky", en ons is vas en veilig.

Sullivan gaan verken die antieke stad. Archie neem hom met die Dinkie kaai toe en kom terug na Maja. En Sullivan dwaal tussen die ruïnes van vergange se dae rond.
Archie op pad terug

Toe Sullivan klaar gedwaal het, roei Archie weer kaai toe en die makkers gaan stap berg-op. Ek kuier heerlik alleen saam met Maja in die baai. Ek durf die koue water aan en na 'n effense gedempte gilletjie kry ek my eerste swem van die seisoen. Koud, verfrissend en lekker. Geniet dit terdeë. My knieë vertel my dat die water koud is, maar ek meermin in die water rond. Daarna is dit 'n vinnige stort en voel soos 'n nuwe mens.

Die makkers kom terug. Die kaptein lyk maar gehawend. Hy wou 'n mooi foto vir vroulief neem, toe val hy vas in die pynbos, ek bedoel eintlik fynbos. Die persoon wat die woord "fynbos" vir dié plante gegee het, moet sy kop laat lees. Dis allesbehalwe fyn! Hulle het darem mooi foto's gekry.
Ou oorlogskiphawe (trireem)
Ou hawe

Die makkers besluit ook dat dit die ideale tyd vir swem is. Die water is weereens kristalhelder, pragtig. En die sout seewater ontsmet sommer ook al Archie se wonde.

Aandete is pasta en pesto met die son tussen die palmbome wat nog 'n dag vaarwel toeroep.
Sonsondergang


Monday, May 13, 2019

Mesundiye

12 Mei 2019. Sondag.

Serçe tot Mesundiye via Symi
 
Vandag is Moedersdag. Ek het mos nie meer 'n ma nie, maar gelukkige Moedersdag aan alle moeders, aspirant-moeders en non-moeders. Hoop julle geniet die dag!

Sullivan help om die anker op te trek en weg is ons. Die nuwe dag bring 'n nuwe tuiste en ons vertrek na Mesudiye, 29.7 myl. Dis heerlik sonnig, maar dit bly maar koel. Die genoa word gespan en ons motorseil vir 'n ruk. Die makkers geniet mekaar se geselskap.
 
Makkers
Motorseil
Verstekeling aan boord
 
Ons vaar vorentoe, altyd vorentoe. Maar vandag gaan ons met 'n ompad. Ons hou ons lywe roofkykers en gaan wys vir Sullivan hoe lyk Symi. Wat mos eintlik in Griekeland in. 

En ons roofkyk omtrent lekker! Symi is nog net so pragtig soos altyd. Sommer 'n lus vir die oog. Die haweman blaas sy fluitjie en wys 'n plek vir ons aan, maar ons beduie terug dat ons nie gaan oorbly nie, ons kyk net. 
 
Symi veerbootkaai
Symi
Symi
Kloktoring
 
Archie draai om en vaar uit die hawe van een van ons gunsteling dorpies. Toe vaar ons verder na Mesundiye deur die baie vlak Nemo Kanaal. Soms lyk dit of jy enige tyd die onderwater rotse gaan tref. Die water is kristalhelder. Ons kom darem ongeskonde deur en eindelik kom ons by Mesundiye aan.  Ons gooi maklik anker en is die enigste seiljag in die klein baai. 
 
Deur die Nemo Kanaal
 
Na ons Moedersdag middagete (wat die moeder self gemaak het), gaan ons land toe met Dinkie. Dis maar 'n klein vakansie plekkie waar Turke kom vakansie hou. Dis nog buite seisoen en heerlik stil hier en nie eintlik baie te sien nie.
 
Moedersdagete
 
Ons eet heerlike roomys op die muur en stap verder. Maja lê alleen onder in die baai. Die groot ou rotsberg hou wag. Dis eintlik pragtig hier.
 
Mesundiye Baai
Eet roomys
Mesundiye Baai
 
Ons geniet ons dag op anker hier in Mesundiye.

Sunday, May 12, 2019

Serçe

12 Mei 2019. Saterdag.

Çiflik tot Serçe
Çiflik lyk pragtig in die oggend en Sullivan verfraai die loopplank. Archie gaan koop heuning by die restaurant en hy betaal 40 lire vir die pot. Die vorige aand het Ali gesê dit kos 35 lire. Archie dog maar ons het verkeerd gehoor en betaal dit maar. Bietjie later kom Ali  en sê hy het die vorige aand vir ons gesê dit kos 35 lire, al is die prys eintlik 40 lire  en hy gee vir ons die 5 lire kleingeld. Sowat van eerlikheid het ons lanklaas gesien. Tien uit tien vir Ali. Hy help ons losmaak en ons vertrek na Serçe, 15.6 myl. 
Sullivan
Gus waai liggies en vriendelik en ons span die seile. Ou Sullivan is oudergewoonte agter die helm. Hy stuur te lekker met die seile wat wit en groot teen die hemele afgeëts is. Die kaptein is trots op sy seile en sy makker ook. Sullivan stel later baie nuuskierig ondersoek in en bekyk die seile van naderby.
Stuurman
Bekyk seile
"Old man of the sea"
So seil ons die hele pad. Vorentoe, altyd vorentoe. Die makkers geniet die seil omtrent baie. Dis eintlik heerlike lekker ligte seil met 'n ligte wind wat net reg waai en ons spoed is so 6 knope. Van sukke seil hou ek ook.

Serçe kom nader en daar is 'n ander boot op ons plek, maar gelukkig vetrek hy en ons gooi anker. Ons toets, maar iets is snaaks en anders. Toets die anker weer en ons is so half en half tevrede.

Archie en Sullivan wei die splinternuwe Dinkie in en sy het haar nooiensvaart. Archie sit die swembril op en Sullivan roei en as 'n span ondersoek hulle die anker. Toe kom hulle met die nuus dat ons anker aan 'n groot ankerketting vasgehaak het. Ons moet optrek en weer gooi. En natuurlik trek ons die ander ketting op, want hy sit vas aan ons anker!
Nuwe Dinkie gaan water toe
Ondersoek anker

Archie doen sy touding en bevry ons anker van die ankerketting. Altyd opwinding. Ons gooi weer anker, hy byt en toe kon ons ontspan. 
Bevry anker
Serçe is 'n pragtige baai en ons gaan land toe en stap. Die makkers ribbok boontoe en kry pragtige uitsigte oor die baai. Ek stap op my eie rond, herenig met die manne en ons roei terug na Maja. Die manne kry warm en durf die koue water aan. Archie spring eerste in en toe Sullivan. Die eerste swem van die seisoen!
Serçe Baai
Ou Marieks op nuwe Dinkie
Serçe Baai
Serçe Baai
Arch en ek
Roei terug
Eerste swem
Eerste swem
Ons geniet die baai en Sullivan merk op hoe mooi die baai vir hom is.

Saturday, May 11, 2019

Çiflik

10 Mei 2019. Vrydag.
 
Eerste dinge eerste. Archie en Sullivan trek die genoa op. Die swartwater moet uitgepomp word. Ons roep die marina om ons uit te kom help en pompstasie toe te neem. Archie maak solank die swartwatertenk oop. Maar o wee, dit wil nie oop nie. Toe is dit "hamer, spyker, slaan die spyker op sy kop", maar puur verniet. Die ding wil nie oop nie! Met behulp van 'n klomp verskillende gereedskap en twee perdekrag, weier daai silwer propding nog steeds om oop te gaan.
 
Dis na 'n behoorlike gesukkel en kragvertoon deur die twee makkers, wat simbolies op hulle knieë is, dat dit genadiglik oopgaan. Die propding het behoorlik vasgeïets gedurende die winter. Toe maak ons los, verlaat ons huis op die India kaai en vaar na die uitpompstasie toe, waar die pomper die nodige pompwerk doen. Toe vertrek ons na Çiflik, 11.9 myl, waar ons na Mehmet se restaurant kaai toe gaan.

 

Genoa is op

Sukkel met swartwatertenkprop

Pomper pomp

Swartwatertenk
 
Van seil is daar geen sprake nie, maar van reën wel. Die son kruip al weer weg, die wolke het die oorhand. So vaar ons voort, met Sullivan agter die helm. Hy is mos hoeka met die helm gebore, kan sy hande nie daarvan afhou nie.
 
Sterre in die oë
 
Çiflik kom nader en ek dink onwillekeurig aan Francois en Roelien, wat verlede jaar saam met ons hier in Ciflik by Mehmet's Place was. Lekker tye daai.

Ons man waai op die kaai en ons mik soontoe. Dis tradisie dat ons na Mehmet toe gaan. Jaar na jaar. Archie tru meesterlik, Sullivan vat die snoettou vorentoe en Ali help vasmaak. En ons eerste vasmeer van die seisoen loop goed af. Sullivan maak maar vir ons warm drankies, want dit is lekker koud. Te koud vir "cold beverages". Ail, die nuwe tipe van bestuurder kom stel homself aan ons voor. Hy is Mehmet se suster se dogter se man.
 
Mehmet's Place
Archie en Ali
 
Na 'n heerlike middagete, gaan stap ons en Çiflik bly maar mooi. Daar onder wag Maja, langs haar Duitse vriendin, op ons terugkeer.
 
Uitsig oor baai
Uitsig
 
Ons gaan stap verder, die vallei op. Die berge troon bo ons uit en ek besef weereens dat Turkye 'n baie mooi land is. Ai, dis so lekker om hier te stap. Langs die pad is 'n fontein waar jy kan stop en water drink. Bekertjie en als. Jy kan die fontein in die water proe. Pure "Turkish delight"!
 
Ons gaan stap
Drink water langs die pad
 
Ons eet so bietjie wit moerbeie langs die pad. Ou Sullivan was eers baie skepties oor of die moerbeie ryp is, maar toe proe hy die heerlike soet op sy tong. Te lekker!
 
Na 'n heerlike stort is ons aldrie skoon en pragtig en ons stap na Mehmet se restaurant vir ons aandete. Dis darem sukke gawe mense hier. Mehmet het afgetree en sy suster en dié se dogter met haar man, Ali, is nou aan die stuur van sake. Hulle maak tot vir ons 'n vuur. Te gesellig. Dis nogal koud hier in die geweste as die wind van die see se kant af waai.
 
Gaan uiteet
Op die kaai
Mehmet se mense
Kaggel-koud
Sullivan, Ali, Koray en Archie
 
Ek eet gebraaide seekat, Archie kies 'n geurige hoender kasserol en Sullivan eet Levrek (vis). Ons smul behoorlik! "Dankie Sullivan, dit was heerlik"! Ons kuier behoorlik lekker in die huislike restaurant en dit word 'n besonderse aand, wat afgesluit word met 'n bord vars vrugte. Wat 'n voorreg om hier te kan wees. Veral vir Archie, want dis kosbare oomblikke saam met Sullivan, sy ou skoolmakker.
 
Levrek