Thursday, October 4, 2018

Kutaisi. Toer.

3 Oktober 2018. Woensdag.

Dis alweer sukke tyd. Ons gaan op 'n dagtoer na twee kanjons en 'n grot. 10:00 laai die toermotor ons op en agterin sit reeds twee mooi jongmense van Switzerland. Die bestuurder kan nie Engels praat nie en 'n ander man ry vir 'n ent saam en verduidelik die toer en toe klim hy af. En daar trek ons. Net ons en die bestuurder wat nie kan Engels praat nie. Hy is bietjie ouer en bestuur nie lewensgevaarlik nie.

Eerste op die program is die Martvili Kanjon. Die ding om hier te doen, is om in 'n bootjie in die kanjon te vaar. Ons koop ons kaartjies en begin af te stap na die bootjies. Archie en die Switser roei en die stuurman sit agter en roei. Daar is sewe van ons op die rubberboot.

Die kanjon is 40m tot 70m diep. Daar is ook 'n waterval wat sommer so uit die klip val. Die water is 'n blou-groen kleur en dit voel so vreeslik rustig in die kanjon. Ons vaar rustig en dit lyk so vreedsaam met die ander bootjies wat ook met 'n klomp agies in die kanjon vaar. Ons draai om en gaan terug na die beginpunt.

Ons klim uit die bootjie en stap verder in die kanjon. Archie en die Switsers staan op die loopplank en bewonder die skoonheid van Moeder Aarde. Die groen mosbaarde hang aan die bome en die water vloei oor die klippe daar onder. Ons stap terug en sommer gou ons ons uur wat ons hier kan spandeer verby. İn die kar en ons ry verder.
 







 

Die volgende kanjon is omtrent 42 km noord-wes van Kutaisi naby die Zeda Gordi dorpie. Dit is die Okatse Kanjon.
 
Ons koop ons kaartjies en begin die 2.3 km stap na die begin van die kanjon. Die stap daarheen is pragtig. Ons loop tussen hoë bome op goed uitgelegde paadjies. Die Switsers loop voor ons. Ons het 2h30 min om die kanjon te besoek en te bekyk.
 
Stap tussen die bome

Op pad
 
Ons kom na 'n lekker lang stap by die kanjon en begin die stap op die loopweg. Hier is baie werk in hierdie paadjie gesit. Die pad bestaan uit hout en staal met handrelings. Baie veilig. As jy hier sou afval, val jy tot oormôre.

Ons loop op die kant van die 100m diep kanjon en bekyk die dieptes op die uitsigpunte. Daar onder kronkel die honger stroompie wat oor duisende jare die kanjon uitgevreet het. 

Uitkykpunt

Hang paadjie

Jy kan op die suspensieplatform loop en nog 'n beter uitsig op die kanjon kry. Die Switsers is daar en die Israeli's wil net foto's neem. Hulle poseer ook toe so ewe saam met my vir 'n foto. Twee gawe manne.

Toe is dit die terugtog. 'n Gids het gesê mens klim altesaam 1 000 trappe kanjon toe en terug. Ons loop en klim behoorlik vandag. Toe stap ons weer die 2.3 km terug na die motor waar die bestuurder geduldig vir ons wag en ons ry verder.

Hang platform

Ek en Archie

Toergroep

Ek en Israeli's

Suspensieplatform
 
Die hoogtepunt van die dag is die Prometheus Grot. Die grot is 1,4 km lank met ses groot grotkamers en 'n ondergrondse meer van 400 m. 

Ons begin ons staptog in die aarde se binnegoed. Die sementpaadjie is plek-plek baie glad, want dis nat hier binne. Dit het 'n hoë humiditeit en daar is 880 trappe in die grot wat jy moet klim. Ons klim behoorlik vandag trappe! Daar is 'n konstante temperatuur van 14° C.

Ons klomp stap saam met 'n gids en verwonder ons aan die stalagtiete en stalagmiete. Dis 'n sprokieswêreld. Die grotkamers is groot en prentjiemooi met al die vorms wat uit die dak van die grot hang en uit die vloer groei. Ligte van verskillende kleure verlig die grot.

Na die stap kom haal die hout motorboot ons en ons vaar die 400m op die ondergrondse meer. Wat 'n heerlike uitstappie. Hierdie grot is inderdaad indrukwekkend!
 








 

Ons klim in ons motor en ry huis toe. Die bestuurder het seker die huis geruik, want nou ry hy skielik vinniger. Hy bestuur nogtans baie veiliger en beter as die ander jaagduiwels waarmee ons al in Georgië getoer het.

Wat 'n heerlike opwindende dag! Die twee kanjons was totaal verskillend van mekaar en die grot slaan jou asem weg! 'n Uitstekende verskeidenheid.

Tuesday, October 2, 2018

Kutaisi.

2 Oktober 2018. Dinsdag.


Vandag gaan ons na Kutaisi. Dis eintlik ons laaste bestemming voordat ons terugkeer na Tbilisi vir ons vlug na Istanbul.

Ons klim 9:00 die bussie en daar trek ons. Die busbestuurder is 'n grapkas en ons lag lekker voor ons vertrek. Hy laai ons in Kutaisi af en 'n taxi neem ons na ons akkommodasie. 

Die woonstelblok lyk erg. Soos 'n plek waar ordentlike mense nie bly nie. My moed sak in my skoene toe ek die trappe sien. Hoe bly mens in so 'n plek? Die gasheer kom en sluit oop. En wat 'n verrassing! 'n Silwerskoon, netjiese plek. Met 'n skoon kombuis. Ek glimlag van oor tot oor. En daai gasheer is so vriendelik en praat baie goeie Engels. Ek voel sommer tuis.
 
Ons woonstelblok
 
Ons gaan dorp toe. Die operahuis is 'n ou gebou. Dié Georgië het baie geskiedenis.
 
Operahuis
Interessante muur
Detail
 
Toe gaan ons na die mark toe. Dis 'n groot mark. Dieprooi tamaties, groen krokodilvel komkommers en daar is tot roketblare! Ons kom op wilde sampioene af. En ons swig. Ons koop 'n handjievol vol en toe ons betaal, kos dit R100.00! Hoop net dis lekker.
 
Mark
Meel
Koop sampioene
 
Ons besoek 'n ou kerk. Daar is 'n diens aan die gang. Ek staan sku by die deur en luister met my serp om my kop gebind. 
 
Kerk
 
Daarna is die Bagrati Katedraal. Ons loop omtrent opdraende tot daar. Dis net trappe en daarna op opper opste pad na Ukimerione Heuwel. Toe is ons daar.

Die katedraal is in 1003 gebou deur Bagrat 111.  Dit het op vier pilare gerus. In 1692 het die Turke die katedraal opgeblaas en het die katedraal geruïneer. Dit is tussen 2009 en 2012 weer herstel met 'n mengsel van nuwe en ou stene én staal konstruksies.
 
Bagrati Katedraal
In die katedraal
 
Dis in 1994 deur Unesco tot Wêrelderfenisgebied verklaar. As gevolg van die staalkonstruksie in die restorasie van die katedraal, is dit nou op die Gevaarlys om afgehaal te word deur Unesco as gevolg van die staalkonstruksie. Maar dit bly 'n baie mooi katedraal. Veral as 'n bruid en haar geliefde daar staan met die katedraal in die agtergrond in die gloed van die laatmiddagson. 
 
Bruidspaar
 
Hierna gaan besoek ons die Botaniese Tuin. Hier is verskeie spesies bome en plante. Besonders hier in die tuin, is die groot hol eikeboom waarin 'n klein kerkie is. Ons dwaal in die tuin rond en sien die kerke in die vêrte, anderkant die rivier, asook ons woonstelblok.
 
Boomkerkie
Binne
Drink water uit put
Woef
Draadman
Herfsblare
Blomme vir my ma
 
Toe stap ons terug na ons suite en maak die sampioene gaar wat ons gekoop het. Dit word sasm met slaai bedien en sowat van smaaklike sampioene het ons lanklaas geproe. Dis geurig en heerlik!
 
Sampioene
Heerlik

Barjomi. Treinrit.

1 Oktober 2018. Maandag.

Vandag gaan ons trein ry. Daar is 'n Cockoo Trein (Kukushka) van Borjomi tot by Bukuriani, wat eintlik 'n ski-oord is. Ons klim die historiese trein. Dit het 'n lelike lokomotief en net twee trokke.
 
Cockoo Trein

In die trein
 
Die roete kronkel al langs die rivier, tussen die berge. Hier is vreeslik baie bome wat die mooi uitsigte op die berge verskuil. Ons ry stadig maar seker vorentoe. Stadig boontoe.

Mens kan sien dit raak herfs, want die bome staan in volkleur. Kwistig geverf deur Moeder Natuur se herfskwas. Geel-goud, brons-bruin, roes-rooi en sommige word oorgeslaan en is nog lowergroen. 
 
Landskap
Landelike Georgië
Landelike Georgië
Herfsblare snel verby teen 15km/h
 
Daar is 'n paar stasies waar die trein stop en dan klim 'n flambojant geklede stasiemeester op en wissel 'n paar woorde met die drywer. Dan ry ons verder.
 
Ou bouvallige stasie
Stasiemeester

Archie
 
Die roete gaan ook oor die Eiffel Brug wat ontwerp is deur Eiffel, die man wat Paryse Eiffeltoring ontwerp het. Die rit duur net meer as twee ure en toe is ons daar. Die toeriste weet nie eintlik in watter rigting is die dorp nie. Ons stap toe maar in die rigting waarin die taxi's ry. Die dorp is maar lelik

Ons koop vir ons 'n warm kaasding vars uit die oond en dis die lekkerste wat ek nog hier in Georgië geëet het. Ons het nou sl in baie lande getoer en Georgië maak die lekkerste deegkos.

Ons ry die bussie terug deur die boomryke woude en een ding is seker. Borjomi omgewing is pragtig!
 
Borjomi