Friday, September 28, 2018

Kazbegi. Juta staptog

27 September 2018. Donderdag.

Dit reën toe ons opstaan. Agge nee! Ons trek warm aan en ons reënbaadjies bo-oor. Archie het tot 'n langbroek aan! Ons stap maar skoorvoetend na die plek waar ons toer begin. Wie wil nou in sukke weer stap!
Geklee teen reën en koue
Ons hoop eintlik die toer is af, maar moenie glo nie. Almal daag op en een outjie speel siek en sê hy kan nie gaan nie. Sy truuk werk nie, sy sê sy kan nie sy geld terugbetaal nie, sy sit sy naam vir môre op en hoop hy voel beter dat hy kan gaan. Anders verloor hy sy geld. Dit kos 30 Lari (R150.00) per persoon.

En vyf van ons klim en daar trek ons na die Sno Vallei by Juta.  Maar daai man agter die stuur jaag. Ons verlaat later die teerpad en ry toe op 'n sopnat klein grondpad. Hy steek ander voertuie teen 'n stink spoed verby.  Toe spreek ek én Archie hom streng aan en hy ry toe veiliger.

Die mis hang oor die berge by Juta (2150m bo seevlak). Die dorpie is 'n buitepos van die Khevsur mense. Hier is steeds baie weermagaktiviteite in die omgewing. Snaakse weer hier. Dan sak die mis ons toe. Dan verdwyn dit. Dan wil-wil die son deurbreek. Dit reën gelukkig glad nie. 
Juta
Die eerste deel van die stappad is op en nat. Die klewerige modder klou aan ons skoene vas. Ek wonder al klaar hoe ek hier gaan afkom. Toe is ons bo by die Zeta kamers en kampplek. Verder aan is nog so 'n kafee en hut. Dit staan pragtig afgeëts teen die berg en mis. Baie dramaties.
Fifth Season hut
Eensame tentjie
Archie
Die manne van die weermag loop verby ons op pad na Juta. Die arme drommels dra hulle dood. Lyk vir my soos pakesels.
Pakesels
Ons kies die roete na die Chaukhi Meer. Die paadjie kronkel opwaarts. Die wolke kom en gaan. Die mis verskyn en verdwyn. En ons stap maar aan. Daar is nog redelik baie mense wat hier stap.
Pad no bo
Pad na Chaukhi Meer
Stappers
Stappers
Ruiters in die mis
Uitsig
Die meer is maar klein en niks besonders nie, maar die stap was heerlik. Ons begin die terugtog. Ons moet 16:00 by die bussie wees. Die mis na Juta se kant toe lig en die son breek deur. Dis pragtige wêreld hierdie.
Chaukhi Meer
Waterval
Begin van herfs

Die berge troon hoog in die agtergrond. Ons staptog is as't ware verby. 'n Ou tannie in swart geklee met 'n houtkierie stap by ons verby. Die gesig spreek van 'n moeilike lewe en baie ervarings. Sy kom seker van die dorp af en moet die moeilike pad stap na êrens. Dit laat my aan Laurika Rauch se liedjie dink. "Waar kom jy vandaan en waar gaan jy heen?" Ons kyk die eensame figuur agterna totdat sy net 'n spikkel in ons oë word.

Waarheen gaan sy?
Toe is dit nog net die laaste af waarvoor ek nie lus was nie, maar dit is toe baie makliker as wat ek gedink het. Af is ons en voel baie koud en honger.

Ons eet heerlike sop by 'n restaurant by Juta en klim die bus saam met ons medepassasiers en die jaagduiwel en ry terug na Kazbegi. Die weer wil-wil opklaar en vir die eerste keer kan ons sien dat ons berge in ons agterplaas het! 
Wat 'n heerlike dag!
Uitsig van ons kamer


Thursday, September 27, 2018

Kazbegi. Op pad.

26 September 2018. Woensdag.

Na 'n klomp dae verlaat ons die heerlike sonskynweer van Tbilisi. Dis maar 'n effens natterige oggend en ons saal op en stap na die metro en klim die trein na Didube busstasie en klim die minibus na Kazbegi. Die roete is bekend vir sy pragtige natuurskoon. En dis geen leuen nie!

Ons stop by Ananuri waar 'n ou fort met twee 17de eeu kerke is. Dis 'n pragtige voorbeeld van ou Georgiaanse argitektuur.
Ananuri Fort
Zhinvali Reservoir
Padstalletjies by Ananuri

Die volgende stop is by 'n pragtige uitsig op die berge. Dis mistiek mistig misterieus. Daar is ook 'n unieke en kleurvolle Rusland-Georgië Vriendskapmonument te sien wat in 1983 gebou is. Dit het groot teël muurskilderye wat die geskiedenis van Rusland en Georgië uitbeeld. Dié deel van Georgië is baie naby die Russiese grens.
Rusland-Georgië Vriendskapmonument
Uitbeeldings
Uitsig van monument
Ek en Archie
Hoed stalletjie

Die volgende stop is 'n yskoue mistige Kazbegi. Ons bibber omtrent van die koue toe ons na Nino's Guesthouse toe stap. Warm klere en reënbaadjies word uitgehaal en toe is ons gepantser teen die kou. Boereseun Archie hou egter sy gunsteling potsierlike blou Maja-broek aan! Ek kan sien almal kyk hom aan. Nou moet ons vreeslik vinnig loop, want daai beentjies kry koud.

Koue Kazbegi

Die dorp lyk koud en kil. Die toppe van die berge kruip vir ons weg onder die miskombers. Toeriste loop met dik baadjies en haastige treë om uit die koue te kom. Ons gaan eet middagete in 'n lekker warm restaurant. Twee Poolse vrouens wat saam met ons in die minibus gery het, is ook daar. Ons vra wat hulle eet, want dit lyk so lekker. Dit lyk amper soos 'n pizza, want dit  is in stukke gesny. Die jonge sê sy is versadig, ons die drie stukke kry. So gaaf. Dis heerlik! Dit het 'n kaasvulsel in. Ons deel toe 'n bord khinkali tussen ons, maar dis glad nie so lekker soos die kaasding nie.

Khinkali

Ons gaan bespreek 'n uitstappie na die vallei naby Juta vir môre en hoop maar net die weer is beter. Ons sal maar dik en warm aantrek.

Ek en Archie is taamlik uitgestysel van al die heerlike deegkos wat hierdie mense bak en gaan koop van die heerlike tamaties wat mens hier kry, 'n boere komkommer en eet slaai en 'n stukkie gerookte vark by ons gastehuis. Nou nie eintlik kos vir hierdie weer nie, maar ons smul behoorlik.



Tuesday, September 25, 2018

Mtskheta

24 September 2018. Maandag.
 
Ons stap metrostasie toe en ry tot by Didube stasie. Toe soek ons die regte marshrutka (mini bus). Dis 'n malhuis by die busstop. Al wat 'n taxibestuurder wil 'n rit aan ons afsmeer. Ons kry die regte bus en weg is ons na Mtskheta.

Mtskheta was die spirituele hart van Georgië sedert 327 en is as't ware die kulturele hoofstad van Georgië. Dis geleë waar die Mtkvari en Aragvi riviere mekaar ontmoet. Dit wemel van toeriste en hier heers 'n heerlike atmosfeer. Hier is ook 'n baie gewilde trouhuis, waar baie paartjies in die eg verbind word. Ons is gelukkig om op 'n pragtige bruidspaar af te kom.

Bruidspaar
 
Die Svetitskhoveli Katedraal soos hy vandag hier staan, dateer uit die 11 de eeu. Die oorspronklike kerk was baie vroeër gebou deur koning Marian. Daar word vertel dat 'n jood van Mtskheta, Elioz, in Jerusalem was tydens Jesus se kruisdood.  Hy het 'n kleed van Jesus na Mtskheta gebring. Sy suster, Sidonia het die kleed by hom gevat en is onmiddellik dood in 'n passie van geloof. Die kleed is saam met gaar begrawe.

'n Hele klomp monnike van Georgië is ook hier begrawe. Regtig 'n katedraal wat propvol geskiedenis is. Die katedraal is indrukwekkend binne. Swaar en solied. Ek verstom my aan al die pragtige muurskilderye.
 
Svetitskhoveli Katedraal
Katedraal mure
Kloktoring
Skilderye
Kruisiging
Archie
 
Die Jvari Katedraal staan op 'n berg, anderkant die rivier en jy moet 'n taxi neem om daar te kom. Ons beskou hom toe maar so uit die vêrte uit.
 
Jvari Katedraal
Langs die Aragvi Rivier
 
Die boek sê hier in Mtskheta moet jy bone eet en ons maak toe so. Dis bone in 'n kleipot. Dis geurig, maar ek en Archie is dit eens dat Macedonië se gebakte bone baie lekkerder is.
 
Eet bone
 
Ons dwaal deur die dorp. Kyk na al die tuisgebreide kouse, die handgemaakte poppe, die matte en lappe, die wynkraffies, die versnapperinge. Kleurvol en interessant.
 
Churchkali stalletjie
Matte en lappe
Straattoneel
Straattoneel
 
Dit was 'n heerlike dag in 'n kleurvolle dorpie wat vol atmosfeer is.

Davit Gareja

23 September 2018. Sondag.

Ons eet 'n heerlike ontbyt. Dit is 'n baie gewilde dis in Georgië. Hulle noem dit khachapuri acharuli. Dis 'n broodboot gevul met gesmelte kaas met 'n eier bo-op. Heerlik!

Khachapuri acharuli
 
Oorkant ons sit twee jongmanne. Vir ontbyt eet hulle elk 'n koffie, 'n bier, so pizza ontbyt ding, eiervrug met neute gevul en vra toe vir ekstra brood. Daai manne is honger hoor. Hulle sal my twee broers en swaer Fanie onder die tafel in eet.

Ons gaan vandag die kloosters van Davit Gareja besoek. Die jongmanne wat so lekker geëet het, is ook op die toer. Hulle staan boeppens-tevrede en wag saam met ons en die res van die skare op die bus. Ons ry met drie bussies. Die rit daarheen neem so 2h30min om daar te kom op nogal lelike paaie. Ons stop darem vir 'n bietjie bene rek.

Archie en ons bussie
Bene-rek uitsig

Op die grens tussen Georgië en Azerbaijan, is die antieke klooster kompleks van Davit Gareja. Dis een van die mees besondere historiese terreine van Georgië. Hy is ook hier begrawe.

Dis geleë in 'n semi-woestyn landskap wat in die somer verander in 'n groen blomryke oase. Daar was aanvanklik vyftien kloosters wat oor die afgesonderde terrein versprei was. Die besoekers sien net twee kloosters. Die pamflet sê hier is slange, adders, akedisse, sklippaaie en baie rare voëlspesies. Die adders pik net as selfverdediging, so moet asseblief nie op 'n adder trap nie.
 
Die een klooster is Lavra, wat nou reggemaak is en daar bly na bewering tien monnike hier. Lavra is gestig deur Davit Gareja. Hy was een van die twaalf of dertien Siriese Vaders wat in die 6de eeu van die Midde Ooste af teruggekeer het om die Christendom in Georgië te kom versprei. Die Mongole het die kloosters in 1265 vernietig.

Na nog 'n klomp aanslae en heropbou van die arme kloosters, het dit nooit weer hulle belangrike plek ingeneem nie. Tydens die Soviet era, het die weermag die area gebruik vir hul militêre oefening en die kloosters erg verniel.
 
Lavra Klooster
Lavra Klooster
Lavra Klooster
Grot oppad na Udabno Klooster
 
Die Udabno klooster bestaan uit 'n klomp grotte wat hulle gebruik het as kapelle, kamers vir die monikke en werkskamers. Frescoes uit die die 10de tot 13de eeu kan nog gesien word. Dit kyk uit oor die pleine van Azerbaijan.
 
Pleine van Azerbaijan
Udabno klooster grotte
Frescos
Fresco
Fresco
Udabno grot
Udabno grot
"Chapel of Resurrection"
Uitsig
 
Dit neem sowat twee tot drie ure om die sirkelroete te stap.

Dit was voorwaar 'n baie interessante stap om die kloosters én die omgewing te ervaar. Ons klim in on bussies en ry na Udabno waar ons aandete geniet. Ons eet 'n beesvleispastei. Nogal heerlik!
 
Kudari
 
Dit was 'n aangename uitputtende dag en ons is pê toe ons tuis kom in ons nuwe woonplek, wat toe pragtig is!