Friday, August 3, 2018

Tuzla Köyü.

1 Augustus 2018. Woensdag.

East Creek tot Tuzla Köyü

Ai, maar die dae is kort deesdae. Net sukke hanetreetjies om te vaar. Maar eers het die manne werk. Daar is 'n klein waterlek wat opgespoor moet word. Archie snuffel onder Dirk se bed om die probleem te kry en Dirk kyk toe. Archie se rug blink van die sweet.

Nat en Droog
 
Die probleem word opgespoor en opgelos en toe kan ons spore maak na Tuzla Köyü, 7.3 myl.

Gus waai liggies en ons span die genoa en motorseil. Ek en Dirk en Archie maak beurte agter die helm en Tuzla kom al nader. Ons soek na die 'n geskikte ankerplek, maar die eerste baai is vol bote. Daar is eintlik nie plek vir ons nie.
 
Op pad
 
Ons vaar na die volgende baai en eers n die derde baai kry ons 'n lekker ou plekkie en ons kry alles reg vir "line ashore". Ek gooi anker, Dirk tru en Archie staan gereed om te swem. Archie swem, maar die tou is te kort. Dirk maak 'n zeppelin knoop om die tou te verleng. Maar daai knoop lyk snaaks hoor! Glad nie soos Archie se knoop nie. Maar daar gaan die tou. 

Maar o weë! Die tou is skaars in die water, of die verdomde knoop gaan los. Nou is Maja ewe lossies en Archie staan met die tou. Diro swem nog 'n tou na Archie toe dat hy 'n knoop kan maak.Ek en Ina is alleen op die boot. Gelukkig maak die kaptein 'n knoop en ons dryf nie meer verder weg nie.
 
Maak onderwater knoop
 
Ai, as die wind gewaai het, kon dinge vandag baie moeiliker gewees het. Eindelik is ons vas en ons kan onspan.
 
Dirk en Ina swem met die lilo. Hulle sonbrand en geniet die somer, son en saffier. Ek en Archie swem met die noedels na die klein eiland en gaan aan wal. 'n Turkse weldoener neem foto's van ons by die Turkse vlag. Almal geniet dit om na die eiland toe te gaan en dit te verower. Dan loop mens ook op die klipperige sandbank. Ons swem die lang pad terug na Maja.
 
Op pad eilandjie toe
Bo-op die eilandjie
Op die eilandjie
Turkse paartjie
 
Dirk en Ina klim in Dinkie en roei eiland toe. Hulle verken dit en stap rond. Wat 'n heerlike middag.
 
Roei eilandjie toe

Lekker swem
Archie en ek


Yedi Adaları. East Creek.

31 Julie 2018. Dinsdag.

Küçük Çati tot East Creek

Na 'n vreedsame nag is dit weer opstaan en nog 'n nuwe dag aanpak. Die vroegoggend is vars en vrolik en fraai. Ons gaan land toe om die skoonheid van die baai van bo af te sien. Onder in die baai is die twee van Botswana heerlik besig om die baai op horings te neem. Ina swem luilekker in die loomwarm water. Sy dryf soos 'n blaasoppie op die see rond. Meermin se moses! Verbeel haar seker sy is in die Dooie  See. Dirk is nou weer besig met manewales op Maja se snoet. Hy verwelkom die nuwe dag met ope arms en toe duik hy!

Die kaptein bak vir ons plannekoek. Heerlik!

Vroegoggeng
Dirk maak reg …

… om te duik
Oggend swem
Kyk die seester
 
Toe maak ons gereed on te vetrek na East creek, by Yedi Adelari, 7.6 myl. Maar eers is dit al die toue losmaak en Dirk wat anker optrek en weg is ons. 
 
Op pad
 
Op pad sien ons  'n rob of twee. Hulle is maar skaam en hou hulle eenkant. 

Yedi Adelari beteken sewe eilande. Daar is verskeie baaie waar ons huisvesting kan kry. Ons keuse val op Eastcreek en obs maak gereed vir line ashore. Dis die gewone prosedure. Dirk tru, ek gooi anker en Archie swem. Ina beman die toue. En vas is ons.
 
Dirk leer van snubber
Herfsblare

Ag, wat 'n lewe. As jy warm kry, swem jy. As jy moeg geswem is, rus jy. As jy vaak is, slaap jy. Ina lê lui-lekker op haar lilo en eet neute. Botswana is vêr verwyderd van dié bestaan.

"Afternoon at leisure"
"Afternoon at leisure"
    

Küçük Çati

30 Julie 2018. Maandag.

Körmen tot Küçük Çati

Tot siens Körmen, jy het ons aangenaam verras. Ons sal weer kom. Ons maak gereed om te vertrek. Almal kry hulle opdragte en is slaggereed. Dirk moet afstoot, ek moet die middelste tou intrek, Ina is weer op gereedheidsgrondslag en Archie is agter die helm.

Alles verloop seepglad en weg is ons na Kuçut Çati, 24 myl. Ons motorseil 'n ruk en nog later vaar ons net. Die pad voel lank en langer en later langste. 

Eindelik kom ons by 'n baai aan en kyk vir ankerplek. Dit lyk maar vlak op plekke en dit voldoen nie aan ons standaarde nie. Toe gaan ons maar na Küçük Çati en kry 'n heerlike plek.

Ons maak gereed vir "long line ashore". Archie tru, ek gooi as anker en later neem Dirk die helm oor terwyl Archie land toe swem en duik met sy tradisionele sierlike boog. Na vele getrek van toue is Maja vas.

Dinkie neem ons land toe en ons stap in die bos. Stap bly maar my eerste liefde en ons almal geniet dit terdeë. Maja lê heerlik en stewig vasgemaak in die baai.
 
Maak gereed vir stap
Ek en Archie
Dirk en Ina
Inniebos
Ina, ek en Dirk
Küçük Çati
 
Ai, maar dis lekker hier in Turkye. Loomwarm dae, helder water, windstil aande, wat meer kan mens vra.
 
Lafenis

Dirk en Ina maak aandete. Heerlike biltong pasta met feta en ingelegde rooipepers.

Monday, July 30, 2018

Körmen Marina. Turkye.

29 Julie 2018. Sondag.

Knidos to Körmen
 
Dirk en Ina, die twee van Botswana, hou mos vreeslik baie van poseer. As hulle nie vir wêreldberoemde Turkse akteurs poseer nie, flankeer hulle al poserende met Maja. Pragtig!

Ina en Dirk
Ina en Dirk
 
Toe vat ons die pad na Körmen, 19.7 myl. Vandag is Redding Internasionaal dag. Ons sien iets pienk op die water. Wat kan dit wees? Ons vaar nader en ons fonds is 'n walvis. 'n Pienk walvis! Een van daai opblaas goed wat nou so gewild is. 
 
Oggendskoot - op pad
 
Archie begin die reddingspoging en Dirk staan gereed om dit uit die water te red. Na 'n probeerslag op wat is die pienk walvis aan boord.
 
Pienk walvis
 
Toe sien Ina 'n groen ding op die water wat ook daar en dan gered word. Ons is nou die trotse eienaars van nóg 'n opblaas lilo. Waar ons dié twee nuwe aankomelinge op Maja gaan huisves, weet nugter!

Toe sit ons die tog voort en daar is Körmen. Wat 'n verrassing is die marina! Dis nie meer 'n stowwerige konstruksie site nie! Dis 'n netjiese amper- marina. Met storte! Raai wie stort vanaand lank en duidelik. Ons is werklik aangenaam verras met dié Körmen.

Die marinaman beduie ons moet alongside en ons kry al die toue reg. Twee manne staan op die kaai om ons toue te vang. Archie vaar kaai toe, ek en Dirk gooi die toue en Ina is op 'n gereedheidsbasis om enige nodige afstoot te doen (wat glad nie nodig was nie).
 
Körmen Marina
Soek waterklep

Soos ek gesê het, die twee van Botswana is mos nie gewoond aan water nie en gaan swem dadelik op die strand. Daarna word ons getrakteer op roomys, koek en koffie. So dekadent!


















Sunday, July 29, 2018

Knidos. Turkey.

Palamut tot Knidos

Vandag gaan ons na Knidos, net 10.8 myl. Ons seil so bietjie, al kom die wind van voor en Dirk (en ons) oefen om te "tack". En uiteindelik kom ons by Knidos en gooi anker. Ou Dirk is agter die helm en hy tru (onder Archie se wakende oog), terwyl ek die anker gooi. En baie suksesvol byt daai anker en ons is vas.

Die twee van Botswana is mos hoeka nie gewoond aan water nie, en hulle swem soos konders in die helder water. Te lekker.

Lekker swem

Toe is dit vir Dirk en Ina tyd om die antieke stad van Knidos te besoek. Gus waai van voor en hulle durf die roei in Dinkie aan. Praat van vorentoe, altyd vorentoe.  In die geval is dit eintlik, vorentoe, altyd agtertoe. Die twee vorder maar stadig. Maar aanhouer wen en hulle kom tog by die land uit.

Dirk en Ins beskryf hulle besoek aan Knidos soos volg: 
Besoek aan Knidos-oorblyfsels van 'n antieke stad - met verskeie tempels, amfiteater en huise.
 
Wat 'n ondervinding om met Dinkie aan wal te gaan. Die wind van voor, geen ondervinding en met  'n paar "doughnuts" tussenin. Moeg geroei laaf ons ons dors met 'n koue bier van die Effesiërs!!
 
Roei agteruit




 
Marietjie soek foto's vir die blog. Dit noodsaak ons om 'n geselsie aan te knoop met 'n Turk en vra hom toe baie beleefd om 'n foto'jie van ons te neem. Die foto'tjie word toe ses foto's en 'n verskuiwing van die fotostel.
 
Ons durf die hoogste krans onder instruksie van ons fotograaf aan en daar sit ons en poseer. Na afloop van die fotosessie was ons verbaas om te verneem dat ons fotograaf, Erkan, 'n bekende Turkse akteur en regiseur is! G’n wonder ons moes heeltyd poseer nie!!!
 
Hoogste krans
Uitsig oor baai
Poseer
Knidos
Ina
 
Die ronde tempel was interessant en op ons pad uit, ontdek Ina 'n biegkamer. Ons bieg en beweeg aan. Lawe onsself weer met yskoue Turkse lemonade.
 
Ronde tempel
In die biegkamer
 
Die roei terug gaan vinniger, want ons kry die wind van agter. Dis lekker om die wind van agter te hê!!
 
Wind van agter
 
Die twee kom baie laat terug by die huis en dis tyd vir 'n skemerkelkie. So 'n lekker dag moet gevier word, en şerefe, op vriende en Knidos.
 
Die son sak altyd met kleurvolle grasie hier by Knidos. Dis asof hy die ouwêreldse prag en praal van die verre verlede probeer terugbring na die nou en hier. En ons is deel daarvan. Van die nou en die hier in die pragtige Turkye. 
 
Şerefe
Sonsondergang