Wednesday, July 4, 2018

Karavostasi. Folegandros Eiland.

3 Julie 2018. Dinsdag.

Manalonisi tot Karavostasi

Kyk, van hierdie Folegandros eiland het ek nog nooit gehoor nie. Tot hierdie jaar. Opgrawings het openbaar dat dié eiland bewoon is sedert 3000 v.C. Weereens is dit deur talle magte verower en in 1828 is dit verenig met Moeder Griekeland.

Maar eers vertrek ons van Manolonisi se pragtige ankerplek na Karavostasi, 20.5 myl. Ons vaar verder verby Poliagos Eiland, wat 'n onbewoonde eiland is. Mens kan nogal sien hoekom niemand hier bly nie, want dis net klip en rots.

Wit kranse

Rotsagtig
 
Gus waai reg en ons seil vir 1h30 min. Stadig, maar seker kom Folegandros nader. Geweldige groot rotse intimideer my, want hulle staan kolossaal grotesk sommer so in die see. Toring boontoe. Onherbergsaam en dreigend. Daar is ook die Chrysospiliá grot teen die hang. Dit was blykbaar 'n plek van aanbidding. Dertig klein trappies is van die see se kant af in die rotse uitgekap om die grot te bereik.
 
Trots op sy seile
Chrysospiliá Grot
 
Ons vermy eers 'n paar rotse en toe lê die hawe voor ons. Die Port Polisie blaas hard op haar fluitjie en skree om moet vinnig vasmeer, want die veerboot kom om die daai. Gus waai, Archie tru en ek gooi anker. Alles in staccato. Ek besef die ketting gaan te min wees en ons moet op tou gaan. Fanie weet hoe bang ek vir daai tou is (veral nadat ek daai tou by Nafplio moet gryp en die riool op my gespat het). Ek druk die knoppie tot die laaste ankerketting skakel verskyn, sit my pendant neer en toe die swart tou uit die opening verskyn, gryp ek dit en sit dit om die cleat om dit te beheer. 'n Man vang die toue op die kaai en ons is vas.
 
Karavostasi
 
Alles beweeg hier op die kaai. Gus waai, veerbote kom en gaan, die see is nooit stil nie. Maar hier is ons! Ons maak klaar om die bus na Chora toe te klim. Dis die hoofdorp van die eiland. Aan die een kant van Chora is die huise op verikale kranse gebou. Dis hoog. Doer onder lê see wat teen die rotse  klots.
 
Huise op kranse
Hoogtevrees
See doer onder
 
Die Chora is omtrent 'n oase in die barre landskap. Pragtige basiliekruid groei in oordaad. Blompotte vol tuin staan oral rond. Rein en wit is die huise met hul veelkleurige vensters en deure en ons stap in die strate rond. Daar is sulke terrasse teen die steil berghange waar hulle seker soms probeer om iets te plant. Of dis kampe vir bokke.
 
Winkelstraat
Chora
Terrasse
 
Soos gewoonlik is die kerk op die berg. Die Christene was seker baie fikse mense! Hoog en wit skitter dit in die son. 
 
Wat 'n lekker uitstappie. Ons klim die bus en ry terug huis toe. Na die kaai waar die see altyd beweeg.
 
Kerk teen die berg

Tuesday, July 3, 2018

Manolonisi. Poliagos Eiland.

Pirgonisi tot Manolonisi via Psathi

Die storie van my lewe. Anker op en weg is ons na Manolonisi, by Poliagos Eiland, 4.2 myl. Ons vaar eers verby Psati om te kyk hoe hulle hawe lyk. Lyk na 'n lekker ou plekkie.

Toe is dit net 'n hanetree na Manolonisi waar ons gaan anker. Dis 'n pragtige baai met deurskynende water. Ons gooi die anker in die sand en hy byt laat dit bars. 

Dis 'n gewilde swemplek en klein en groot bote kom en gaan. Selfs een van daai oorvol kommersiële seilbote vol lywe kom hier swem. 
Oorvol jag
Ek en Archie gaan land toe en van bo af is dit eers mooi. Maja en haar vriendinne lyk elegant in die turkoois water. Gus swaai hulle liggies op die maat van sy blaas rond. Oorkant in die vêrte lê die eilande rustig gebed in die blouselblou see.
Die rotsformasies is baie interessant in die geweste. So asof 'n reuse hand dit uitgekrap het. Met mooi kleure. Ai, dis lekker om hier rond te stap. 
Pêreltjie
Later is daar ses jagte wat hier in die baai oornag. Kort-kort klink 'n lag op. Oral sit met op die dek en kuier en geniet hul aandetes. Ons eet lekker ouzo hoender wat die kaptein gemaak het. Wat 'n lekker dag!

Monday, July 2, 2018

Pirgonisi. Kimilos Eiland.

1 Julie 2018. Sondag.


Adhanas tot Pirgonisi

Milos is inderdaad is mooi eiland. Ons vaar uit die groot baai. Regs van ons lê die klein visserdorpie, Klima. Hier het elke huis ’n boothuis, amper soos ’n motorhuis, waarin die visserman sy boot bêre as die weer baie sleg is. Dis baldadige kleure. Rooi, blou, groen deure kleur die prentjie in. Bo teen die heuwel is Plaka, die chora en die graftombes.

Klima met Plaka agter op die berg
Boothuise onder

Ons vaar om die hoek na Pirgonisi, 12.2 myl. Hier kan mens verseker sien dat hierdie Milos eiland ’n vulkaniese eiland is. Daar is die mooiste, interessantste rotsformasies te sien. Hulle toring sommerso uit die see  en daar is 'n beeld in elkeen te sien. Sommige lyk soos mense, ander soos hase en ander diere. Die kleure van die rots is ook mooi. Oral is ook warmbronne as gevolg van die magma onder die aarde. Daar is ook nog minerale en daar is baie oopgroef myne aan die oostekant van Milos Baai.






Kaptein

Toe vaar ons vêrder na Pirgonisi, sommer ’n doodgewone baai. Af gaan die anker en ons is tuis. Die water is kristalhelder en swem is ons voorland. Mens kan sukke water glad nie weerstaan nie. Hierdie Cyclades is tog nie so sleg nie!

Pirgonisi Baai








Sunday, July 1, 2018

Plaka. Milos Eiland.

30 Junie 2018. Saterdag.

Ons klim die 8:30 bus en ry na die chora, Plaka, bo-op die berg. Ek geniet dit vreeslik om land-in met die bus te ry. Ons word afgelaai en hier is ons in die pragtige Plaka.

Luilekker lê
 
Ons begin sommer dadelik die tog na bo. Kasteel toe. Sommige van die trappies is regtig steil. Halfpad stop ons by 'n spierwitte kerk. Dit bekoor my sommer dadelik. 
 
Trappe na kasteel
Halfpad
 
Nog opper en bo-op die berg is nog 'n groot kerk. Jy kan baie vêr sien van hier bo af. Pragtige uitsigte in alle windrigtings. Van die kasteel is daar nie veel oor nie. En oral is nog klein kerkies. Waar is Elize nou! Sy sou dit baie geniet het.
 
Uitsig oor Plaka en Milos Baai
Uitsig
Landerye
Op pad af
 
Ons stap terug en verken Plaka. Dis 'n pragtige chora en ons drink koffie en eet lemoenkoek by 'n pragtige restaurant. En was daai koek lekker! 
 
Katolieke kerk
Wag vir koffie en lemoenkoek
Pragtige Plaka
Skakerings in blou
Interessante huis
 
Volgende op ons program is die katakombes. Ons stap daarheen. Wat 'n lekker stap. Ons stap verby die plek waar die wêreldbekende standbeeld, Venus de Milo, ontdek is. Die antieke teater is ook in die omgewing, asook die St Nikolaas kerk. Ek geniet my gate uit tussen die ouwêreldse besienswaardighede en kerke. Onder, amper in die see, lê die klein vissersdorpie, Klima.
 
Beroemde Venus de Milo standbeeld is hier ontdek
 
Ons kry 'n kort toer deur die katakombes. Hierdie katakombes word gereken as van die besonderse in die wêreld.  Die Christendom het die 1ste tot 5de eeu n.C. hierheen gekom. Hierdie graftombes is gegrawe om die afgestorwenes in familiegrafte te begrawe. 

Daar is drie afdelings ontdek en is ongeveer 200 m lank in totaal. 2000 Christene is in die 291 tombes begrawe. Daar was ongeveer vyf tot sewe mense per tombe. Baie interessant.
 
Ingang tot katakombes
Een van die gange met muur- en vloertombes
 
Ons stap deur Tripitis terug Plaka toe waar ons weer die bus kry. Ons het omtrent die uitstappie geniet. Die stap, die uitsigte, die chora, die kerke en die graftombes. Ons klim die bus en ry moeg, maar tevrede terug na Adhamas.
 
Kerk in Tripitis
Hoekhuis in Tripitis
 
Maja staan nog steeds baie veilig vasgemeer in die hawe.

Saturday, June 30, 2018

Adhamas. Milos Eiland.

29 Junie 2018. Vrydag.

Rivari Baai tot Adhamas
 
So skuil ons vir drie dae en drie nagte op anker in een van die baaie in Ormos Milos. Oral in al die baaie wat veilige skuiling bied vir suid-weste wind, skuil Maja en haar susters in verdrukking. Almal hoop op dieselfde ding - die anker moet hou! Die wind moet gaan lê.
 
Rivari Baai
 
Die berg agter ons het nog stééds sy hoed op en die Groot Griek (dis nou ons ander pilot boek) sê die wind sal nie gaan lê voordat die wolk weg is nie. En dis toe wraggies die waarheid. Eers die die wolke opklaar en die lug weer blou word, gaan lê Gus.

Donderdagnag begin Gus bedaar en die storm is verby, tot almal se groot vreugde. Dit waai nog, maar nie so sterk nie. Die Vrydagoggend is daar weer beweging in die seiljaggemeenskap. Almal kruip uit hul gate uit en sit hul roete voort. Ons roete lei na Adhamas 3.2 myl, die hoofdorp van Milos Eiland en is ook in Ormos Milos. 
 
Adhamas
 
Ons maak aan die suidekant van die kaai vas. Dis die kant wat meer oop is vir suid-weste winde. Die noordekant, wat baie meer beskut is, is nog vol jagte wat hier teen die wind geskuil het. Tydens die storm, was die suidekant baie gevaarlik. Almal wat daar vas was, het die kaai verlaat en gaan anker. Vas is ons en ek hou die wind en see maar met 'n houtoog dop. Bang die see word weer groot.
 
Suidekant van die kaai
 
Later vertrek baie jagte en ons trek anker op en meer net aan die anderkant van die kaai vas. Baie goeie besluit van die kaptein. Nou staan Maja heerlik stil en ek het rus vir my siel. Later die middag begin die middagbries te waai en die arme bote waar ons eers gestaan het, dans en bons behoorlik op daai kaai rond. So dankbaar dat ons geskuif het. 

Dis tyd vir wasgoed was en Maja se drade pryk met silwerskoon wapperende wasgoed. Archie lag altyd vir my (en Elize) as ons die wasgoed so deeglik vaspen. Dis altyd gereed om die ergste wind te kan trotseer. Ons wasgoed sal nie in die see beland nie! Ek sê altyd: "Maak altyd reg vir wind en reën!"
 
Adhamas hawe
Reg vir groot wind
 
Adhamas is 'n tipiese Cyclades dorp met 'n vreemde bekoring. Wit huise op 'n barre eiland. Ons stap rond en geniet die dorp. Kerkmens wat ek is, stap ons natuurlik weer al die trappies op na die groot wit kerk. Al die gestap maak ons honger. En daai gyro was heerlik. Dit was die moeite werd on hierheen te kom, te sterk wind te trotseer en kaai toe te kom. Om weer op land te kom. Om weer bietjie sorgvry te wees.
 
Eet gyros
Trappe na die kerk

















Kerk
 Die aand slaap ons kommerloos, sonder die geloei van Gus in ons ore. Vas en veilig.