Tuesday, June 19, 2018

Zoyioryia Baai

17 Junie 2018. Sondag.

Nafplio tot Zoyioryia Baai

Ons hou geheime stemming. Waar gaan ons volgende heen. 1) Porto Cheli dorpskaai, 2) Porto Cheli anker, 3) Spetsai anker.  Op drie moet almal hul vingers opsteek. Een, twee, drie! En die uitslag is - 2 stemme vir Spetsai (Elize en Archie), 1 stem vir Porto Cheli kaai (Fanie) en 1 stem vir Porto Cheli anker (ek).

Fanie trek die anker op en weg is ons na Zoyioryia Baai, 24 myl. Dis 'n baai met lowergroen bome en turkoois blou water. Na die tweede probeerslag byt daai anker en ons het 'n nuwe tuiste. Dis sommer net 'n rusdag. 'n Niksdoen-dag.

Zoyioryia Baai
Reuse seilboot

My oor suis en druis nog steeds, maar Elize swem so lekker, ek besluit ek swem saam. Die water is net so heerlik as wat dit pragtig is. Elize kan behoorlik nie klaar geswem kry nie. Sy swem tot sy krokodilvel het.

Reg vir swem
Swem te lekker
Maja se mense
Fanie en Elize
Fanie en Elize

Fanie lê skuins en Archie lees boek. Elkeen is op sy eie stasie. So 'n afdag is net wat ons nodig het. Elize maak spagetti maalvleis en ons eet omtrent heerlik.

Monday, June 18, 2018

Nafplio

Astrous to Nafplio
Verlede jaar kon ons nie na Nafplio gaan nie. Daar was net nie tyd nie. Daai kasteel roep my naam. Dan moet jy maar luister en daar trek ons na Nafplio, 10.5 myl. Ons vaar verby die Venesiese fort op Bourtzi Eiland. Pragtig.


Fanie op pad na Nafplio
Bourtzi Eiland

Daar is baie plek by die hawe en na 'n bietjie redekawel, tru Archie ek ek gooi anker. Maar o weë! Ons is te vêr van die kaai af. Die ankerketting is op en ons gaan op die tou. Toe ek die tou gryp om dit om die "cleat" te sit, tref die oorvloei van die toilet in die ankerkas my tussen die oë. Daai tou is toe deurweek met nommer een en twee! 

Ek lyk en ruik of ek in 'n drein geval het. My hande, my klere! Mensig, die stank! Die tou is in elk geval te kort en ek moet anker optrek om weer te gooi. Ek trek 'n suur gesig. 

Archie tru weer en ek gooi weer. Dit lyk vêr! Die keer staan Fanie gereed om die stink tou te gryp om aan die "cleat" te maak as die ankerketting weer opraak. En sowaar, weer te vêr. Fanie gryp die tou, maak vas en die blêrrie tou gaak aan Dinkie se tou vas. Sowat van sukkel! Ons is weer te vêr van die kaai.

Die manne op die kaai staan geduldig en wag om ons agtertoue te vang. Weer optrek en weer gooi. Hierdie keer is dit net-net genoeg en ons is uiteindelik vas. Die swaers stry eers oor die bron van die stank. Sê dis modder en seegras (wat wel in die ankerkas is). Hulle was die dek voor met seewater en die ankerkas word behoorlik uitgespoel. 'n Spesimen word ontleed en dis nommer twee.

Ek moet sê, in die hele gedoente is ek ware matroos. Ek dink ek sal my mond ook moet uitspoel. Toe is alles skoon, gaan ek stort, die swaers spring in die see om skoon te kom. Ons ruik toe beter.

Maak ankerkas skoon

Nou vir die hoogtepunt. Kasteel, hier kom ons! Jy moet 999 trappe klim om bo by die kasteel uit te kom. Die swaers loop ligsvoets en die susters se tonge sleep. Hierdie  ruïnes is behoorlik indrukwekkend. Archie en Fanie stel nie belang om die €8 te betaal om in te gaan nie.

Dit reën liggies, maar ek en Elize begin die verkenningstog. Ons skuil totdat dit ophou reën. En toe pak ons daai kasteel aan. Dis reeds v.C. al bewoon. Elize se opgewondenheid het geen perke. Elke bastion, muur en uitsig word bewonder. Die enorm groot en neem lank om te verken. 

Die tronk was seker stikdonker en skrikwekkend. Dit is langs die kerkie, nogal ironies. Die een bastion wil mooier wees as die volgende een. Indrukwekkend is dit inderdaad!

Op pad na kasteel
Palamidhi Kasteel
Swaar weer
Dreigende wolke elders
Naby tronk

Trappe na tronk
Binnehof
Elize in die bastion
Bastion 
Ek
Elize
Loergat
Bourtsi Fort vanaf kasteel

Uitsig oor dorp

Die arme swaers wag lank. Fanie loop later, maar Archie wag maar geduldig vir ons. "Baie dankie, Archie." Volgende keer sal ons maar alleen gaan, dan hoef hulle ons te wag nie. Ons loop die 999 trappe af. Dis behoorlik af affer afste.

Nafplio is 'n dorp met karakter en Elize oorreed my om saam met haar in die treintjie te ry. Dit vat ons deur die hele Nafplio. Allerande interessante plekke word uitgewys. Die swaers probeer rugby luister, sonder sukses. Hulle kry wel die tellings.

Leeu

My linkeroor is nog steeds toe. Dit suis nou al in kanon. Ek gooi nou al vir 6 dae druppels om die was sag te maak en vanaand gaan Archie my oor uitspuit. Hy is breedvoerig ingelig wat om die doen. Ek voel soos 'n slagoffer en Dr. Archie en suster Elize staan gewapen met die spuit. Na talle probeerslae gooi ons handdoek in. My oor bly toe. Agge nee!

Spuit oor skoon
Heerlike dag loop ten einde

Sunday, June 17, 2018

Astrous

15 Junie 2018. Vrydag.

Leonidhion to Astrous

Dit was nou omtrent nou 'n winderige nag. Gus het hom gate uit geniet. Ons was veilig vas teen die kaai.

Op pak en gaan. Dis die lewe van seilende sigeuners. Altyd op pad. Ons gaan na Astrous, 18 myl. Van seil is daar nie sprake nie. Gus lê.  Maja prrr rustig ritmies vorentoe. Altyd vorentoe. Elize en Fanie staan op die dek en bewonder die verbygaande landskap. Hierdie Pelaponnisos se berge is mooi! Ons vaar verby die drie windmeulens van Tiros.

Elize
Elize en Fanie
Ou windmeulens naby Tiros

Astrous is eintlik 'n lekker vakansie plek. Die hawe bied ook meer as genoeg skuiling vir die bote. Met die aankons heet die kasteel op die heuwel ons welkom en ek sien al klaar die vonkel in Elize se oë. Sy is mos lief vir die ou goed.

Astrous

Archie tru, ek gooi anker en Elize en Fanie help met die agterste toue. En vas is ons! Die Le Roux's is dadelik dorp toe soos ware toeriste. Wil mos altyd alles dadelik bekyk. 

Later gaan almal kasteel toe. Dis deur die Venesiërs gebou. Dis heerlik om tussen die ruïnes rond te loop en jou verbeelding te laat gaan. Ek soek modelle om in al die boë vir my te poseer. Maar sowat van steeks donkies het ek lanklaas gesien. Ek moet hulle behoorlik blink lek. Toe wip ek my en maak my eie model! Almal hou hou toe maar hulle onwillige lywe model.



Ligtoring

Bastion
Swaers
Susters
Ek en Archie
Uitsig oor Astrous

Veral ek en Elize geniet dit om tussen die gebreekte mure en stukkende huise en die boë rond te loop. Archie en Fanie loop maar saam, net uit die liefde van die saak. Drie hoera's vir hulle!

Ons stap af, terug na Maja en koop roomys. Heerlik koel op die snikhete dag. Dis omtrent lekker om in die dorp rond te dwaal en ek geniet dit meer as verlede jaar. Vreeslike mooi deure verfraai die dorp. Ek hou van Astrous.

Deur
Blou deur

Friday, June 15, 2018

Leonidhion

14 Junie 2018. Donderdag.



Ieraka tot Leonidhion

Ons het omtrent lekker geslaap en reg vir die lang dag na Leonidhion, 25 myl. Die autopilot is mos stukkend so ons kry elkeen 'n halfuur beurt om te seil.  Fanie geniet dit vreeslik en tot Elize hou ons op die regte koers. In die verte duik 'n dolfyn en vedwyn in die niet.

Tot siens Ieraka

Fanie vat die helm
Op pad

Elize
Myl vir myl kom ons nader die hawe wat se bodem sand, seegras en rotse is en nie so goed is vir anker en kaai toe tru nie. Ons maak reg vir alongside. Toue word reggekry en Fanie word noukeurig ingelig hoe hy met die tou moet afklim om vir Maja aan die kaai vas te maak.

Alles verloop glad. Fanie klim soos 'n verspringer af en maak vas. Elize keer met die boothoek af waar nodig en die kaptein is agter die helm. Spanwerk duisend! Vas en veilig en tyd vir koue drankies wat Elize vir ons skink.
Leonidhion
Leonidhion kaai
Elize en Fanie gaan swem by die strandjie. Hulle sit soos verliefdes op die strand. Ek is seker Elize druk haar tone in die sand en draai hulle dan rond. Die water is heerlik en ek swem sommer by Maja.
Gaan swem
Ons kry 'n taxi en gaan na die groot dorp van Leonidhion toe. Dis 4 km van die hawe en is aan weerskante van die rivier gebou. Die rivier is gewoonlik in die somer droog. Die dorp is pragtig en lê aan die voet van 'n reuse berg. Soos gewoonlik dwaal ons in die strate rond. Elize geniet mos sukke dorpies baie. Ons meisies is sommer baie vrolik en verspot. Archie is maar droog en kyk ons net so en ek wil eintlik nie weet wat hy dink nie. Soos gewoonlik loop Fanie vooruit om die plek te verken en doen dan verslag. 

Ons sien 'n snaakse plant wat die blom van 'n grenadella het, maar dit het soet rooi pitte binnekant. Ons wonder of dit nou familie van die grenadella aan die ma se kant is, of aan die pa se kant!?

Dis baie warm en ons ry maar weer met die taxi terug. Archie maak vir ons heerlike ouzo hoender. Geurig en lekker. Ons gaan slaap en ou Gus waai nou behoorlik in die nag. Hy spring van die hoë berg agter ons af en val dan op Maja. G'n wonder die Duitsers noem die windvlae "falboon" nie!
De Deur
Uitsig oor Leonidhion
Kerktoring
Kerktoring
Lawwe susters
Grenadilla?
Pitsweer-susters