Sunday, May 27, 2018

Kalamata

25-26 Mei 2018. Vrydag en Saterdag.

Petalidhion tot Kalamata

Die son bring die nuwe dag as 'n geskenk vir ons om voort te bestaan. Archie trek die anker op en soos wat verlede jaar ook met ons gebeur het, trek hy ook 'n tou met met voerplekke of iets op. Hy sny dit maar later met 'n mes, want dit hou nie op met kom nie. Toe is ons vry om te gaan en om voort te bestaan. 


Sukkel met ou vislyne

Ons vat die pad na Kalamata marina, 9.3 myl. Die marina man wys ons plek en Archie tru pragtig, ek gryp die snoettou en die marina man maak agter vas. Hier gaan ons vir twee dae bly.

Die dieselman met sy trokkie is dadelik daar en ons gooi in. Archie vra vir een van die ander helpers waar is die wasmasjiene en hy sê sy vrou doen wasgoed vir €15 vir 9kg. Dis duur, omtrent R200.00. Ek wou sommer self was, maar die man vat nie nee vir 'n antwoord nie. Ek kry toe maar alles bymekaar. Dis Sullivan se beddegoed, ons beddegoed, al die handdoeke, kussingslope, klere. 'n Groot bondel. En hy is toe vort met die goed.

Archie besluit ons kort nuwe huis batterye, want ons oues kan nie die yskas oornag aan die gang hou nie. Hy doen navraag by die marina kantore vir ’n geskikte batterywinkel en ’n man van marina daag by Maja op om ons te help. Hy laai Archie agterop sy bromponie en weg is hulle batterywinkel toe. 30 minute en €580 later kom hulle terug. Die batterye kom later met ’n motor aan. Die marina man hulp om die nuwe batterye op Maja te bring en die oues uit te haal. Hopelik is ons nou reg vir die volgende paar jare.

Ek en Archie stap vêr LiDL toe, so 1.7 km en koop te lekker. Ons dra swaar aan al die heerlikhede wat ons aangeskaf het. Toe is ons spens weer vol. Winkels is nie volop in dié geweste nie. As daar ’n LiDL is, moet jy koop!

Die volgende dag stap ons weer vêr na die ou dorp toe. Die roete neem ons deur die park waar die spoorwegmuseum is. Ou lokomotiewe en waens staan swaar en trots op ou spore, sierlike bewyse van vergange se dae. Hier is baie kwekerye en die lenteblomme is in volle blom. Dis behoorlik ’n skouspel van kleure. Dit laat my aan my ma dink.

Gaan dorp toe
Spoorwegmuseum
Dink aan my Ma

Saterdag is markdag en dit wemel van kopers en verkopers. Plomp tamaties, vars appelkose. Én dis kersieseisoen! Groente, vrugte, vis, vleis en alles waaraan jy kan dink. Te veel om te koop. Mens móét in die dorp met die naam, Kalamata, olywe koop! Toe koop ons maar!


Boeremark
Dit wemel

Ons stap kasteel toe. Die beste deel van die kasteel, is blykbaar sy hek. Ons kyk na die mure en die hek en stap verder. Daar is ook ou en minder ou kerke in die dorp en ons bekyk alles. 


Kalamata se kasteel
Kasteel se hek
Kasteel se mure

Ypapanti Katedraal
Ou kerkie

Af af af, terug na ou dorp en ons stap heerlik rond. Ek pas blou broeke aan en ou Archie wag maar geduldig. Ek kry niks en die een waarvan ek hou, kos €60. Dis R900.00. Veels te duur vir my.

Terug op Maja, sien ons Sakari en Riitta, met hul jag, Belle amie, het ook gekom. Ons wuif. Gus begin waai en die Engelse wat inkom, het die een probleem na die ander.

Hulle kry nie hul hoek reg om in die nou spasie in te draai nie. Gus waai hulle teen die ander bote vas. Almal help wegstoot. Die landlyn kom in hulle rudder. ’n Ander tou kom in die propeller. Die marina se bootjie help. Die vrou langsaan gooi 'n tou, dié val in die water. Toe hulle eindelik vas is, is ek uitasem en dis net van kyk! Arme drommels. Ek kry hulle altyd so jammer, want sukke goed het al met ons ook gebeur.

Marina se bootjie sit hand by

Toe kom my wasgoed. Die man sê ek moet my wasgoed kom uitken, want sy vrou het bietjie deurmekaar geraak. So worstel ek deur ander mense se onderbroeke en kouse en klere. Kry toe al my goed. Ek sê toe duidelik vir die man dat ek glad nie van die situasie hou nie. Ek is skoon bemoerd! 

Sowat van kreukels het ek lanklaas gesien. Dis nie ordentlik opgevou nie. Die wasgoed het ook sukke wit strepe op. Seker nie goed uitgespoel nie. Volgende keer doen ek verseker my eie wasgoed!

Ons gaan kuier by ons Finse vriende. Hulle gaan uiteet, maar ons het vis om te braai en kan hulle nie vergesel nie.

Dit was 'n heerlike twee dae hier by Kalamata.




Thursday, May 24, 2018

Petalidhion

24 Mei 2018. Donderdag.

Koroni tot Petalidhion

Ons wou vanoggend dorp toe om Koroni te gaan verken, maar toe waai Gus so dat ons nie lus is om in Dinkie te klim en land toe te roei nie. Die kaptein bak die eerste pannekoek van die seisoen en dis heerlik.

Pannekoek bak


Toe net anker op en ons vertrek sonder om by Koroni voet aan wal te sit na Petalidhrion, 10.5 myl. Ons motorseil 'n ruk, want Gus waai maar floutjies. Die kaptein hou hom besig met verstellings op die genoa. Ek weet nie eintlik wat hy doen nie. Dis kapteinsdinge.

Werk aan genoa

Die baai is mooi, maar die dorp is maar lelik. Ons gooi anker en hy byt dat dit bars. Gus waai vanuit die suide, maar toe draai hy en waai vanuit die noord-weste. Die swerkater waai tot 25 knope. Hy hardloop van die berg se kant af en spring in die see. Ons word omtrent hot en haar gewaai. Al wat 'n tou aan Maja is, tril en jil soos Gus waai.

Petalidhion vissershawe ingang

Later kom nog 'n jag in en hy kry die laaste stuk van sy genoa nie ingetrek nie. Die arme vrou gooi  maar anker so rondom die wapperende seil. En Gus waai verwoed verder. Hulle maak toe die laaste stuk seil met toue vas dat dit nie so moet waai nie.

Sukkel met genoa

Gus bedaar bietjie na vyf ure se erge gewaai, maar lê gaan hy nie vanaand nie. 

Dis eintlik mooi met die groot berge daar oorkant by Kalamata se wêreld. Ons sien dit eers toe ons dit kan waag om op die dek te sit vir aandete. Ek sal hierdie plek onthou as 'n windbaai.

Verre berge

Koroni

23 Mei 2018. Woensdag.

Methoni tot Koroni

Vroeg uit die vere en ons vat die pad. Poseidon het geel winde (Beaufort skaal 5 en 6) voorspel vir 9:00. Dis so tussen 20 tot 25 knope. Nou dié briesie waai reg van voor en die golwe en deinings word iewers in Afrika vervaardig. So teen die tyd dat hulle hier aangerol kom, is hulle al taamlik groterig.
 
Ons gaan na Koroni, 19.1 myl. Ons vaar uit die baai met Gus reeds al waaiende op Maja se snoet. Darem nie te erg nie. Hoe later hoe kwater, en ons spoed verminder, soos wat Gus sterker begin waai. Ons vaar amper drie ure aan 8 myl. Maja en haar kaptein vaar vorentoe, deining vir deining altyd vorentoe. 

Die Peloponnisos het drie vingers waarom jy moet vaar om by die Saronic See uit te kom. Ons moet vir Elize en Fanie by Monemvasia ontmoet. Vandag is dit die eerste vinger, Kaap Akritas. Gus waai tussen 15 en 25 knope van voor. Ons beur vorentoe. Baie stadig kom ons kaap nader en ons vaar tussen hom en die eiland verby. 

Kaap Akritas

Toe waai Gus ligter, maar daai golwe kom van die kant af en rol ons die kant toe en daai kant toe. Dis nogal vermoeiend.

Al hoe rollende

Om die draai sien ons die mure van Koroni se kasteel. Die dorpie staan trots langs die mure. Die boek sê mens moet die anker versigtig gooi, want hier is verskuilde rotse. Ek gooi 'n sandkol sekuur raak en die anker byt. Archie toets dit en ek ruik lont. Die Kaptein gaan kyk met die snorkel en sien ons ankerketting lê so tussen die rotse. Hy trek dit versigtig op en elke nou en dan sit die ketting aan die rots vas. Vaar bietjie vorentoe en bietjie agtertoe ry, bietjie trek en bietjie los en uiteindelik is die anker op. Wat 'n verligting! Ek wil nie eers dink wat sou gebeur het as ons anker aan 'n rots vasgehaak het nie. Altyd dankbaar vir klein genades!

Kasteel en dorpie
Koroni se waterfront
Dorp en kerk

Ons soek 'n ander, minder rotsagtige, plek en gooi toe suksesvol anker. Toe is ons vas en ek is moeg en verlang toe vreeslik na my ma.

Die dorpie is mooi en ons anker heerlik aan die voet van Koroni en sy kasteel.

Tuesday, May 22, 2018

Methoni

22 Mei 2018. Dinsdag.

Navarinou Baai tot Methoni

Methoni, 8.7 myl, is ons volgende bestemming. Pilos slaap laat. Toe ons by die dorp verbyvaar, is dit nog doodstil. Gus waai liggies skuins van voor af en pla ons nie. 

Sommer gou sien ons die Turkse Toring en weet ons is amper daar. Dié plek het ook baie geskiedenis. Die dorpie is reg langs die fort geleë.

Methoni se fort van die see gesien
Die fort en Methoni dorp

In die middeleeue was Methoni een van die grootste hawens tussen die ooste en die weste. In die dertiende eeu het die Venesiërs die stad oorgeneem en in die sestiende eeu het die Turke dit op hulle beurt weer oorgeneem. Daar word vertel dat die Turke alle mans bo twaalf jaar doodgemaak het en toe die twee torings met hulle koppe gebou. Grillerig! Die vrouens en kinders is as slawe verkoop. (Ek het darem geen koppe gesien nie.)

Die kasteel van Methoni is indrukwekkend en 'n belangrike monument in Griekeland. 'n Steenbrug neem jou oor die grag na die ingang. In my verbeelding kan ek die ridders in hulle krygtuig oor die brug sien loop. Ai, die ouwêreld was baie anders as vandag.

Langs die muur
Uitsig
Steenbrug oor grag na ingang
Turkse Toring

Ingang na fort van Turkse Toring

Uitsig oor baai
Mooi taverna in die dorp

Terug by Maja is my werk nooit klaar nie. My broek moet korter en ek haal die naaldwerkboks uit. En siedaar! My broek is korter! Ek is Maja se naaldwerkster!

Naaimasjien

Nou moet ons net klaarmaak vir ons ete-afspraak by ons Finse vriende. Ons roei met Dinkie na Belle amie. Hulle ontvang ons gul en ek moet sê, hulle onthaal ons soos konings. Ons smul aan die hoenderkerrie wat Sakari voorberei het. Die aand kom en Gus begin waai. Ons klim in Dinkie en roei laggend in die donker terug na Maja. Wat 'n heerlike dag!

Kippis!

Kos ia amper reg

Bespreek weervoorspelling

Sakari se hoenderkerrie















Monday, May 21, 2018

Navarinou Baai. Pilos

21 Mei 2018. Maandag.

Kiparissia tot Navarinou Baai
Gus waai heel nag. Gelukkig is ons alongside en ons word weg van die kaai gewaai. Hy waai tot 25 knope (50 km per uur). Ek hoop net die swerkater loop lê voor dit lig word. Ons het môre 'n lang dag.

Die dag breek met Gus se gewaai in my ore en die lawaai in Maja en al vyf vriendinne se toue. Lê is verniet, waai is die inding! Nou is die vraag - ry of bly??? Poseidon voorspel ligte winde, maar hoe kan ons dit glo as dit hier in die hawe tot 25 knope waai.

Archie sê ons ry, maar ek loop eers na die ander punt van die hawe om te kyk hoe die see lyk. Die omie voor ons vra vir Archie of ons gaan seil en die kaptein sê ja. Omie skut net sy kop. Archie sê hy dink dis net plaaslike winde.

Die see is vol perdjies wat saam met die see hardloop. Gelukkig sal dit vir ons van agter tref. Terug by Maja beveel die kaptein dat ons moet regmaak. Ons vertrek. 

Enjin aan, toue losgemaak en Gus stoot ons vinnig weg van die kaai. Die vrou van ons ander bure kom uit om te sien wie so simpel is om in dié wind te vertrek. Sy skud haar kop. Ek kyk vir haar, trek my skouers op en lig my hand om te groet. 

Gus waai verskriklik en die kaptein konsentreer om ongeskonde uit die hawe te kom en die draai te vat na die oop see. En daai see hardloop, haal ons van agter af in en draf dan verby. Ons sit getooi in ons lewensbaadjies (reël 4).
Reël 4

Kaartlees
Gus waai tot 25 knope van agter en net toe ons die genoa wil span, na minder as 'n half myl, gaan lê Gus soos in 'n diep slaap. Zero wind! Die slim kaptein was reg. Dit was net plaaslike winde wat van die berge af gewaai het en in die hawe neergeplons het. Doodkalm op dié see. O, jeugelike tyding!
Marathoupolis - Halfpad na Pilos
Kranse by Navarinou Baai ingang
Natuurlike rotsboog
Pilos, 29 myl, is in Ormos Navarinou. Dit is 'n baie groot baai vol geskiedenis. Op 6 Julie 1827 het hier 'n belangrike veldslag plaasgevind. Daar was 'n groot geveg tussen die vloot van Brittanje, Frankryk en Rusland, wat teen die Turk-Egiptiese vlootmag geveg het. Alhoewel laasgenoemde  89 oorlogskepe en 2 450 seekannone gehad het, en die Britse groep met net 26 skepe en 1 270 seekannone, het hulle die Turk-Egiptiese magte verslaan. 

So, nou is ons geanker in die pragtige baai met sy mooi fort. Dis rustig en windstil. Ons Finlandse vriende staan 'n ent van ons op anker en die dorpie staan trots oorkant die marina. 
Pilos
Kasteel
Laatmiddag kom 'n skilpad aangeswem. O nee, dis Riitta! Sakari volg haar op die dinghie en hulle kom gou groet.
Waterskilpad
Sakari
Aand van 'n wonderlike dag
Vandag het aaklig begin en in 'n wonderlike dag verander.