Wednesday, September 27, 2017

Bulgarye. Plovdiv.



26 en 27 September 2017. Dinsdag en Woensdag.
 
Dit reën reën reën. Dat die honne huil. En dit reën reën reën nóg steeds. Dis asvaal van die reën. Hoe nader ons aan Plovdiv kom, hoe harder reën dit.

Plovdiv in die reën

Die dorp het grasie en word omring deur heuwels. Dit het baie antieke geskiedenis en die geboue is pragtig gerestoureer. Dit is bekend vir die romantiese ou dorp en is gekies om die Europese Hoofstad van Kultuur in 2019 te wees. Hier word gereeld musiek- en kunsfeeste gehou wat die skare lok.

Standbeeld by die Kunsskool
Muurskildery
Interessante fondasie

Maar dit reën en reën en reën. Ons gaan stap toe daar ’n breuk tussen die reënbuie is, maar van sonskyn is daar geen sprake nie. Maar ons waardeer in elk geval wat ons sien in die ou dorp. Die ou huise is opgeknap en word as hotelle en museums gebruik. Baie van die plekke is toe as gevolg van die reën. Ons stap verby Hadzhi Vasaki Chohadzhiyata huis en onderdeur die boog. Sambrele is aan die orde van die dag. Dis net ons wat nie een het nie.

Hadzhi Vasaki Chohadzhiyata Huis
Ou Herehuis
Ou ingang
Nog 'n huis

Balabanov Huis is een van Bulgarye se mooiste  Nasionale Herehuise. Die grondvloer het ’n versameling kunswerke van plaaslike skilders. Die huise se kleure en versierings is ’n lus vir die oog.

Balabanov Huis

Die Antieke Romeinse Teater staan as bewys van hoe die mensdom al eeue lank die kunste geniet het. Tot in die dorp waar ons bly, is ’n teater wat hul opgegrawe het.

Antieke Romeinse Teater
Nog 'n teater

As ons gedink het dat Sofia se meisies mooi was, hierdie in Plovdiv is nog mooier. Maar einde September is die begin van die reënseisoen in Europa en ons al twee kry ’n ernstige huis-toe-gaan-gevoel Dit is nou tyd.

Môre klim ons die eerste bus 05:15 in Plovdiv na Sofia en daarna die 08:00 bus van Sofia na Thessaloniki, waar ons 13:00 arriveer. Dan die 15:15 bus na Preveza waar ons so 20:30 sal arriveer en laastens moet ons ’n taxi na Maja op die stelte in Aktio Marina vat. Ons gaan poegaai wees.




Monday, September 25, 2017

Bulgarye. Sofia.



24 en 25 September 2017. Sondag en Maandag.

Ons is op pad na Bulgarye. Nog ’n nuwe land in die Balkan. Nog ’n nuwe ervaring. Die busrit is heerlik, tussen die berge wat ons baie aan Suid-Afrika se berge laat dink. Ons ry vir meer as vier ure.

Gekom by Sofia, moet Archie metro kaartjies koop en ons klim die trein en sommer gou is ons by Santa Sofia, ons woonstel. Die kamer is heerlik ruim en ons kan die kombuis en patio gebruik. Ons maak ons sommer dadelik tuis deur ’n koppie koffie te maak en toe vaar ons die dorp in.

Dis gedeeltelik bewolk en die helder kleure van die kerke en ander geboue verdof. Ons stap in die besige straat en hierdie Bulgare in ’n baie aantreklike nasie. Mooi gelaatstrekke en ek verkyk my aan veral die mooi jong meisies.

Vitosha Straat

Die eerste kerk wat ons besoek, is die Aleksander Nevski Katedraal. Hierdie imposante kerk is een van die simbole van Bulgarye. En ek kan sien waarom. Hierdie pragtige kerk is tussen 1882 en 1912 gebou ter herinnering van doe 200 000 Russiese soldate wat gesterf het toe hulle vir die Bulgaarse onafhanklikheid geveg het tydens die Russo-Turkse oorlog. Dis vernoem na die 13de eeuse Russiese oorlog-prins.

Aleksander Nevski Katedraal
Aleksander Nevski Katedraal
Binnekant
Binnekant

Die Sveta Sofia Kerk is minder impossant, maar is een van die hoofstad se oudste kerke. Die stad in na die kerk vernoem. Aan die buitekant van die kerk is die Graftombe van ’n Onbekende Soldaat met sy ewigdurende vlam asook die graf van Ivan Vazov, een van Bulgarye se bekende skrywers.

Sveta Sofia Kerk
Graftombe van ’n Onbekende Soldaat

Die antieke Serdika kompleks, is ’n argeologiese terrein wat die gedeeltelik bedek is. Dit is die oorblyfsels van die Romeinse stad, Serdika. Toe hulle in 2010 tot 2012 die metro trein stelsel gebou het, het hulle op die antieke stad afgekom en moes die ontwikkeling staak. Daar is die oorblyfsels van kerke, baddens en huise gevind. Wat ’n verrassing as jy besig is om te bou en jy kom op ’n antieke stad af!

Romeinse stad

Romeinse stad

Volgende besoek ons die Sveta Nedelya Katedraal. Dis ook hier waar ons die bruid op heterdaad betrap. Hulle is wraggies besig om te trou! Die kerk is in 1863 voltooi. Die kerk is op 16 April 1925 deur kommunistiese terroriste aangeval met die doel om Tsaar Boris III te vermoor.

Sveta Nedelya Katedraal
Troue

Hier naby ons blyplek is die Sveta Petka Samardzhiiska kerk. Dis ’n baie klein kerkie wat gebou is tydens die vroeë jare van die Ottoman Ryk, in die laat 14de eeu. Daar is gerugte dat die Bulgaarse nasionale held, Vasi Levski, hier begrawe is.

Sveta Petka Samardzhiiska kerk

Die Kunsgalery is ’n groot geel gebou en die Russiese kerk het helder groen koepels. Die geboue van Sofia laat my nogal aan Parys dink. Ons geniet die stad baie. Oral is standbeelde en mooi geboue. Dis net die weer wat nie wil saamspeel nie. Dit bly bewolk.

Kunsgalery
Russiese Kerk
Nasionale Teater

Archie koop vir ons geroosterde kastaiings (chestnuts) en dit proe amper soos geroosterde mielies.
Heerlik.

Koop kastaiings
Kastaings uit die vuur krap

Hierdie hoofstad van Bulgarye het ons regtig verbaas. Dis die moeite werd om eendag weer hierheen terug te kom.

Saturday, September 23, 2017

Macedonië. Kruševo. Hoogste dorp in Balkan.



22 September 2017. Vrydag

Ons het toe nie in die Pelister Natuurresevaat gaan stap nie, want donderstorms is voorspel. Toe klim ons die Vrydag bus na Prilep en daarvandaan die minibus, met die vriendelike bestuurder na Kruševo, die hoogste dorp in die Balkanlande.

Dis die platteland van Macedonië hierdie. Ons ry verby tabaklande, waar die mense die blare pluk. Sukke klein blare wat dan oral gedroog word. Dit word dan aan die tabakfabrieke verkoop. Malboro sigarette word blykbaar van dié tabak gemaak. Dis kwansuis geuriger. Daar is ook lande vol pepers. Oral pluk en oes die boere die vrug van hul arbeid.

Vrug van hul arbeid

Ons kom by Kruševo en dis koud. Alexander, ons gasheer wag ons by die busstasie in en vergesel ons na ons baie mooi woonstel. Dis luuks verby en dit sal selfs my vriendin Esther, se goedkeuring wegdra. Kombuis, eetkamer, twee slaapkamers, sitkamer en badkamer. Alles smaakvol, kleurvol en verwelkomend. Ons voel dadelik tuis.

Hierdie dorp is 1250m bo seevlak en dis koud hier. Ons wil dorp toe, maar toe ons ons neuse by die deur uitsteek, draai in ons spore om en gaan trek nog warm klere aan. Archie sê ewe droog dit lyk of hy reg is vir “an artic expedition” .Die wind sny soos ’n mes deur mens.

Op pad na Noordpool

Ons stap na die Macedonion toe. Dit is ’n vreeslike eienaardige monument wat opgerig is vir die manne wat in 1903 in opstand gekom het teen die Turke. Hulle het Kruševo en omgewing as ’n onafhanklike staat verklaar, wat ’n baie groot prestasie was. Hulle was net ’n handjie vol wat teen die sterk Turkse mag geveg het. Hulle kon dit vir 10 dae volhou, maar toe het die Turkse mag hulle almal uitgewis. 

Macedonion

Die graf van Nikola Karev, die leier van die Kruševo Republiek, is in die Macedonion en daar is mooi loodglasvensters. Buite is daar wit sement stoele waar hulle van tyd tot tyd optredes hou. Ons ontmoet ’n Macedoniese meisie en haar Mexikaanse vriendin wat uitgelate vir ons poseer.

Loodglasvensters en graf
Teater
Lawwe goed
Ek en Archie
Uitsig

Dis son loer soms vir ons tussen die wolke deur. Dan is dit warmer die klere waai, totdat die wind ons weer dwing om aan te trek. Ons stap heerlik en verkyk ons aan die huisies wat so teen die berg optuimel.

Kerk
Kruševo
Uitsig oor die vallei
Ou karretjie
Tradisionele huis

Hierdie is ’n vriendelike dorp met gelukkige mense. Alexander kom steek gou na werk vir ons die kaggel aan en drink ’n koppie koffie saam met ons. Ons gaan eet die aand gebakte bone in die restaurant. Dis ’n tradisionele Masedoniese gereg. En dit is heerlik.

Môre gaan ons terug Skopje toe om buskaartjies vir Bulgarye te koop en dan groet ons vir Masedonië.