Saturday, September 23, 2017

Macedonië. Kruševo. Hoogste dorp in Balkan.



22 September 2017. Vrydag

Ons het toe nie in die Pelister Natuurresevaat gaan stap nie, want donderstorms is voorspel. Toe klim ons die Vrydag bus na Prilep en daarvandaan die minibus, met die vriendelike bestuurder na Kruševo, die hoogste dorp in die Balkanlande.

Dis die platteland van Macedonië hierdie. Ons ry verby tabaklande, waar die mense die blare pluk. Sukke klein blare wat dan oral gedroog word. Dit word dan aan die tabakfabrieke verkoop. Malboro sigarette word blykbaar van dié tabak gemaak. Dis kwansuis geuriger. Daar is ook lande vol pepers. Oral pluk en oes die boere die vrug van hul arbeid.

Vrug van hul arbeid

Ons kom by Kruševo en dis koud. Alexander, ons gasheer wag ons by die busstasie in en vergesel ons na ons baie mooi woonstel. Dis luuks verby en dit sal selfs my vriendin Esther, se goedkeuring wegdra. Kombuis, eetkamer, twee slaapkamers, sitkamer en badkamer. Alles smaakvol, kleurvol en verwelkomend. Ons voel dadelik tuis.

Hierdie dorp is 1250m bo seevlak en dis koud hier. Ons wil dorp toe, maar toe ons ons neuse by die deur uitsteek, draai in ons spore om en gaan trek nog warm klere aan. Archie sê ewe droog dit lyk of hy reg is vir “an artic expedition” .Die wind sny soos ’n mes deur mens.

Op pad na Noordpool

Ons stap na die Macedonion toe. Dit is ’n vreeslike eienaardige monument wat opgerig is vir die manne wat in 1903 in opstand gekom het teen die Turke. Hulle het Kruševo en omgewing as ’n onafhanklike staat verklaar, wat ’n baie groot prestasie was. Hulle was net ’n handjie vol wat teen die sterk Turkse mag geveg het. Hulle kon dit vir 10 dae volhou, maar toe het die Turkse mag hulle almal uitgewis. 

Macedonion

Die graf van Nikola Karev, die leier van die Kruševo Republiek, is in die Macedonion en daar is mooi loodglasvensters. Buite is daar wit sement stoele waar hulle van tyd tot tyd optredes hou. Ons ontmoet ’n Macedoniese meisie en haar Mexikaanse vriendin wat uitgelate vir ons poseer.

Loodglasvensters en graf
Teater
Lawwe goed
Ek en Archie
Uitsig

Dis son loer soms vir ons tussen die wolke deur. Dan is dit warmer die klere waai, totdat die wind ons weer dwing om aan te trek. Ons stap heerlik en verkyk ons aan die huisies wat so teen die berg optuimel.

Kerk
Kruševo
Uitsig oor die vallei
Ou karretjie
Tradisionele huis

Hierdie is ’n vriendelike dorp met gelukkige mense. Alexander kom steek gou na werk vir ons die kaggel aan en drink ’n koppie koffie saam met ons. Ons gaan eet die aand gebakte bone in die restaurant. Dis ’n tradisionele Masedoniese gereg. En dit is heerlik.

Môre gaan ons terug Skopje toe om buskaartjies vir Bulgarye te koop en dan groet ons vir Masedonië.





Wednesday, September 20, 2017

Macedonië. Bitola.



19 en 20 September 2017. Dinsdag en Woensdag. 

Ons groet vir Ohrid en klim die bus na ons volgende bestemming en dit is Bitola. Die dorp is bekend vir sy vriendelike mense. En dit is inderdaad die waarheid. Anders as in Ohrid en Skopje, waar hulle nou nie juis oorloop van vriendelikheid nie, is dit hier absoluut die teenoorgestelde. 

Goldy Hostel - ons kamer is heelbo

Hier is 18de en 19de eeuse kleurvolle Ottoman geboue en moskees in die dorp. En dan is daar die Širok Sokak, wat “ Wye straat” in Turks beteken. Dis waar alles gebeur. Hier kraai die voetgangers koning. Mense kom en gaan.


Širok Sokak
Širok Sokak

Man op 'n perd

Die Kloktoring is die baken van Bitola. Die klok is omtrent 32m hoog en daar is ongeveer 100 trappe na die top. Die klokkespel klink soos musiek in jou ore en word oraloor gehoor. Die huidige kloktoring is in 1830 gebou, dieselfde tyd as die ortodokse Kerk van Sveti Dimitrij, met sy mooi muurskilderye.

Die Kloktoring
Kerk van Sveti Dimitrij

Drie 16de eeuse moskees pryk in Bitola as bewys van die Ottoman periode, die Yeni, Isak en Yahdar-Kadi. Ek weet nie hoe in gebruik die moskees is nie, want ek hoor nie Imam sing nie.

Iets wat ek en Archie nie kan weerstaan nie, is ’n mark. Die ou basaar is so ’n plek. Vars groente en vrugte en eiers en heuning word in oorvloed daar verkoop. Jy kan alles daar koop, skoene en klere en hardeware. En ook tradisionele Macedoniese items (wat ek as geskenke vir my dogters koop).

Eiers
Groente

Ek wil een rooipeper hê vir slaai. Soek een sorgvuldig uit en sit in ’n sakkie. Toe ons wil betaal, wil die man glad nie geld daarvoor hê nie. Hy beduie dis net een peper, ek kan hom verniet kry. Die omstanders geniet my verbasing terdeë. Hier in Macedonië koop mense nie net een peper nie, hulle koop kilo’s op ’n slag, want hulle verwerk dit tot ajvar en droog dit vir die winter.

Vrygewig

Een van Macedonië se beste argeologiese terreine is die Heraclea Lyncestis, ongeveer 1km suid van Bitola. Dis gestig deur Filip II van Macedon, die vader van Alexander die Grote, in die 4de eeu v.C. Dit was ’n baie belangrike handelsentrum in daardie tyd voordat die Romeine dit in 168 v.c. verower het. Die Gote (Goths) en die Slaviers het dit ook op stadiums verower.

Ons stap soontoe. Die Romeinse baddens is die eerste wat ons besigtig. Ons kyk ook na die Basilikas en ou teater. Baie besonders is die mosaïek wat te sien is. Duisende klein klippies word in perfekte harmonie ingeweef om die stories van die Christendom te vertel. Dis baie spiritueel en die onderwêreld, sowel as die hemelse gewaarwordings word uitgebeeld.

Romeinse baddens
Hoofstraat met rioolsisteem in die middel
Groot Basilika
Mosaïek
Mosaïek
Mosaïek
Teater

Die heilige waters van die fontein, kon nie die brutaliteit van al die wrede veldslae en al die riviere van bloed wat gevloei het, skoonwas nie. Voorwaar baie antieke geskiedenis wat hier afgespeel het.

Fontein

Hulle is besig om die mosaïek te restoureer en die man sit op sy knieë en werk daaraan. So toegewyd soos ’n monnik! Toe is ons klaar met die antieke en die verlede en al wat oorbly is om in die hede die duwweltjies uit ons skoene te haal en die hasepad Bitola toe te kies.

Restoureerder
Restoureerder
Die dorings is uit

Ons drink koffie in een van die talle straatkafees en kyk na die mense wat verbyloop. Terug by die hostel, sak die son stadig en die skemer daal oor die dakke van ons bure, met die kerkklok van Sveti Dimitrij getrou op sy pos.

Dakke

Môre, as dit nie reën nie (hulle voorspel reën), wil ons die Pelister Natuurresevaat besoek.

Monday, September 18, 2017

Macedonië. Luilekker dae in Ohrid.



16 tot 18 September 2017. Saterdag tot Maandag. 

Ohrid is ’n pragtige stad met baie geskiedenis. Ons verken die plek met dapper en stapper. Die eerste besienswaardigheid op ons roete is vir my as kerkmens baie spesiaal. Dit is die Kerk van Sveti Jóvan in Kaneo. Dis sommer naby ons blyplek. Die 13de eeuse kerk is op ’n krans gebou wat oor die meer uitkyk. Hier het die monnike vanmelewe baie geestelike inspirasie gekry om hul taak met ywer te verrig. Die kerk lyk ook pragtig van die meer se kant.

Kerk van Sveti Jóvan
Kerk van Sveti Jóvan

Toe kronkel die paadjie op en weer af en dan weer op na die Tsaar Samoil Kasteel. Die massiewe kasteel is in die 10de eeu gebou en was die toonbeeld van die mag wat die destydse Bulgaarse Middeleeuse ryk gehad het.

Tsaar Samoil Kasteel

Die amfiteater is nou nie ’n lus vir die oog nie, maar dit was gebou as ’n teater. Die Romeine het later tien rye verwyder om plek te maak vir gladiators. Somer feeste word jaarliks daar gehou.

Amfiteater

Die Kerk van Sveta Bogorodica Perivlepta is ’n 13de eeuse Bisantynse kerk met helder Bybelse muurskilderye.  Die boonste hek staan nog stewig as ingang tot die ouwêreld. Ons kyk verwonderd na die hoë ou mure wat die destydse stad omring het. 

Kerk van Sveta Bogorodica Perivlepta
Stadsmure
Boonste hek
Boonste hek
Stadsmure

Oral is nog ou kerke en die mense in die dorp ry ook nog ou karre. Ons gaan by ’n klein winkeltjie waar die man sy eie papier maak en prente daarop druk. My vriendin, Riana, sal baie hiervan hou. Daar is ook oral winkels wat stringe pêrels verkoop wat hulle self maak volgens ’n geheime metode. Ek sou van ’n stringetjie gehou het, maar nou ja. Te arm! Voorwaar ’n pragtige dorp om te verken.

Papiermaker

Ons koop vars plaas tamaties by die groentemark. Dit lyk soos my ma se tamaties en dis nog van daai soort wat na tamatie proe. Die druiwe is tuisgemaak. Jy kan sien dis oneweredige druiwe wat van iemand se prieel afkom, self gepluk. En natuurlik koop ons weer forel by die viswinkel.

Varsprodukte

Ons het die tyd in Ohrid baie geniet. Dit was soos vakansie. Lekker lang dae van rus en beleef. Elke laatmiddag het ons op die terras gesit en oor die meer getuur. Heerlik in die dorp rondgevlenter. Dié plek is 'n ware juweel!