Thursday, September 7, 2017

Hoog en droog in Aktio Marina



6 September 2017. Woensdag.

2017 Seilseisoen van Kemer, Turkye tot Aktio Marina, Preveza, Griekeland
Preveza tot Aktio Marina

En so kom dit tot ’n einde. Nog ’n seilseisoen is verby. Dis nou nog net die Moses-deel, dis nou as Maja uit die water gehaal word.

Ons verlaat Preveza en vaar na Aktio Marina, 1.4 myl. As’t ware net oorkant die straat. Ons moet voor die marina anker en dan roep hulle ons oor die radio, Kanaal 9 as ons na die watersloot toe moet vaar.

Daar staan ’n klomp jagte op anker en ons kry ’n simpel plek, waar die anker in die seegras sleep, om te anker. Ons wag toe maar so slepende dat hulle ons moet roep. Eers is dit die blou jag en toe is dit ons. Ons kry al die fenders en toue reg vir alongside en vaar sloot toe.

Niemand is daar om ons te help nie en ons maak self vas. Toe wag ons en ons wag. En wag. Na, wat voel soos ’n ewigheid, is hulle daar en ons verlaat vir Maja. Nou is sy in die hande van vreemdes. 

Vas in die uithaal sloot
Daar kom so ’n geel trekker ding aangery. Ek word skoon aangedaan en pik ’n traan. (Toe ek vir my suster, Elize, laat weet Maja word uit die water gehaal, het sy ook ’n traan gepik. Sy is so lief vir Maja.)



Die uithaal proses is anders as gewoonlik. Normaalweg word Maja uit die water gehaal met ’n oorhoofse kraan met twee bande onder haar romp. Hierdie keer is ’n sg. hidrouliese hysmasjien gebruik. ’n Tipe van ’n stoot-sleepwa, toegerus met 6 hidrouliese hysers, word in die water ingestoot met ’n groot trekker. Maja word daaroor geposisioneer, die hysers lig Maja uit die water en die sleepwa word teruggetrek met Maja daarop. Daarna word sy met dieselfde hysmasjien en trekker na haar finale staanplek vervoer.

Hidrouliese hysmasjien word in die water ingestoot
Bekommerde kaptein - gaan die kiel die grond raak
Veilig uit die water

Toe ry hulle met haar so mas in die lug, na haar slaapplek vir die winter. Oral is bote op hul stelte. In Aktio oorwinter geen bote in die water nie, net op land “on the hard”. Die manne kry alles reg en dis kettings en stelte en toe is sy hoog en droog in Aktio Marina op die grond. Dit lyk skielik vir my so verkeerd dat die bote so op die droë grond is. Bote hoort in die water.

Op pad na oorwinterings staanplek
Mas in die lug
Maja op haar stelte

’n Leer word by haar stêre staan gemaak en dit is nou ons penthouse se trappe vir die volgende drie dae. Ek klim op en dit voel of alles beweeg. Snaakse gevoel as jy vir soveel maande in ’n bewegende wêreld gebly het en nou is Maja skielik stagnant.

Toe Gus begin waai, beweeg sy so effentjies, maar die kaptein sê dis reg so. Ons eet die aand Levraki (vis). Ons koop altyd Cipura en nou die dag ewe avontuurlustig die lang vis, Levraki, gekoop. Levraki is "sea bream" en Cipura is "sea bass". Of andersom. Die vis is heerlik.

Levraki

Vanaand slaap ons in die lug.

Wednesday, September 6, 2017

Preveza.



5 September 2017. Dinsdag.

Koukounitsa tot Preveza


Ons seiljaar kom nou vinnig tot ’n einde. Vandag gaanons  Preveza toe, 8.4 myl. Archie moet na die hawe polisie gaan om die seil dinge af te sluit, ons moet Maja vol diesel gooi en vir oulaas ’n vis koop. Dan gaan ons sommer langs die kaai vir oornag, voordat Maja môre by Aktio Marina uit die water gehaal word en dan is dit die groot voorbereiding vir haar winterslaap.

Die seisoen word dan afgesluit met ’n toer op droë grond deur Macedonië en miskien ook Bulgarye. Ons Schengen tyd is verstreke en ons vlieg eers 1 Oktober vanaf Athene na Suid-Afrika.

Ek sien 'n catamaran met 'n klein Suid-Afrikaanse vlaggie langs die kaai. Ek stap nader en roep die man. Hulle is toe inderdaad van Suid-Afrika, Charl en Mary du Plessis. Ons maak 'n afspraak om laatmiddag iets te gaan drink en mezes te eet. Om 18:00 stap ons na hulle jag en hulle nooi ons vir drankies. Ons kuier heerlik aan boord op Ciccio. Ons hou dadelik van hulle en gesels heerlik.
 
Archie
Charl en Mary


Ons stap saam na 'n wynkroeg, maar die plek is te spoggerig om huiswyn te bedien en hulle sê ons moet die taverna langsaan probeer. Ons jou waarlik! Hulle het heerlike huiswyn wat jy by die kilo koop. Ja, hier in Griekeland koop jy nie 'n liter huiswyn in 'n kraffie nie, jy koop 'n kilo.

Ons bestel saganaki, tjips en nog iets met 'n snaakse naam wat ek glad nie kan onthou nie. Ons eet heerlik en drink yskoue wyn met baie ys. Staaltjies en stories word uitgeruil en dit word 'n heerlike aand om te onthou. Ons sal maar môre-aand die Levraki vis bak wat ons vandag gekoop het.

In die taverna
Mary, ek en Charl



Tuesday, September 5, 2017

Koukounitsa Baai.




4 September 2017. Maandag.

Koprainia tot Koukounitsa

Die son skyn en die baai lyk sommer vriendelik. Ons trek die anker op en hy het behoorlik gebyt, die modder omsingel hom omtrent. Archie sukkel om hom skoon te kry en ons vertrek. 

Dis hoe 'n anker moet lyk

En so met die uitvaar uit die baai, kom Skillie ingeswem. Sowaar ’n skilpad, maar ’n skaam een. Hy gee ons twee kyke en verdwyn onder die troebel water. Dinge hier in die golf lyk al hoe beter.

Ons is op pad na Koukounitsa Baai, 13 myl, naby Vonitsa. Ons seil nie, want Gus waai nie. Baie riviere vind hul pad na die see hier in die Golf. Mens kan sien waar die riviere in seestrome verander, want die dennenaalde en ander plantmateriaal dryf in die water al met die stroom langs.

Rivier stroom

Koumounitsa Baai is pragtig en toe ons so ingevaar kom, sien ons nog ’n skilpad. Ons gooi anker en vas is ons. Die baai het ’n mooi uitsig oor Vonitsa se kasteel wat bo teen die berg uittroon. Ek sit so op die dek en hoor iets wat asem uitblaas. Ek kyk na die water en dis wraggies ’n dolfyn reg by Maja. Ek storm af om die kamera re kry, maar toe is die vabond klaar te vêr om te kiek. Twee van hulle swem rustig in die baai waar ons geanker is. Die boek het nie gejok nie! Dolfyne en ’n skilpad in die baai!

Vonitsa se kasteel

Die wind begin waai en van die deinings rol om die hoek van die eiland, maar niks ernstig nie. Ons klim in Dinkie en ry land toe. Die klein eiland is met ’n brug verbind aan die land. Ons stap dorp toe en kom soos gewoonlik op ’n Griekse bruid af. Hulle het eintlik Saterdag al getrou, maar neem vandag nog foto’s. Slim plan. Ek kan die versoeking nie weerstaan om saam met haar te poseer nie. Soos ’n wafferse moeder van die bruid!

Brug tussen eiland en land
Bruidspaar op die brug
Moeder van die bruid

Archie sit op die bankie by die kaai en oordink die lewe van ’n kaptein. Ons stap kasteel toe, maar dié is nog steeds, vanaf 2013, gesluit. Die mure is hoog en ek loer deur die hek na binne. Ek moes seker maar n prinses of iets gewees het, want ek hou baie van kastele. Dit gee my gedagtes en verbeelding vrye teëls, en in my geestesoog sien ek baie tonele wat daarin afgespeel het.

Dorpskaai
Kasteel

Ons stap terug en verken die klein eiland. Maja en vriendinne lê en swaai in die baai. Gus waai nogal sterk. Daar is baie dennebome op die eiland. Ai, die stap in die koelte van die bome is heerlik.

Koukounitsa Baai
Koukounitsa Baai

Wat ’n goeie keuse was dit om hier in Koukounitsa te kom anker. Deinings of te not!