Tuesday, September 5, 2017

Koukounitsa Baai.




4 September 2017. Maandag.

Koprainia tot Koukounitsa

Die son skyn en die baai lyk sommer vriendelik. Ons trek die anker op en hy het behoorlik gebyt, die modder omsingel hom omtrent. Archie sukkel om hom skoon te kry en ons vertrek. 

Dis hoe 'n anker moet lyk

En so met die uitvaar uit die baai, kom Skillie ingeswem. Sowaar ’n skilpad, maar ’n skaam een. Hy gee ons twee kyke en verdwyn onder die troebel water. Dinge hier in die golf lyk al hoe beter.

Ons is op pad na Koukounitsa Baai, 13 myl, naby Vonitsa. Ons seil nie, want Gus waai nie. Baie riviere vind hul pad na die see hier in die Golf. Mens kan sien waar die riviere in seestrome verander, want die dennenaalde en ander plantmateriaal dryf in die water al met die stroom langs.

Rivier stroom

Koumounitsa Baai is pragtig en toe ons so ingevaar kom, sien ons nog ’n skilpad. Ons gooi anker en vas is ons. Die baai het ’n mooi uitsig oor Vonitsa se kasteel wat bo teen die berg uittroon. Ek sit so op die dek en hoor iets wat asem uitblaas. Ek kyk na die water en dis wraggies ’n dolfyn reg by Maja. Ek storm af om die kamera re kry, maar toe is die vabond klaar te vêr om te kiek. Twee van hulle swem rustig in die baai waar ons geanker is. Die boek het nie gejok nie! Dolfyne en ’n skilpad in die baai!

Vonitsa se kasteel

Die wind begin waai en van die deinings rol om die hoek van die eiland, maar niks ernstig nie. Ons klim in Dinkie en ry land toe. Die klein eiland is met ’n brug verbind aan die land. Ons stap dorp toe en kom soos gewoonlik op ’n Griekse bruid af. Hulle het eintlik Saterdag al getrou, maar neem vandag nog foto’s. Slim plan. Ek kan die versoeking nie weerstaan om saam met haar te poseer nie. Soos ’n wafferse moeder van die bruid!

Brug tussen eiland en land
Bruidspaar op die brug
Moeder van die bruid

Archie sit op die bankie by die kaai en oordink die lewe van ’n kaptein. Ons stap kasteel toe, maar dié is nog steeds, vanaf 2013, gesluit. Die mure is hoog en ek loer deur die hek na binne. Ek moes seker maar n prinses of iets gewees het, want ek hou baie van kastele. Dit gee my gedagtes en verbeelding vrye teëls, en in my geestesoog sien ek baie tonele wat daarin afgespeel het.

Dorpskaai
Kasteel

Ons stap terug en verken die klein eiland. Maja en vriendinne lê en swaai in die baai. Gus waai nogal sterk. Daar is baie dennebome op die eiland. Ai, die stap in die koelte van die bome is heerlik.

Koukounitsa Baai
Koukounitsa Baai

Wat ’n goeie keuse was dit om hier in Koukounitsa te kom anker. Deinings of te not!


Monday, September 4, 2017

Koprainia Baai



3 September 2017. Sondag.

Preveza tot Koprainia Baai

My oudste seun, Francois verjaar vandag. "Baie geluk, Francois."

Vandag gaan ons verder in die Golf van Amvrakia. Ek het klaar my bestelling ingesit, ’n sonskyndag, dolfyne wat uit die water spring en ’n waterskilpad. Die boek sê dolfyne kan jou by die baai waarheen ons gaan, kom groet.

Ons staan op en vertrek na Koprainia, 19 myl. ’n Brokkie son skyn oor Preveza, maar kort voor lank is die hele hemelruim oortrek met wolke. Die water lyk grys en dis deinserig. Ons sien wel ’n paar dolfyne doer vêr naby die visplaas, maar van sierlik duik, is daar geen sprake nie.

Preveza

Ons vaar verder. Geen sonneskyn of dolfyne wat kom groet nie. Ek kyk oral rond, maar niks. Dit reën ook drie druppels en ons gooi anker in die groot baai (waar die dolfyne ons moet kom groet). Ek kyk met verwagting oor die water. Die boek het gejok!

Archie maak vir ons heerlike ouzo hoender. Smaaklik!

Ouzo hoender

Sunday, September 3, 2017

Preveza.



2 September 2017. Saterdag.

Varkos Baai tot Preveza

Ons seilseisoen staan einde se kant toe. Hierdie jaar oorwinter Maja op stelte in Aktio Marina by Preveza. So, ons is vandag op pad na Preveza, 17 myl, in die Golf van Amvrakia of Amvrakikos Kolpos. Ons word die 6 de September uit die water gehaal en vertrek dan ’n paar daarna na Macedonië. Ons Schengen tyd hardloop uit. Ons moet maak dat ons wegkom.

So, vandag gaan ons na Preveza se dorpskaai en dan môre vêrder in die golf. Maar eers is die die smal, vlak kanaal van Lefkas en die brug waardeur ons moet vaar. Die brug maak elke uur vir ’n paar minute oop sodat die bote kan deurvaar. 

Lefkas Kanaal
Mistieke moeras

Daar is ’n hele klomp bote wat tussen die rooi en groen boeie in die kanaal vaar, almal in ’n ry, nes Michelle daarvan hou. Sommige is op pad na Lefkas Marina, ander wil deur die brug vaar. Ons het beplan om 9:00 by die brug te wees en wag ’n ruk voordat dit oopmaak. Die staal kontrapsie swaai stadig oop. ’n Mishoring blaas. Die bote wat van die noorde kom, vaar eerste deur en toe is dit ons wat van die suide kom, se beurt.

Besige kanaal
Wit ystervarkpenne
Brug begin oopswaai
Brug is oop
Bote vaar deur
Lefkas se fort

Hierdie is glad geen “hair raising” ervaring meer nie, want die kanaal is breër gemaak en jy vaar tussen die bakens deur. En deur is ons en op pad na Preveza. 

Om die sandbank

Ons vaar deur die bakens wat die kanaal aandui, want hier is dit ook vlak water net waar jy kyk. Ons gaan dorpskaai toe en daar is baie jagte, maar ook nog baie plek. Archie tru, ek gooi anker en twee mans help ons met die toue en vas is ons.

Ons is baie beïndruk oor die groei wat in die dorp plaasgevind het sedert ons laas in 2014 hier was. Daar is krag en water op die kaai. Toeriste is die hele wêreld vol. Die plek bars omtrent uit sy nate. Daar is pretdraf aan die gang en die hardlopers draf sommer tussen die hawe en die straatkafees én al die mense op straat deur. Dit gaan te jolig. Jy hoor net hoe skree die omstanders: “Bravo, bravo!” as hulle klaarmaak.

Ons stap in die dorp rond. Die kasteel is niks watwonders nie, maar het darem ’n hoë muur. Die dorp is nie vreeslik interessant nie, maar ons kom darem op ’n bruid af. Almal trou gedurig in Griekeland. Daar is altyd ’n bruid!

Kasteelmuur
Daar kom die bruid
Straatkafee

Ons sit die aand heerlik op Maja se dek en kyk na die mense, baie mense, wat verbyloop. Waar is Michelle en Johan nou! Hulle sou so lekker na die straattonele gekyk het.

Vir aandete eet ons weer ’n vars vis. Dis deesdae Archie se gunsteling aandete.

Saturday, September 2, 2017

Varkos Baai.



1 September 2017. Vrydag.

Kalamos tot Varkos Baai

Ons trek benoud die anker op, want hierdie is gekruisde anker area. Maar die geluk is aan ons kant, ons trek sonder probleme op. Geen ander anker of ketting sit aan ons vas nie. Kalamos lyk pragtig in die oggend en ons vaar na Varkos Baai,13.5 myl. Hier in die Ioniese see is bote vir Afrika. Ons is nie meer gewoond aan soveel seiljag verkeer nie.

Die hoofland se berge lê blou op die agtergrond. Oral om ons is land. Dis pragtig hier. Elize sal baie van die Ioniese See hou. Voor ons lê Varkos Baai. Maar bedrieg my oë my? Dis net bote waar jy kyk op anker. Die boek sê dis ’n gewilde baai vis swem en snorkel. Wel, ek glo hom! Gelukkig is dit ’n groot baai en ons kry ’n plekkie, gooi anker en vas is ons. 

Hoë berge agter Mitaka
Mitaka dorp

Mense op die Cat langs ons is toe sowaar o.a. Suid-Afrikaners van Johannesburg. Hulle swem en skree vir ons: “Dis lekker by die see!” Dis so lekker om van ons eie mense op ’n vreemde plek te sien. Hulle swem net en vertrek.

Die jagte kom en gaan hier. Hulle swem en vaar verder. Later die middag kom daar twee groepe flotilla bote in en oorstroom die baai. Dis lewe in oorvloed hier by Varkos. Ons swem en kyk vir die ander seilers. Beter as TV.

Die aand hou albei die flotilla groepe ’n strand partytjie. Hulle klap hande en sing en lag en braai. Dis seker hulle laaste aand van charter en dis die afsluiting. Dinghies vaar heen en weer van die strand na die jagte met figure as silhouette op die maanverligte water.

Laatmiddag by Varkos Baai

Varkos met sy turkoois water, sal my gewis weer sien.