Sunday, August 6, 2017

Evia Eiland. Animvoriou Baai.



5 Augustus 2017. Saterdag.

Almyropotamus Baai tot Animvoriou Baai

Gus se gewaai maak my diep ongelukkig. Dit hou nie op nie. Dit loei en hou net aan en aan en aan. Krap in my moeë siel. Steek dolke in my seer hart. Laat my met my kaptein baklei.

Die probleem is so! Evia Eiland loop in ’n NW-SO rigting. Die heersende somer winde in die area waai vanuit die noorde/noord-ooste. Wanneer hulle die oor die die eiland se hoë berge waai, veroorsaak hulle baie sterk rukwinde en vlae – sogenoemde “gusts” of in Duits “fallböen” op die weste kant van die eiland. En dit is waar ons tans vaar … . Al dié baaie waar die onskuldige seiljagters dan moet anker, ly onder hierdie winde en hewige aanvalle.

By sekere ankerplekke sê die Groot Griek se boek: "Strong gusts. Avoid the area and head into the open sea".

Aan die Griekse hoofland se kant, is daar min skuiling teen die Noord-Ooste winde. So, hierdie plek is wind se kind. En ek en wind se kind is mos nie maats nie. Tot Archie sê hy het nou genoeg gehad van die rukwinde.

Gisteraand was daar ’n rooi skynsel om die son tydens sonsondergang, wat sterk Noord-Weste winde in die oggend in ons baai beteken. En sowaar, vroeg vanoggend is daar sterk Noord-Weste winde.

Ons vertrek na Animvoriou, 16 myl en seil vir 1h30min. Toe ons om die hoek gaan op pad na die baai, verloor ek dit! Gus waai 25 knope tot amper by ons anker baai. Ek wil nie hier wees nie! Ek wil wees waar daar stilte is! Ons gooi anker en die verdomde ding byt nie en ons gaan na die inham langsaan. Gooi twee keer anker voordat hy byt, maar toe byt hy behoorlik. Ons moet reg wees vir die blerrie rukwinde.

Vissers

Same old! Same old!

Dis ’n pragtige omgewing. Hoë berge aan die oostekant met vakansiehuise. Die water is turkoois-kristalhelder. Alles is perfek, dis net die blerrie Gus!

Animvoriou Baai
Plesiersoekers

Gus het nooit ophou waai nie. Hy het met alle mag en geweld ons gepeper met die sterkste rukwinde wat ons nog ooit op anker gehad het. Tot die kaptein, wat altyd soos ’n flippen baba slaap, kom in die nag dek toe (waar ek slaap), omdat die winde te erg ruk en pluk. Hy slaap toe op die dek en word later die nag in spasma wakker. Al sy ledemate was styf. Om 01:50 daal daar so ’n stilte neer dat ek daarvan wakker word. Gus is so goed soos dood. Nêrens te hoor nie.

Later het hy weer begin waai. Dit was ’n aaklige nag! Die anker het wonderbaarlik gehou. Ek moet sê, ek het die wêreldse respek vir ankers!


Saturday, August 5, 2017

Evia Eiland. Almiropotamus Baai.


4 Augustus 2017. Vrydag.
 
Sykies Baai tot Almyropotamus Baai


Toe die see gaan lê, glip die deinings al wiegend die baai binne. Nie erg nie, net stil-strelend en lig-rollend.

Archie trek die anker op, saam met ou vislyn. Ongelukkig geen vis aan die lyn nie. En ons vertrek na Almyropotamus, 5 myl. Toe ons in die see kom, voel ons eers hoe beskut die baai is. Gus se spoed vermeerder dadelik na omtrent 17 knope.

Trek anker op

Ons kom by die opening van die groot baai, maar daai Gus waai van vooraf. Sterk. Later tot dertig knope. Die see is vol perdjies. Ons vaar maar skepties nader aan ons ankerplek. Gus waai uit volle bors, 25 tot 30 knope. Ek is baie skepties oor die skuiling. Die windturbines oral in die berge voorspel niks goed nie.

Oggendskoot - Windturbines
Visplaas kerkie

Daar staan een ander seiljag geanker in die baai. Ons vaar nader en die windspoed val tot 15 knope. Met elke nou en dan ’n rukwind wat dan baie sterker is. Ons gooi maar anker en dis nie so lekker op anker nie, maar dis darem heel draaglik.

Dis soos die kaptein sê: “Dis deesdae net seil en skuil.”

Evia Eiland. Sykies Baai.



3 Augustus 2017. Donderdag.

Karavos tot Sykies Baai

Ons is nou al so lank by Karavos, ek is seker daar het ’n ekosisteem aan Maja se romp gevestig. Maar nou is dit tyd om te gaan. Mens kan nie vir altyd skuil nie. Ons vertrek na Sykies Baai, 10 myl. Dis sommer net ’n doodgewone baai, maar dit het goeie skuiling. Met windvlae wat darem nie te erg is nie.

Gus waai die hele tyd, soms sterker, soms flouer. Dit lyk of hierdie alles privaat eiendom is en ons bly maar heeltyd op Maja. Die huise wat hier is, is nuut en ruim. Anders as die kerkie wat piepklein spierwit langs die see staan. Die maan kom op terwyl dit nog dag is.

Laatmiddag Sykies
Kerkie
Die maan kom op

Gus gaan lê later en dit word ’n pragtige aand.

Wednesday, August 2, 2017

Evia Eiland. Karavos.



1 en 2 Augustus 2017. Dinsdag en Woensdag.

Ja en hier is ons nog stééds op Karavos. Gus waai seker 18 uit die 24 ure van die dag. Dit loei en loei hier op die kaai. Ons anker hou, al waai Gus van voor af op Maja se snoet. Ons beskerm haar agterstewe met twee groot balfenders, want as Gus baie sterk waai, waai hy ons teen die kaai vas. Maar ons anker hou! Die boek sê dit is uitstekende houkrag.

Karavos Kaai
Karavos
Karavos strand

Kragstasie

Dis maar een van die dinge van die seilende sigeuner se lewe. Soms raak jy vasgevang op ’n plek, dan moet jy maar die storms uitwag. Dit is nie eintlik hier waar die groot probleem is nie. Dis verder suid waarheen ons moet gaan. Ons fynkam elke dag die boek vir plekke wat ons miskien misgekyk het, maar helaas. Die skuiling teen die wind is net nie goed genoeg in die baaie nie. Gus hou ook nie op waai in die nag nie en die baaie aan Evia Eiland se kant het baie sterk rukwinde. So, ons sal dit nie geniet nie. Ons kan maar dan hier bly, want ons het die tyd. Michelle en Johan kom eers 18 Augustus.

Archie sien 'n drywende wit ding in die water. Gus het sweerlik gister die padversperringsding in die water gewaai. En natuurlik ag Archie dit as sy plig om dit, soos Moses van ouds, uit die water te haal. Die ding is swaar en vol water. Hy en die boothoek bind n tou om die ding. Dit gly af en Archie sukkel. Maar trou aan sy aard, hou hy vol, totdat hy met 'n lang gesukkel die ding suksesvol uit die water haal. Hy stoot dit langs die kaai af en plaas dit netjies weer op sy plek. Bravo Archie!

Kry tou om
Die groot trek
Die groot stoot
Terug op sy plek

Ons stap al om die ander dag na Archie se gunsteling winkel, die LiDL toe en koop voorrade vir Michelle en Johan se kuier. Dis 1.4 km tot daar en die aankope moet in rugsakke gedra word. Daar kan dan nie te veel swaar goed gekoop word nie, so dan gaan ons maar weer.

Ons gunsteling winkel

Elke dag loop ons ook verby die berugte vyeboom. Die vriendelike vrou sit dan in die tuin en ons waai vir haar. Vandag het ons haar in die straat raakgeloop en sy het in Grieks beduie dat ons maar vye kan gaan pluk. Ek hou van die vrou.

Berugte vyeboom
Vriendelike vyeboom-vrou

Hierdie is die minder glansryke deel van seil. Iets waarvan die kuiergaste glad nie deel is nie. Hulle sien altyd die mooi plekke en ons het nog nooit nodig gehad om saam met hulle op ’n doodgewone plek soos Karavos te skuil nie. Almal dink alles is net altyd maanskyn, rose en pragtig. Hierdie is die regte lewe, wat ’n besliste deel van seilers se lewe is.