Friday, September 30, 2016

Istanbul. Bosphorus.



29 September 2016. Donderdag.


Vandag doen ons die Bosphorus toer met die veerboot. Wat die vaart besonders maak, is dat Asië aan die een kant is en Europa aan die ander kant. Dis ’n dagtoer wat 10:30 begin en ongeveer 17:30 eindig. Jy vaar met die Bosphoros seestraat tot amper by die Swart See. 

Ons gaan aan boord en ons vertrek. Jare gelede het die baie ryk Ottoman hier vir hulle herehuise en piekniekplekke gebou, met die grootste swier denkbaar. Hulle is nog ongeskonde en staan trots langs die seestraat van Bosphorus. Ons is slaggereed en meer as gewillig om dit te bewonder.
 
Yeni en Sulimanye Moskees
Dolmabahçe Paleis
Ortaköy Moskee
Egiptiese Konsulaat
Rumeli Hisan - Fort van Europa


By Anadolu Kavaği, aan die Asië kant, stop ons vir middagete. Ons het ongeveer twee ure om na die kasteel toe te loop en middagete te geniet. Ons stap op opper opste na die kasteel. Anders as twee jaar gelede, is die kasteel agter slot en grendel en ons kom voor dooiemansdeur te staan. Ons stap maar na n ander uitkykpunt en kyk uit oor die Swart See (waarop ek nooit wil seil nie).
 
Ons koop elk 'n mielie vir middagete en later 'n pakkie kek (koek). Ons stap rond, kyk hier en daar en 15:00 klim ons die veerboot en vaar die pad terug.



Yoros Kasteel
Yoros Kasteel
Archie en ek met Swart See in agtergrond
Küçüksu Kasrı
Topkapi Paleis
 
Teen 17:30 meer ons vas en stap uitgeput, maar tevrede, aan land en toe takel ons die Spice Bazaar.

Istanbul.



27- 28 September 2016. Dinsdag en Woensdag.

Dis al weer lang pad. Die keer is dit agt ure in ’n bus en trein en trem en toe kom ons in Istanbul by die Subrosa Hotel aan. Die eienaar is vreeslik vriendelik en behulpsaam en ons voel sommer dadelik tuis. Sy vrou maak koffie en ons teug dankbaar daaraan. Die kamer is heerlik ruim.

Ons word honger en deel ’n pizza en drink tee. Alles teen ’n spesiale prys. Hierdie Turke het ’n moeilike jaar, want toeriste is maar skaars in die geweste. Ons besluit ons gaan vroeg inkruip, want die moeg oorval ons en die bed roep.

Woensdag gaan ons na Taksim Plein, maar dis eintlik niks besonders nie en bewolk en reënerig. Daar naby is ’’n uitstalling in ’n  kunsgalery met besonderse skilderye. Die een man se kunswerke is eintlik te goed en te na aan die ware jakob. Sy pruime lyk so eg dat jy dit amper wil eet. Die een wat eintlik my hart steel is ’n Turkse troue. Dit is ’n grote en kos R80 000.00. Dis so bietjie baie te duur. 

Monument - Stigting van die Turkse republiek
 
Die Grand Bazaar is die volgende op ons lys, maar ek stap half belangeloos, want ek wil niks koop en is moeg vir almal wat alles aan my wil afsmeer. Ek is mos nou totaal bankrot na die wyn kraf ding wat ek gekoop het.

Terug by Sultanahmet gaan ons die Blou Moskee besoek. Archie moet ’n romp aantrek om sy kaal bene te bedek en hy lyk baie seksie. Die moskee is vol bedrading en dit belemmer die uitsig van die koepeldak. Dit is glad nie so mooi soos Roomse kerke nie. 

Blou Moskee
Rokkies wil hy dra …
Blou Moskee

Blou Moskee
Reuse kolom


Ek besoek die Mosaïek Museum met baie ou en effe stukkende mosaïek. Dit kom uit die Bisantynse tydperk. Dit moes baie mooi gewees het toe dit nog heel was.
 

Mosaïek
Mosaïek
Mosaïek

Ons het vanaand ’n ete afspraak met Francois se kollega, Nadim en sy vrou, so ons gaan terug hotel om klaar te maak. Ons klim die trem en daar trek ons na die Hamdi Restoran waar ons hulle 18:30 moet ontmoet. Die plek het ’n pragtige uitsig . David, ’n Duitser, eet ook saam en die kos en geselskap is onverbeterlik. Dis mezes en hulle is bekend vir hulle kebabs. Die lam is sag, sappig en so geurig. Verskillende stokkies word aangedra en dan proe ons.

Uitsig met Galata Toring
Uitsig oor Yeni Camii (Nuwe Moskee)
Ek, Archie, David, Aliza en Nadim

Die tafel kreun onder al die kos en slaai en later twee verskillende soorte baklavas en nog later, so ander nagereg. Tee word ook bedien en ons het heerlik geëet. “Baie dankie Nadim. Julle het ons nou behoorlik op die hande gedra.” 

Baie dankie julle

Monday, September 26, 2016

Safranbolu.



26 September 2016. Maandag.

Ons het gister vir ’n twaalf uur skof Safranbolu toe gery. Nou is ons hier in Turkye se beste bewaarde Ottoman dorpie. Dit is op die lys van Unesco se Wêreld-erfenisgebiede.

In die 17de eeu het die hoof handelsroete tussen Gerede en die Swart See deur Safranbolu gegaan en die plek het gefloreer. Gedurende die 18de en 19de eeu het die ryk inwoners groot herehuise gebou en die vakmanne het eenvoudiger huise gebou wat net so stewig was. Die meeste van daardie huise het behoue gebly en staan vandag nog. Die huise wat verval het, word gerestoureer en word soms as hotelle en winkels gebruik.

Ottoman huise
Ottoman huise

Gedurende die 19de eeu was 20% van die inwoners Ottoman Grieke, maar hulle nasate het na die Tweede Wêreldoorlog na Griekeland teruggegaan met die gedwonge bevolgingsverskuiwing tussen Turkye en Griekeland.

Ons loop rond en verlustig ons in die Ottoman atmosfeer, loop in die klipstraatjies tussen die winkels. Oral is saffraan te koop, want die mense plant dit self. Jy kan saffraan koffie, seep en konfyt koop. Natuurlik ten duurste.

Plaas implemente van hout
Houtkis met kat
Haman, Turkse badhuis

Ons stap op na Hidirlik Heuwel en beskou die dorpie van bo af. Die rooi en terracotta dakkies lyk pragtig. Dan is die moskees maar altyd teenwoordig met hulle koepels en spits torings.

Uitsig van Hidirlik Heuwel
Moskee op die bult

Ons stap ook langs die Akçasu kloof, dis pragtig maar ongelukkig vol rommel. Hier boer die mense op klein lappies grond met hoenders, bietjie groente, alles seker maar vir eie gebruik. Die plaasboer se hond stap heeltyd saam met ons.

Toe is dit weer terug dorp toe en ons stap verby die 17de-eeuse “caravanserai”. Dit is waar die mense en hul karavane (kamele) oornag het op hul reis na die Swart See. Dit was die sy (silk) roete. Dit is omskep in 'n pragtige luukse hotel waar wel-af toeriste kan tuisgaan.

"Caravanserai"
"Caravanserai" se eetkamer

Toe stap ons na die Kent Tarini Museum. Ons kom toe op ’n bruidspaar af wat besig is met ’n fotosessie. Al die min toeriste wat daar loop wil graag saam met die bruid poseer en ek laat my ook nie twee keer nooi nie. Ek staan toe ewe stink langs die pragtige bruid en glimlag vir die foto.

Mooi bruid

Safranbolu is ’n pragtige ou plekkie en ek is seker die Ottomans het heerlik hier gebly.