Monday, September 21, 2015

Trizonia. Dag 3.



17 September 2015. Donderdag.

My kaptein en ek


Ons loop hierdie eiland plat. Vandag stap ons die 1 400m roete na ‘n antieke toring toe. Dis hoër as gister se roete. Die kontras tussen die vars groen van die bome en die blou van die see is verfrissend mooi. Harmonie sit verskuil in die kontras. Oorkant lê die dorpies, kleiner as gister. Sulke popspeel huisies.

Loop eiland plat
Popspeelhuisies


Die oorblyfsels van die antieke toring is nêrens te sien nie, maar ons gee nie om nie. Die stap, die vêrgesigte, die grysgroen olyfbome is vir ons genoeg. Die sintuiglike ervarings van sien, hoor, ruik hier in Trizonia, waar ons vasgevang is, is voedsel vir my siel. Ek sal aansoek doen om hier vasgevang te word.

Grysgroen olyfbome
Uitsig


Ons stap terug en gaan sit en sweet op Maja. Hemel, die hitte wil nie weggaan nie. Trizonia se onklaar marina is vandag stampvol, hier is nie plek vir ’n muis nie. 

Archie raak verveeld. Toe haal hy die stoof uit. Sy oonddeur wil mos nie mooi toemaak nie. Al die skroefies en moertjies word met sorg en soms met moeite uitgehaal. Die oonddeur se veer is toe die sondebok en Archie maak korte mette met die ou probleempie. Dis sommer ook nog een ratel minder as Maja skommel. Soos die Grieke sou se: "Bravo, Archie!" Ons sien hoe vuil is daai stoof en maak dit deeglik skoon. Nou hou dit nie meer 'n gesondheidsgevaar vir ons in nie.

Maak stoof reg


Archie neem my vanaand uit vir ete. Dis nou al my derde jaar hier in Griekeland en ek het nog nooit hier mousaka geëet nie. Wel, vanaand is die aand. Ons klim ewe opgedress van Maja af en stap so half in gelid met Switsers na die taverna toe. Ons raak aan die gesels en eindig saam met hulle aan dieselfde tafel en luister na al hulle seilplanne. Hulle is op pad na Gibraltar en daarna die Kanariese Eilande om die Atlantiese Oseaan te kruis. Ek kan sien Archie se oë blink. Hy wil dit ook eendag doen, maar ek stel glad nie belang om dit te doen nie.

Ons neem afskeid van hulle om hulle nooit weer te sien nie. Ek is nou al gewoond aan koebaai se.

Archie sê ek maak lekkerder mousaka as die taverna.

Thursday, September 17, 2015

Trizonia. Dag 2.



16 September 2015. Woensdag.


Vasgevang in op ’n Griekse Eiland!? Hoe erg kan dit nou wees? Ek kan aan erger dinge dink. Vasgevang in die spitsverkeer tussen Johannesburg en Pretoria! Tussen hope skoolboeke om te merk! Agter slot en grendel in jou eie huis! Ons vriend Deon van Aliwal-Noord se wêreld is reg. Ons kla met die witbrood onder die arm.

Ons gaan stap die 1 600m roete na Kaap Kochylas. Ons sien die hoë berge oorkant op die vasteland. Klein dorpies lê knus en snoesig aan die voete van die berge. Vissersbootjies kom en gaan met die vissermanne wat hul daaglikse brood vang. Die wonder van die eenvoud tref my tussen my oë. Ons is deel daarvan, midde-in die eenvoud. Maak oop jou oë en waardeer wat aan jou gebied word. Die vasgevang word vrygelaat!

Roete na Kaap Kochylas
Lekker stap


Die see lê blousel-blou aan albei kante van die eiland. Olyfbome lyk of hulle sommerso wild groei. Nie omdat hulle moet nie, omdat hulle wil. Trizonia is ’n pragtige eiland. Ek en Archie geniet die stap terdeë en is baie dors. Dis baie warm hier en die Kalypso Taverna lok ons nader. Ek drink ’n freddo cappucino en Archie ’n yskoue bier waarvan die beker as’t ware gevries is.

Olyfbome
Kalypso Taverna


Ons stap tevrede terug na Maja. Archie en ons jong Switserse bokkie-buurvrou help die nuwe kaaibewoners om vas te meer. Toue word gegryp en vasgemaak, doelgerig en doeltreffend.

Trizonia dorp en marina
Maak toue vas


Hier in Trizonia gaan dit nog baie lekker word!

Wednesday, September 16, 2015

Trizonia.



15 September 2015. Dinsdag.

Panormou tot Trizonia
Die oostewind waai nog steeds. Nie sterk nie, met genoeg vir swellings. Waarheen nou? Hier is nie baaie wat reg is vir oostewinde nie. Ons vertrek uit die baai en daar is weer van die pragtige gebakte eier jellievisse. Hulle is vir ons baie mooi. 

Jellievis
Jellievis


Kallithea is die eerste baai op ons lys. Daar is ’n klein eilandjie met ’n kerk in die baai. Ons vaar rond vir ankerplek. Die boek jok vreeslik oor die diepte. Dis baie dieper hier as wat die boek sê en glad nie beskut teen die oostewind nie. Die baai word te lig bevind en ons vaar verder. Archie is bietjie teleurgesteld, want hy wou baie graag hier anker. Hy hou mos vreeslik van anker. 

Kallithea Baai


Ons vaar na die volgende baai toe, maar dis te diep en te oos. Dis dieselfde met die volgende baai. Ons kry net nie ’n baai wat reg is nie en toe moet ons maar na Trizonia, 38°22.131 N, 22°04.618 O, 11.6 myl, gaan. Ons is glad nie voorbereid om alongside te gaan nie en die toue en fenders word in gereedheid gebring. Gelukkig is daar iemand op die kaai wat help en ons is vas en veilig in Trizonia. Dis ons voorland vir die volgende paar aande. Ons het geen ander heenkome nie.

Trizonia Marina


Ons gaan stap ’n ent in die dorp, maar ons voel afgehaal omdat ons ons laaste dae van die seilseisoen in ’n halfklaar marina moet deurbring. Ons moet eers Saterdag in Patra wees. Die kaptein se hart is baie seer en ek kan niks doen om hom op te beur nie. Ons is vasgevang in Trizonia. Gelukkig is dit baie mooi hier, want hier sal ons onsself moet besig hou vir vier dae.

Trizonia hawe

Tuesday, September 15, 2015

Panormou.


14 September 2015. Maandag.

Anemokampis tot Panormou Baai

Dis ons laaste week. Ons bekruip vir Patra stadig, maar seker.

Al die baaie in die geweste is beskut teen die heersende winde, wat die noorde- en westewinde is. Dis oop vir die suidewind en die oostewind veroorsaak swellings in die baaie. Raai nou net hoe waai Gus nou!? Hy is so aspris, hy waai uit die ooste en suid-ooste. Wip is my voorland.

Ons vertrek uit Anemokampis na Panormou, 38°21.530 N, 22°14.659 O, 11.6 myl. Gus waai net liggies, maar hy het seker op ’n ander plek erger gewaai, want die see is al klaar effense effens opgeklits. Nie baie nie, net genoeg om vir Maja rond te skommel as sy sou stilstaan. Ons vaar by Ormos Vidavis in om te kyk hoe lyk die ankerplek. Dis oop na die suide en die oostewind stuur swellings in. Ek kan sommer sien dis hop se dinge die en ons vaar maar verder.

Ormos Vidavis


Gus is ’n lekker ligte briesie en die kaptein wil seile span. Ons het nie vêr om te gaan nie, so ons is nie haastig nie. Ons seil sommer so stadig en rustig verder. Die kaptein kyk na sy seile en probeer maksimum spoed uit mimimum wind kry. Waar is ou Chris nou. Hy wil mos altyd bloed uit ’n klip tap as dit by seilspoed kom.


Kaptein se seile



Ons vaar by Panormou in. Ons ken die baai, want ons was verlede jaar hier. Dis so ’n groot, vriendelike baai met ’n groot klippiesstrand. Archie kry die geskikte plek en ons gooi anker en Maja skop viervoet vas, so byt haar anker. 

Panormou Baai


Die deinings kom klein, maar duidelik ingestroom en breek liggies op die strand. Dis glad nie gevaarlik nie, Maja is goed geanker en Gus waai nie. Dis net blerrie ongemaklik as Maja so hop en skommel. Soms gee jy ’n tree, dan hop sy anderkant toe. Dan is jou tree so half in die lig en jy struikel so ’n dronkie. Dis verbasend dat sulke klein deinings sulke groot bootskommelinge kan veroorsaak.

Ons kajuit is in Maja se snoet en daar voel jy die bewegings die ergste. Ou Arch slaap soos ’n baba en ek kan nie slaap nie. Dan skwiek iets hier en dan chirr iets daar. Dan klik iets hier en dan klak iets daar. En Sherlock snuffel al die geluide uit en maak dit stil. Se moer, ek gaan op die dek slaap. Dis lekker koel daar, hop die minste maar in die nag klink daai klein golfies wat op die strand breek, so erg, ek dink ek is by Wildernis in die Kaap!

Praat van koel, ek dink die seisoen is besig om te draai. Ek kry later koud op die dek en gaan kruip by die kaptein in.