Monday, September 7, 2015

Ormos Isidoro

7 September 2015. Maandag.

Ag. Ioannou tot O. Isidoro


Na ons terleurstellende braaivleis, is ons vandag op pad na Isidoro Baai, 38°21.725 N, 22°37.245 O, 23.1 myl om te gaan.

Dis ’n grou Maandag. Die dag is dof en deinserig. Ek verlang vandag huis toe. Na my mense, my kombuis, my tuin, my toilet, my stort. (Ek dink dit is daai braaivleis se skuld.)

Ons pak die langpad, groupad, bloupad aan. Dis bedompig warm. Alles word in ’n deinserigheid weggesteek. Berge en grysheid word een. Ek voel so alleen.

Groupad, bloupad


Ons gooi anker in die mooi baai en hy byt dat dit bars. Dis nog steeds bewolk.

Ormos Isodoro


Die Golf van Korinte is die blyplek van die Cotylorhiza tuberculate jellievis. Hier is inligting oor die gedierte. Ek is bloot te lui om dit in Afrikaans te vertaal.

Description
Cotylorhiza tuberculata is a species of jellyfish, also known as the Mediterranean jelly or Fried egg jellyfish. Commonly found in the Mediterranean Sea, Aegean Sea and Adriatic Sea it can reach up to 35 cm in diameter. It seems that this jellyfish's sting has very little or no effect on humans but it is better not to touch it and it is probably harmless also for most fishes. Just as for Rhizostoma, it is often associated to young fish that use it as a shelter. It is an endangered species.

Identification
One of the most beautiful jellyfish of the Mediterranean Sea. The umbrella can measure 35 cm in diameter. It is very rigid and roundish in its centre, where it has a reddish or yellow color. The external part of the manubrium is motile and pulsates vigorously. Under the umbrella, the manubrium resembles a bouquet of flowers, with blue-purple buttons, inserted into stout arms. Some tentacles, also terminating with blue buttons, are inserted on the manubrium. Cotylorhiza can have symbiotic microalgae that live in its tissues, just as those of tropical corals. Functionally it is a “plant”, even if it can feed on zooplankton.







Ek weet nie mooi van bedreigde spesie nie, want hier is honderde in die water.



Ag. Ioannou - Braaivleis.



6 September 2015. Sondag.

Ag. Ioannou


Ek proe dit al! Ek ruik dit al! ’n Sappige, geurige stuk braaivleis. Lamtjops, t-been, solank dit net rooivleis is en deur die hartstigting as ongesond verklaar is. Ek kan my lus nie hou nie.

14:00 sit ek en Archie opgetof by die taverna waar ons vir Nick moet wag. Die afspraak is eers 15:00, maar ons vat nie kanse nie. Ons monde water vir daai braaivleis. Archie wil vir ons iets bestel om te drink terwyl ons wag, maar die taverna se mense sê ons moet net ’n bietjie wag, hulle eet nou. Toe wag ons ’n bietjie.

Archie bestel ’n bier vir hom en vir my ’n glasie wyn, want ek is nie lus vir Fanta nie. Die kelner sit die bier voor my neer en die beker wyn voor Archie. Dis nie ’n glas wyn nie, dis 500 mℓ wyn. Archie bied vir die mense langs ons wyn aan, maar hulle lag net, wil nie hê nie. Ek begin toe met ’n moedige poging om die wyn op te drink. Archie help waar hy kan. Behulpsame man, die Archie.

Dis 15:00. Enige tyd nou. En ons wag. Hulle het nie presies geweet waar om ons te kom oplaai nie, so ons wag geduldig. En ons wag en wag. Ons wag nou nog. 

Moeg gewag
"All dressed up and nowhere to go!"
 

Braaivleis?! NOT!

Ek wonder waar was Nick ...

Sunday, September 6, 2015

Ag. Ioannou.



5 September 2015. Saterdag.

Daskalio tot Ag. Ioannou via Alyki

Twee salige dae by Daskalio. Dit was heerlik. (Ons het later by Nick verneem dat die eiland bekend is vir aardbewings!)

Toe is dit weer anker op en ons gaan eers na Alyki om voorrade te koop. Soos ek gister vir Chris gesê het, ons staar skeurbuik in die gesig. Ons sal vars produkte moet koop. Ons eindbestemming vir die dag is Ag. Ioannou, 38°12.858 N, 22°57.648 O, 11.6 myl. 

Alyki


Ons is sommer gou by Alyki en soek ankerplek om tydelik te stop. Die dorpie is nie eintlik geskik vir oornagverblyf vir seiljagte nie. Ons gooi anker en maak vir Maja aan ’n boei vas dat sy nie rondswaai nie en klim in Dinkie. Gus lê, so dit is baie stil. Ons roei kant toe en sien ’n man kom na ons toe aangeswem. Ek en Archie het dieselfde gedagte – hy gaan sê ons mag nie die boei gebruik nie. Sy eerste woorde aan ons is: “Are you from South Africa?”

Dis toe Nick, ’n Suid- Afrikaanse Griek wat ’n vakansiehuis in Alyki het. Hy nooi ons toe vir koffie onder die strandsambreel en sy vriend, Nick, kuier saam. Laasgenoende kan glad nie Engels praat nie. Nick laai ons in sy kar en daar trek ons na sy huis, waar hy vir ons Coke en vrugte voorsit. Ons kuier so ’n ruk en toe neem hy ons terug na Dinkie. Hy nooi ons vir ’n Sondagbraai by sy huis. Nick en sy vriend, Nick, sal ons môre, 15:00 by ons ankerplek kom oplaai. So, ons sal sien of dit regtig gaan gebeur.

Nick (die Suid-Afrikaner), Archie en Nick (die Griek)


Ons gaan terug na Maja en vaar vêrder na Ag. Ioannou. Dis ’n klein gehuggie (hamlet). Daar is ’n klein hawe met lokale bote en permanente boeie vir die plaaslike bevolking. Geen plek vir ons nie. Hierdie is een van daai ankers met ’n lang landlyn. Die baai is diep en ons moet in 22 m anker. Ek gooi en Archie tru. Die anker sleep en ons trek op. Ons gooi by ’n ander inham en dieselfde gebeur. Daai anker wil nie byt nie. Die derde keer sleep hy weer en in die sleep byt hy. Ons is te na aan die land en ek sukkel om die anker op te kry. Ek roep vir Archie, want hier is ’n slang in die gras. Archie sukkel. Die anker het iets beet. Die anker wil nie op nie, ons is vas. Maja gaan agtertoe en weer vorentoe. En skielik is ons los. Archie vermoet ons was aan ’n rots vas. Genadiglik is ons los. 

Ag. Ioannou hawe


Archie sê ons moet weer gooi en ek is moerig. Ons gooi en die *@#$% anker wil nie byt nie en ek trek weer op. Toe skree ’n man van die land af: ”Take the yellow bouy!” En ek skree: ”Thank you!” en haal dadelik die boothaak uit. Archie dink nog aan nog ’n probeerslag ankergooi, maar ek is klaar agter die stuur, gee die boothaak vir hom, want hy is die sterk een wat die boei moet gryp en ek begin na die boei toe vaar. Archie gryp toe maar die boei en vas is ons!

Ons gaan land toe om te hoor vir wie of wat ons moet betaal vir die boei. Die taverna man is die eienaar van die boei, maar hy verstaan nie wat ons sê nie en hy roep iemand in wat Engels kan praat. Die boei is gratis en ons hoef nie by die taverna te eet nie. Maar hy sê toe ook ons moet liewers die wit boei gryp, want die gele is nie so sterk nie. Ek wonder toe hoekom het hy dan gesê ons moet die geel boei gryp. Ons drink iets by sy taverna en gaan terug na Maja en kry die wit boei. Toe ontspan ons heerlik.

Maja aan die boei


Ons sal sien of Nick ons môre hier kom oplaai.

Friday, September 4, 2015

Daskalio



4 September 2015. Vrydag.

En my wens is bewaarheid. Dit is ’n heerlike sonnige dag. Die water is helder blou, met net hier en daar ’n jellievis. So ons swem maar met oop oë.

Vandag gaan ons op die eilande rondstap. Ons klim in Dinkie en gaan eers na Zoodhochos Eiland toe. Ons het so paar dae gelede daar geanker. Dis tussen die steekbos op boontoe. Die uitsigte is pragtig. Maja lê so te sê roerloos in die windstilte. Dit voel of ons die enigste mense op die planeet aarde is.

Blou
Maja in Daskalio Baai
O verre berge


Ons gaan ondersoek die verlate klooster en kyk na die grasgroen motorwrak. Af stap ons terug na Dinkie en roei terug na Maja. 

Wrakkie


Later gaan roei ons na Daskalio Eiland toe en ek kyk in vervoering na die blou, stil baai waar Maja nou ’n buurvrou gekry het. Ons is toe nie die enigste mense op planeet aarde nie. Daar is ’n snorkelaar en nog ’n klein vissersbootjie. 

Ons en Maja
Maja


Dis so warm hier dat ons elke nou in dan ons lywe in die see dompel net om bietjie af te koel. Zané sou die ankerplek vreeslik geniet het.

Daskalio, my Daskalio.


3 September 2015. Donderdag.

Mavrolimnis tot Daskalio


Francois, my oudste seun verjaar vandag. Baie geluk, Francois. 
 
Na ’n bietjie stoei met die talle toue reg rondom ons, wat ons nie wil hê moet in Maja se propeller kom nie, vetrek ons uit die stille waters van Mavrolimnis. Ons gaan vir twee dae anker by Daskalio, 37°07.102 N, 22°59.217 O, 8 myl, Die see is kalm en Gus waai net sterk genoeg dat ons kan seil en op is die genoa. Ons seil rustig na die eiland. Glad geen haas nie, want ons het nie vêr om te gaan nie.

Daskalio was verlede jaar een van my gunsteling ankerplekke. Ek kan nie wag om daar te kom nie. Hierdie jaar lyk dit heel anders, want dis bewolk. Weg is die blou-blou water en die mooi berge lê daar vêr in die mistigheid. 

Daskalio Baai


Ons neem vir Dinkie en gaan land toe, maar die teleurstelling is groot. My Daskalio is nie wat hy was nie. 

Daskalio uitsig


Miskien skyn die son môre.