Sunday, July 12, 2015

Tilos Eiland. Livadhia.



11 Julie 2015. Saterdag.

Panormitis tot Livadhia, Tilos Eiland

Ons vertrek vroeg, voor sonsopkoms, want dit is ’n lang pad van 23.9 myl na Livadhia, 36°25.023 N, 27°23.135 O. Ons wil daar wees voor Gus. Die son kom mistig oor ’n slapende Panormitis Baai op. Die kloktoring sing vir ons ses slae as afskeidslied en weg is ons. 

Die son kom op


Twee-derdes van die pad is dit rustige deinings wat Maja net liggies wieg. Ek is dankbaar vir die plat see met die amper niks wind van voor. Toe daar volgens die GPS 8 myl is om te gaan, begin Gus te waai. Eers net liggies en later sterker. Voor ons lê die dorpie, maar dit lyk of dit verder gaan en nie nader kom nie.

Archie span die genoa en ons seil ’n ruk. Ek kan weer sê “ ’n ruk”, want Gus ruk aan daai arme genoa. Hy waai al sterker en ons moet die lawaaierige seil met moeite intrek. Die dorp kom nader en Gus waai al sterker. Ons is dankbaar toe dit stiller in die baai is. Dis ’n klein hawe en gelukkig is daar plek. ’n Vasmeerman wys die plek aan ons en ons vaar daarheen. Gus waai met vlae. Na ’n gesukkel is ons vas. Ek bekyk die plek en wonder wat de moer doen ons hier vir drie dae.

Livadhia Baai


Gus is hier in sy element. Sy naam kom mos eintlik van die woord gusts of gusting. Wel, hier hardloop Gus met spoed van die berg af. Hy is ’n rukwind en ’n plukwind en ’n raaswind. Met mening val hy vir Maja aan en hardloop dan verder, dan is dit skielik weer doodstil. Dan kom hy weer. Gelukkig is ons stewig en veilig vas, anders sou ek maar benoud gewees het. Ek is bly ek is nie nou op die see nie.

Die katte van Livadhia weet dis etenstyd, want hulle verskyn en sit voor die jag waar hulle kos ruik. Hulle sit ons so in die oë en kyk en sê saggies miaau. Ons gooi vir hulle oorskiet en soos aasvoëls pyl hulle op die kos af.

Etenstyd


Ek kyk om my rond. Niks romanties en idillies omtrent hierdie eiland nie!

Hierdie Griekse eilande is snaakse goed. Dis bar, dor stukke klip wat bo die see uitsteek en dan noem hulle dit eilande. Geen lowergroen bome en plante met ’n kleurryke voëllewe en skoenlappers nie. Dis net warm en bar met sonbesies wat aanhoudend en luid sing. As mens dit sing kan noem. Dis hoe ek vir Tilos op die oomblik beleef. ’n Godverlate plek waar ek moet skuil vir Gus.

 

Friday, July 10, 2015

Symi. Panormitis.



10 Julie 2015. Vrydag.

Symi tot Panormitis
 
Na drie nagte in die pragtige Symi, vertrek ons na die volgende bestemming op dieselfde eiland, Panormitis, 36°33.128 N, 27°50.809 O, 12 myl. Die ooskus van Symi word gekenmerk deur sy hoë kranse wat met hulle voete in die see staan.

Thessalona Baai


Ons gooi anker in die baai en gaan besoek die klooster van Panormitis. Die klooster is opgedra aan die aartsengel, Michael. Die ikoon van die engel is in die kerk te sien. Dit is ’n volgrootte silwer beeld met wapenrusting en ’n swaard. Nogal indrukwekkend.

Klooster


Die klooster het ’n pragtige kloktoring wat nog in werking is. Dit kondig elke uur luidkeels aan. Dis in barok-rococo styl gebou en word beskou as die mooiste toring in die Aegean See. Die klok weeg drie ton. Dis baie kleurvol en vol tierlantyntjies. Daar is nie sekerheid oor presies wanneer die kloktoring en klooster gebou is nie, maar dit was waarskynlik om en by 1740.

Kloktoring
Kloktoring, barok-rococo styl
Meer detail


Die binneplein met sy swart en wit spoelklippies tref die oog. Archie sit so ewe op die bankie en bewonder die simmetrie van die klippies. 

Binneplein
Venster
 

Dis heerlik om in die groot klooster rond te dwaal. Dis ’n lewendige plek, want van die kamers word aan vakansiegangers en pelgrims uitverhuur. Baie pelgrims en gelowiges besoek die klooster elke jaar op 8 November om die aartsengel te aanbid.

Na ons besoek aan die klooster vat ons die pad terug na Maja wat onder die wakende oog van die kloktoring getrou vir ons in die baai wag.

Panormitis Baai

Thursday, July 9, 2015

Rhodos.



8 Julie 2015.

Vandag klim ons die veerboot na die groot eiland, Rhodos. Of Rodos of Rhodes. Elke tweede persoon spel die eiland se naam anders. Archie het die uitstappie gereël om my verjaarsdag te vier. 

Rhodos was tuiste van een van die Sewe  Wonders van die Antieke Wêreld, die Kolosse van Rhodos.
Dit is in 295 v.C. gebou en was dit 'n 35m hoë koper standbeeld van die god van die Son. Dit het wydsbeen oor die ingang van die hawe gestaan. Dit is in 'n aardbewing in 227 v.C. vernietig.

06:30 vertrek ons vir die uur en ’n half se vaart. Die veerboot is taamlik leeg en kan ruim sit en ek knip ’n uiltjie op pad. 

Aankoms by Rhodos


Rhodos het ’n pragtige groot ou dorp. ’n Hele aantal nasies en magdomme het Rhodos regeer, maar die fortifikasies wat ons vandag sien, is deur die Ridders van St Johannes opgerig. Hulle was vanaf 1309 in beheer van Rhodos en die eiland het vooruitgegaan.

Die ridders het ook forte van Tilos tot Kos opgerig en ook by Bodrum en Marmaris op die hoofland. Hulle was uitstekende vegters op die water. Hulle het vir meer as ’n eeu die deel van die Aegean See beheer. In 1444 het die Sultan van Egipte probeer om die eiland oor te neem en in 1480 het Mehmet II weer probeer, maar die ridders het die aanval suksesvol afgeweer.

In 1522 het dinge verander toe Suleiman I Rhodos wou oorneem. Vir vyf maande het die Turkse magte alles in die stryd gewerp om Rhodos oor te neem en die Grand Master, Villiers de L’Isle, moes toegee.

Die ridders het na Malta geseil waar hulle oor begin het. Rhodos was onder Turkse beheer tot met die Eerste Wêreldoorlog, toe Duitsland oorgeneem het. Die Italianers het die streek beheer tot 1947 toe die eiland weer aan Griekeland teruggegee is. Hulle het begin om die ou dorp weer te herbou soos die oorspronklike Rhodos.

Kerk van Maria Burgh
Een van die baie ingangsehekke tot die ommuurde stad
Reuse Marine Hek deur 12m dik muur


Een van die hoogtepunte van Rhodos is die Paleis van die "Grand Masters". Dis 'n reuse gebou met baie kamers en gange en die mooiste mosaïek. Ek loop en dwaal en verdwaal in die plek.

Gang
Mosaïek
Binneplein


Ek en Archie verken die ou dorp die hele dag. Ons stap ook later na die tempel van Apollo Pythian en die antieke stadion. 

Kleurvolle winkel
Tempel van Apollo Pythian
Reuse grag rondom die antieke stad
Mandraki Hawe met sy windmeulens


Ons drink koffie by straatkafee en die Egiptenaar barista leer my die verskil tussen frappé en freddo. Al twee is koffie met ys, maar frappé word met Nescafe gemaak terwyl freddo gebruik espresso.

Ons is moeg van al die rondloop en verkenningstogte en sit op n bankie om te rus. 'n Groot voël kom sit op Archie se skouer en byt sy knoop af!

Knoopvoël
Straattoneel


19:00 klim ons die veerboot vir ons terugvaart. Ons was die hele dag weg en was bly om te sien dat Maja nog veilig is. Hier in Symi is die gevaar van gekruisde ankers.

Op die deur kry Archie die afskeidsnota van Henry en Sally. Hulle groet tot ons weer ontmoet.