7 Julie 2015. Dinsdag.
![]() |
Fethiye na Symi via Baba Adasi en Serçe |
Op anker in Fethiye... Vir dae
aaneen... Eintlik vier nagte. Archie wag vir die nuwe katrol waarop die
ankerketting moet loop. Elke dag is dit dorp toe met Dinkie. Fethiye voel al
soos huis!
Saterdag, 6de Julie, klok ons laatmiddag uit en vertrek die Sondag op ons lang pad van Turkye na
Griekeland. Rhodos is die naaste port of entry, maar 'n agent vra ons €120 om in die hawe vas te meer. Dit is die enigste manier om 'n plek in Rhodos se hawe te kry. Dis net 'n skelmstreek om geld te maak. So, ons besluit om by Symi in te klok wat baie verder is. Ons moet dus vir twee aande as onwettige immigrante êrens in Turkye
oornag. Sondagaand, na 25 myl, anker ons by Baba Adasi. Die Maandag is dit 33 myl op ’n groot, rowwe see met die wind reg van voor en toe is ons eers by Serçe, steeds in Turkye, nog nie in
Griekeland nie. Dinsdag pak ons die laaste 14 myl skof aan na
Symi, 36°36.942 N, 27°50.242 O, op ’n kalm Aegean See.
Ons neem afskeid van Turkye. Ek het baie
lief geraak vir die mooi land. En toe lê Symi voor ons.
Totsiens Turkye, Symi lê voor ons |
Symi Dorp |
Ons is terug in
Griekeland. Die kaaiman blaas sy fluitjie en beduie vir ons waar om in te kom. En jou
waarlik, dis langs ’n Suid-Afrikaanse seiljag! Ek gooi die anker, Archie tru,
die man vang die toue en ons is vas.
Die bure is nêrens te sien nie.
Ons maak ons tuis en die vibe van Griekeland is dadelik voelbaar. Dit lawaai en
krioel van mense. Dit eet en drink en kuier rond. Ons voel sommer dadelik tuis.
Symi |
Symi |
Toe is dit die rompslomp van inklok in ’n nuwe land. Eers is dit die paspoort polisie. Hulle stempel ons paspoorte. Toe is dit die doeane polisie, maar “welkom in Griekeland”! Hulle is toe. Siësta tyd. Maak eers 17:30 oop. Ons stap terug na Maja.
Ons ontmoet vir Henry en Sally
van Johannesburg. Hulle is so bly om mede-burgers te sien. Ons gesels heerlik. Hulle
nooi ons vir ’n skemerkelkie later die aand. Ons sit toe af na die doeane
polisie en sonder moeite word die formaliteite afgehandel. Toe is dit nog net
die hawe polisie en toe is ons wettig in die land.
Ons gaan na die bure en drink ons
skemerkelkie en hulle vra ons saam na ’n klein restaurant waar hulle graag eet.
Hulle het al vriende gemaak met die eienaar en sy familie. Ons besluit dis
sommer viering vir my verjaarsdag wat die volgende dag is.
Is dit toe ’n lekker plek! Die
swaer, Philemon, speel trekklavier en die eienaar, Mercurius, speel kitaar. Hulle
sing te pragtig. Daar kom toe ’n Engelsman wat sommer op sy
bouzouki
saamspeel.
Ons eet mezes en drink wyn. Mercurius dra later Raki aan. Dis nie soos die
Turkse Raki nie, dis eerder soos Grappa. Hulle sê ook vir hom ek verjaar die
volgende dag. Ons kuier te lekker. Vrolike ou klomp, die Grieke.
Mezes |
Dit is middernag. Skielik sit hulle die ligte
af en ek dink dis ’n teken dat ons moet gaan. Maar nee, daar kom Mercurius met ’n
bord vol baklava met ’n kersie op en almal sing happy birthday. Ons kuier tot
00:45 en toe gaan ons huis toe.
Philemon, Mercurius, Henry, Sally, Archie en ek |
Ons moet in die bed kom, want môre
klim ons die 06:30 veerboot na Rhodos.