Friday, June 26, 2015

Kekova. Gökkaya Limani.



25, 26 Junie 2015. Donderdag en Vrydag.

Üçağiz tot Gökkaya Limani

Ons gaan vandag nie vêr nie. Dis net 4 myl na Gökkaya Limani, 39° 12.657 N, 29°53.472 O. Ons kyk uit vir rotse en riwwe en vlak water en kyk vir oulaas vir Kale Köy en sy mooi kasteel en sit ons kort reis voort. 

Kale Köy


’n Flotilla seiljagte is in ons baai geanker, maar jou waarlik, daar is nog ’n plekkie vir ons ook. Ek gooi anker en dit sleep en ek gooi toe maar weer anker onder die wakende oog van die vrou op die buurboot wat ons sooo sit en bekyk. Toe byt daai anker en ek is seker dat al ons toeskouers ook tevrede is met die byt. 
Op anker


Ons is rustig en swem en lees en kook en is maar net. Dis meer as wat ons van die arme Turkse vrou kan sê. Sy werk die hele dag in die bloedige son en slaan bosse kruie dat die berge antwoord gee. Die kruie, vermoedelik wilde salie, word geoes en dan gedroog. Dan slaan sy die takke dat die blaartjies afval en maak die blaartjies bymekaar. Dis wat die plaasboere in SA dors en oes sal noem. 



Dors en oes


Die volgende dag, Vrydag is aksiedag. Eers bak die kaptein pannekoek en ons smul te heerlik. Daarna sit Archie die motor op Dinkie en daar trek ons na Ashil Adasi om ’n grot te gaan besigtig. Dis ’n hele ent tot daar, maar Dinkie doen haar ding en ons word beloon met ’n groot grot. Ons verruil die motor vir die roeispane en roei binne. Dis heerlik koel in die grot. Daar word vertel dat van die klein vissersbote in die middae in die grot skuil om van die warm son weg te kom en sommer dan ’n uiltjie knip. Ons roei in die effe donker grot rond. 

Ashil Adasi se grot
Klam en koel
Silhoeët
 

Ons vaar sommer toe om die hele eiland en toe terug na Maja wat soos gewoonlik maar rustig op die water ronddryf. Ek en ou Arch maak toe ook ’n bietjie lyf nat. Dis baie warm in die geweste.

Die middag saal ons weer vir Dinkie op om ons land toe te neem. Dis weer staptyd. Ons gaan nog ’n deel van die Lycian Way stap. Die staproete is n baie lang roete langs die Turkse kus wat by Fethiye begin en by Antalya eindig, sowat 500 km lank. Ons vriend, Deon, wat hoeka nou in Griekeland stap, weet seker alles van die roete. Ai, die stappery is vir my so lekker, al gaan dit soms maar moeilik. Ons kyk af op die baai en die water lyk mos altyd so vreeslik blou van bo af. Die mooie ou Maja lê saam met al haar vriendinne daar onder. 

Lycian Way
Skildery van Maja
Gökkaya Limani


Die son brand fel en die dors sit in ons kele en die warm sit op ons lywe. Ons roei terug en drink dorstig ’n yskoue drankie en koel die natgesweet lywe in die blou lafenis af. Toe is ons moeg en lê so bietjie.

Thursday, June 25, 2015

Kekova. Kale Köy



24 Junie 2015. Woensdag.

Vandag is ’n stapdag. Ons gaan die Lycian Way na Kale Köy, aan dıe anderkant van dıe baaı, aandurf. Gestewel en gespoor begin ek en Archie die staptog.

Direk oos van Ürçağiz is antieke Teimiussa. Daar is nie veel van die antieke stad oor nie, maar oral is graftombes, wat uit rots gekap is, sigbaar. Daar is ook mooi uitsigte oor twee van die drie monde of ingange tot Kekova. Ek gebruik my stapstokke om die spinnerakke in die oorgroeide paadjies te verwyder.

Graftombe by Teimiussa
Teimiussa
Ölu Deniz (voor) met Kekova Baai (agter)


Ons stap vêrder in die bloedige oggend hitte na Kale Köy. Die kasteel is bo teen die kop duidelik teen die blou lug sigbaar. Ons stap verby nog grafte wat op sigself kunswerke is wat uit die rots gekap is. ’n Groot olyfboom staan sterk en trots by ’n graf. Die kontras van lewe van die ou olyf en dood van iemand jare der jare gelede kom maak nes in my siel. Die lewe is eintlik so kort. En tog ook so lank...

Olyfboom en graf


Ek stap saam met drie jonge dames in die kasteel rond. Die strukture van die ou gebou is afgeëts teen die lug en die see. Die teater se sitplekke is uit die klip gekap. Bo gekom, sien jy lekker vêr. Daar onder is die dorpie en die antieke stad wat onder die water lê. Aan die westekant lê die dorpsmarina van Ürçağiz waar Maja is. 

Kasteelmuur
Kasteel
Uitsig deur skietgat
Emma (van Nieu Zealand) en ek
Uitsig op twee van die baai se ingange (agter)
Uitsig oor Ürçağiz


Ek begin weer ondertoe te stap, waar Archie vir my sit en wag. Hy is mos nie so lief vir ruïnes nie. Ek en hy stap toe af af af see se kant toe om die onderwater stad te bekyk. Jy kan niks sien nie, want dit is mos onder die water! Ons sien wel een van die graftombes wat in die water staan. 

Onderwater stad met graftombe


Kale Köy het ’n ouwêreldse bekoring wat in my hart kom klim. Daar is ’n hele klomp restaurante waar al wat hongerige sit en eet.

Ons gaan drink vars uitgedrukte lemoensap by ’n klein drinkplekkie. En rus sommer ook ’n bietjie voor ons die terugtog in die bloedige son aandurf.

Langs die pad groei daar seebone en ek pluk vir ons. Vanaand eet vars-vars opbrengs van die seemoeras. Moeg, warm en gelukkig kom ons by Maja waar sy geduldig in die dorpsmarina op ons wag.

Wednesday, June 24, 2015

Kekova. Üçağiz.



23 Junie 2015. Dinsdag.

Büçak Deniz tot Üçağiz

Ons vat al weer vandag 'n langpad, en die keer na Kekova. Die woord beteken “Drie monde”, want daar is drie ingange tot Kekova. Üçağiz is 'n klein dorpie in die Ölu Deniz (Dooie See). Hulle noem dit ’n Dooie See omdat dit so 'n afgeslote baai is. 

Hierdie is oopsee, hopsee, deinsee. Die water kom van Egipte se wêreld aangerol tot hier. Na ’n lang rit kom ons in die stil waters van Kekova en die nog stiller Ücağiz, 36°12.106 N, 29°37.942 O, 15.5 myl. Maar moenie dink dat Gus nie hier waai nie. Ons meer taamlik maklik met die hulp van die vasmeerman vas, maar die arme Franse en Engelse is nie so gelukkig nie. Gus waai hulle hot en haar en dis afstoot, keer, fenders indruk, toue trek, sweet afvee en effense paniek. Dan is hulle eers vas.

Twee van Kekova se drie monde
Üçağiz dorpie
Marina
Uiteindelik is die Franse vas


Ons is moeg en bring die dag rustig deur met boeklees en die knip van uiltjies. Die aand gaan stap ons bietjie in die dorp rond.

Monday, June 22, 2015

Kaş. Büçak Deniz – Drie-anker Baai.



22 Junie 2015. Maandag.

Yesilköy tot Buçak Deniz

Ons laat nog ’n baai agter en sit ons reis voort na die volgende bestemming, Büçak Deniz, 36°12.106 N, 29°37.942 O, 15.5 myl. Dis by die Kaş Marina. 

Ons vaar uit die baai


Ons vaar die meeste van die tyd. Deur diep water en dan ook skielik, deur vlak water. Dit laat mens skrik as jy deur water vaar wat die dieptemeter nie eers kan lees nie omdat dit te diep is en die volgende oomblik sien jy die bodem op 18 m. Dit laat nogal jou hart vinniger klop. En dis nie so op die kaart aangeteken nie. Twee keer het dit ons oorgekom vandag.

Ons probeer seil met ou Gus van agter, maar gee later moed op, omdat hy direk van agter waai. Die berge in die omgewing is dor en hoog en droog. Die see wieg-wieg vir Maja. Soos ’n wiegelied.

Kuspad
Büçak Deniz


Ons wil anker in die baai waar die marina is en soek plek. Ek moet sê, dit lyk nie regtig soos ideale ankerplek nie. Ons sal maar anker en ’n tou land toe vat. Archie tru en ek gooi. Dit lyk of die anker sleep en ek trek op. Met moeite, hoor. Ou Archie sê dit lyk of die anker goed gebyt het soos wat ek sukkel. Ja manne, ek het stilweg ook ’n matrooswoordjie gesê. Ek roep die kaptein dat hy moet kom ingryp. Hy kry ook nie die anker op nie. En dit moet al los in die water hang, want die 10m merk is sigbaar en die water  is 14m diep!

Ek neem stelling agter die helm in om die diepte dop te hou. Archie gebruik nie die ankermotor nie, want ons het iets hier beet. Hy werk die ankerkatrol met so ’n pypding met die hand en dan kom die ketting baie stadig maar seker op sonder om die ankermotor te gebruik. Wat de moer het ons hier beet? Toe kom die seemonster te voorskyn. 

Seemonster van die diep


Aan ons anker hang ’n tou met ’n ou groot, geroeste vissermansanker en nog ’n ketting met klein Danforth anker. Gelukkig is dit nie ’n sementblok nie!

Drie-anker Baai


Nou is dit “operasie losmaak”. Archie gebruik die boothaak en toue om die gedoente los te maak sonder om die ketting, tou en ankers in die see te laat val. Die vissermansanker word terug aan die see geskenk en die kaptein red die res. Michelle sou sê: ”Dis baie treasures wat oom Archie gekry het”. Dit word in Dinkie gelaai en Archie red die 25m baie goeie tou en 10m ankerketting wat dieselfde grootte as ons ketting is. Inderdaad skatte. Hy gaan sit die klein anker op die land dat iemand dit kan vind. Ons wil dit nie hê nie.

Archie se "treasures"


Toe anker ons maar weer, amper te naby aan die land, neem ’n tou land toe en maak vas. Ek dink skielik wat so ’n aantreklike Hollander eendag, toe ons ankers oormekaar was en ons so gesukkel het, vir my gesê het: ”Sailing is such fun!” Ek weet nie nie van die “fun” nie, maar daar is “never a dull moment”

Ek maak lamskenkel, maar dis nie so lekker soos die Megri restaurant in Fethiye s’n nie.

Lamskenkel