Monday, June 15, 2015

Boynüs Bükü



11 Junie 2015, Donderdag

Sarsala (Pilloried Cove) tot Boynüs Bükü


Wat ’n luilekker lewe. Ons fladder soos vlinders van die een baai tot die volgende cove. Loomwarm dae, vol sonskyn in die Fethiye Körfezi.

Vandag soek ons die volgende baai op, Boynüs Bükü, 36°42.664 N, 28°53.670 O, 5 myl om te vaar. Leon versoek dat ons by die restaurant jettie moet vasmaak, want hulle is lus om die atmosfeer by die restaurant te geniet. As die gaste praat, wie is ons om te stry. So gesê, so gedaan en met vele hande, ligte werk, meer ons maklik vas.

Boynüs Bükü restaurant
Restaurant jettie
Boynüs Bükü Baai


Die bonus is dat ons ’n lekker warm stort ook kan geniet. Dis een van daai storte wat nie stilstaan nie en heeltyd beweeg. Heen en weer.

Ons maak klaar en Leon en Dirk gaan eerste om vir ons ’n tafel te kry. Al die tafeltjies is langs die water gedek. Dit voel of ons op ’n Kaapse wynlandgoed is. Atmosfeer is in oorvloed.

Die kos oortref ons stoutste verwagting. Tot die baie streng kos kritikus, Archie, sing lofliedere oor die smaaklike kos. Leon eet lamtjops, Archie en Dirk bestel “mix grill” wat bestaan uit sappige hoender, lamtjops, kofta en bees. Ek bestel calamari. Dit word bedien met vier mezes en brood. Ons bestel een bottel duur wyn. 



Ek en die manne
Arch en die manne
Ek en Archie


Wat ’n goeie idee van Leon om hier te kom eet!

Thursday, June 11, 2015

Sarsala Köyü. PilloriedCove



10 Junie 2015, Woensdag

Seagull Bay tot Pilloried Cove

'n Vreeslike vriendelike vroutjie kom daar aangejaag op 'n motorboot. En wat het sy op haar boot? Vars brood! En wat soek ons? Brood! En ons koop 'n klein ronde vars brood vir R40. Dis vrekduur, maar as die mans brood wil hê, moet mens seker betaal.

Vrolike broodverkoopster
 

Ons is vandag soos die Sasol advertensie – ons gaan seker nie ver nie. Dis eintlik net 'n hanetreetjie na Pilloried Cove, 36°39.530 N, 28°51.166 , 'n skrale 2.2 myl. Hier in die Fethiya Körfezi is die baaie naby mekaar en almal is mooi. Ons dae is dan kort en daar is baie tyd om die land te gaan verken.

Na ek en Archie se oggendstap en swem is ons gereed vir ontbyt en daarna vertrek ons. Ons kyk na al die ander baaie, soos Ruin Bay en Wall Bay. Oral is jagte en gulets. 

Ruin Bay


Ons vaar net om die draai en daar is Sarsala Köyü. Ons gaan skrop nes in Pilloried Cove. Dis nou ‘n nuwe vasmaakmetode wat die manne glad nie ken nie. Ons gaan 'n boei gryp. Dit werk so – ‘n oranje boei lê op die water. Dit is met ‘n sterk tou aan ‘n konkreetblok wat op die bodem van die see is, vasgemaak. Jy moet dan stadig met jou boot op die boei afpyl en 'n sterk man staan voor op die snoet en gryp die boei met die boothaak. Jy maak dan jou tou aan die boei vas en maak Maja daaraan vas. 
Pilloried Cove


Ek is agter die helm en vaar stadig na die boei. Archie en Dirk staan reg met die boothaak en die tou. Sekuur stop ek by die boei en die manne gryp en haak en maak vas. Leon maak notas in sy kop vir 'n blitsverkoper wat hy wil skryf. Maklik en gou is ons vas. Dis eintlik 'n baie veilige manier van vasmaak. Gus kan maar waai, Maja sal nêrens gaan nie. Later gaan Archie en Leon en sit 'n tweede tou by net vir veiligheid.

Sit tweede tou by


Soos gewoonlik gaan Livingstone en Kie dadelik op ‘n verkenningstog en gaan om die bos te oorwin. Hulle bly lank weg en kom dan oudergewoonte terug met die nuus en inligting oor al die bome en bosse en klippe en paadjies wat in die gebied is.

Ek en Archie gaan ook land toe en stap toe Sarsala staproete. Dis tussen die bome al langs die see en kom uiteindelik by Ruin en Wall Bay uit. Ai, maar dis lekker om te stap. En ons word beloon met die mooiste uitsig oor Skopea Limani en Fethiye Körfezi. Ek sug van genoegdoening oor die mooi wat vir my beskore is. 

Wat 'n voorreg! En die manne sê dieselle.


Stap te lekker
Boom
Skopea Limani
Skopea Limani
Leon en Dirk
Sag en bekoorlik


Ons sit heerlik op Maja en kyk hoe die dag se laaste sonstrale Maja se vriendinne sag en bekoorlik laat lyk.

Wednesday, June 10, 2015

Seagull Bay.



9 Junie 2015, Dinsdag.

Küçük Kuyruk tot Seagull Bay

Leon is ‘n vroeë oggend swemmer. Sopnat en gelukkig. Ek en Dirk het ‘n worstelstryd om uit die vere te kom en die kaptein brou vir ons oggendkoffie en tee vir Leon. So verskil ons almal ewe vreedsaam van mekaar. Archie bak pannekoek en dit is net so lekker soos altyd.

Vandag is ‘n kort dag, net 5.5 myl na Seagull baai, 36°36.210 N, 28°52.749 O. Ons vaar eers by Kapi Creek verby, maar dit lyk soos nagmaal op Pofadder. Heeltemal te besig na ons smaak. Ons draai in ons spore om en kyk hoe lyk Ravine Cove, maar dit word in beslag geneem deur 'n superjag met modelle. 

Ravine Cove


Ons vaar verder. Toe is dit Seagull Bay en ons gee daai jettie net een kyk en besluit dit is heeltemal te wankelrig om aan vas te meer. Anker is ons voorland en ons soek plek. Die grootste deel van die baai is te diep vir ons, maar Archie kom op 'n 10 m stuk af en ons gooi. Die twee manne dien as kommunikasielyn en dra ek en Archie se boodskappe aan mekaar oor. So gooi ons die anker baie suksesvol. En die anker byt goed vas!

Die seemeeu van "Seagull Bay"


Gus voel uitgerus en begin ons te treiter deur met rukke en stote te waai. Hy blaas en blaas en Maja draai en draai. Sonder ophou en sonder moeg word. Aanhoudend en aaneen.

Handel word beslis hier op die water gedryf. Eers kom 'n “market” boot verby, die Mövenpick. Hy gaan meer by die wankelende jettie vas en dryf handel met die plaaslikes. Nie lank daarna nie, kom die roomysboot verby. Leon swig voor 'n R40 se roomys, maar die res van ons is te suinig. Hy eet in eerbied en smaaklik aan die duur roomys.

Markboot
Roomysboot


Die wind waai, maar die manne durf die water in Dinkie aan om land toe te gaan. Soos gewoonlik verken hulle die hele gebied soos die Voortrekkers van ouds. Met hulle groot pote loop hulle alweer die hele plek plat en kom doen verslag oor alles wat hulle gesien het. Dirk gee 'n oorsig en Leon vul elke klein detail in. Toe weet ons alles van die plek. Ek en Archie wag dat Gus bietjie moet gaan lê voor ons aan land gaan, maar hy lê nou nog nie en dis al nag. Ons het nooit land toe gegaan nie en ek wou so graag tussen die olyfbome loop.

Dirk maak vanaand kos en hy brou in die kombuis. Hy maak croutons en die lekkerste biltongsop. Dis ewe gepas, want as die wind waai, is dit maar lekker koud. Ons eet smaaklik aan die ryk sop. Ek lek die pot uit.

Gus waai nog steeds.

N.S. - Die volgende oggend roep Moeder Natuur ons kliphard om haar te gaan verken. Ek gryp my stapstok, spring in Dinkie en Archie spring saam. Ek wou mos hoeka al gister gaan stap het. En daar trek ons land toe.

Ons stap heerlik, eet moerbeie en geniet die uitsig van die baai. Die manne is alleen op Maja en van bo af lyk dit of hulle hand-uit ruk.

As die kat weg is ...
"Seagull Bay"
"Ek en my meisie bly in 'n huisie ..."'



Tuesday, June 9, 2015

Küçük Kuyuk.



8 Junie 2015, Maandag.

Baba Adasi tot Küçük Kuyruk


Ons gaan vandag na die Fethiye Körfezi. Die hele gebied is eintlik ‘n marine reservaat wat ’n bewaringsgebied is. Alles gebeur dieselfde as gister, Archie en Dirk trek die anker op, ek is agter die helm en Leon gooi ‘n wakende oog oor al die aktiwiteite.

Ons eerste stopplek is Küçük Kuyruk, 36°37.756 N, 28°52.730 O, 14 myl. Ou Archie se gesig gloei van geluk toe Gus sterk genoeg waai om seile te span en die manne beman die verskeie toue, terwyl die kaptein die hoofseil hys. Ons seil lekker vinnig, maksimum spoed van 6 knope. Archie se mond vertrek in ‘n breë glimlag van genot. Kyk, die man geniet dit om te seil.

Ons seil vir ‘n groot deel van die vaart en te gou is ons by ons baai. Dis een van die “long line ashore” ankerplekke. Toue word voorberei, opdragte word gegee en die anker val. “Home is where the anchor drops!” Archie swem land toe met die tou en maak aan ‘n rots vas. Dirk roei hom met die Dinkie om die tweede tou vas te maak, terwyl Leon handjie bysit om die toue in te trek. Toe is ons stewig geanker en met twee toue vas.

Manne aan die werk
Vas in die baai
 

Ons sit nog so en teug aan ons koue drankies en daar glip die ketting van die rots af en gly in die water. Leon het ‘n matrooswoordjie gesê toe hy sien en vasmaaktou val in die water. Toe is dit weer vinnig in Dinkie en daar trek Dirk en Archie land toe om die tou weer vas te maak. Gus waai en maak sake vir ons effe moeiliker. Leon is weer besig om die toue in te trek. Dit is nou spanwerk uit die boonste gestoeltes. En ons is weer veilig. En almal is verlig en drink toe maar verder aan ons drankies.

Die manne neem vir Dinkie land toe en stap die wêreld plat. Dis Leon se eerste dennebos ervaring en hy geniet die dennetuin vreeslik baie. Dirk kyk na die bokke en identifiseer die boerbokrasse en ook die geslag van die bokke. Hy is mos 'n boer van die Vrystaat. Daarna is dit my en Archie se beurt.  Ons stap op 'n baie mooi paadjie en kom op 'n vye- en olyfboord af. Ai, ons geniet die gestappery!

Dennebos
Bloubaard
Küçük Kuyuk Baai
Uitsig op Maja
 

Natuurlik maak die stap ons lywe baie warm. Hulle noem hierdie die turkoois kus en in die water moet geswem word. Ons swem al rondom Maja en geniet die koel lafenis terdeë. Leon doen ook anker kontole om te sien of die anker goed gebyt het. Archie bevestig ook later dat die anker goed lyk. Nou kan sy vroutjie vannag weer rustig slaap.

Paradys


 Another day in paradise!