Friday, May 22, 2015

Datça.


21 en 22 Mei 2015.

Mesudiye tot Datça

Datça, 36°43.227 N, 27°41.336 O, 10.5 myl  is ons volgende bestemming. Ons gaan daar wag totdat Gus klaar gewaai het. Ons kry wind van voor en ons vaar die hele pad.


Maja uitsig
Uitsig op Koca Berg deur Ince Burnu


Datça lê naby die oorspronklike ou antieke stad, Knidos, wat ontstaan het in die 11de eeu v.C., hoofsaaklik as gevolg van die vrugbare grond in die omgewing. In 360 v.C. het die ou stad verskuif na ’n nuwe terrien waar die “nuwe” Knidos nou is omdat die handelskepe daar geskuil het teen die wind. Dis die hawestad waar ons eergister was met al die mooi ruïnes.  Daar is baie min te sien van die ou Knidos in Datça.
  
Ons gooi anker, maak seker dit byt baie goed en dat ons lekker veilig vas is vir die winde wat kom.

Ons kom, hy gaan
Ons Hollandse bure met hulle sambreel bimini


Ou Dinkie werk deesdae oortyd, want ons lê heeltyd in die dorp rond. Ons stap langs die kaai en hawe en koop proviand, want daar is nie baie dorpe verder in die golf nie.


Datça Hawe
Datça se noordelike baai
Datça se suidelike baai waar ons geanker is


Ons bly vir twee dae.

Thursday, May 21, 2015

Mesundiye Bükü.



20 Mei 2015.

Knidos tot Mesundiye

Ver in die verlede, terug na die hede. Knidos lê stomstil in die môrelig. Ons laat die ou stad en al sy geheimenisse agter en gaan voort na ons hede, die lewe. Die pad lei ons na Mesundiye Bükü, 36°41.053 N, 27°34.429 O, net 11.7 myl verder. Dit is ’n klein baai wat net oos van Kalaboshi Punt.
 
Kleurvolle rotsformasies


Ons gooi weereens in kristalhelder water anker. Ek kan tot op die bodem sien. “Pristine water”, sê ou Archie. Die boek sê die ankerplek kan ’n bietjie rol as die see inkom. Getroue ou Dinkie neem ons land toe. Dit is eintlik ’n vakansiedorp, want daar is baie gastehuise en restaurante wat baie atmosfeer het. Dis nog buite seisoen, so die mense is yl gesaai. Meestal pensioenarisse, soos ons, nee soos Archie.

"Pristine water"


Ons stap rond en geniet die plek. Dis altyd vir ons heerlik om vir Maja van bo af te sien. So op haar eie in die baai, rustig draaiend, effe rollend.


Op die kaai

Mesundiye Bükü


Wel, Maja het die hele nag rondgerol wat veroorsaak het dat ek nie kan slaap nie. Dan klapper iets hier, ek ek soek die geluid en maak dit stil. Dan is dit weer iets anders. In ’n stadium is dit die leë hangers in die spaarkajuit se kas wat teen die kasdeur klop-klop. So spoor ek die een geluid na die ander op en die slaap ontwyk my. Ek sukkel om in die rondrollende geluide te slaap. Ek raak in die saloon op die bank aan die slaap.

Die kaptein slaap soos ’n baba.

Wednesday, May 20, 2015

Knidos. Antieke Stad



19 Mei 2015.

Körmen tot Knidos
Roete tot nou - Kuşadasi to Knidos

Knidos, 36°41.077 N, 27°22.544 O, 17 myl, is bekend vir die oorblyfsel van ’n eens welvarende antieke stad. Die kuslyn in die geweste is vol groot, mooi berge wat my stappersgees met heimwee vul en my voete laat jeuk om te stap.


Imposante berge


Die seiljagte lê ingeryg soos sardiens in die baai met die mooi helderblou water. Jy moet seker maak jou anker het wel goed gebyt (“holding uncertain in places”) en dan vat jy die pad land toe met Dinkie en jy is daar. In die verlede.


Knidos hawe en gedeelte van ou stad


Knidos was ’n groot welvarende stad waarvan sekere dele reeds in die 2de eeu v.C. gebou is. Vandag is dit die woonplek van blommetjies en baie akkedisse wat luilekker op die reste van die ou stad lê en bak, soos bewakers van die verlede.

Blommetuin



Ons stap verby die Propylon. Dit is ’n platform wat die ingang is tot die kultus area van die Tempel van Apollo en die altaar. Dit dateer uit die vroeë Hellenistiese tydperk.


Ek (met Esther se serp) by die Propylon


Die Tempel van Apollo en die altaar is in die 2de eeu v.C. voltooi. Vandag lyk dit heel anders, net dele van mure, marmer, kolomme en klippe.

Tempel van Apollo en Altaar


Die hawe word vandag gebruik vir seiljagte om in te anker. In vervloë dae was Knidos ’n baie besige hawestad op die handelsroete. Baie handelsbote het hier teen die wind geskuil op pad om Cape Krio.

Steil klim na Ronde Tempel
 

Die fondasie en die podium van die Ronde Tempel terras was grys marmer en is in die 2de eeu n.C. voltooi.

Ronde Tempel terras


Die stad is eindeloos groot met die Korintiese Tempel, die teater, agora en oorblyfsels van die gewone mense se huise.

Fyn marmerwerk
Teater


Dis voorwaar ’n juweel en die staptog is ’n groot verbeeldingsvlug. Archie sê dit lyk vir hom soos ’n bomaanval.

Tuesday, May 19, 2015

Görkova Körfezi. Körmen.



18 Mei 2015.

Büyük Çati tot Körmen

"One Tree Island", waar het jy nou al ooit in jou lewe van so 'n naam vir ’n eiland gehoor! Wel, ons vaar verby ’n eiland met een boom op. Ek wonder wat sal hulle die eiland noem as die boom eendag saggies heengaan... Of as daar nog ’n boom daarop groei.

"One Tree Island"


Ons gaan vandag na Körmen, 36° 46.153 N, 27°36.950 O, 22 myl. Ons vaar en vaar. Die see is baie diep hier, tot 500 m. Ons dieptemeter flikker-flikker omdat hy die diepte nie kan raaksien nie.

Ons vaar en vaar
Berge
Ligtoring


Körmen is ’n aspirant-marina. Op die stadium lyk dit meer na ’n konstruksie en bou terrein. Dis net monster-masjiene wat wat grond vreet en rotse in die see gooi om ’n breekwater te maak. Dit gaan ’n groot marina wees as dit klaar is.

Körmen Marina

Ons vaar in, weet nie waarheen om te gaan nie. Gelukkig kom daar ’n vasmeerman in ’n swart bakkie aangejaag wat ons wys waar ons moet vasmeer en hy gee die snoettou netjies aan. Ek haak dit sekuur met die boothaak en maak vas. Archie is doenig met die agter toue en vas is ons.

Vragmotors ry op en af in die grondpad waar ons vasgemeer is en jaag net stofwolke op. Dis grondtrokke, sementmengers, trokke met klippe en werksbakkies. Ek vervies my vir al die stof wat hulle op Maja kom tuismaak, haal die tuinslang uit en spuit die pad nat. Toe kry hulle die boodskap. Jy sien, ’n deel van die pad is natgespuit, maar hulle ry nie daarop nie. Nee, hulle jaag op die stofpad. Toe ry hulle ewe versigtig en stadig. Ons betaal verdomp duur om in die plek te bly.

Bou nuwe kaai en breekwater
"Heavy metal" vir Chris


Dis ’n morbiede plek hierdie. Die uitsig word versper deur ’n sementmuur. Werkers loop op en af verby Maja en loer dan baie nuuskierig na binne om te sien wat gebeur in die boot. Oral word dit omgedolwe om grond en klip te kry. Miskien sal dit baie mooi wees as die marina voltooi is

Gelukkig lewe die water hier van die visse en ek kyk maar vir hulle.