Friday, April 24, 2015

Athene. Griekeland


18 - 21 April 2015.

Dis sowaar weer sukke tyd!

Vandag word ons lughawe toe aangery, nie tradisioneel deur my broer Gerrie nie, maar deur my pragtige dogter, Michelle en haar kêrel, Johantjie. Ons groet en waai en weg is ons, met meer bagasie as selfs Elize en Annette.

Michelle, Johantjie en ek

Archie en ek groet
                                                                           ***
Ons is hier. Sak en pak. Eintlik sak en balsak (ek noem dit 'n balsak, maar dis eintlik 'n bruin weermag baalsak waarin ons rugsakke gepak is). In Griekeland. In Athene. My gemoed is lig en oop, nie troebel soos verlede jaar in Athene nie en ek geniet die ou stad terdeë. 

Tempel van Zeus
Odeum van Herodes Attica
Trek bossies uit

Die ruil van die wagte bly maar vir my baie opwindend. Hulle naweekpakkies is wit en die weekpakkies is vlootblou. (Ja, ek was Sondag én Maandag daar. En Dinsdag.) Hulle skop en draai en loop baie snaaks. Hulle tossels op die skoene laat my aan Leon en Dirk dink.

Sondagpakkies
Weeksdagpakkies
My lyfwag en ek

Ons gaan eet een aand by Aspro. Die gasheer is veel beter as sy kos en ons geniet die man se vreeslike passie om mens tuis te laat voel.
Dis een van daai plekke waar jy almal soos ou vriende groet as jy loop en dan agterna vreeslik daaroor giggel. Waar die maaltyd afgerond word met 'n (genadiglik) nie te soet mieliemeel poering. Tsilili, 'n soort Raki en Mastiko, 'n pomelo likeur met 'n pietersielie smaak, word aangedra in piepklein glasies. Dan proe en drink ons maar. Daarna kry ons nog 'n sjokolade-eclair-mousse poeding, alles op die huis. Tot die afsaksel-koffie wat my los met moer in my mond. Ons is omtrent knuppeldik. Sowat van passievolle entoesiasme in 'n gasheer en sy vrou, het ek lanklaas beleef.

Aandete vir twee

Ons dwaal in die Plaka rond en koop geskenke vir my kinders. Ons bekyk al die ou goeters en geboue in Athene.

Biblioteek
Biblioteek
Universiteit


 Gerrie het gesê die Olimpiese Stadion is iets om te sien. Wie is ons nou om te stry en ons klim die metro trein en daar trek ons. Na 'n lang stap, kom ons by die stadion se ingang. Baie sportmense oefen. Ek word skoon moeg net om vir hulle te kyk. En ek is jaloers op hulle gesonde, sterk knieë!
Ingang

Dramatiese toneel
 Ons gaan klim die Lycabettus Heuwel (277m) en Athene lê aan ons voete. 
Lycabettus Heuvel
Athene aan ons voete

Soos dit goeie seilers betaam, gaan maak ons ook 'n draai by die Piraeus hawe en Zea Marina, net om weer 'n masgevoel te kry.

Zea Marina
Ons stap die stad plat, ry trein, dwaal in die Plaka rond, geniet die Monastiraki en Syntagma pleine, luister na musikante. Te gou is ons drie slapies in dié antieke stad verby.

Plaka
Monastiraki Plein


Friday, October 3, 2014

Totsiens.

3 Oktober 2014.  Vrydag.

Vandag gebeur twee belangrike dinge. My pa verjaar - "Geluk Pa" - en ons gaan huis toe na 158 dae.

So het ons tweede seiljaar begin, met meer kennis en ondervinding. Met skandes en skades, pret en plesier.

Maja en ons

'n Klomp mense het kom saam seil, Leon en Dirk, Dirk en Rika, Elize en Annette, Gerrie en Ansu. Saam het ons baie lief en leed beleef. Dankie julle!

Ons het net twee lande besoek, my geliefde Griekeland en Turkye, en  het 1500 seemyl op die see met Maja deurgebring. Ons het voet aan wal gesit op 26 Griekse eilande en die Turkse noordelike kus verken.

Griekse eiland
Turkye

Nou is dit tyd om te groet tot ons in 2015 ons avontuur voortsit. "Totsiens, tot volgende jaar!"

Totsiens

Turkye. Istanbul.

2 Oktober 2014. Donderdag.

Vandag het ons nog 'n paar inkopies om te doen en besienswaardighede om te besien.

Die Topkapi Paleis was die swierige woonplek van die Ottoman Sultans. Hulle het in luuksheid en weelde geleef. Die eerste deel van die paleis is deur Mehmet in 1453 gebou en hy bly daar tot met sy dood in 1481. Sultans het hier gewoon tot die 19de eeu. Daarna het hulle in Europees-styl paleise langs die Bosphorus gewoon.

Kamer van die Koningingsmoeder
Privaatkamer van Murad III in harem
Privaatkamer van Ahmet I in harem
Terraskiosk

Ons het maar net geglimlag vir die naam van dié moskee. Dis net in Istanbul waar iets nuut is as dit in 1597 gebou is.

"New Mosque" ...
... gebou in 1597
Koepel

Ons stap al die pad na die Süleymaniye Moskee trek skoene uit, sit kopdoek op, toe sê die man dit is gesluit. Die bordjie sê dit sluit 17:00, maar dit is eers 16:15. Hy hou streng vol dat die moskee gesluit is en jaag ons almal weg.

Süleymaniye Moskee

Die Spice Bazaar is 'n kleurvolle, geurige malspul vol malende mense.

Iets vir smulpape
Kleurvolle winkel
Speserye

Thursday, October 2, 2014

Turkye. Bosphorus Seestraat

1 Oktober 2014.  Donderdag.

Dis maar net iets wat jy móét doen as jy in Istanbul is. Jy moet met 'n veerboot die Bosphorus Seestraat opvaar. Dis vanaf die See van Marmara tot by die Swart See. Dan beleef jy twee kontinente tegelyk. Die een kant is Europa en die ander kant is Asië.


Ons veerboot

Daar is ook 'n klomp geskiedkundige geboue langs die pad. So lyk 'n paar van hulle.

Ortaköy Moskee
Rumeli Hisarı
Beylerbeyi Paleis

Ons klim af by Anadolu Kavaği, aan die Asië kant en durf die heuwel na die Yoros Kasteel aan. Dit gee jou 'n panoramiese uitsig oor die misterieuse Swart See (waarop ek nooit wil seil nie).


Yoros Kasteel
Uitsig van kasteel met Swart See in agtergrond
Ingang tot Swart See

Na 'n ligte middagete kyk ons hoe 'n man in 'n wit voorskoot tjoef-tjaf drie vissies vang. Twee vir die spyskaart? en een vir die kat.

Vars vis

15:00 is ons weer in die veerboot vir die terugvaart. Daar vaar 'n klomp jellievisse saam met ons.

Jellievis

As die dag amper verby is en die son wil-wil sak, loop jy op die geskiedkundige Galatabrug wat oor die "Golden Horn" gaan.

Galatabrug

Tuesday, September 30, 2014

Turkye. Istanbul. Moskees.

30 September 2014. Dinsdag.

Wat 'n lang reis na Istanbul. Die wiele het 19:00 begin rol en ons het eers die volgende oggend 10:15 hier aangekom. Dit was eers 'n pendelbussie na die groot vervoersentrum in Nevşehir. Toe is dit groot bus en die lang rit tot by Istanbul se vervoersentrum. Laastens was dit weer 'n pendelbussie na Sultanahmet. Die laaste deel was die ergste, want dit het gelyk na 'n verkeersknoop op die snelweg tussen Johannesburg en Pretoria.
                   
***


Istanbul is bekend vir die Blou Moskee. Dis 'n mooi gebou wat 'n projek van Sultan Ahmet I was. Daar is 6 minarets (torings), 260 vensters en tien duisende Iznik teëls. Die moskee het sagte kurwes, baie koepels en 'n groot binnehof. Die argitek was Sedefhar Mehmet Ağa.

Blou Moskee
Binnekant
Hoofkoepel
Een van die vier reuse steunpilare

 Die volgende moskee waarheen ons gaan is die Aya Sofya, 'n reuse moskee. Dit was aanvanklik 'n Christenkerk wat deur die Bizantynse keiser, Justinian, in die 6 de eeu gebou is. In 1453 is dit deur Mehmet die Oorwinnaar, in 'n moskee verander en in 1935 het Atatürk dit as museum verklaar.

Dit bestaan uit 'n grondvloer en gallerye. Daar is nog baie indrukwekkende mosaïeke uit die Christendom in die moskee.

Mosaïek van Jesus Christus
Keiser John II Komnenos, Maagd Maria en Keiserin Eirene
Kolomme en boë

Daar is ook graftombes buite die Aya Sofya vir al die vername sultans van die Ottoman Keiserdom. So mooi soos die Blou Moskee van buite is, is die Aya Sofya van binne.

Graftombe van Selim II

Op die Sultanahmet Plein is daar nog allerhande ander besienswaardighede. Daar is die Obilisk van Theodosius, die rowwe obilisk, die spiraal kolom en die Duitse Fontein.

Almal probeer matte en goed aan ons afsmeer, toe gaan stap ons maar in Gülhane Park.

Ontsnap

Turkye. Cappadocia. Verlore liefde.

28 September 2014.  Sondag.

Vanaand klim ons 19:00 die nagbus na Istanbul. Ons moet 10:30 uit die kamer wees, so ons het baie tyd om te verwyl. Die weer lyk dik en die kans vir reën is goed.

Ons pak en los die bagasie in die hotel se stoorkamer. Ons besluit om die Pigeon Valley, 'n kort roete, te gaan stap en hoop die reën vang ons nie.  
Ons kry die roete maklik en begin te stap. Die roete is bekend vir sy duifhuise wat in die rotse uitgegrawe is. Die mense van vergange se dae het die duiwe se mis as bemesting gebruik.

Duifhuise

Dis 'n heerlike stap in die vallei. Dit lyk anders as die Rooi en Roos met hul rotsformasies. Dié  berge is nog heel en is groot. Baie mense stap hier, al dreig die wolke om ons nat te spat.

Arch waardeer die uitsig
Pigeon Valley
Soldate
Paddastoeldakkies

Ons kom  bo by Uçhisar, die eindpunt van die vallei uit en besluit om met die Love Valley terug te stap.  Dit reën so nou en dan liggies.

Ons sien die roetebordjie wat na dié vallei wys en begin te stap.  Ons kry ook weer die Deense groep wat ons op die Roos Vallei ontmoet het. Hulle gaan ook die roete doen. Die paadjie is klein met min voetspore. Archie sê hy wonder oor die pad, maar ons stap maar aan. Ek sê later vir Archie dat ek nie roete aanbeveel nie, want dis nie eintlik mooi nie. Hy stem saam en ons stap aan. Dan trek ons reënbaadjies aan vir die ligte reën wat plek-plek uitsak, dan hou die reën op en ons trek weer uit.

Ons kom by 'n groterige grondpad uit en Archie ruk die selfoon uit om  te sien waar ons op die aarde is. Die blou kol wys dat ons glad nie naby die Love Valley is nie en ook nie naby Göremi, waar Gûven Cave Hotel is nie. Ons is verlore in die liefde. In ons moer in verdwaal.

Ons stap maar aan, wat sal ons maak. Ons moet êrens uitkom. Hier is baie druiweplase en die mense pluk druiwe. Ons groet hulle en hulle wink en roep ons nader. Die gawe mense gee vir ons elkeen 'n tros druiwe met 'n breë glimlag op die gesig. Hierdie Turke darem. Hulle is juwele! Eva gee haar tros vir Adam.

Turkse juwele

Ons stap maar aan en kom nader aan die teerpad. Die reën kom! Daar is klomp toeriste en ons dien dis die Göremi Panorama. Toe begin die reën uitsak.  Archie gaan vind uit van 'n dolmus en hulle sê die busstop is 500 m verder en elke 15 minute is daar 'n bus. Ons soek nou nog na daai busstop.

"Suffer" is ons voorland en ons stap toe maar in die reën terug hotel toe, al langs die teerpad. Geen Love Valley vir ons vandag nie. Verlore liefde.

"Suffer suster"
Göremi in die motreën

Dis hartseer om Göremi te groet. Mustafa, bestuurder van ons hotel, was so behulpsaam en vriendelik. Göremi sal ons miskien eendag weer sien.