Thursday, May 23, 2013

Binnelanders. Dag 24, 25, 26

Prcanj tot Virpazar


Vandag is net 'n dag van niks doen. Kotor se stari grad (ou stad) is interessant. Ons is te lui om vandag die indrukwekkende mure van Kotor te gaan klim. Ons sal dit doen as ons oor 'n paar dae weer hierheen terugkom.

Kotor
Nes maak
Kotor fort
Kerkplein
Nou straatjie





Ons gee ons oor aan verdwaal in die ou dorp, maar ons verdwaal nie eers nie. Ons eet 'n baie vroeë middagete by 'n baie rooi Chinese restaurant. (11:00).

So by drie uur maak ons reg om na  Prcanj te vertrek. Dis net 'n hanetreetjie, twee myl wat ons moet vaar. Ons het by die klein Marina Prcanj plek vir Maja bespreek. Ons gaan die arme ou dingetjie alleen los vir vier dae, terwyl ons die binneland van Montenegro gaan verken. Ons kan nie vir Maja by Kotor los nie, want daar meer jy langs die kaai in die dorp vas. Almal loop daar verby en dit is nie veilig om 'n boot so lank daar te los nie.

Ons klop ons Sweedse bure op en groet hulle. Dis maar die weë van seilers. Daar is altyd te gou koebaais. Miskien sien ons hulle weer.

Ons moet eers gaan diesel ingooi. Dis nie net van stop by 'n motorhawe en sê: "Maak vol, asseblief" nie. Nee, dis parallel parkeer en vorentoe en agtertoe en toue gryp en vasmaak. Teen die tyd wat jy kan sê: "Maak vol asseblief", is jy natgesweet.

Ons kom by Prcanj Marina aan, meer vas, gee die bootpapiere en ontspan weer. Ons pak ons goedjies vir die volgende vier dae op droë grond.

Dit was aand en dit was môre. Die volgende dag.

Ons sluit vir Maja en groet haar. Mitar, die vasmeerman, laai ons agt uur op om ons oor die water na die ander kant van die baai te vat. Aan die anderkant sal daar 'n taxi wees waarmee ons Kotor toe kan gaan waar ons die bus moet klim na Podgorica, hoofstad van Montenegro.

Mitar vat ons oor die water


Die taxi is nie daar nie en ons wag 'n ruk. Dit kom nie en ons begin stap. Dis veertig minute se stap. Toe begin dit saggies te reën. Ons trek maar ons reënbaadjies aan en stap verder. By Kotor loop ons verby ons vriende se boot. Hulle sien ons en ons groet weer.

Ons klim die bus en ry na Podgorica. Dit is nie 'n mooi stad nie. Baie onversorgde woonstelblokke en almal het wasgoed op die lyn. Ons moet twee ure wag vir ons volgende bus na Virpazar.

Ons stap toe maar dorp toe waar 'n groot mark is. Ons wil twee lamtjops vir die aand koop. Eers verstaan hulle ons nie, maar nadat ek geblêr het, weet hulle ons soek lam. Toe wil hulle heel snitte aan ons verkoop. Hulle roep toe 'n man wat Engels magtig is en ons verduidelik dat ons net twee tjops wil hê. Hulle kap toe vir ons een tjop by die een stuk af en nog 'n tjop by 'n ander stuk. Hulle gebruik nie 'n saag nie, hulle kap dit met 'n kloofbyl af.

Ons klim die bus 14:00 na Virpazar en kom 14:40 by Virpazar aan. Daar is mooi berge en 'n groot binnelandse meer, Skadar Meer, wat ons wil sien.

Uitsig van ons venster op Virpazar
Vleiland 


Dit is baie bewolk en ons stap rond. Dis 'n klein plek. Die aand braai ons die lamtjops op die kamer se tweeplaat-stoof. Die lam is heerlik sag. Archie sê dis die tweede lekkerste lamtjop wat hy in sy lewe geeët het.

Dit was weer aand en is weer môre en dit reën nog steeds. Vandag is daar nie 'n kat se kans om 'n toer op die meer te neem nie, want dit reën katte en honde. Dit lyk eerder na 'n reënwoud. Archie kyk deur die venster en merk op dat dit horisontaal reën, so erg waai die wind.

Die swaeltjies kom skuil onder ons dak teen die reën. Ons hoop die weer laat ons toe om môre Skadar Meer te gaan verken.

Ons balkon se wasgoedlyn

Tuesday, May 21, 2013

Montenegro Moles. Dag 23


Van Cavtat tot Kotor

(Aan my familie - maak seker dat Fanie dit nie lees nie.)

Vandag groet ons vir Kroasië. Ons gaan nou Montenegro toe. Dit was 'n nag vol ligte deinings op anker. Seker maar gister se wind se skuld.

Archie skakel die motor aan. Ek gaan trek die anker op. Ons is gereed om te vertrek en weg is ons.
Maar die motor begin onegalig dreun. Archie, soos 'n wafferse dieselwerktuigkundige, gaan ondertoe, maak enginkap oop, en maak probleem reg  (bent compression ratio). Weet nie wat dit is nie.

Tóé is ons oppad. Ons Sweedse bure is ook oppad en stop by ons en vra of alles reg is. Gawe mense.

Die Swede - Eivor en Sören Carlsson in Jag Apostrof



Ons vaar versigtig uit die baai na net langsaan waar ons deur Kroasië se doeane moet gaan. Daar is vlak see, rotse en vlak riwwe in die gebied. Ons kom veilig by die doeane aan.

Nou vir die "alongside" parkeer by die doeane. Dis wanneer jy parallel parkeer en vir twee onervare mense is dit baie moeilik. Die Swede is voor ons daar en hulle parkeer. Daar is 'n boot voor en agter hulle. Geen plek vir ons nie.

Hulle wys vir ons met handgebare dat ons langs hulle moet parkeer. Benoude oomblikke, maar hulle vat ons toue (hulle was reeds vas aan die kaai) en ons meer teen hulle vas. Redelik maklik.

Ek pas vir Maja op en Archie gaan klaar uit. Alles is gou afgehandel en ons en die Swede vertrek. Hulle gaan ook Montenegro toe. Ons kom nader aan die oop see.

Archie probeer 'n seil span, die Swede probeer nie eers nie. Wind is min en van agter. Seile weer af.
Die see is rof. Dis nog van die Sahara-wind. Voor ons vaar die Swede. Ek sien hoe hulle boot woes heen en weer kantel. Ek kyk vinnig weg. As húlle so lyk, lyk ons ook so! Dit lyk of hulle wil omkantel.

Dis 'n lang pad. Ons gaan vir vier tot vyf ure so moet vaar.  Ek voel hoe klem my kake. Ek sien nie hiervoor kans nie! Ek sien nie hiervoor kans nie!!!

Archie vat die helm stewig vas en met 'n vasberade doelgerigtheid vat hy golf vir golf aan.

Kalm, vasberade en doelgerig



Dis 'n geveg tussen mens, see en Maja. Ek voel hoe die paniek my pak. Die angs is groter as ek. Dit val my rede aan. Ek kan nie logies dink nie.

Archie staan agter die helm, konsentrasie op sy kalm gesig. Ek kan dit nie nou bekostig om toe te gee aan die alles-oorheersende angs nie. Ek moet iets doen. Daar is nog ure van hel wat voorlê.

Toe gaan sit ek en hou aan die "winch" vas. Ek moet my kop wegkry van die golwe, die omval, die vergaan. Ek maak my oë toe om die "sien" te laat verdwyn. Ek begin saggies te sing. Ek kry nie nie die woorde uit nie, want die klem sit nog in my kake.

Ek hou aan sing. Ek probeer die liedjies onthou wat ons by die skool in gewyde sang gesing het. Ek sing en sing. Later raak die liedjies op. Vier ure is lank, hoor.

Ek sing seënbede vir my hele familie, vir my vriende, vir almal waaraan ek kan dink, selfs vir mense waarvan ek nie hou nie. Ek hou net aan en aan sing. Sonder dat ek dit besef, raak ek kalmer. Die angs verander in bang, die bang verander in kalmte.

En ou Arch hou net kalm aan om, saam met Maja, die een groot golf na die ander aan te pak. Dis asof die see ook kalmer word. Ek kan selfs my oë oopmaak. Wonderlik.

Ons is uiteindelik in stiller water van die baai in Montenegro. Dis heerlik. Ons vaar na die doeane se vasmeerplek in die dorpie Zelenika. Daar is net een boot daar vasgemeer. Ons parkeer maklik "alongside".
Dit is nie lank nie en ons is reg vir die nuwe land. Ons vaar en die wind is reg en toe seil ons. Heerlik.

Ons besluit ons gaan na Kotor (42º25'.418N, 18º 46'.214E). Dit is pragtig oppad na Kotor. Hoë berge, blou see. Duisende jare gelede was die gebied 'n gletser en nou is dit 'n fjord.

Kalmer waters van die Golf van Kotor
Otok Gospa en Otok Djordje
Wat 'n uitsig!
Klein dorpie, groot berge


Ons kom by Kotor aan. Daar is nie 'n vasmeerman nie, maar daar is wel mense wat ons help. En nie sommer enige iemand nie, die Swede. Die vrou kry die tou en ons meer langs hulle vas.
Sören en Eivor (die Swede)  nooi ons vir 'n drankie op hulle boot. Hulle seil nou al vir agt jaar lank, ses maande van die jaar. Hulle sê dis die ergste see wat hulle al ooit in hulle seiljare beleef het. Eivor was net so bang soos ek. Toe voel ek beter. Ons is nou bootvriende.

Sören en Eivor Carlsson - ons bootvriende


Ons het vandag 38.3 myl (70 km) gevaar, waarvan 20 myl (36 km) op die rowwe see was.

Wat 'n uitsonderlike, uitputtende dag!

Sunday, May 19, 2013

Al in die rondte. Dag 22

Vandag was 'n rondomtalie-dag.

Ons is op anker en ek hoop net die anker hou. Archie het op die "chart plotter" 'n ankersleep alarm gestel.
'n Alarm sal dan lui as die boot meer as twee keer die ankerketting lengte dryf. Toe kan ek darem slaap. Die anker hou. Geen alarm lui in die nag nie.

Die wind begin vroegoggend waai. Ons vaar beslis nie vandag nie. Hier by 11:00 is dit baie erg. Ons draai en tol in die rondte. Dis om en om en om. My kop draai saam en word seer.

Dit hou net aan en aan en aan. Dit wil net nie ophou nie. Die rukwinde pluk aan Maja. Sy hou net geduldig aan met draai. Die kant toe draai en daai kant toe draai.

Ek het gelukkig 'n elektroniese boek gehad om te lees. Waar is die dae toe 'n boek nog 'n boek was. Met regte blaaie wat kan omblaai.

As die wind net wil ophou waai! As die wind so kwaai waai, wil ons nie Maja alleen los nie vir ingeval die anker begin sleep. Ons is heeldag vasgekeer op Maja. Dit waai tot 17:00. Toe hou dit uiteindelik op en ons vat vir Dinkie en ry dorp toe. Ons wil net bietjie uitkom.  

Cavtat - van kerk tot kerk
Cavtat hawe
The Riva
Kerk


Die weervoorspelling vir môre lyk baie beter en ek hoop ons sal uiteindelik in Montenegro kan kom.

Saturday, May 18, 2013

Duisende deinings - Cavtat. Dag 21

Die bote in Dubrovnik Marina is baie naby mekaar vasgemeer en ons bure help dat die fenders nie aan mekaar vashaak nie. Ons verlaat die Marina stylvol sonder skandes. Ons wuif vir die behulpsame bure en roep ons koebaais.

Die see bestaan uit duisende deinings. Dis soos berge en dale. Nie dreigend nie, net deinings. Dis die Sahara-wind wat die see so omgeroer het. Wat die water so geklits het dat dit nou nog reuse dimpels maak.
Ons is oppad na Cavtat (42º 35.121N, 18º 13.273 E). Dis 13.6 myl (25 km). Dit is 'n amptelike doeane waar ons uit Kroasië moet uitteken, want ons gaan Montenegro toe.

Die ligte wind is van voor en ons seil nie, ons motor heelpad. Ons vaar verby Dubrovnik se mure. Dit lyk anders vanuit die seilhoek. Ek neem foto's, maar party is so skeef, want die boot is dan op en dan af. Dan heen en dan weer. Sag wiegend op die duisende deinings.

Dubrovnik se fort
Dubrovnik se mure
Mure en rotse


Ons kom by Cavtat aan en anker. Ons vriende van Swede is ook hier geanker. (Ons is nie huisvriende nie, maar hulle was naby ons vasgemeer by Dubrovnik). Die see word glad en plat en ons vat vir Dinkie en gaan dorp toe. Archie sê ons moet die spane saamvat, net "vir ingeval". Ek wonder "vir ingeval" wat! Ons soek die hawemeester se kantoor met die hoop dat ons kan uitteken sonder Maja. Maar tervergeefs.

Uvala Tiha ankerplek by Cavtat


Ons verken die dorpie, eet roomys en gaan later terug na Dinkie. Ek klim in, Archie stoot ons in die water, spring in en trek die tou wat die motor aan die gang kry. Niks. Hy trek weer. Niks. Dinkie wil nie vat nie. Die petroltenk is leeg!! "Vir ingeval" wat? Nou weet ek. Ons roei terug na Maja.

Die laatmiddag son verhelder die kleur van Cavtat en Maja staan trots daarteen afgeëts. Ek sien hoe die mense by die kaai en strand foto's neem. Sy is so fotogenies. Ons is verewig in die vreemdes se foto's.

Die son trek water
"The lookout"
Sonsondergang

Ons gaan miskien nie môre vaar nie, want daar is moontlik weer sterk winde.

Friday, May 17, 2013

Dubrovnik. Dag 20

Die wind het bly lê. Is seker moeg van al die gewaai.

Die kapteins huil in hulle hande. Hulle skoon bote is vol fyn vasklouende Sahara sand. Jy wonder seker nou of ons in die Sahara seil.

Die Sirocco is 'n wind wat van Noord-Afrika af waai. Hy bring dan 'n stukkie Afrika saam van die Sahara. Die fyn sand kom maak hulle dan tuis op die dek van die bote. Hulle klou dan met hulle sandkorrel-suiers vas aan al wat gleufie en plekkie is op die boot.

Dan vat die kaptein maar ewe geduldig sy tuinslang en spuit af en skrop van voor af. Archie glo my nie dadelik toe ek vir hom sê hoe vuil sy dek is nie. Die ooreenkoms is dat ek binne en hy buite skoonhou.

Hy is geskok toe hy sien ek lieg nie. Ons tuinslang is baie lank en Archie is nie lus vir die gesukkel met die lang ding nie. Dadelik vat hy sommer die emmer met die tou en skep water om skoon te maak. Hy skrop en sukkel en spoel en skep weer en weer. Maar Sahara klou.

Met die volgende skepslag, val die emmer se tou uit Archie se hand uit en ... sink. Nou is hy minus 'n emmer. Hy sug. Toe vat hy maar die tuinslang. Na harde werk is die dek weer skoon.

Later vat hy vir Dinkie en die duikbril om te kyk of hy nie die emmer sien nie, maar verniet. Die Marina water is te diep en troebel. Steeds minus 'n emmer.

Op soek na die emmer



Die weer lyk goed, behalwe dat dit mistig is en so nou en dan liggies reën. Die mense sien weer kans om te seil. Een vir een verlaat 'n paar bote die Marina.

Mistig


Ons gaan dorp toe en koop voorrade. Later gaan ons stap. En wat 'n geluk. Toe ons verby die asblikke loop, sien Archie 'n leë emmer. Nou is hy plus 'n emmer.

 Dis luilekker in die Marina. Ons rus heerlik. Dis miskien goed so, anders gaan ons onsself uitbrand.

Rustig in die "saloon"
Eisbein, slaai en vars brood vir middagete op die dek
Maja se helm en instrumente


Hier is 'n Google Earth kaart van die eerste 20 dae van ons roete vanaf Pivorac tot Dubrovnik.

Pivorac tot Dubrovnik

Thursday, May 16, 2013

Dubrovnik Dag 19

Ons slaap rustig in die veiligheid van Maja en die Marina. Die wind het nie in die nag gekom nie. Of anders het ons dit nie gehoor nie. Wat onwaarskynlik is, want ek slaap in die nag met gespitste ore.

Ons slaap laat, want ons het nêrens om te gaan nie. Ons skuil mos, want ons seil nie. Hier by ons is dit rustig, die wind waai net liggies. Miskien lyk dit anders op die see.

Ons wonder of die hele wind-ding nie maar net 'n gerug is nie. Toe begin die wind waai. Die bote is soos sardiens ingeryg. Gister laatmiddag het al wat leef en veral  beef kom skuiling soek by die Marina.

Soos sardiens ingeryg


Die wind loei en stoei. Die bote staan en skuur fender teen fender ('n fender is soos 'n baie groot en baie dik kondoom wat vol lug gepers word wat keer dat bote teen mekaar stamp en skuur).

Fender teen fender - Maja en haar buurvrou


Die toue wapper en klapper. Dit kreun en klap en kners, maar ons is veilig teen die wind. Dankie tog ons is nie nou op see nie. 

Die kapteins koop die tyd uit. Hulle is so besig soos miere. Beplan nuwe roetes. Maak alles wat net waag om effens stukkend te lyk, daar en dan reg.

Besig soos miere
Beplan nuwe roetes


Archie sit af bootwinkel toe om twee fenders en 'n part te koop wat hy nodig het vir een of ander reparasie. Hy sê die bootwinkel wemel van mans wat parte koop. Dis silwer goedjies en toue en skakelaars en ander goed wat ek nie weet waarvoor jy dit gebruik nie. Archie repareer vir die vale. Waar hy al die stukkende goed uitkrap, weet ek nie. Maar hy geniet homself terdeë.

Almal "skrop en polish" soos my ma altyd gesê het. Ek laat my ook nie twee keer nooi nie en kort voor lank skrop en polish ek ook. Geen kiem staan 'n kans om te oorleef nie. Maja blink van voor tot agter.

"Honeymoon suite" 
Gaste kajuit 1
Gaste kajuit 2
"Head" (Toilet)


Ons eet vanaand aartappels en pangebraaide inkvis.

Maja se klein kombuisie
Knoffel aartappels en pangebraaide inkvis


Die wind kom en gaan. Dit waai met rukke en stote. Dis voorwaar nie 'n dag om te seil nie.
Die Sirocco is beslis nie maar net 'n gerug nie, dis 'n vreesaanjaende werklikheid.


***

 Die wind het gaan lê...

Wednesday, May 15, 2013

Dubrovnik. Dag 18

Ons slaap heerlik rustig vasgemeer langs die kaai in Sipanska. Ek hoef nie eers my nagwaak te doen om te sien of ons nie in die nag wegdobber nie en droom die hele nag.

Ons begin 7:00 te vaar. As die wind vroeër kom as wat voorspel is, wil ons veilig in Dubrovnik (42º 40.237 N, 18º 07.447 O) wees. Dit is 15.17 myl (28 km) na Dubrovnik. Ons seil verby die Elaphite Eilande.

Elaphite Eiland met vasteland in agtergrond


Die see lyk kalm met 'n bietjie wind van voor. Op 'n stadium span ons seile, maar dit help nie, die wind gaan lê. Ek moet sê, ek verkies die lê-wind bo die waai-wind.

Brug by Dubrovnik


Ons motor al die pad. Ons kom 12:00 in Dubrovnik aan. Ek is verlig. 

Rivier op na Marina


Die vasmeer spasies in die Marina, is baie knap, maar ons meer maklik vas, want daar is net aan die een kant 'n boot. Die Marina is baie beskut en die wind is min. Ons het net bure aan die een kant. (Later "squeeze" daar nog 'n boot in 'n baie knap spasie in. Dankie tog dit was nie ons wat daar moes vasmeer nie!)

Maja veilig in Marina
Twee kerke oorkant Marina


'n Kat kom kuier vir ons. Ek noem haar Katsie, maar Archie jaag haar summier weg. Ek is sommer vies, want ek dink dit is nogal 'n oulike kat. Die kat laat my aan "huis" dink.

Katsie
.

Ek en Archie moet nou gaan stort, want ons het vyf dae laas ordentlik gestort. Nee, moenie so vreeslik gril nie! Ons het darem elke aand in die wasbak gewas.

Ons wag om te sien of die sterk wind, wat hulle voorspel het, rêrig vannag gaan kom.

Tuesday, May 14, 2013

"We are sailing". Dag 17

Vanoggend die groot besluit - bly ons of ry ons?

Gister se rowwe see is nog steeds in my gedagtes, en 'n bangheid sit in my keel. Archie kyk na "Wind Guru" op die internet. Vandag se wind is nie so erg nie. Môre is dit kalm in die dag, maar die Sirocco (Suid Oos) kom in die nag. (Woensdagnag).

Diè besluit - dit is kalm en ons sal kyk hoe die see buite die baai lyk. As die see kalm is, seil ons. As dit sleg lyk, bly ons.

Ons motor die 3 myl in die hoofkanaal tussen die eilande na die see. Die spanning voelbaar in die lug. Ons kom nader en nader. Ek kyk na die see in die verte.

Jeugelike tyding! Die see lyk wonderlik, vriendelik, glad nie kwaad nie. Verligting! Ons voel die wind. Dubbele verligting!! Die wind waai nie so erg nie. "Kaptein, span die seile..." En ons seil. Sonder bang, net lekker gemaklik seil.

Ons besluit, terwyl die weer goed lyk, gaan ons so ver moontlik seil, dat ons môre in Dubrovnik skuiling kan soek. Dan is ons veilig.

Ons seil na Sipanska Luka (42º 43.750' N, 17º 51.663' E) op Eiland Sipan sowat 15 myl van Dubrovnik.

Oppad na Eiland Sipan
Kranse oppad na Eiland Sipan
Hierdie man is haastig


Dit is 24 myl (43,2 km) na Sipan en ons èn die wind kom saam daar aan. Ons sukkel om vas te meer, want die wind waai. Maja praat tee, sy wil nie vinnig draai nie. Na 'n paar vreemde taal opdragte van die vasmeerman en onortodokse vasmeerbewegings, is ons eindelik veilig vasgemeer.

Maja is vasgemeer


Ons het vir die mense in die restaurant, goeie vermaak verskaf. Dan kry Arch nie gedraai nie. Die dieptemeter piep aanmekaar, want die water is vlak. Dan kry ek nie die tou getrek nie, roep vir Arch. Hy los helm, ek neem helm oor. Vasmeerman wat skree draai "starboard" toe. Ek wat in die geharwar nie kan onthou waar is "starboard" nie. Toe ons vas is, sien ek dat al daai mense se koppe is na ons toe gedraai. Wel, ek hoop hulle het die "show" geniet. En boon-op gratis!

 Ons gaan loop 'n bietjie rond in die dorpie en in die omringende heuwels. Natuurlik is daar 'n kerk. Ons kan sien lente is hier, want die velde is vol blomme.

Uitsig oor kaai
Sipan se kerk
Sipan se kaai


Ons bak pannekoek vir aandete. Wat 'n lekker dag!

Aalwyne vir my pa