Thursday, August 24, 2017

Pragtige Poros.


21 Augustus 2017. Maandag.

Tselevinia tot Poros

Hierdie Tselevinia was nog net goed vir ons. Ek hou van die plek. Michelle en Johan snorkel vir oulaas met die ou snorkel en ook die spoggerige splinternuwe snorkel wat hulle vir Archie as geskenk gegee het. Baie dankie julle. Archie wy ook die nuwe snorkel in en tel ’n blou noedel langs die see op.


So ’n pragtige baai moet gevier word en die kaptein besluit om ons te vereer met ’n baksel pannekoek. Heerlik!

Kaptein se pannekoek

Ons vertrek na Poros, 7 myl. Op pad sien ons ’n hele string jagte wat van voorkom wt deel is van “The Yacht Week”. Ou Johan besluit om met Fanie se visstok en sy nuwe spinner te probeer visvang. Daai lyn was nie eers vyf minute in die water nie, toe vang hy sy eerste tuna. ’n Pragtige vis, maar te klein vir die pan. Hy gooi hom terug. Toe is hy eers entoesiasties. Nie lank nie of nommer twee word gevang. Geluk Johan! Toe moet hy lyn intrek, want ons maak reg vir Poros se kaai. My swaer Fanie, het kompetisie!

Trotse Johan met sy tuna
Aankoms in Poros
Gooi fenders uit

Die kaai lyk vol, maar daar is een ou gaatjie en ons maak gereed. Archie tru, ek en Johan is by die anker en Michelle staan reg om af te stoot (wat glad nie nodig was nie). Ons doen die Griekse vasmaak aan die kaai pragtig foutloos en ons is vas. Die bure wil vertrek en sê hulle dink ons anker is oor hulle s’n. Ons hou die anker stip dop, maar op is hulle anker en weg is hulle. Dit is altyd ’n groot verligting as jou anker nie opgetrek word nie.

Michelle en Johan gaan dorp toe. Ons wag dat die twee leë plekke langs ons gevul word, voordat ons Maja verlaat. Wel, daar is altyd aksie en spanning op die kaai. Archie staan op Maja se snoet en skree raad vir die (gewoonlik) charter bote wat so sukkel om in te kom. Ons Italiaanse buurman van Portocheli trek langs ons in en toe ons aan albei kante bure het en ons weet niemand gaan ons anker versteur nie, gaan ek en Archie ook dorp toe.

Die twee jonges lê heerlik langbeen op Maja se dek en slaap en word lui-lui wakker toe ons terug is. Dis toe tyd om te gaan stap.

Ons stap teen die koppie op en sien hoe pragtig Poros eintlik is. O., maar die dorpie is vir my mooi. Vreedsaam lê die huisies teen die hang af tot by die see. Jagte lê statig op anker in die baai en teen die kaai is al wat ’n boot is vasgemeer. Ook die kleine Maja (my ma het haar altyd so genoem) staan ingebed tussen haar vriendinne langs die kaai.

Pragtige Poros poppies
Verliefde Poros paartjie
Uitsig van koppie-kerk
Ek en Archie

Ons stap te heerlik en kyk die kant toe en daai kant toe. Bo-op die koppe aan die westekant is nog ’n klein kerkie en die opsigter of iets van die kerkie wys vir Johan en Michelle rond. Dit lyk of hulle nou beste vriende is. Hulle groet en skut blad en groet en skut weer blad. Dierbaar!

Boesemvriende

Terug by Maja dra Archie en Johan vir ons 50ℓ water aan. By Poros se kaai het hulle nou al vir drie dae geen water nie en ons het hoeka ’n waterskaarste op ons boot. Die man van die hardeware winkel sê goedgunstiglik vir Archie dat ons 50ℓ water by hom kan kry. Archie is baie dankbaar.

Waterdraers

Die aand  eet ons sommer koue salm, avo’s, kaas en alles wat ons in die yskas kry wat eetbaar is. Te heerlik.

Aandete

Michelle en Johan lê tot laat op die dek en kyk hoe die lewe in Poros lyk. So nou en dan klim hulle van Maja af om die aksie te sien. Dis danse en partytjies en mense en pret en plesier. En hulle is deel daarvan.


No comments:

Post a Comment